Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Vuilste mense is op sosiale media’

Die euwels en deugde van die sosiale media, asook die kwessie van fopnuus het gister vir ’n prikkelende gesprek in die tweede Rede-kabel-gesprek op Aardklop gesorg. Ilse Bigalke doen verslag.

Van links is Lourensa Eckhard, gespreksleier, Bouwer Bosch, sanger, akteur en sosialemedia-entrepreneur, Carla Lewis, hoof van sosiale media by Beeld, en Carla de Beer, regskenner oor sosiale media. Foto: Delmari van Zyl

Die bekendmaking van die identiteit van die vermeende Dros-verkragter, Nicholas Ninow, deur die media het ’n storm ontketen omdat die Strafproseswet in gevalle van seksuele misdrywe vereis dat ’n aangeklaagde se identiteit nie bekend gemaak mag word voordat op die aanklag(te) gepleit is nie.

Die voorval het die vraag ontlok of die tradisionele media hom deur die sosiale media laat voorskryf het, waar Ninow se identiteit van meet af onthul is.

Beslis nie, was die mening van Carla Lewis, hoof van Beeld se sosiale media.

Carla Lewis: “Mense is kwaad en sê goed wat hulle nie andersins sal kwytraak nie.” Foto: Delmari van Zyl

Volgens haar is die besluit hoegenaamd nie ligtelik geneem nie, maar het die argument van openbare belang, wat betref die veiligheid van gesinne in ’n spesifieke milieu, uiteindelik die deurslag gegee.

“Die Perskode en die etiese beginsels wat ons onderskryf, onderskei tradisionele van sosiale media. In die Dros-geval is al vier redakteurs van die Afrikaanse hoofstroomkoerante geraadpleeg en regsadvies is ingewin. Maar die ‘hoenders het reeds uit die hok gevlieg’ op sosiale media.

“In die geval van die Springs-monster is hy nie geïdentifiseer nie, omdat dit in die eerste plek oor die privaatheid van sy kinders gegaan het en hulle beskerm moes word.

“In die Dros-geval is dit net die misdaad wat die vermeende verkragter en die slagoffer verbind.”

Geld dieselfde reëls op sosiale media?

Volgens Carla de Beer, regskenner oor sosiale media, is daar nie iets soos sosialemediawette nie. As iemand in Spanje sit en jou sou belaster, is daar geen jurisdiksie om so iemand vas te trek nie.

“In die Dros-insident het die belang van die kind eerste gekom en dis hoekom daar so ’n bohaai was oor die verspreiding van die video en foto’s. Daar is wel ’n verband tussen die man en sy verloofde getrek, en sy kan enige tyd klagtes van naamskending en crimen injuria lê. Maar dit is baie moeilik om sosiale media te reguleer, omdat dit te groot is en almal ’n ‘publiseerder’ is.

“Die beste verweer is om aanstootlike inhoud aan die platform self te rapporteer.”

Bouwer Bosch: “Sosialemedia-geletterdheid is baie belangrik en kinders moenie hul toekoms met simpel twiets weggooi nie.”Foto: Delmari van Zyl

Bouwer Bosch, sanger, akteur en sosialemedia-entrepreneur, het gemaan dat vinnige vingers op Twitter al ’n paar lewens verwoes het. Daarom bestaan sy platform nou meer uit aanlyn uitsendings (podcasts), waar hy meer ruimte vir verduidelikings het.

“Ek skryf my posts oor en oor om myself te beveilig en te keer dat mense my verkeerd opneem. Sosiale media is ’n geraas en niemand gaan dit stilmaak deur harder te skree nie. Dis ’n lewenstyl en ’n wêreld van sy eie – nie die realiteit nie. Niemand is rêrig so kwaad nie, maar dit is maklik om van agter ’n rekenaar of selfoon te skree want daar is geen wette nie.”

’n Katnes van gevare

In die gesprek is heelwat aandag aan die gevare van sosiale media vir kinders én volwassenes geskenk.

De Beer het gemaan dat video’s, foto’s, skermskote of twiets deel van die betrokkenes se digitale curriculum vitae word.

“Niemand gaan die vermeende Dros-verkragter ooit weer werk gee nie. In die geval van Adam Catzavelos (wat die k-woord gebruik het) is hy sy werk by die familie-onderneming kwyt, sy kinders moes hul skool verlaat, en Nike-winkels, waar sy vrou werk, moes uit vrees vir vandalisering sluit.

“Ons almal het ingevolge die Grondwet die reg op privaatheid, maar sodra openbare belang geld, is dit van die baan. Catzavelos was glad nie ’n openbare figuur nie, maar openbare belang het voorrang geniet.”

“Sosialemedia-geletterdheid is baie belangrik en kinders moenie hul toekoms met simpel twiets weggooi nie.”

Bosch het daarop gewys dat sy generasie geleer is hoe om ’n telegram te skryf. Op dieselfde manier moet kinders vandag geleer word hoe om te twiet te skryf en wat om op Facebook te plaas.

“Sosialemedia-geletterdheid is baie belangrik en kinders moenie hul toekoms met simpel twiets weggooi nie.”

De Beer het saamgestem dat dit as skoolvak, dalk as deel van die vak lewensoriëntering, aangebied moet word. “Kinders moet baie meer ingelig word oor die gevare van sosiale media. Hulle besef nie hoe vinnig iets kan gebeur nie. So het die 18-jarige Conrad Roy homself vergas nadat sy meisie hom met drie woorde aangemoedig het om dit te doen. Sy is aan onopsetlike strafbare manslag skuldig bevind. Kinders boelie mekaar ook in WhatsApp-groepe van 50 en meer lede. Hulle verstaan nie die gevare en in hoeveel moeilikheid hulle kan beland nie.”

Volgens haar kan ouers hul kinders se gebruikspatrone baie maklik reguleer, omdat hulle vir die data en lugtyd betaal. Hulle het die volste reg op toegang tot die slimfone, skootrekenaars en hul kinders se wagwoorde.

Lewis het benadruk dat leerlinge saam met sosiale geletterdheid ook geleer moet word hoe om krities te dink en ander se uitsprake en motiewe te bevraagteken.

Maar ouer mense beland, volgens De Beer, in groter moeilikheid as kinders omdat hulle nie in sosiale media geskool is nie en vir allerhande slenters val en naamskending pleeg.

Fopnuus

Sosiale en tradisionele media word ook dikwels misbruik om fopnuus te versprei. Lewis het verwys na die Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing wat net deur Facebook 126 miljoen Amerikaners bereik het, terwyl altesame 137 miljoen hul kruisie in die presidensiële verkiesing getrek het.

“Die tradisionele media moet hulself aan baie hoë standaarde meet."

“Fopnuus is inhoud wat met die duidelike bedoeling vir finansiële gewin of om te mislei of te beïnvloed geskep is. ’n Voorbeeld in die tradisionele media is die Sunday Times se fopnuus oor die ‘rogue unit’ by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Een van die mees gesaghebbende publikasies in Suid-Afrika het hiermee ’n klomp mense se lewens geruïneer, iemand soos Tom Moyane in ’n topposisie geplaas en die ekonomie miljarde rande se skade berokken. Die joernaliste het nie die fopnuus met opset geskep nie – hulle is as agente gebruik om die narratief aan te dryf.

“Die tradisionele media moet hulself aan baie hoë standaarde meet. Ons moet dubbel seker maak dat ons bronne gesaghebbend is en wat hul agenda is. Die les hieruit is dat mense hul vooroordele moet ken en nie net nuus moet volg wat dit bevestig nie. Só beland hulle in ’n sogenaamde eggokamer. Hulle moet baie nuusbronne volg en hul gesonde verstand gebruik.”

Is sosiale media dan net sleg?

Bosch sê dit het bemarking vir hom, sy musiek en produkte baie makliker gemaak. Tog het hy ’n liefde/haat-verhouding daarmee, omdat dit moeilik is om sy eie sake te bevorder. “Dan vra ek myself af hoekom ek daar is en die antwoord is dat ek graag ’n verskil wil maak.”

Hy voel positief oor die toekoms van sosiale media omdat die negatiefste bydraes van die ouer generasies afkomstig is. “Ons beweeg na gesonder tye omdat kinders nie met die bagasie van die verlede sit nie. Hulle bekommer hulle oor goed soos werkloosheid en mediese sorg, eerder as rassekwessies.”

Lewis stel dit gelyk aan die vraag of die wetenskap goed of sleg is. “Die wetenskap het vir ons penisillien en ’n kuur vir kanker gebring, maar ook die atoombom. So het sosiale media ook vir almal ’n stem gegee en veldtogte soos #MeToo en die Arabiese Lente moontlik gemaak. Dus is alles nie sleg nie, maar mense moet dit self reguleer. As ons nie wil hê dit moet ons emosionele en politieke oortuigings bepaal nie, moet ons onsself teen breinspoeling bemagtig. Dit is nou een maal met ons en ons moet dit self beter maak.”

'Nuttelose platform'

Is die publiek werklik so weerloos in die aangesig van die oormag van sosiale media? ’n Lid van die gehoor, prof. Johannes Froneman van die Noordwes-Universiteit, het gesê dis tyd om terug te veg en het Netwerk24 uitgedaag om sy kommentaarplatform te sluit.

“Ons sê maklik sosiale media is te groot en niks kan gedoen word nie."

“Dis ’n totale nuttelose platform. Daar vind geen intelligente debatte plaas nie en dis bloot ’n platform vir suur mense wat suur goed sê. Dis hoekom Daily Maverick sy platform gesluit het. Netwerk24 kan syne óf patrolleer, monitor en aktief bestuur óf dit kan gesluit word.

“Ons sê maklik sosiale media is te groot en niks kan gedoen word nie. Kyk ’n bietjie na hoe die Europese Unie Facebook nou vasvat. Daar word baie druk uitgeoefen en Mark Zuckerberg is in die moeilikheid; hy’s bekómmerd. Daar is ’n terugvegpoging.

“Ook op ’n private vlak kan ons die vak lewensoriëntering gebruik om ons kinders op te voed. Ons het lankal onderrig in mediageletterdheid nodig,” het Froneman gesê.

Lourensa Eckard, mede-aanbieder van kykNET-verslag, was die bekwame gespreksleier.Foto: Delmari van Zyl

 Lourensa Eckard, gespreksleier en mede-aanbieder van kykNET-verslag, wou weet of ontstelde lesers meer aggressief geword het en dinge kwytraak wat hulle nie byvoorbeeld in ’n koerant se briewekolom sou nie.

Volgens Lewis is dit nogal ’n uitdaging om Beeld se sosiale media te modereer en voel sy ná werk asof sy “deur die vuilste van mense se psige geswem het en net wil gaan stort. Mense is kwaad en sê goed wat hulle nie andersins sal kwytraak nie. Daar is geen interaksie soos in die regte lewe nie en ego’s is betrokke. Mense vat mekaar aan in bekgevegte en almal wil reg wees. Ek weet nie of enige debatte op sosiale media opgelos word nie.”

“Die ironie is dat die wêreld deur ’n enkele twiet of post verwoes kan word, maar niks gaan deur ’n twiet opgelos word nie,” het Bosch bygevoeg.

*Die Rede-kabel-gesprekkereeks word in samewerking met Beeld, asook kykNET-verslag, Prontuit en KLOP! aangebied.

*Bigalke is Beeld se meningsredakteur.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Bouwer Bosch  |  Aardklop  |  Sosiale Media  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.