Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VSA-verkiesing: Linkses is gek!

Die verdelingslyne in Amerika strek dieper as ooit en geen politieke party het enige idee hoe om dit te oorbrug nie, skryf Jaco Kleynhans.

In die vroeë oggendure van Woensdag 9 November 2016, by die Javits-konferensiesentrum in New York, het daar ’n gees van ongeloof en verslaenheid geheers.

Honderde ondersteuners van Hillary Clinton wat vir haar oorwinningstoespraak opgedaag het, moes op groot skerms toekyk hoe die een televisienuuskanaal ná die ander aankondig dat Donald Trump tot president verkies is. Een Clinton-ondersteuner het aan ’n televisienuusaanbieder gesê: “Wie is hierdie mense wat vir Trump gestem het? Ek ken nie een van hulle nie!”

Verdeeldheid in die VSA was nog altyd deel van die politieke, ekonomiese en maatskaplike landskap. Selfs voor onafhanklikwording in 1776 was daar ernstige verdeeldheid, wat oor die jare heen op verskillende maniere na vore sou tree en selfs tot ’n burgeroorlog aanleiding sou gee.

Die laaste paar jaar, veral sedert die presidentskap van George W. Bush, is die verdeeldheid aan’t toeneem. Dis geografies en demografies van aard en word vererger deur “harde” skeidslyne op talle terreine, wat die vraag laat ontstaan of die groepe nog enigiets buiten burgerskap gemeen het.

Die “twee Amerikas” is sedert die verkiesing van Trump ook in die twee politieke partye gesetel. Waar vroeë verdelingslyne meestal oor politieke grense heen was, verteenwoordig die Republikeinse Party nou een Amerika en die Demokrate die ander.

Die jong Clinton-ondersteuner wat in 2016 nog nie een van die 63 miljoen mense ontmoet het wat vir Trump gestem het nie, is juis verteenwoordigend van die mate waarin die twee Amerikas afsonderlik van mekaar bestaan en min begrip vir mekaar het.

Die Demokratiese Party verteenwoordig dié Amerika wat in stede en voorstede gevind kan word en witboordjie-werkers wat toenemend sekulêr en verbonde aan die geglobaliseerde inligtingsekonomie is. Saam met hulle is ’n diverse groep Amerikaners in minderheidsgemeenskappe wat ook meestal in stede woon en sterk ten gunste van regeringsprogramme is. Hierdie groepering is ook ten gunste van ’n uitgebreide rol vir Amerika op die wêreldverhoog en steun internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies. Hulle het die laaste paar jaar meer geword, maar geografies gekrimp.

Die ander Amerika, wat deur die Republikeine verteenwoordig word, is sterk ras-eenvormig en bestaan hoofsaaklik uit wit Amerikaners, Amerikaners van Latyns-Amerikaanse herkoms wat hulself as wit beskou en ’n klein persentasie minderheidsgroepe, veral op die platteland, wat ’n sterk waardeband met konserwatiewe, wit Amerikaners het.

Blote afkeer van Trump is nie ’n sterk genoeg gom vir die linkses nie.

Hierdie twee Amerikas verstaan mekaar sleg en kry selfs minder met mekaar te doen soos mense oor die afgelope twee dekades veral in dorpe en stede gaan woon het tussen ander wat soos hulle dink. Daar is die afgelope twee dekades ’n skerp afname in distrikte wat redelik gelykop verdeel is tussen Demokrate en Republikeine. Jy kry vandag eerder duidelik Demokratiese gebiede en duidelik Republikeinse gebiede.

Hoewel die versnelde demografiese veranderings in die VSA groot geleenthede vir die Demokrate inhou, ondervind die party, en in die algemeen die linkse politieke beweging, heelwat uitdagings. Die eerste is die afwesigheid van ’n sterk “gom”.

Peilings wys die één ding wat kiesers gemeen het wat vanjaar vir die Demokratiese Party se kandidate stem en gaan stem (die stemmery het reeds in talle deelstate begin), is hul afkeer van Trump. Meer as die helfte van Amerikaanse kiesers het ’n ernstige afkeer van Trump en die Demokrate glo dis genoeg om die oorwinning te verseker.

Die probleem is dat ’n meerderheid Amerikaners ook in 2016 ’n afkeer van Trump gehad het en dat hy daardie verkiesing ten spyte van sy persoonlike ongewildheid kon wen. In die verlede kon Demokrate soos Bill Clinton en Barack Obama ’n positiewe toekomsdroom voorhou. Blote afkeer van Trump is nie ’n sterk genoeg gom om die linkse beweging bymekaar te hou nie.

Die linkse politieke beweging in die VSA is meer verdeeld as wat dit dalk voorkom. Tydens die veldtog om te bepaal wie die Demokrate se presidentskandidaat gaan wees, was dit veral duidelik. Joe Biden se benoeming as presidentskandidaat was geen algemene goedkeuring van sy prestasielys of beleidstandpunte nie, maar eerder die konsensus dat Biden die beste kans teen Trump het.

In ’n land met byna 200 miljoen geregistreerde kiesers en slegs twee partye wat werklik in verkiesings hond haaraf maak, moet albei partye ’n redelike breë tent opslaan om genoeg kiesers te kan lok wat tot ’n verkiesingsoorwinning lei. Obama, die Demokrate se laaste president, het juis dit reggekry. Sedertdien het die mees linkse vleuel van die Demokratiese Party egter Obama se prestasierekord veroordeel en hulle eis ’n verdere verskuiwing na links.

Bill Clinton (1993-2001) en Obama (2009-’17) is albei verkies deurdat hulle ’n breë, aanvaarbare visie vir die VSA kon bied wat sterk op optimisme en hoop gebou was; sonder dat radikale ekonomiese planne gematigde kiesers sou afskrik. Albei is verkies omdat die meerderheid kiesers daarvan oortuig was dat hulle beter vir die Amerikaanse ekonomie sou wees. Hillary Clinton het in 2016 verloor omdat die meerderheid Amerikaners besluit het Trump sal beter vir die ekonomie wees. Vanjaar glo die meerderheid Trump sal beter vir die ekonomie wees as Biden.

Tydens die benoemingsproses verlede jaar en tydens die eerste paar maande van vanjaar was dit die senator Bernie Sanders se radikale ekonomiese beleidsvoorstelle wat groot steun in die Demokratiese Party geniet het. Verskeie peilings het getoon ’n meerderheid van die Demokratiese Party se lede wat aan voorverkiesings deelneem, is ten gunste van ’n sterker rol vir die regering in die ekonomie wat insluit meer regulasies, strenger ekonomiese toesig, hoër belastingkoerse en ’n groter regering op plaaslike, deelstaat- en federale vlak wat meer regstreeks by ekonomiese aktiwiteite betrokke is.

Linkse politiek in die VSA het breedweg drie pilare: Die meer gematigde sentrum-linkses; die links-liberale ofte wel progressiewes; en die meer radikale links-sosialistiese groep. Biden bevind hom êrens tussen die eerste twee, maar hy besef dat hy die meer radikale groep se steun in die verkiesing moet behou indien hy genoeg kiesers by die stembus wil kry.

In 2016 was een van die hoofredes waarom Clinton verloor het die lae vlak van entoesiasme onder Demokrate en linkse kiesers in die algemeen vir haar veldtog. ’n Hele paar miljoen Obama-kiesers het tuis gebly en Clinton het in deelstate soos Florida, Noord-Carolina en Iowa verloor. Die ander vier Obama-state wat in 2016 na Trump geswaai het – Ohio, Michigan, Wisconsin en Pennsilvanië – het almal ’n groot blouboordjie-, wit, armer en laer geskoolde bevolking.

Dit skep die Demokratiese Party se volgende groot uitdaging. Soos die party se beleid al hoe meer deur stedelike, sekulêre, pro-globalisering-kiesers bepaal word, word die werkersklas in die ou, industriële state in die Midde-Weste vervreem.

Daardie kiesers was vir dekades ondersteuners van die Demokratiese Party en het vir Clinton, Gore, Kerry en Obama gestem.

Teen 2016 het hulle in groot getalle na Trump geswaai, omdat hy onderneem het om Amerikaanse nywerhede met invoertariewe, die heronderhandeling van vryhandelsooreenkomste en deregulering te help, veral wat omgewingsregulasies, belasting en algemene toesig betref.

Hulle was ook mal oor sy sterk standpunt teen onwettige immigrasie, omdat baie blouboordjie-Amerikaners bekommerd is dat immigrante hul werkgeleenthede kan buit.

Hoewel die swaai in 2016 merendeels onder wit blouboordjiewerkers gekom het, bestaan die kans dat konserwatiewe, blouboordjie-, swart en Latyns-Amerikaanse kiesers die Demokratiese Party ook die een of ander tyd die rug gaan toekeer.

Die Demokratiese Party is steeds meer globalisties, ekonomies links en sosiaal-liberaal.

Die sentrisme van Bill Clinton is vandag ’n minderheidstandpunt in die party. Die liberale blok slaag egter daarin om die Demokratiese Party steeds pro-vryemark te hou, maar die Demokrate is ook sterk ten gunste van hoër belasting vir maatskappye en ryker Amerikaners, asook meer regulering, insluitende ’n verbod op hidrobreking, die bou van groot olie- en gaspyplyne en die ontginning van meer olie-, steenkool- en gashulpbronne in ekologies sensitiewe gebiede.

Die kans is groot dat Biden vanjaar gaan wen.

Wit, voorstedelike kiesers swaai na hom en die Demokrate is verenig, hoewel slegs tydelik, teen Trump. Sou Biden verloor, sal dit wees omdat daar nie genoeg entoesiasme onder Demokrate was om in groot getalle te gaan stem nie. Sy onwilligheid om oor ’n reeks beleidsake standpunt in te neem en die afwesigheid van ’n duidelike, optimistiese visie vir die VSA tel ook teen hom.

Dit is veral op ekonomiese terrein die geval.

Terwyl Trump nog meer ongewild as in 2016 is, is die vraag steeds: Wie is die beste vir die Amerikaanse ekonomie?

Die Demokrate het geen samehangende ekonomiese beleid nie. Sommige Demokrate wil keer dat die party se beleid te ver na links beweeg, omdat dit heelwat kiesers kan afskrik. Sou Biden vanjaar wen, sal die party ’n fyn balans tussen die behoeftes van sy linkse aktiviste en gemagtigde kiesers moet vind. Indien nie, gaan dié party heelwat gematigde kiesers van hom vervreem.

* Lees ook hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.