Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Amerika is terug' klínk mooi

Met die bewindsoorname van pres. Joe Biden in Washington het die internasionale politiek ’n nuwe hoofstuk betree. Wat dié hoofstuk presies behels, sal die praktyk nog moet leer, maar ’n afgelope internasionale konferensie lig intussen die sluier effens. Leopold Scholtz bekyk die saak.

In sy rigtinggewende toespraak voor die Münchense Sekerheidskonferensie einde verlede week (wat weens die koronakrisis virtueel plaasgevind het), was die kern van pres. Joe Biden se boodskap:

“Amerika is terug. Die Transatlantiese bondgenootskap is terug. Die vennootskap tussen Europa en Amerika is en moet na my mening die hoeksteen bly van alles wat ons in die 21ste eeu hoop om te bereik, nes ons in die 20ste eeu gedoen het.”

Biden het uitdruklik met verwysing na die Navo-handves verklaar: “Vir Amerika sal ons bly glo in art. 5. Dis ’n waarborg. ’n Aanval op een is ’n aanval op almal. Dit is ons onverbreekbare eed.”

Terugkykende op die Trump-jare was sy boodskap: “Ek weet die laaste paar jaar het ons Transatlantiese bondgenootskap onder spanning geplaas en getoets, maar Amerika is vasbeslote om opnuut saam met Europa op te trek, om julle te raadpleeg, om ons posisie van betroubare leierskap terug te win.”

Die sentrale doel van dit alles, het Biden (vermoedelik met China en Rusland in gedagte) gesê, is die beveiliging van die demokrasie. Die bondgenootskap se gesamentlike demokratiese waardes “is nie transaksioneel nie. Dis nie verwisselbaar nie. Hulle is gebou op ’n visie van die toekoms waar elke stem tel, waar die regte van almal beskerm word en die regstaat in stand gehou word.”

In sy toespraak was Biden se fokus op internasionale samewerking tussen bondgenote. Daarom het hy Amerika reeds tevore laat terugkeer na die Paryse Klimaatakkoord om die potensieel rampspoedige aardverwarming te beperk, asook na die Wêreldgesondheidsorganisasie om die huidige ramp van die Covid-19-pandemie te bestry.

Hy het gewys dat hy bereid is om verder te dink as wat sy neus lank is deur $4 miljard beskikbaar te stel sodat lande in die Derde Wêreld entstowwe kan kry. Die doel is nie bloot altruïsme nie, want aangesien daardie bevolkings die virus weer na die Eerste Wêreld kan uitvoer, beveilig hy ook sy eie bevolking daarmee.

Beleid het weer ’n sentrale tema

Met pres. Joe Biden aan die stuur in Amerika, het dié land weer ’n sentrale tema in sy buitelandse beleid. Foto: Reuters

As ’n mens Biden se klem op multilateralisme wil verstaan, moet jy dit noodwendig kontrasteer met sy voorganger, Donald Trump, se benadering van “Amerika eerste”. In die praktyk het dit egter neergekom op “Amerika eerste en na die hel met die res”.

Dus het hy bondgenote gereeld met oorgawe in die tande geskop en aanstaltes gemaak om Amerika uit allerlei konflikgebiede – Irak, Afganistan, Jemen en elders – terug te trek. Op sigself was daar niks met die terugtrekking verkeerd nie, want onder Trump se voorgangers, pres. Barack Obama en veral pres. George W. Bush, het Amerika homself ooreis (sonder dat hy duidelike voordeel daaruit kon trek).

Biden het ook tevore aangekondig dat hy Amerika se militêre betrokkenheid by die oorlog in Afganistan, wat Trump wou beëindig, gaan herevalueer.

Maar Trump het terselfdertyd ’n – vir Amerika – skadelike handelsoorlog met China begin. Hy het die veiligheidskordon wat Obama om China probeer trek het, van Japan en Suid-Korea in die noorde tot Indonesië en die Filippyne in die suidooste, Viëtnam in die suide en Indië in die suidweste, tot niet laat gaan.

Terselfdertyd het hy Navo se voortbestaan openlik betwyfel, Rusland met handskoene aangepak en twee millimeter duskant verwoestende oorloë met Iran en Noord-Korea teruggedeins. Dit was geen konsekwente beleid met ’n oorkoepelende tema nie.

As ’n mens op Biden se toespraak kan afgaan – en toegegee, dis in dié stadium slegs wóórde – sal daar nou wel so ’n sentrale tema wees: Samewerking oor die Atlantiese Oseaan en met ander bondgenote. China en Rusland word weer as belangrikste strategiese mededingers beskou en kan geen spesiale behandeling verwag nie.

Biden het ook tevore aangekondig dat hy Amerika se militêre betrokkenheid by die oorlog in Afganistan, wat Trump wou beëindig, gaan herevalueer.

Rusland, China en die reaksie in Europa

Angela Merkel bondskanselier van Duitsland neem deel aan die virtuele Münchense Sekerheidskonferensie. Foto: Getty Images

Die reaksie van die belangrikste Europese regeringsleiers was interessant. Hulle het Amerika se hernude verbintenis tot internasionale samewerking en die Transatlantiese band entoesiasties verwelkom.

Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland, wat binne enkele maande sal aftree, het gesê die seine vir multilateralisme is baie beter as twee jaar gelede. Sy het dit uitdruklik daaraan toegeskryf “dat Joe Biden president van Amerika geword het.”

Soos in die verlede het hulle egter hul eie aksent daaraan verleen.

So het pres. Emmanuel Macron van Frankryk openlik gesê: “Ons het ’n dialoog met Rusland nodig, wat onontbeerlik is as ons in vrede wil leef.”

Merkel het ook in ’n ander opsig die laaste tyd die wenkbroue laat lig. In haar toespraak het sy met verwysing na China gesê ’n 'gesamentlike agenda' met Amerika is nodig.

’n Mens moet immers onthou dat Rusland dieselfde landmassa met Europa deel, en dat laasgenoemde nooit te ver in ’n konfrontasie met die Russe kan gaan nie. Dit is ook waarom Merkel vashou aan die sogenaamde Nordstream-2-pypleiding waarmee olie en aardgas van Rusland na Europa vervoer word – ondanks dat die Amerikaners onder sowel Trump as Biden glad nie gelukkig daaroor voel nie.

Die Duitse nuustydskrif Focus het Merkel se algemene reaksie op Biden se toespraak “koel” genoem. “Sy het ’n buitelandse beleidskans onbenut gelaat. Jammer.”

Merkel het ook in ’n ander opsig die laaste tyd die wenkbroue laat lig. In haar toespraak het sy met verwysing na China gesê ’n “gesamentlike agenda” met Amerika is nodig.

“In die jongste tyd het China aansienlik meer krag op die internasionale toneel verkry en ons moet hierop as ’n Transatlantiese bondgenootskap en as demokratiese lande reageer.”

Niemand het ooit presies geweet wat om van dag tot dag van die veranderlike Donald Trump te verwag nie. Foto: Reuters

Tog, net drie weke voor die Münchense konferensie was sy by wyse van spreke voor in die ry toe die Europese Kommissie (die EU se “kabinet”) ’n handelsooreenkoms met China gesluit het. Dit sal na verwagting miljarde aan handelsvoordele oplewer.

Dit was dus ook opvallend dat die voorsitter van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen (’n persoonlike vriendin van Merkel) al haar pyle in haar toespraak op Rusland gerig en China skotvry daarvan laat afkom het. Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal van Navo, het die saak ewenwel uit ’n ander hoek benader en China bestempel as “die beslissende tema vir die Transatlantiese gemeenskap”.

Leopold Scholtz

Soos in die verlede sal die breë Westerse bondgenootskap – Navo en die EU – saam met hul bondgenote in Asië dus steeds aksentverskille met Amerika hê, selfs al slaan Biden ’n ander koers as Trump in.

Niemand het ooit presies geweet wat om van dag tot dag van die veranderlike Trump te verwag nie.

Met Biden sal daar ook verskille en selfs rusies wees. Maar as hy – en dis belangrik – inderdaad doen wat hy sê, sal die verskille hanteerbaar bly.

Dit alleen beteken ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van Amerika se internasionale betrekkinge. Of dit iets positiefs sal oplewer, sal die praktyk moet leer.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Navo  |  Joe Biden  |  Angela Merkel  |  Donald Trump  |  Rusland  |  China  |  Amerika  |  Duitsland  |  Buitelandse Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.