Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VSA staak nou oorlog wat nooit moes wees

Teen 11 September vanjaar, presies twee dekades nadat Al-Kaïda-terroriste ’n terreuraanval op die VSA uitgevoer het, sal dié land se laaste soldate Afganistan verlaat. Kort ná die aanvalle in 2011, op 7 Oktober, het die Amerikaanse weermag, saam met die Verenigde Koninkryk oorlog teen Afganistan verklaar. Twee maande later is die Taliban, wat Afganistan sedert 1996 met ’n wrede ystervuis geregeer het, uit die kussings gelig.

Net soos met die Koreaanse Oorlog in die 1950’s en die Viëtnamoorlog daarna sou die VSA egter ’n duur les leer, naamlik dat sommige vyande nie verslaan is wanneer hulle onttroon is nie.

Staatshoofde hou daarvan om oorloë te wen. Dit bevorder patriotisme tuis en bevestig hul leierskapsvaardighede.

Op 21 Julie 1965 het die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake, George W. Ball, pres. Lyndon B. Johnson in die Withuis oor die gevare van ’n uitgerekte Viëtnamoorlog gewaarsku: “Ek dink ons almal het die erns van hierdie situasie onderskat . . . Ek dink ’n lang, uitgerekte oorlog sal ons swakheid en nie ons krag nie blootlê,” het Ball gesê. Johnson het ten spyte hiervan voortgegaan om meer Amerikaanse soldate na Viëtnam te stuur. Uiteindelik sou meer as 2,7 miljoen Amerikaanse soldate op ’n rotasiebasis in Viëtnam veg en sou die oorlog die VSA se swakhede meer as duidelik ontbloot.

Ná 2001 se terreuraanvalle was die VSA egter gereed vir vergelding.

Gedurende die bykans nege jaar wat die Amerikaanse weermag soldate op die grond in Viëtnam gehad het, het sowat 53 000 gesneuwel en is meer as 300 000 gewond voordat hulle uiteindelik op 29 Maart 1973 onttrek het.

Na dié oorlog was die VSA vir lank sku om weer in oorsese konflik betrokke te raak. Reagan het gedreig en op oorlog voorberei, maar nooit die Sowjetunie of enige van sy bondgenote aangeval nie. George H.W. Bush het die kortstondige Golfoorlog gelei, maar ook net omdat oorwinning maklik behaal kon word.

Ná 2001 se terreuraanvalle was die VSA egter gereed vir vergelding. Pres. George W. Bush het die steun van die oorgrote meerderheid van Amerikaners geniet toe hy oorlog teen die Taliban in Afganistan verklaar het. Hy is ook deur raadgewers gewaarsku dat dit makliker sou wees om die Taliban uit die raadsale van regeringsgeboue in Kaboel te verdryf as wat dit sou wees om hulle uit die onherbergsame gebiede van die Helmand-provinsie of uit die harte van verarmde Afgane te dryf. Bush het egter voortgebeur en Amerika se langste en een van sy duurste oorloë ooit verklaar in die hoop dat hy wraak sou kon neem vir die 3 000 Amerikaanse lewens wat op 11 September 2001 deur Al-Kaïda geneem is.

Twintig jaar later verlaat die laaste 2 500 Amerikaanse soldate Afganistan binnekort en dit op ? tydstip dat die Taliban op sy sterkste is. Die Taliban het die afgelope paar jaar meer as 80 000 voltydse vegters opgelei. Die groep beheer 21% van alle administratiewe distrikte in Afganistan. Die regering beheer net 33%, terwyl die res grysgebiede is wat na enige kant toe kan val.

Verlede jaar is meer as 6 000 mense in terreuraanvalle in Afganistan dood. Oor die 20 000 is net die afgelope drie jaar dood. Politieke onenigheid kenmerk die regering in Afganistan. Ten spyte van groot en duur pogings deur die VSA en Navo om die polisie en weermag op te lei, is hulle steeds ongeorganiseerd en gedemoraliseer. Meer as 73 000 Afgaanse soldate het oor die afgelope twee dekades in die oorlog teen die Taliban gesneuwel.

? Paar dae gelede het die Taliban hom uit die vredesonderhandelinge met die Afgaanse regering onttrek. Die Taliban berei sonder twyfel voor vir groter aanslae op die regering in Kaboel in ’n poging om nóg meer veld te wen.

Terwyl die VSA en ander lande se verliese in die getal gesneuwelde soldate getel word, werk dit nie so vir ? ideologies-gedrewe terreurgroep nie. Of dit nou die kommuniste in Noord-Viëtnam of die Islamitiese terreurbende van die Taliban in Afganistan is, die reëls van hul guerrillaoorlog maak oorwinning vir die vyand onmoontlik.

Hoewel die onderdrukking van vroue in Afganistan in vergelyking met 2001 afgeneem het, Afgane heelwat meer persoonlike vryheid geniet en daar wel ? marginale demokratiese regering in die land bestaan, is die lewens van die meeste Afgane vandag niks beter nie.

Nadat buitelandse soldate later vanjaar onttrek het, sal die toekoms van dié land deur sy eie mense bepaal word. Sou die regering in Kaboel sy werk doen en ekonomiese hoop vir sy mense bied, sal hulle hul rug op die Taliban draai. Indien dit nie gebeur nie, sal die Taliban vir genoeg mense die alternatief word om die pendulum in sy guns te swaai.

Die oorlog in Afganistan was grootliks tevergeefs. Die land kan maklik weer in ? burgeroorlog terugval. Die VSA en Navo kan egter niks meer doen om dit te keer nie. Die beste wat jy kan doen met ’n oorlog wat nooit moes plaasgevind het nie, is om dit te beëindig. Dit is wat pres. Donald Trump wou doen en wat pres. Joe Biden nou gaan doen.

Meer oor:  Joe Biden  |  Vsa  |  Afganistan  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.