Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VSA grom weer vir EU

Wat sit agter die onderonsie tussen pres. Donald Trump en Emmanuel Macron van Frankryk, wonder Leopold Scholtz.

Pres. Donald Trump van Amerika en pres. Emma­nuel Macron van Frankryk verlede Saterdag in Parys. Foto: Reuters

Air Force One, die vliegtuig waarmee die Amerikaanse president altyd vervoer word, het nog skaars in Parys geland of pres. Donald Trump het ’n humeurige twiet die wêreld ingestuur.

Daarin het hy sy Franse gasheer, pres. Emmanuel Macron, uitgetrap omdat dié te kenne gegee het ’n gesamentlike Europese weermag is nodig om Europa teen Rusland, China “en selfs Amerika” te beskerm.

In sy twiet het Trump dit “ ’n belediging” genoem. Toe die twee daarna in die Elysée-paleis gepraat het, het dit gelyk of die rusie in der minne geskik was deur dit as ’n misverstand af te maak, maar uit Trump se grimmige gesigsuitdrukking voor die kameras was dit duidelik dat hy nie in ’n goeie bui was nie.

Trouens, nog aan boord van sy vliegtuig het hy – luidens ’n berig in The Washington Post – ’n oproep van die Britse premier, Theresa May, ontvang om hom geluk te wens met sy Republikeinse Party se behoud van die senaat in die middeltermynverkiesing. Trump het egter na bewering woedend teen May te velde getrek omdat Brittanje onregverdige handelspraktyke bedryf, nie genoeg na sy sin aan verdediging bestee nie en omdat sy glo nie sterk genoeg teen Iran optree nie. Volgens die koerant was May se assistente “geskok” oor die president se “slegte humeur”. (Iets wat hy die vorige dae ook herhaaldelik teenoor joernaliste gewys het.)

Macron wou chauvinisme veroordeel.

Toe word die rusie egter verder gevoer. In sy toespraak op die amptelike 100-jaar-herdenking van die einde van die Eerste Wêreldoorlog by die Arc de Triomphe in Parys het Macron iets gesê wat Trump woedend laat uitvaar het.

Macron se woorde was: “Patriotisme is die presiese teenoorgestelde van nasionalisme. As jy sê ‘ons belange eerste’, ongeag wat met die ander gebeur, wis jy die waardevolste uit wat ’n nasie kan hê, dít wat hom groot maak, en dit wat die belangrikste is: sy morele waardes.”

Macron se woorde was implisiet ’n aanval op Trump. En sy woorde is geëggo deur bondskanselier Angela Merkel, wat in haar toespraak gewaarsku het dat die verskynsel van “nasionale oogklappe” hom weer uitbrei: “Waartoe nasionale selfverheerliking en militêre grootspraak kan lei, is deur die Eerste Wêreldoorlog gewys,” het sy gesê.

“Ons sien immers dat internasionale samewerking, vreedsame ewewig van belange, ja, selfs die Europese vredeswerk weer bevraagteken word. Ons sien die bereidheid om eie belange in die slegste geval weer ook met geweld na te streef.”

Trump het hard teruggeslaan. Hy het Macron herinner aan Frank­ryk se nederlaag in 1940 en aan sy ongewildheid onder die Franse bevolking.

“Terloops, daar is geen land wat meer nasionalisties as Frankryk is nie.” Hy het sy twiet sarkasties afgesluit: “Maak Frankryk weer groot!”

Die presidentsvroue: Brigitte Macron en Melania Trump. Foto: Getty Images

Verskeie ontwikkelinge blyk uit dié rusie.

Ten eerste: Die betrekkinge tussen die regerings van Amerika en die Europese vasteland is op ’n laagtepunt. Die ballon wat Macron opgestuur het oor ’n Europese weermag beklemtoon ’n ontwikkeling wat al sedert Trump se verkiesing sigbaar is, naamlik dat die Europeërs meen hulle kan nie meer soos vroeër op Amerika se hulp staatmaak nie en dat hulle meer vir hul eie verdediging sal moet doen. Ook het die dreiging van ’n handelsoorlog tussen Amerika en die Europese Unie nog nie heeltemal gewyk nie.

In die tweede plek wys dit hoe die Amerikaners en Europeërs by mekaar verby praat as dit gaan oor iets soos nasionalisme en patriotisme.

Europa se politieke bewussyn is grotendeels gevorm deur die massaslagting van twee verwoestende wêreldoorloë. Al begin die herinnering daaraan effens vervaag, en al is die gapende wonde geheel, is die littekens steeds baie sigbaar.

Albei oorloë is deur ’n ekstreme nasionalisme veroorsaak wat beteken dat die begrip in Wes-Europa ’n onaangename geur gekry het. Daarteenoor het niemand iets teen die woord patriotisme nie. In lande soos Duitsland en Nederland is mense ook effens ongemaklik daaroor, maar nie te erg nie; in Frankryk word dit as iets normaals en positiefs gesien. Teen dié agtergrond word Macron se onderskeid tussen nasionalisme (sleg) en patriotisme (goed) begryplik. Die probleem is dat die onderskeid vir Amerikaners (en Suid-Afrikaners!) vreemd en selfs ongeldig is.

In die meeste lande buite Europa sou Macron se nasionalisme eerder met ’n woord soos chauvinisme of dalk aggressiewe nasionalisme vertaal kon word. Sy verstaan van patriotisme herinner aan N.P. van Wyk Louw se ontleding in sy essay “Liberale Nasionalisme”.

Louw se beskouing is in 1951 geskryf terwyl die wêreld nog van die katastrofe van 1939-’45 gegloei het. Hy het die begrip chauvinisme “die swart engel van die nasionalisme” genoem, en vervolg: “Wanneer ’n volk soos die Franse, die Duitsers, of jou eie mense, die Engelse, in die loop van eeue werklik ’n groot nasionale kultuur opgebou het – ’n kultuur waarin die mens ten volle mens kan wees – dan kom die bose engel na die domstes van ’n volk en fluister vir hulle: ‘Julle kultuur is die hoogste, ja, die enigste werklike kultuur op aarde’. En hulle glo hom, want hulle ken nóg hul eie kultuur nóg dié van ander volke.”

Dít was Macron se bedoeling, om chauvinisme te veroordeel. Hy het immers gepraat teen die agtergrond van die herdenking van twee wêreldoorloë wat tientalle miljoene lewens geëis en Europa ten slotte in 1945 in ’n smeulende puinhoop omgeskep het.

Dít, en nie samesweringsgekke se waandenkbeelde dat daar ’n geheime kabaal is wat ’n “eenwêreldregering” nastreef nie, was die werklike rede vir die groei van die EU. Trouens, geen enkele Franse leier kan hom teen patriotisme keer en hoop om hoegenaamd polities te oorleef nie. Die Franse is ’n trotse volk, maar hulle weet waar om die streep te trek.

Trump, uiteraard, begryp niks van die Europese gevoelighede nie. Sy reaksie was gegrond op hoe die Amerikaners na die saak kyk. Dit het ook geblyk uit ’n meningsartikel van die aartskonserwatiewe Amerikaanse politieke kommentator Patrick Buchanan, ’n sterk ondersteuner van Trump. Daarin het hy Macron skerp veroordeel en selfs daarop aangedring dat Amerika Europa en Navo heeltemal moet afskryf.

Só ver gaan Trump (nog?) nie. Ofskoon hy wel al verskeie kere twyfel gesaai het oor sy verbintenis tot art. 5 van die Navo-handves, wat bepaal dat ’n aanval op een lidland outomaties ’n aanval op almal beteken. Die jare van die Koue Oorlog het ’n gemeenskaplike bedreiging vir Wes-Europa en Amerika ingehou. Dit het beteken die Transatlantiese band wat tydens die Tweede Wêreldoorlog gesmee is, baie heg geword het. Dié bedreiging het ná die einde van die Koue Oorlog, die opheffing van die kommunistiese Warschau-pakt (Navo se teenhanger) en die uiteenval van die Sowjetunie afgeneem. Dit het beteken dat die Transatlantiese band begin uitrafel het.

’n Mens sou reken dat die hernieude bedreiging wat tans van Rusland – en in toenemende mate ook China – uitgaan, dié band weer sterker sou maak. Sedert Trump se bewindsoorname neem die wedersydse irritasie egter toe.

Dit word steeds meer ’n ope vraag of die band Trump se presidentskap gaan oorleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.