Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VSA in Afganistan: Hoe om nié ’n oorlog te voer nie

Amerika se oorlog in Afganistan word ná 20 jaar beëindig. Wat beteken dit? Is dit ’n wyse besluit? Het Amerika hoegenaamd ’n ander keuse? Leopold Scholtz ontdek dat dit makliker is om vrae te stel as om hulle te beantwoord.

Amerikaanse soldate dra ’n beseerde makker na ’n helikopter in Afganistan in 2010. Foto: Reuters

Wil jy weet hoe om ’n oorlog nié te voer nie? Dan hoef jy nie verder te kyk as Amerika se oorlog in Afganistan nie, want dit is van begin tot end op ’n rampspoedige manier gevoer.

Amerika se betrokkenheid by Afganistan het op 11 September 2001 begin, toe drie pasassiersvliegtuie wat deur Moslem-terroriste gekaap is, in selfmoordsendings in die New Yorkse World Trade Center en die Pentagon in Washington vasgevlieg en 2 606 mense gesterf het.

Dit was vir pres. George W. Bush voldoende rede om Afganistan binne te val en sowel Al-Kaïda as die Taliban te verjaag.

Dit het gou geblyk dat ’n skimmige organisasie, Al-Kaïda (Arabies vir “die basis”) vir die aanval verantwoordelik was. Ook dat die organisasie vanuit Afganistan opereer, waar die ewe fanatieke groep, bekend as die Taliban (“talib” beteken godsdiensstudent) al ’n paar jaar geregeer het.

Dit was vir pres. George W. Bush, wat toe net ’n paar maande in die Withuis gewoon het, voldoende rede om Afganistan binne te val en sowel Al-Kaïda as die Taliban te verjaag. Dit het binne enkele weke sonder veel moeite gebeur.

Probleem opgelos! was die triomfantelike boodskap wat vanuit die Withuis oor die wêreld weerklink het. Dit kon inderdaad so gewees het, as dit nie was vir ’n aantal kardinale verkeerde beslissings wat in die president se kantoor gemaak is nie.

Amerikaanse Black Hawk-helikopters vlieg Maandag oor Kaboel in Afganistan. Foto: AP

Die eerste een was om sonder enige bewys aan te neem dat Al-Kaïda ook saamspan met die Irakese diktator Saddam Hoesein. Inderdaad, Saddam was ’n uiters wrede man wat geen vriend van Amerika was nie, maar Al-Kaïda was vir sy sekulêre bewind net so ’n gevaar as vir Amerika.

Dus het Amerika Irak binnegeval en Saddam in ’n operasioneel uiters geslaagde warrelwind-veldtog afgesit. Maar dit was die laaste sukses; hiervandaan het dinge stadig maar seker verder skeefgeloop.

’n Ongeloofwaardige, korrupte bewind is in Kaboel in die regeringsgeboue geïnstalleer.

’n Irakese geleerde het Irak vergelyk met ’n klomp sand in ’n betonkonstruksie – metafoor vir die diktatuur. Die konstruksie hou die sand bymekaar.

Maar toe verwyder die Amerikaners dit. En uiteraard, toe sak die sand inmekaar.

Dit het die Amerikaners uiteindelik ’n yslike kragsinspanning gekos wat tot 2011 geduur het. En toe moes pres. Barack Obama nog telkens weer militêre hulp aan die korrupte en ondoeltreffende Irakse regering verleen.

Biden se tameletjie

Pres. Joe Biden van Amerika verlede week by die Arlington-begraafplaas buite Washington. Foto: AP

Maar, netelig soos dit was, was die Irakse probleem nie die belangrikste nie. Uiteindelik sou Afganistan belangriker blyk.

Met dié dat die Taliban en Al-Kaïda in 2001 stert tussen die bene moes skarrel om te oorleef het die Amerikaners volgens latere ontledings miskien ses maande gehad om ’n alternatiewe koers vir die land aan te dui wat die wind uit die ekstremiste se seile kon neem. Maar, vol van hul gewaande sukses, het hulle nie veel gedoen nie. ’n Ongeloofwaardige, korrupte bewind is in Kaboel in die regeringsgeboue geïnstalleer met ’n mag wat in 2011 selfs tot 110 000 man aangegroei het.

Afganistan moes in ’n Amerikaanse kloon omgeskep word, met respek vir mense- en vroueregte en ’n grondwet wat skrik vir niks.

Die Taliban het dankbaar van die verposing gebruik gemaak deur die Amerikaners as duiwelse en ongelowige besetters te ag en sy eie geloofwaardigheid onder die bevolking te bevorder. Stadig maar seker, millimeter vir millimeter, het die steun vir die nuwe regering verminder en het dié vir die Taliban, dikwels ongemerk, gegroei.

Wat hiermee gepaard gegaan het, was dat die Amerikaanse operasie, wat as ’n oorlog teen terreur begin het, in ’n nasiebou-program ontwikkel het. Afganistan moes in ’n Amerikaanse kloon omgeskep word, met respek vir mense- en vroueregte en ’n grondwet wat skrik vir niks.

Die Taliban het dit dankbaar aangegryp as bewys van die duiwelse agenda van die ongelowige Amerikaners.

Amerikaanse soldate besig om sandsakke by ’n basis in Afganistan te vul met ’n handgemaakte teken op ’n stuk karton wat hulle herinner dat die Taliban orals is. Foto: Reuters

In ’n stadium, toe die Amerikaners hul oë uitvee, ontdek hulle dat hulle die (min) stede beheer, maar dat die Taliban die sweep in die res van die land klap. Van toe af het agtereenvolgende Washingtonse regerings geworstel met die dilemma: Hoe kom ons sonder prestigeverlies uit hierdie moeras?

Obama het Amerika se betrokkenheid by die oorlog in Irak grotendeels beëindig. Hy het egter nie kans gesien om die voorbeeld in Afganistan te volg nie.

Sy destydse visepresident, Joe Biden, wou wel onttrek, maar hy kon Obama nie oortuig nie. Obama se opvolger, Donald Trump, het verskeie kere gepraat van ’n onttrekking en selfs datums genoem, maar sy besluiteloosheid het dit nooit tot ’n punt laat kom nie. Hy het wel die getal troepe gehalveer.

Wanneer sál dit die regte tyd wees om weg te gaan? Één verdere jaar? Twee verdere jare? Nog tien jaar?
Pres. Joe Biden

Dit het die tameletjie mooi op Biden se bord laat beland. Dis waar, hy het as senator vir deelname aan die oorlog in sowel Afganistan as Irak gestem, maar nou ja, om president te wees, is iets anders as senator.

In sy aankondiging verlede week het Biden sy eie dilemma goed saamgevat: “Niemand wil sê ons moet vir ewig in Afganistan wees nie, maar hulle hou vol nóú is nie die tyd om pad te gee nie. Dus, wanneer sál dit die regte tyd wees om weg te gaan? Één verdere jaar? Twee verdere jare? Nog tien jaar?”

Dis ’n teregte vraag wat nie sommer van die tafel gevee kan word nie.

Die ‘Kerkhof van die Ryke’

Afgaanse polisiemanne Maandag by ’n padversperring in Kaboel. Foto: Reuters

Volgens die Amerikaanse departement van verdediging het die oorlog van Oktober 2001 tot September 2019 ’n skrikwekkende $778 miljard gekos, en in ’n tyd van ongelooflike staatsuitgawes om die Covid-19-pandemie te neutraliseer kan Amerika dit skaars nog bekostig.

Neem ook in ag dat die magtige Sowjetunie in die jare sewentig en tagtig eweneens met ’n geboë hoof uit die land moes padgee. Afganistan is soos ’n meule wat alles fynmaal.

Soos David Sanger in die New York Times skryf:

“Die plek staan nie vir niks bekend as die Kerkhof van Ryke nie: Die Britte het in 1842 padgegee ná ’n ekspedisie wat hul teksboeke die ‘ramp in Afganistan’ noem, en die Sowjets in 1989, ná ’n dekade van dood en frustrasie. Wat Sowjetleiers in ’n dekade geleer het, het vier Amerikaanse presidente oor ’n tydperk van twee geleer.”

’n Afgaanse man lees in die naweek die Koran in ’n moskee in Kaboel, Afganistan. Foto: Reuters

Maar daar is ook ’n ander kant van die munt. Die vernederende Sowjet-terugtog in Afganistan het juis geïllustreer dat dié supermoondheid aan die verval was.

Wat sal dit nóú van Amerika sê?

Die direkteur van die CIA, Bill Burns, het onlangs voor die Senaat se Intelligensiekomitee geen doekies omgedraai nie: “Wanneer die tyd vir die Amerikaanse militêre magte kom om te onttrek, sal die Amerikaanse regering se vermoë om bedreigings die hoof te bied verminder. Dis eenvoudig ’n feit.”

Biden se intelligensiedienste het in hul jongste jaarlikse verslag ’n pessimistiese beeld geskilder van ’n swak Afgaanse regering wat dit hotagter sal kry in enige poging om die Taliban te verslaan.

’n Amerikaanse soldaat draai sy gesig weg van die stof wat ’n Black Hawk-helikopter in 2011 in die Kunar-provinsie in Afganistan opskop. Foto: AP

In Amerikaanse koerante word al druk gegis oor ’n herhaling van die vernederende Amerikaanse onttrekking aan Viëtnam in 1973. Dit word steeds gesimboliseer deur ’n foto van ’n helikopter wat die laaste personeel op die dak van die ambassade in Saigon ontruim.

En wat sê dit van die 158 000 Afgane en 2 312 Amerikaanse soldate wat tot dusver in die oorlog gesterf het? Is hul opoffering dan vergeefs? Geen wonder nie dat die uiters konserwatiewe Republikeinse sen. Lindsey Graham die besluit as “dommer as vullis en duiwels gevaarlik” bestempel het.

Uiteindelik is Biden se beslissing – altans in sy eie gemoed – ’n rasionele een. Waarom eindeloos voortgaan met ’n oorlog wat jy tog nie kan wen nie?

Volgens skattings is die Taliban in elk geval baas oor meer as die helfte van die land en 45% van die bevolking.

Ook die amptelike Afgaanse owerheid se dae lyk getel.

Bowendien is daar ander, belangriker, bedreigings op die horison. China, om maar een te noem, en in ’n mindere mate Rusland ook. Reeds onder Obama was daar ’n “skarnier na die Ooste” om die opkomende Chinese bedreiging teen te staan, en ná ’n pouse van vier Trump-jare wil Biden dit voortsit.

Hoe nou vorentoe? Die laaste maande was daar sprake van ’n soort lustelose gesprek tussen die Amerikaanse en Afgaanse regering enersyds en die Taliban andersyds. Dis egter ’n veilige aanname dat die Taliban nie veel voordeel in ’n voortsetting daarvan gaan sien nie.

Alles in ag genome, is dit nie slegs die Amerikaanse betrokkenheid wat ná 20 jaar tot ’n einde kom nie. Ook die amptelike Afgaanse owerheid se dae lyk getel. As ’n mens se kristalbal korrek is, behoort die Afgaanse toekoms, altans voorlopig, aan die Taliban.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Taliban  |  Al-Kaïda  |  Joe Biden  |  Bill Burns  |  George W. Bush  |  Saddam Hoesein  |  Barack Obama  |  Lindsey Graham  |  Afganistan  |  Viëtnam  |  Amerika  |  Irak  |  9/11-Aanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.