Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waar is die bewyse, Tokyo?

Tokyo Sexwale se onthullings oor “groot geld” wat by die Reserwebank rondlê, het al die kenmerke van ’n verneukspul, bedrog of misleiding, skryf Jannie Rossouw.

Tokyo Sexwale, voormalige premier van Gauteng, het Donderdag op ’n mediakonferensie van meer as twee uur verskeie bewerings gemaak rondom die bestaan van ’n “Erfenisfonds”.

Dis glo die geld van ’n “baie magtige familie” in die wêreld en die fonds is volgens Sexwale “in die Reserwebank” onder die “White Spiritual Boy Trust” van ’n buitelandse skenker. Daar is gróót geld ter sprake, volgens Sexwale “12 nulle”.

Dit is bykans onmoontlik om die bestaan van die “Erfenisfonds” te bevestig en totaal onmoontlik om vas te stel wie agter die fonds sit. Trouens, daar is min aspekte van Sexwale se aansprake wat wel bevestig kan word.

Sexwale het briewe in dié verband gerig aan pres. Cyril Ramaphosa, aan Tito Mboweni, minister van finansies, en aan Le­setja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank.

Dit is bloot briewe wat aan ’n adres gerig is en dien nie as enige bevestiging van geld wat beskikbaar is of in enige rekening inbetaal is nie.

Tokyo Sexwale, voormalige premier van Gauteng, wat mense aan die praat het oor ’n geheime fonds met “12 nulle” wat glo deur die Reserwebank bewaar word.

Voorts beweer Sexwale dat die geld deur middel van die Bank vir Internasionale Vereffenings (BIV, of op Engels Bank for International Settlements) na Suid-Afrika oorgeplaas is. Hy is korrek as hy sê dat baie sondes al in die naam van die BIV gepleeg is. Trouens, op die BIV-webwerf is ’n spesiale waarskuwing wat die publiek teen sulke “sondes” en ander leuens en bedrog waarsku.

Dit sal Sexwale en mense wat sy storie glo, help om die webwerf te raadpleeg. Dit verklaar onder meer duidelik: “The BIS does not accept deposits from, or provide financial services or advice to, private individuals or corporate entities.”

Dit is dus onduidelik op watter grondslag Sexwale te kenne gee dat die geld wat kwansuis na Suid-Afrika gekom het, hoegenaamd deur die BIV hanteer is.

Die verdere bewering is dat die Erfenisfonds ’n rekening by die Suid-Afrikaanse Reserwebank geopen het. Die Reserwebank is Suid-Afrika se sentrale bank, wat nie rekeninge vir die publiek open of met die publiek handel dryf nie.

Sexwale moet dus bewyse lewer van die bestaan van die rekening wat na bewering geopen is. As die rekening inderdaad geopen is en bestaan, is dit op sigself ’n baie ernstige aanklag wat tot strafregtelike optrede moet lei. Die SA Reserwebank het in so ’n geval buite sy mandaat opgetree.

In die reg geld die beginsel: Wie beweer, moet bewys. Sexwale het beweer, maar nie bewys nie. Dit plaas die bewyslas op hom.

Boonop hou Sexwale nie van die Engelse woord “scam” nie, vertaal as “verneuk” en ook as “verneukspul”. Die Engelse woord “dupe” kom gevolglik by my op, wat vertaal as “mislei”. Hier is beslis misleiding ter sprake en waarskynlik bedrog.

Die inligting wat Sexwale tot dusver openbaar gemaak het, het alle elemente van bedrog, misleiding en van ’n verneukspul. Trouens, die BIV waarsku op sy webwerf teen sodanige bedrieglike aansprake wat in sy naam gemaak word, en noem by name Manna Projects Consultant Sdn Bhd; Digibanc; Share Sub­scription and Sale Private Agreement en Manifesto.

In bedrieglike transaksies van hierdie aard is daar altyd gesiglose persone ter sprake, wat voorgee dat hulle iemand anders is. ’n Bekende voorbeeld is e-posse wat gestuur word, kamtig in die naam van ’n senior amptenaar van die Reserwebank, maar van ’n e-posadres wat nie deur die Reserwebank gebruik word nie.

Jannie Rossouw

Op dieselfde wyse kan ’n e-pos voorkom asof dit van die BIV af gestuur is, in die naam van ’n senior amptenaar, maar in werklikheid kom dit van ’n e-posadres wat nie deur die BIV gebruik word nie.

Of hier ’n verneukspul, bedrog of misleiding ter sprake is, sal die tyd ons leer. Sexwale het ’n klag by die polisie aanhangig gemaak en ons sal sien waarheen die polisie-ondersoek lei.

Dan het Fanie Fondse se opmerkings by Sexwale se mediakonferensie natuurlik ook aandag getrek. Fondse is ’n aandeelhouer van die Reserwebank en gee te kenne dat hy in daardie hoedanigheid sekere binnekennis van die bank oor operasionele sake het.

By Sexwale se mediakonferensie het hy opgestaan en “bevestig” dat die geld ter sprake wel bestaan.

Ek betwyfel Fondse se aansprake. Ek is ook ’n aandeelhouer van die Reserwebank en kan bevestig dat aandeelhouers nie oor die inligting beskik wat Fondse na bewering het nie.

Sexwale en Fondse se aansprake herinner my aan die ou uitdrukking: Maak die leuen groot genoeg en baie mense sal jou glo.

Die aansprake het al hierdie eienskappe. Ons hoor van ’n bedrag met 12 nulle en name van die Reserwebank en die BIV word links en regs rondgegooi, maar ons sien geen klinkklare bewyse nie.

Iemand het hier ’n groot leuen verkoop en daar was ’n koper. Tyd sal leer, maar die feite wat ons reeds het, vertel ’n storie.

Meer oor:  Tokyo Sexwale  |  Anc-Faksies  |  Reserwebank  |  Geld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.