Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waar is die bruin stemme?
Die stryd teen Afrikaans I

Meer bruin stemme moet uitpraat teen die marginalisering van Afrikaans op kampusse, skryf Heindrich Wyngaard.

Een keer elke ses maande in die In harmonie-sentrum op die Hanneli Rupert-wynplaas La Motte word wingerde by wyse van spreke aangelê deur ’n diverse groep Afrikaanse rolspelers oor sake van gemeenskaplike belang.

Onder leiding van die Dagbreek Trust se direksievoorsitter, dr. Theuns Eloff, is by die laaste byeenkoms begin Desember gepraat oor wat gedoen kan word aan sowel die dalende getal Afrikaanse skole as die uitfasering van Afrikaans in tersiêre onderrig.

Niemand teenwoordig sou kon vooruitsien wat Afrikaanse onderwys teen laat Desember sou tref nie: ’n uitspraak deur die konstitusionele hof dat die Universiteit van die Vrystaat se “verengelsingsbeleid” grondwetlik geregverdig is.

Die verslaentheid hieroor was byna soos die gesigsuitdrukking van pres. Jacob Zuma toe sy adjunk, Cyril Ramaphosa, omtrent ’n week tevore as nuwe ANC-leier aangekondig is.

Maar dit skyn asof almal wat tot nou oor die Grondwet-uitspraak kommentaar gelewer het, aanvaar dat daar geen ander keuse is as om dit te respekteer nie – selfs al stem jy nie noodwendig daarmee saam nie.

In sý reaksie op Netwerk24 dui Eloff vyf “denkfoute” in die meerderheidsuitspraak aan, waarvan die eerste die veronderstelling is “dat Afrikaans ’n wit Afrikanertaal is”. Miskien bestaan dié assosiasie nog by diegene wat Afrikaans deur ’n ideologiese bril bejeën (iets wat jy nie van regters in jou land se hoogste hof verwag nie).

Maar Sensus 2011 en die taalrealiteite in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap sal jou gou oor hierdie “mite” reghelp – nagenoeg 60% Afrikaanssprekendes is in God se sonskyn nie wit nie, maar bruin (en Indiër en swart).

“Om Afrikaans te straf, is om voorheen benadeeldes – polities en taalkundig – nog verder te straf,” maan Eloff.

“En daar is duisende jong bruin mense wat nie net verkies om in Afrikaans te studeer nie, maar ook nie hul volle potensiaal in Engels kan bereik nie.”

Maar Sensus 2011 en die taalrealiteite sal jou gou oor hierdie “mite” reghelp – nagenoeg 60% Afrikaanssprekendes is in God se sonskyn nie wit nie, maar bruin (en Indiër en swart).

Eloff sluit hiermee, sonder dat dit noodwendig sy bedoeling was, aan by ’n stelling in regter Johan Froneman se minderheidsuitspraak. Terwyl wit Afrikaanssprekendes nou ’n taalminderheid raak, het die regter geskryf, is daar terselfdertyd groter bewustheid oor diegene wie se rol in die ontstaan en ontwikkeling van die taal misken is – en dit is dié stemme wat meermale gehoor moet word.

Maar waarom is dié stemme dan so stil?

Froneman reken dit is heel moontlik dat talle of die meeste bruin en swart Afrikaanssprekendes dalk met die konstitusionele hof se meerderheidsuitspraak saamstem, maar selfs dán, sê hy, sou dit die geloofwaardigheid van die uitspraak versterk het as hulle uitgepraat het hieroor.

’n Ander moontlike verklaring vir die afwesigheid van bruin stemme in die reaksie op die UV-uitspraak, is straks wat prof. ­Jakes Gerwel genoem het “die voortgesette neiging tot verengelsing onder gedeeltes van [Afrikaanssprekende] bruin gemeenskappe”.

Histories het dit enersyds met “verburgerliking” en andersyds met protes teen Afrikaans se “verdrukkersbeeld” te doen gehad – iets waarvoor Gerwel begrip gehad het, maar waaraan hy geweier het om ’n deel te hê, skryf hy in Februarie 2011 in ’n persoonlike e-pos.

Die verengelsing manifesteer jammerlik vandag steeds in gevalle waar kinders uit bruin Afrikaanse wonings verkies om hul “huistaal” as Engels op skool aan te dui, terwyl hul Afrikaans stukke beter is.

Die uiteinde is dat hulle dikwels nie matriek deurkom nie omdat hulle hul “huistaal” druip; omdat hulle, as jy reg luister, Afrikaans in Engels praat.

Dit is ’n illustrasie dat hulle “nie hul volle potensiaal in Engels kan bereik nie”, maar in dié geval straf hulle en hul ouers hulself.

Noudat dié “mistasting” egter deur sommige skole in gebiede soos Mitchells Plain reggestel word (deur Engels met Afrikaans as huistaal te vervang), het die 2017-matriekslaagsyfer by dié skole noemenswaardig gestyg, vertel die onderwysman Danie van Wyk.

Dit is duidelik dat hoofregter Mogoeng Mogoeng en sy mederegters glad nie die bruin en swart Afrikaanse leerlinge van die Kaapse Vlakte, Wes-Kaapse platteland, Noord-Kaap, die Langkloof en die Karoo in gedagte gehad het toe hulle hul uitspraak voorberei het nie. Watter ander verklaring kan daar wees vir hul pertinente stelling dat die voortgesette gebruik van Afrikaans op die Kovsie-kampus (en by implikasie seker dan ook op die ander tradisioneel Afrikaanse kampusse) daartoe sal lei “dat wit meerderwaardigheid (‘supremacy’) nie aangespreek sal word nie, maar lewend gehou word”?

Die oomblik het aangebreek dat bruin Afrikaanssprekendes te alle tye met wit Afrikaanssprekendes gesien – en gehóór – word wanneer kwessies soos Afrikaans en tersiêre onderwys met rolspelers soos die regering bespreek word (of in die howe voor geveg word).

Dit noop ons om hierdie keer dalk ­vroeër na In harmonie terug te keer.

Jy wil tog nie ’n situasie hê, wanneer die verskriklike uitsakkoers onder bruin Afrikaanse leerlinge die dag gestuit word, en meer van hulle tersiêre onderrig as ’n noodsaaklikheid begin beskou, dat hulle dan net één taalopsie het nie, you know?!

  * Heindrich Wyngaard is aanbieder van Monitor op RSG en ’n skrywer.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Konstitusionele Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.