Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Vroeë Kersvieringe bring vreugde in donker virustyd’

Sielkundiges het bevind mense wat vroeg met hul Kersversierings begin, is gelukkiger as ander mense, skryf Helen Parish.

Die aanbidding deur die skaapwagters deur Guido Reni (1642). Foto: Wikimedia

Die Covid-19-pandemie laat baie mense smag na ’n bietjie vroeë feesvreugde en vir sommige mense het dit inderdaad al vroeg in November soos Kersfees begin lyk.

Kersbome, liggies, en allerlei blink versierings het al in strate en huise begin verskyn en Kersinkopies was goed op dreef. Dit laat ’n mens dink aan die woorde van Perry Como se klassieke liedjie: “It’s beginning to look a lot like Christmas”.

Maar so ’n vroeë Kersfeesgees laat diegene frons wat meen Kersfees is vir die vier van Kersfees. Sonder sulke meningsverskille sal dit egter nie Kersfees wees nie – dit gaan al aan sedert die vroeë Christene die geboorte van Christus begin vier het.

Voorstelle oor wanneer Jesus gebore is, wissel van Januarie, Maart tot selfs Junie.

In die Bybel is daar geen aanduiding van Christus se geboortedatum nie en in die vroeë Christendom was daar ook geen konsensus daaroor nie. Teen die tweede eeu het die gebruik in die oostelike Christenkerke posgevat om die doop van Christus op 6 Januarie te vier.

Teen die vierde eeu het die viering van die Epifanie vroeg in Januarie ’n groot fees in Wes-Europa geword en is dit in verband gebring met die aankoms van die wyse manne wat die baba Jesus as die Seun van God geëien het.

Voorstelle oor wanneer Jesus gebore is, wissel van Januarie, Maart tot selfs Junie. Dit is dus geen wonder dat daar nie konsensus is oor wanneer Kersfees gevier moet word nie.

Wintergebruike

Pous Julius I het in 340 n.C. besluit Christus se geboorte moet in die westelike Christendom op 25 Desember gevier word. ’n Viering in die middel van die winter het gehelp om reeds bestaande wintergebruike te omvorm tot ’n viering van ’n Christelike aard. Die datum het ook ingepas by idees dat Jesus op die dag van sy verwekking in Maart gesterf het. Nege maande van Maart af sou dus beteken hy is in Desember gebore.

In die Ortodokse kerke word Kersfees steeds in Januarie gevier en staan 6 Januarie bekend as Ou Kersfees.

Teen die einde van die eeu is Kersfees uitgebrei om die herdenking van Sint Stephanus (26 Desember), Johannes die Doper (27 Desember) en die Heilige Onskuldiges (28 Desember) in te sluit. In 567 het die Konsilie van Tours ’n Kersfees bestaande uit 12 dae vasgelê.

Maar in die Ortodokse kerke, wat die Romeinse Juliaanse kalender gevolg het, word Kersfees steeds in Januarie gevier en staan 6 Januarie bekend as Ou Kersfees.

Regulering van Kersfees

Die reis van die wyse manne deur Sassetta (1433–35). Vieringe vroeg in Januarie is met die aankoms van die wyse manne geassosieer. Foto: Wikimedia

Teen die sesde eeu was 25 Desember dus die dag waarop Kersfees gevier is. Die Kersfees het teen sononder op 24 Desember begin en vir lank is versierings eers op Oukersaand aangebring. Die kerk het Kersfees streng beheer om verbintenisse met voor-Christelike feeste te vermy. Die tyd tussen Advent Sondag (29 November, vier Sondae voor die geboorte) en Kersfees, was ’n tydperk van vas en boetedoening. Dit was beslis nie ’n tyd van sjokolade-gevulde Advent-kalenders, partytjies en die voortydige versiering van strate en huise nie. Die beskouing bestaan nou nog dat dit ongeluk sal veroorsaak om selfs net huls [holly] in ’n huis in te bring voor Oukersaand.

Maar om Kersfees te reguleer is makliker gesê as gedaan, en om die aanbring van Kersversierings te keer, was bykans onmoontlik. Antieke voor-Christelike midwinter vierings, soos om groenigheid in huise in te bring sodra die winter aangebreek het, kon ook nie gekeer word nie.

Toe die viering van Kersfees in die 1640’s in Engeland verbied is, het mense huise versier en het die kerklui van St. Margaret in Westminster die kerk in huls en klimop getooi uit protes teen dié wet.

Kersgety

Glade Jul deur Viggo Johansen (1891). Foto: Wikimedia

Deesdae kan Kersfees so vroeg as 1 November in ons winkels verskyn. Ons is gewoond aan die Kersgety wat immer vroeër aanbreek, maar dit word gewoonlik net in kommersiële ruimtes gesien waar handelaars gretig is om die meeste te maak van die seisoenale besteding. Maar vanjaar het dit ook heelwat vroeër na heelparty mense se huise gekom, in sommige gevalle so vroeg as 31 Oktober op Allerheilige-aand.

Die feestelikheid het ’n manier geword om vreugde en warmte te bring in ’n donker tyd van pandemiebeperkings. Kersversierings ontlok goeie herinneringe en sielkundiges het bevind dat mense wat hul versierings vroeg aanbring, gelukkiger is as ander mense en dat hulle meer sosiaal voorkom.

Dit resoneer met wat soldate gesê het wat in die Eerste Wêreldoorlog in die loopgrawe was, naamlik dat Kersrituele aan die westerse front vir hulle ’n verbintenis met normaliteit was.

Tradisionele beskouings van Kersversierings is dalk in 2020 op hul kop gedraai.

Die geskiedenis leer ons dat hierdie nie die eerste keer is dat Kersvieringe deur ’n pandemie geraak is nie. Nuusberigte van 1918 dui daarop dat Kersinkope tydens die Spaanse Griep vroeg begin het, soos nou in 2020.

Maar die inperkingstamheid wat in 1918 tot die groot vieringe van Wapenstilstanddag, Danksegging en Kersfees gelei het, het ’n verdere vlaag van die grieppandemie in Amerikaanse stede tot gevolg gehad.

Tradisionele beskouings van Kersversierings is dalk in 2020 op hul kop gedraai, maar daar is nog baie tyd oor om te redekawel oor die datum waarteen die versierings afgehaal moet word. Vir die meeste mense is dit 5 Januarie. En dan is daar diegene wat meen as jy dit teen die aand van 6 Januarie nog nie afgehaal het nie, loop jy die gevaar om deur kabouters geteister te word.

• Helen Parish is professor in geskiedenis aan die Universiteit van Reading. Dié artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.