Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VSA-tariewe knou SA
Suid-Afrika het in 2017 ongeveer 330 000 ton staal na die VSA uitgevoer. Foto: Istock

Die VSA het op 8 Maart aangekondig dat invoertariewe op staal en aluminium ingestel word. Die tariewe van 25% op staal en 10% op aluminium gaan nadelige gevolge inhou vir die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf, skryf Marius Croucamp.

Die Suid-Afrikaanse regering se pogings om vrystelling van die tariewe te beding, het nie geslaag nie en die tariewe het op 23 Maart ingetree.

Suid-Afrika het in 2017 ongeveer 330 000 ton staal na die VSA uitgevoer, wat 5% van sy produksie en 12% van sy staaluitvoer uitmaak.

Hoewel die impak van die tariewe groot skade aan die Suid-Afrikaanse staalbedryf kan aanrig, is die impak op die Amerikaanse staalmark gering.

Uitvoer uit Suid-Afrika na die VSA beslaan vir aluminium slegs 1,6% en vir staal 1,4% van die mark in die VSA.

Suid Afrika is maar die 18de grootste staaluitvoerder na die VSA, wat beteken dat Suid-Afrikaanse staaluitvoer nie een van die skuldies is wat die by die storting van staal op die Amerikaanse mark betref nie.

Die gevolge vir Suid-Afrika kan egter groot wees.

Bronne in die bedryf reken dat tot 7 500 werkgeleenthede verlore kan gaan.

Die VSA en Chinese Staal

Die Trump-administrasie het die wet op handelsuitbreiding van 1962 gebruik om die tariewe in belang van die VSA se nasionale sekuriteit in te stel.

Nasionale sekuriteit het nie net ’n militêre toepassing nie, maar het ook betrekking op die volhoubaarheid van die staalbedryf en fabrieke in die VSA.

Staalfabrieke moet teen ten minste 80%-kapasiteit bedryf word om winsgewend en volhoubaar te wees as gevolg van die hoë insetkoste om staal te vervaardig.

Dit is presies wat die Amerikaners wil bereik, aldus pres. Donald Trump.

Die Chinese vervaardig die meeste staal ter wêreld en word daarvan beskuldig dat hulle goedkoop staal op wêreldmarkte stort en sodoende staalpryse kunsmatig afdwing tot onder ander lande se insetkoste. Die Chinese staalbedryf is 70% in staatsbesit.

Die argument teen Chinese staal is dat China nie werklik goedkoop staal op die mark sit nie, maar eerder kunsmatig goedkoop staal wat deur reuse-staatsubsidies gerugsteun en onbillik verhandel word, wat op lang termyn onvolhoubaar is.

Aan die anderkant is die argument vir Chinese staal dat China die beste staalfabrieke ter wêreld het – fabrieke wat modern en kostedoeltreffend is omdat die fabrieke vir massaproduksie gerat is.

Dit maak nie saak hoe ’n mens daarna kyk nie, die gevolge bly dieselfde: dat die goedkoop Chinese staal ander lande se staalbedrywe doodwurg.

Agoa

Aanvanklik is gedink die teiken van die VSA se nuut ingestelde tariewe is Chinese staal, maar die Trump-administrasie het die tariewe voor die voet vir almal ingestel.

Toegewings, kwotas en voorwaardelike vrystelling is aan Australië, Brasilië en Suid-Korea verleen.

Dit laat die vraag ontstaan wat die Suid-Afrikaanse regering nog moet doen om die Amerikaanse owerhede te oorreed om hom vrystelling van die tariewe te gee.

As Suid-Afrika se impak dan so klein is op die VSA se ekonomie, hoekom word vrystelling nie gegee nie?

Die antwoord is dat die Amerikaners wyer kyk as net staal wanneer beleidsbesluite geneem word.

Sowat 600 Amerikaanse maatskappye doen sake in Suid-Afrika. Sedert die instelling van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) in 2000 het dit die Suid-Afrikaanse ekonomie meer as enige ander Afrikaland s’n gebaat en uitvoer uit Suid-Afrika na die VSA het bestendig toegeneem.

Meer as 60 000 werkgeleenthede is as gevolg van Agoa in Suid-Afrika geskep.

Die gevolge

Suid-Afrika met sy opkomende markekonomie worstel met diep maatskaplike en politieke uitdagings.

Rassespanning is aan die toeneem. Die ANC-regering se buitelandse beleid behels noue bande met die Brics-alliansie en veral met China en Rusland, eerder as met Suid-Afrika se historiese handelsvennote in die Weste.

Dit het ’n struikelblok geword in die pad om buitelandse beleggers uit die Weste te lok en te behou.

Die wittebrood van die Mandela-era is verby en buitelandse beleidmakers kyk nou na die werklikhede van wat in Suid-Afrika aan die gang is.

Die feit dat pres. Omar al-Basjir van Soedan wat deur aanklagte van die Internasionale Strafhof in die gesig gestaar word, steeds toegelaat is om Suid-Afrika openlik te besoek, en toe gehelp is om inderhaas te vlug, het wenkbroue laat lig.

Beleidmakers in die VSA hou Suid-Afrika se optrede by die Verenigde Nasies fyn dop waar daar gereeld teen die VSA gestem en anti-Westerse sentimente gekoester word.

Die ANC-regering moet besef dat Suid-Afrika nou met ander opkomende markekonomieë meeding om die aandag van beleggers in die Amerikaanse private sektor.

Die bepalings van die Agoa-ooreenkoms vereis onder meer dat private eiendomsreg beskerm word.

Suid-Afrika se binnelandse beleid, waarin regulasies oor swart ekonomiese bemagtiging afgedwing word, verwar Amerikaanse maatskappye en die toepassing daarvan is ’n uitdaging wat beleggers die hoof moet bied.

Die ANC en die EFF dryf die grondkwessie baie sterk.

Grondonteiening sonder vergoeding en die gevaar wat dit vir eiendomsreg inhou, laat Amerikaanse beleidmakers rooi ligte sien. Adviseurs raai Amerikaanse maatskappye aan om nie verder in Suid-Afrika te belê nie.

Die bepalings van die Agoa-ooreenkoms vereis onder meer dat private eiendomsreg beskerm word. Die ANC-regering se beleid oor grond plaas Suid-Afrika op groot risiko om uit die Agoa-ooreenkoms geskop te word.

Die gevolge sal wees dat Suid-Afrika die VSA as handelsvennoot verloor, en so ook die 600 maatskappye wat hier sake doen. Daardeur sal meer as 60 000 werkgeleenthede verlore gaan.

’n Mens kan sê dat die ANC-regering se buitelandse en ook binnelandse beleid nou binnelandse werkers gaan benadeel. Daar is geen twyfel nie dat die VSA na al die bogenoemde faktore kyk wanneer besluite oor Suid-Afrika geneem word.

Diplomatieke skakeling en betrekkinge

Diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA het verswak en daar is onsekerheid oor wat die VSA onder die Trump-administrasie se standpunt oor Pretoria is.

Dit wil voorkom asof die politieke wil aan die ANC-regering se kant ontbreek om iets hieraan te doen.

Die vakuum wat hieruit ontstaan het, moet dringend aangepak word. Die Suid Afrikaanse sakesektor moet daadwerklik na die private sektor in die VSA uitreik om handelsbetrekkinge te soek en te behou.

Daar is ook ’n groot geleentheid vir burgerlike instellings en nieregeringsorganisasies om ’n rol te speel deur buitelandse skakeling te doen, en bande en verhoudinge met organisasies in die VSA te bou.

Solidariteit hou die situasie dop.

Marius Croucamp is die adjunk-hoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf.

Meer oor:  Solidariteit  |  Invoertariewe  |  Staal  |  Alluminium  |  Aktueel  |  Invoer  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.