Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VSA-verkiesing: Regses is gek!

Die Amerikaanse reisverhaalskrywer Paul Theroux skryf in sy 2015-werk Deep South: Four Seasons on Back Roads oor die mense van die Amerikaanse Suide en in besonder die “Diep Suide”, wat Alabama, Mississippi en Arkansas insluit.

Betogers vir en teen die aanstelling van regter Am
Betogers vir en teen die aanstelling van regter Amy Coney Barrett in die Amerikaanse hooggeregshof. Foto: Getty Images

Omdat Theroux se reise oor vier seisoene deur die suide hoofsaaklik op kleiner dorpe en afgeleë gebiede gefokus het, het die boek ’n somber en by tye depressiewe toon. Hy skryf onder meer: “ . . . hierdie armes is op hul manier armer . . . en minder in staat om oor die weg te kom en meer wanhopig as baie mense wat ek op my reise in behoeftige dele van Afrika en Asië teëgekom het.”

Die skrywer J.D. Vance se Hillbilly Elegy oor die armoede onder plattelandse gemeenskappe in Wes-Virginië en talle publikasies en navorsingstukke oor die maatskaplike agteruitgang in die ou nywerheidshartland van die VSA kan saam met Theroux se boek gelees word. Hierdie armoede en agteruitgang op die platteland en voormalige nywerheidsdorpe en kleiner stede van die VSA word vererger deur dwelmverslawing en die opioïed-epidemie, wat verwoesting in landelike en ekonomies noodlydende gemeenskappe veroorsaak. Die skokkende styging in selfdood in hierdie gebiede die afgelope paar jaar, veral onder wit mans, skets ’n prentjie wat selfs somberder is as die een wat Theroux en Vance in hul boeke skets.

Sedert die Groot Depressie van die 1930’s en die daaropvolgende versnelling in verstedeliking in die VSA verkeer die Amerikaanse platteland onder groot druk. Die verlies van vyf miljoen vervaardigingsposte tydens die eerste dekade van die 21ste eeu het die situasie in veral die ou Midde-Weste vererger en die finansiële krisis van 2008 was verdere olie op die vuur. Tussen 2008 en 2017 was 99% van alle nuwe werkgeleenthede wat in die VSA geskep is in metropolitaanse gebiede, dus in stedelike gebiede met meer as 50 000 inwoners.

Tussen 2008 en 2017 het 71% van die metropolitaanse gebiede in die VSA se bevolking gegroei. Meer as 50% van die res van die dorpe en stede in die VSA se bevolkingstal het gekrimp. Hierdie veranderinge loop hand aan hand met ? groter demografiese verskuiwing in die VSA.

Die wit bevolking is jare lank al besig om as ’n persentasie van die Amerikaanse bevolking af te neem. In 1950 was sowat 90% van Amerikaners wit en teen 2018 het dit tot 60% gedaal. Tog was 74% van die kiesers wat in 2016 gestem het wit.

Dit beteken nog lank nie dat die VSA ’n bastion van linkse politiek geword het nie, maar wel dat die Republikeinse Party se steunbasis voortdurend aan’t krimp is.

Daar word egter voorspel dat wit mense teen 2045 minder as 50% van die Amerikaanse bevolking gaan uitmaak.

Die Republikeinse Party is reeds dekades lank ’n party wat hoofsaaklik op die steun van wit kiesers gebou is. In 1980 het Ronald Reagan 56% van die wit kiesers se stem gekry en ’n wegholoorwinning behaal. Slegs 14% van swart kiesers en 37% van Latyns-Amerikaanse kiesers het vir hom gestem.

Teen 2012 het die Republikeine se kandidaat, Mitt Romney, 59% van die wit stemme gekry, maar die verkiesing verloor.

In 2016 het Donald Trump onder wit kiesers bykans dieselfde steun as Romney geniet, maar ’n effens hoër persentasie swart kiesers en dié van Latyns-Amerikaanse herkoms het vir hom gestem. Al het die wit bevolking tussen 2012 en 2016 as persentasie van die totale bevolking afgeneem, was die 74% kiesers in 2016 wat wit was, twee persentasiepunte meer as die wit stempersentasie in 2012.

In 2016 het Trump steeds sowat drie miljoen minder stemme as Hillary Clinton gekry. Hoe het hy dus gewen? Omdat die stempersentasie onder wit Amerikaners besonder hoog en daar ’n effense daling in die stempersentasie onder minderheidsgroepe was.

Terwyl wit blouboordjie-kiesers na Trump gestroom het, het talle voorstedelike, wit middelklaskiesers vir hom gestem uit vrees vir hoër belastingkoerse onder Hillary Clinton. Verder het Trump gewen omdat die Amerikaanse kiesstelsel só ontwerp is dat stedelike gebiede nie maklik die oorhand kan kry nie, want die kieskollege ken ’n groter relatiewe gewig toe aan deelstate met ’n klein bevolking, wat dié state in die verkiesingsuitslag bevoordeel.

Dit is nie volhoubaar nie. Die demografiese verandering in die VSA sal uiteindelik van die Republikeinse Party ’n minderheidsparty maak, sou die party nie daarin slaag om veral groter steun onder swart Amerikaners en Amerikaners van Latyns-Amerikaanse herkoms te kry nie.

In 1974 was 62% van die Amerikaanse bevolking Christene, wit en getroud. Teen 2015 het hierdie groep tot slegs 28% van die Amerikaanse bevolking gekrimp. In 2016 het 55% van die wit kiesers met ’n naskoolse kwalifikasie van vier jaar of meer vir Clinton gestem. Daarteenoor het 64% van wit kiesers met geen kwalifikasie nie vir Trump gestem.

Die Republikeinse Party het die party van plattelandse, blouboordjie-, tradisioneel gelowige, wit kiesers geword. Hierdie groep is ook die groep wat die vinnigste as persentasie van die totale bevolking afneem.

Terwyl die VSA besig is om meer stedelik en demografies uiteenlopend te raak, raak die land se bevolking stelselmatig ook meer sekulêr en gevolglik minder konserwatief.

Dit beteken nog lank nie dat die VSA ’n bastion van linkse politiek geword het nie, maar wel dat die Republikeinse Party se steunbasis voortdurend aan’t krimp is.

George W. Bush is in 2004 as Amerikaanse president herkies deurdat hy ’n breë koalisie van kiesers na die Republikeinse Party kon lok. Terwyl 58% van die wit kiesers vir hom gestem het, het 44% van Latyns-Amerikaanse kiesers ook vir hom gestem. Só kon hy daarin slaag om in deelstate soos Nieu-Mexi­ko, Colorado, Nevada en Virginië te wen.

Sedertdien kon geen Republikein weer daar wen nie. Gematigde, voorstedelike kiesers het ook vir Bush gestem omdat sy boodskap oor goeie nasionale veiligheid, drie jaar ná die terreuraanvalle in 2001, tot hulle gespreek het.

Sedertdien het die Republikeinse Party die party van desperate, landelike kiesers geword. Die verhaal van landelike agteruitgang en die yslike styging in armoede is tragies.

Die Republikeine benodig egter ’n breër koalisie van kiesers om te kan bly wen.

Die konserwatiewe beweging in die VSA het ook van ’n beweging met Christelike waardes, ’n vrye mark en ’n klein regering met laer besteding verander in ’n nasionalistiese en proteksionistiese beweging. Republikeine wat in 2016 nog daarteen vasgeskop het, het intussen by Trump se transformasie van die party en die beweging ingeval.

Dit skep groot uitdagings vir ’n party wat op ekonomiese verlies, demografiese agteruitgang en vrees gebou is. Terwyl die Republikeinse Party se waardes sterk is en deur ’n groot deel van die Amerikaanse bevolking aangehang word, wil baie Amerikaners méér as net woede en ’n vingerwysery sien.

Die laaste ruk slaag die Demokrate goed daarin om vanjaar se verkiesing in ’n referendum oor Trump te omskep. Sou dit voortduur, sal hy verloor. In 2016 was hy ook ongewild, maar dit was nie ’n Trump­referendum nie; eerder ’n keuse tussen Trump en Clinton se ekonomiese beleid.

Die Trump-benadering het gewen.

Terwyl die president in peiling ná peiling agteruitboer, het die Pew-navorsingsinstituut Maandag bekend gemaak dat ’n meerderheid kiesers in ’n peiling wat onder 12 000 geregistreerde kiesers onderneem is, steeds glo Trump is beter vir die Amerikaanse ekonomie. Die probleem is dat Trump se persoonlikheid en sy hantering van die Covid-19-pandemie sy ekonomiese prestasie tussen 2017 en 2019 oorskadu, asook sy vermoë om die Amerikaanse ekonomie reg te ruk.

Donald Trump het die Republikeinse Party wesenlik verander. Sy ekonomiese beleid, sowel as elemente van sy internasionale beleid en in besonder die beëindiging van oorloë en sy onderhandelde skikkings tussen Israel en Arabiese lande, is steeds gewild. Die VSA is egter ? land wat erg verdeeld is en Trump het min gedoen om versoening te bewerkstellig; die hedendaagse Republikeinse Party word as ’n verdelende invloed beskou.

As hy wil oorleef en die konserwatiewe beweging in die VSA laat groei, sal daar na minderheidsgroepe uitgereik moet word, die party se leiers hul retoriek moet versag en kiesers, wat bekommerd is oor die geweldige verdeeldheid in die VSA en die land se isolasie op die wêreldverhoog, antwoorde op hul bekommernisse moet kry.

* Lees ook hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.