Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vrugbare teelaarde vir populiste

Stede was die wenners van die politieke en ekonomiese oorgang in Suid-Afrika met die landelike gebiede wat skynbaar vergete is, skryf Andries Bezuidenhout.

’n Doodloopspoor. Die spoorlyn wat Dimbaza met Oos-Londen verbind het, word lankal nie meer gebruik nie. Foto: Andries Bezuidenhout

Verlede week het ’n hele herrie ontstaan oor ’n foto van pres. Cyril Ramaphosa wat voor die Zoeloekoning buig.

Die konteks is natuurlik die stryd in die ANC en die feit dat oudpres. Jacob Zuma besig is om sy landelike ondersteuningsbasis te mobiliseer. Daarmee saam is daar die netelige kwessie van die Ingonyama-trust en debatte oor tradisionele leiers en grond.

Politieke en ekonomiese oorgange het natuurlik altyd wenners en verloorders. Die wenners is gewoonlik mense wat naby aan die aksie is, soos Suid-Afrika se stedelike middelklas.

Verloorders is tipies vrugbare grond vir populistiese mobilisering, juis omdat hulle so min het om te verloor.

Die verloorders is werklose jeugdiges in stede, asook mense in landelike gebiede wat telkens nog onder die gesag van tradisionele leiers val.

Die afgelope tyd is landelike gebiede juis in die nuus. Dit is deels weens gesprekke oor plaasmoorde, voedselsekerheid en die herverdeling van grond.

Dit blyk ook dat die afstand tussen stedelinge en mense in landelike gebiede nou besig is om ’n netelige politieke kwessie te word.

Verloorders is tipies vrugbare grond vir populistiese mobilisering, juis omdat hulle so min het om te verloor.

’n Hartseer plek van verval

Net buite King William’s Town is ’n plek genaamd Dimbaza. As jy hier verbyry, sien jy die reste van ’n eens lewendige nywerheidsdistrik. Nou lyk die kil staalraamwerke van fabrieksbouvalle soos die beendere van olifante wat deur hiënas en aasvoëls kaalgevreet is.

Die spoorlyn wat Dimbaza met Oos-Londen verbind het, word ook lank reeds nie meer gebruik nie.

Dis ’n hartseer plek. Mense hier onthou tye toe daar klerefabrieke was wat mense in diens geneem het.

Sommige beleef dit as ’n verlies aan manlikheid en sit hul dae in kroeë om.

Daardie tye was natuurlik nie net goed nie. Die lone was laag en Suid-Afrikaanse vakbonde kon nie binne die grense van die destydse Ciskei namens werkers vir beter lone onderhandel nie. Ciskei was immers ’n brutale diktatuur.

Dit alles ten spyt, was daar tóg werk.

Deesdae kry al hoe minder mans werk op die myne. Baie van hulle kom terug en is nou van hul families se regeringstoelae afhanklik. Sommige beleef dit as ’n verlies aan manlikheid en sit hul dae in kroeë om.

Vroue word die nuwe trekarbeiders. Waar hulle voorheen in Dimbaza se klerefabrieke werk kon kry, moet hulle nou na Oos-Londen, Nelson Mandelabaai of Kaapstad verhuis om werk in die dienstesektor te vind.

Dáár woon hulle in agterkamers en informele nedersettings en stuur elke maand geld huis toe. Kinders word deur oumas grootgemaak.

’n Plek van 200 fabrieke

Die kil staalraamwerke van fabrieksbouvalle lyk soos die beendere van olifante wat deur hiënas en aasvoëls kaalgevreet is.Foto: Andries Bezuidenhout

Dimbaza is nie enig in sy soort nie. Dis maar een voorbeeld van die vele nywerheidsdistrikte wat sedert die 1960’s deur die staat geskep is in ’n poging om te keer dat swart Suid-Afrikaners stede toe verhuis – ’n voorbeeld van nywerheidsdesentralisasie en toestromingsbeheer.

Die meerderheid van hierdie fabrieke was binne die grense van voormalige tuislande geleë.

In die Vrystaat was daar Phuthaditjhaba en Botshabelo, in die ou Transvaal was daar Babelegi en in KwaZulu-Natal was daar Madadeni, Ezakheni en Isithebe. Hier in die Oos-Kaap was daar Dimbaza in die Ciskei en Butterworth in die Transkei.

Teen die laat 1980’s was daar sowat 200 fabrieke in Dimbaza.

Die idee om nywerhede na landelike gebiede toe te kanaliseer het reeds in 1947 ontstaan toe die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) besluit het om ’n tekstielfabriek in Butterworth op te rig.

In die 1960’s, met die ontwikkeling van die tuislandbeleid, het die regering entrepreneurs aangemoedig om hul fabrieke naby hierdie “tuislande” op te rig. Dr. H.F. Verwoerd het gevoel dat fabrieke in “tuislande” self die tradisionele kultuur in hierdie gebiede sou ondermyn.

Vanaf die laat-1970’s, met die koms van vakbonde in Suid-Afrika, is daar besluit om die fabrieke eerder in die “tuislande” te plaas, aangesien werkers hier tegnies nie onder die Suid-Afrikaanse arbeidsbestel geval het nie.

Die meeste van die gebiede was egter naby aan groter stede of dorpe, waar die wit bestuurders van die fabrieke kon woon en hul kinders kon skoolgaan. Dimbaza is byvoorbeeld naby aan King William’s Town.

Die staat het direkte subsidies aan hierdie fabrieke betaal en hulle is deur invoertariewe teen mededinging van invoerders beskerm. Teen die laat 1980’s was daar sowat 200 fabrieke in Dimbaza.

’n Plek van wit olifante

Dimbaza was een van vele nywerheidsdistrikte wat in die jare sestig geskep is in ’n poging om te keer dat swart mense na die stede verhuis. Foto: Andries Bezuidenhout

Met die oorgang van apartheid na ’n demokratiese bestel het die landskap drasties verander.

Die voormalige “tuislande” is weer in Suid-Afrika geïnkorporeer, sanksies is beëindig en Suid-Afrika het ’n lid van die Wêreldhandelsorganisasie geword. Dit het ook beteken dat beskerming teen internasionale mededinging deur middel van invoertariewe weggeval het.

Benewens hierdie veranderinge het die idee dat die staat maatskappye in landelike gebiede subsidieer minder haalbaar geword en subsidies is drasties verminder.

Baie van Suid-Afrika se nywerhede is deur mynmaatskappye besit, wat weens sanksies nie in die buiteland kon belê nie. Nuwe geleenthede vir mynmaatskappye elders in Afrika het ook beteken dat van ons myn- en vervaardigingskonglomerate ontbondel is.

Ewe skielik, sonder die bestel wat dit geskep het, het die fabrieke soos wit olifante begin lyk – dié dat die karkasse se beendere nou so sigbaar is as jy hier verbyry.

Die eens magtige vervaardigingsektor het geswik en baie van die nuwe maatskappye het in finansiële verknorsings beland.

Dít als het gebeur binne die konteks van nuwe arbeidswette en blootstelling aan internasionale mededinging.

Sommige van die vervaardigers het hul fabrieke na Maputsoe in Lesotho en Matsapha in Swaziland verskuif, waar arbeid goedkoper en vakbonde minder militant as in Suid-Afrika is.

In die Oos-Kaap is nuwe nywerheidsdistrikte met staatsondersteuning opgerig, maar nader aan die provinsie se twee groot hawestede.

Die gevolg vir Dimbaza en soortgelyke nywerheidsdistrikte, asook die mense wat in sulke plekke gewerk het, was tragies. Ewe skielik, sonder die bestel wat dit geskep het, het die fabrieke soos wit olifante begin lyk – dié dat die karkasse se beendere nou so sigbaar is as jy hier verbyry.

Politieke oorgang bevoordeel stede

Ewe skielik, sonder die bestel wat dit geskep het, het die fabrieke soos wit olifante begin lyk. Foto: Andries Bezuidenhout

In 2016 het die Oos-Kaapse regering aangekondig dat daar meer as R300 miljoen begroot is om die ontstaan van ’n “eko-nywerheidspark” in Dimbaza te ondersteun. “Dimbaza to rise from the ashes”, het die plaaslike koerant ewe optimisties aangekondig.

Deel van die begroting sou gebruik word om behuising vir ’n klas professionele mense te bou, asook om dienste in die gebied te verbeter.

Een van die oënskynlike suksesse is ’n maatskappy wat koelbokse vervaardig.

Daar word beraam dat daar in die vorige dekade meer as R10 miljard in staatsubsidies gebruik is om die Coega-nywerheidspark en die Ngqura-hawe buite Nelson Mandelabaai op te rig.

Hierdie pogings lyk egter soos druppels aan ’n baie groot landelike emmer as ’n mens na die provinsie in geheel kyk.

Daar word beraam dat daar in die vorige dekade meer as R10 miljard in staatsubsidies gebruik is om die Coega-nywerheidspark en die Ngqura-hawe buite Nelson Mandelabaai op te rig. Uiteindelik het die hawe R1 miljard meer gekos as wat aanvanklik beraam is.

Mercedes-Benz het pas aangekondig dat hy ’n nuwe reeks voertuie in Oos-Londen gaan vervaardig en R10 miljard in die uitbreiding van die bestaande fabriek gaan belê.

Hierdie beleggings uit die staatskas en van die private sektor stroom met ander woorde steeds stede toe – die wenners van die politieke en ekonomiese oorgang.

Doen ons genoeg vir landelike gebiede?

Landelike gebiede was die verloorder van die politieke oorgang in die Suid-Afrika. Foto: Andries Bezuidenhout

Lande wat suksesvolle oorgange van outoritêre na demokratiese stelsels maak, slaag gewoonlik daarin om te verseker dat politieke vryheid ook tot ’n verbetering in ekonomiese toestande lei.

As gewone burgers swaarder kry onder ’n demokratiese bestel, begin hulle om terug te verlang na sterker en meer kragdadige leiers.

Die klassieke voorbeeld is Duitsland tussen die twee Wêreldoorloë. Oorlogskuld, werkloosheid, misdaad en ekonomiese chaos het veroorsaak dat Hitler se boodskap ’n gehoor gevind het.

Vir eers lyk dit vir my asof populiste toenemend ’n gehoor vind onder die verloorders van die oorgang.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is demokrasie in die destydse Wes-Duitsland bestendig weens die Marshall-plan en die gevolglike proses van ekonomiese heropbou.

Pogings word aangewend om plekke soos Dimbaza te laat herleef, maar doen ons genoeg oor die lewensomstandighede van mense in Suid-Afrika se landelike gebiede?

Vir eers lyk dit vir my asof populiste toenemend ’n gehoor vind onder die verloorders van die oorgang – werklose jeugdiges in stede en mense wat hier in die landelike dele van die land aan die kortste end trek, so tussen die beendere van eertydse wit olifante.

* Bezuidenhout is ’n professor in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.