Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waar gaan dit als eindig?

Die IAAF het ses kernwaardes, maar menswaardigheid is nie een van hulle nie. Hy stel voor hulle maak dit hul sewende kernwaarde, skryf Rhynie Greeff na aanleiding van die Caster Semenya-polemiek.

Caster Semenya nadat sy op 3 Mei die 800 m op die Diamantliga-byeenkoms in Katar gewen het. Foto: getty

Ons Grondwet huldig menswaardigheid en gelykheid van mense, maar ons is nie almal fisiek presies dieselfde nie.

Daarom is sportprestasie vir ons ’n viering van natuurlike fisiese ongelykheid wat nie teenstrydig is met die Grondwet nie. Wenners is fisiek beter en oefen harder; sportiewe verloorders kla nie.

Nou is daar egter in my oë ’n skrille teenstrydigheid in die wyse waarop die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) Caster Semenya behandel.

Haar mededingers het gekla. En die beheerliggaam het geluister en ingegee.

Die IAAF verbied opkikkers, want dit is onnatuurlik, medies riskant en verhoog die vlak van natuurlike talent. Daarom verban die IAAF atlete en hul dokters as hulle testosteroon gebruik.

Maar wat gebeur nou? Skielik dring dieselfde sportliggaam aan op onnatuurlike eksterne medies geïnduseerde “afkikkers” by sekere atlete soos Semenya om hul interne hormone en hul natuurlike talent kunsmatig te verlaag.

Die IAAF verander dus natuurlike vermoëns van individue net omdat hulle nie mooi inpas in oudmodiese rame nie.

Moet ’n sportliggaam toegelaat word om God te speel oor mense se natuurlike eienskappe? Wanneer gaan Caster Semenya se menswaar-digheid erken word en hierdie nonsens regge-stel word?

Die IAAF is in ’n selfweerspre­ken­de doodloopstraat waarin mense verban word as hulle medies gehelp word om hormone te verander, maar mense word ook verban as hulle weier om medies gehelp te word met “afkikkers” om hul interne hormone te verander.

Semenya is nie ’n man nie, maar die IAAF nooi haar nou uit om sonder “afkikkers” as man deel te neem. Huh? Gaan ons binnekort ’n man sien wat anti-testosteroon-“afkikkers” neem en dan die 100 m- Olimpiese wedloop vir vroue wen?

Wat van menswaardigheid?

Dit laat my dink aan Alan Turing, die briljante man wat gehelp het om Duitse militêre kodes te ontsyfer in die Tweede Wêreldoorlog en die wiskundige beginsels van digitale rekenaars uitgewerk het.

Hy het sy eie Turing-masjien (die Bombe) gebou en het bygedra tot Colossus, die wêreld se eerste werklike rekenaar wat die Nazi’s se gekodeerde boodskappe soms vinniger as Hitler self kon lees. Vandag se rekenaars is te danke aan hom.

Turing was homoseksueel. Die Britse regering het hom in 1952 daaroor hof toe gesleep. In plaas van tronkstraf het Turing chemiese kastrasie met vroulike hormoonbehandeling aanvaar en hy het borste ontwikkel.

Op die ouderdom van 41 het dit te veel vir hom geword en het hy met strignien in ’n appel sy eie lewe geneem. (Die tegnologiemaatskappy Apple se handelsmerk van ’n gehapte appel is blykbaar ’n huldeblyk aan Turing.)

Ek weet dis ingewikkeld, maar Semenya se behandeling is vir my op die skandalige oudmodiese vlak waarop Turing gemanipuleer was.

Die IAAF het ses kernwaardes, maar menswaardigheid is nie een van hulle nie. Ek stel voor hulle maak dit hul sewende kernwaarde.

Dis vir my soortgelyk daaraan as sou Saru na klaagliedere luister van Beast Mtawarira se mededingers, hom dan dwing om inspuitings te kry om sy testosteroonvlak te verlaag, en om onder mediese toesig ’n dieet te volg om gewig te verloor vir gelyke speelveld sodat Piet Pompies van elders nie meer deur Beast in die grond geboor gaan word nie.

AB de Villiers het briljante oë wat balle teen die spoed van lig kan volg, maar geen teenstander sou eis dat hy korrektiewe chirurgie moet ondergaan om sy oë af te bring na gewone ouens soos ek se skeeloog-slakkegang nie.

Danksy die Semenya-polemiek duik die swemlegende Michael Phelps se naam deesdae op. Mededingers van Phelps, die man met die meeste Olimpiese medaljes, het miskien al gewens dat sy arms afgekap kon word, want sy arms se vleuelwydte is langer as sy lengte.

Dis hoe hy gebore is. Dis hoe hy wen. Hy is anders. Soos Semenya.

Heiliges is soms aards

Ons is almal so ’n bietjie soos Semen­ya – ons is nie altyd presies gedefinieer nie.

’n Komediant is nou die president van die Oekraïne. ’n Eertydse kinderakteur op televisie, Scott Morrison, is nou premier van Australië. Die Amerikaanse seksterapeut dr. Ruth Westheimer is maar 1,4 m lank, maar was in haar jeug as ’n Israeliese skerpskutter opgelei.

Die wêreld se voorste godsdiensleier het in ’n nagklub rondgehang vir ’n jaar. Ja, pous Fransiskus het eens op ’n tyd as ’n deurman en ’n uitsmyter by ’n nagklub in Buenos Aires gewerk.

Pous Benediktus XVI, voorheen bekend as Joseph Aloisius Ratzinger, was in die Tweede Wêreldoorlog ’n anti-tenkspesialis in die Duitse weermag.

As die IAAF in beheer van die Katolieke Kerk was, sou daardie manne sekerlik verban gewees het en nooit die binnekant van ’n pousmobiel gesien het nie.

Ja, heiliges is soms aards.

’n Ander religieuse sterkman, die mitologiese Griekse god Atlas wat die heelal op sy skouers moes dra, het ’n tannie met die doodgewone aardse naam Doris gehad.

Vaagheid is deel van ons wese. Barry Manilow het ’n reusetreffer gehad met sy liedjie “I Write the Songs”, maar hy het dit nie geskryf nie. Dit was die werk van een van die Beach Boys.

Daar is ’n Engelse gesegde dat iemand so blind soos ’n vlermuis is, maar nie een van die sowat 1 300 vlermuisspesies is blind nie. En van die sowat 4 800 spesies paddas in die wêreld maak blykbaar slegs een soort die klank “ribbit”.

Wêreld van teenstellings

Ons lewe in ’n wêreld van teenstellings. Ja, ons is die slimste lewende dinge op aarde, maar wat daarvan? Volgens ’n studiestuk van die Universiteit van Arizona het gars twee keer soveel gene as die mens.

Soms is ons besluitneming so onlogies soos die IAAF en op die vlak van ’n graankorrel.

In 1958 het Mao Zedong die Chinese bevolking beveel om alle mossies dood te maak omdat hy aangevoer het dat hulle die graanoeste eet.

Die volk het geluister en miljoene mossies was daarna, wel, so dood soos ’n mossie.

Ongelukkig het die mossies eintlik graanpeste, veral sprinkane, geëet. Sonder hul natuurlike vyand het die sprinkane soos ongevoelige atletiekburokrate vermeerder.

Sprinkaanplae het oeste grootskaals vernietig en China het in hongersnood verval. Mense het mense geëet en miljoene mense het gesterf.

Iets wat positief bedoel was, het dodelike negatiewe gevolge gebring.

Negatiewe politieke produkte kan egter ook positiewe teenstellings skep. Byvoorbeeld, in die Eerste Wêreldoorlog het mosterdgas baie mense doodgemaak en vermink, maar in die 1940’s is mosterdgas gebruik as basis vir chemoterapie om kanker te beveg. Iets wat negatief was en dood gebring het, het tot lewegewende redding gelei.

Om nuwe lewe te gee is dit soms korrek om jammer te sê vir dom, vernietigende dinge.

In 2009 het die Britse regering amptelik om verskoning gevra vir die onmenswaardige geslagshantering van Turing, en in 2013 het koningin Elizabeth II hom ’n nadoodse kwytskelding gegee.

Regerings het gewetens, maar sou sportliggame ook oor onmenswaardige besluite gewetens kan hê?

Waarheen gaan sport nou met ’n Alan Turing-agtige riglyn oor Se­men­ya dat opkikkers vir kunsmatige hoër hormone verbied word, maar “afkikkers” vir kunsmatige laer hormone afgedwing word?

Moet ’n sportliggaam toegelaat word om God te speel oor mense se natuurlike eienskappe?

Is gay vrouetennisspelers, sterkgeboude heteroseksuele vrouesportsterre of uiters lang vrouebasketbalspelers volgende op die geslagspolisie se lys?

Wanneer gaan Caster Semenya se menswaardigheid erken en hierdie nonsens reggestel word?

  • Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat.
Meer oor:  Iaaf  |  Caster Semenya
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.