Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vosloos vertel: ‘Ons het Nice-slagting net-net gemis’

Anet en Ton Vosloo het die Nice-bloedbad met enkele ure vrygespring. Die oggend voor die terreuraanval het hulle nog die son en glans van die Franse Riviera op die bekende promenade geniet, skryf die Vosloos. 

Ton en Anet Vosloo.

Wat veronderstel was om ’n dag van feesvieringe en nasionale trots te wees, het binne sekondes in een van Frankryk se skokkendste nagmerries verander.

Soos duisende ander toeriste het ons ook die sonskyn en glans van die Franse Riviera ervaar en die vakansie-atmosfeer op die Promenade Des Anglais ingedrink.

Donderdagoggend vroeg het ons soos soveel ander op die pragtige en goed versorgde promenade gaan stap en gesien hoe plaaslike mense al douvoordag met handdoeke, sambrele en sonbrandolie die beste plekkies op die klipperige strand gaan uitsoek. Jonk en oud, mooi en lelik, vet en maer – almal was daar.

Daar was mans wat spiere gebult het, naellope op die promenade hardloop, en natuurlik die tipiese Franse Riviera-gewoonte van vroue wat luilekker en bostukloos die sonskyn geniet.

Daar was baie fietsryers in ’n spesiale baan waarvoor ons wakker moes uitkyk, en ma’s wat kleintjies leer loop of driewiel ry.

Oral sit mense met piekniekmandjies en by die restaurante, al sommer vir ontbyt met ’n glas koue bier, want dis ’n baie spesiale vakansiedag.

Daar is baie goed versorgde honde aan leibande en oral waterbakkies vir die vierbenige familielede.

Ons sidder as ons dink dat ons net ure tevore daar was.

Oral is subtiele polisieteenwoordigheid, maar oënskynlik net om die vrede te bewaar en die malle verkeer te beheer.

Ons is jammer dat ons die Bastille-aand moet misloop, want ons moet by die hawe op ’n boot klim vir ’n langverwagte reis van die Italiaanse en Franse kus. Ná ontbyt by een van die strandkafees gaan ons terug na die pragtige, ou Negresco-hotel, wat vanjaar 104 jaar oud is.

Die hotel, wat eens die juweel in Nice se kroon was, is steeds die tuiste van van die beste antieke Franse skilderye asook ’n eklektiese versameling moderne kuns.

Ton en Anet Vosloo, twee dae voor die terreurdaad in Portofino, Italië.

Ons bespreek ’n Uber vir 12:00 en wag in die straat daarvoor. Dit is al baie bedrywig. Oral is reuse-tekens dat die pad voor die hotel vanaf 15:00 gesluit gaan wees en ons besef dat ons dan uit die stad moet wees.

Om 22:30 jaag ’n besetene in ’n afleweringstrok voor die hotel deur die versperrings en vermoor 84 mense, waarvan 10 kinders is. Die foyer van die Negresco-hotel word ’n tydelike lykshuis en hospitaal.

Die portiere, in hul kenmerkende rooi kniebroeke en blou baadjies, help met trollies om die beseerdes en dooies in die glansryke hotelfoyer te stoot. Die mooi ontvangsdames en -manne ervaar een van die grootste traumas van hul lewe.

Ons sidder as ons dink dat ons net ure tevore daar was. Ons het die gewelddadige gebeurtenis met enkele ure vrygespring. As ons daar was, sou ons ook op die promenade gewees het om die bekende vuurwerkvertoning te sien.

’n Mens kan nie anders as om geraak te word en weemoedig te raak oor die brutaliteit van ’n ekstremis nie. Die wêreld het baie sonskyn verloor, en daar is geen troos ná hierdie onverwagse, brutale massamoord wat so na aan ons menswees gebeur het nie.

* Ton Vosloo, oudvoorsitter van Naspers, en sy vrou, Anet Pienaar-Vosloo, woon in Kaapstad en is tans op reis in Europa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.