Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waar is die WVK vir die wandade van van Anglo-Boereoorlog?

Afrikaners het verskeie kere wel verskoning gevra vir apartheid, skryf Amie van Wyk.

Vroeër die maand het Antjie Krog haar spyt en misnoeë uitgespreek dat daar nie tydens die sitting van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) ’n openbare skuldbelydenis oor die euwels van apartheid uit die Afrikanergeledere gekom het nie.

Haar uitspraak kon maklik by kykers die indruk gelaat het dat daar hoegenaamd geen skulderkenning by die Afrikaners voorgekom het nie.

Wie dieper delf, sal ’n hele paar skuldbelydenisse opdiep.

Baie bekend is die moedige belydenis van prof. Willie Jonker in 1990 tydens ’n nasionale konferensie in Rustenburg: “I confess before you and before the Lord, not only my own sin and guilt, and my personal responsibility for the political, social, economic and structural wrongs that have been done to many of you [blacks], and the results of which you and our whole country are still suffering from, but I vicariously dare also to do that in the name of the DRC of which I am a member, and for the Afrikaner people as a whole. I have the liberty to do just that, because the DRC at its latest synod has de­clared apartheid a sin and con­fessed its own guilt of negligence in not warning against it and distancing itself from it long ago.”

Minder bekend maar nie sonder betekenis nie is die belydenis van vier Potchefstromers wat in 1997 in die tydskrif Woord en Daad asook in Beeld van 7 Oktober van daardie jaar en in die Kerkbode verskyn het.

Die eerste deel van die skuldbelydenis lui soos volg: “Ondergetekendes doen hiermee openbare skuldbelydenis oor hulle aandeel aan en nalatigheid ten opsigte van apartheid. Hulle voel hulle daarin hoe langer hoe meer deur hulle gewetens aangespreek.

“Ons bely hiermee voor God en ons naaste dat ons in woord en daad, in die kerk en in die samelewing, privaat en in die openbaar in gebreke gebly het om genoegsaam en ondubbelsinnig te getuig het teen die gestaltegewing en uitvoering van die ideologie van apartheid wat soveel van ons medegelowiges en medeburgers se lewens benadeel en belemmer, ja, selfs geruïneer het. Saam met Daniël (9:5) bely ons voor die ­
Here: ‘Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.’

’n Ondubbelsinnige skuldbelydenis sou meer getref het.

“Ons bely dat ons nie moedig genoeg getuig, nie getrou genoeg gebid, nie daadwerklik genoeg geglo, nie vurig genoeg liefgehad en nie ’n genoegsame invoeling gehad het in die situasie van individuele en sosiale onreg waarin ons land vir meer as vier dekades verkeer het nie. Ons erken in ootmoed ons skuld aan die skending van fundamentele menseregte en ons aandeel aan die koersloosheid wat daar in krisistye was.

“Ons bely dat ons diep skuldig staan voor God en ons naaste en dat hierdie groot nalatigheid en traagheid aan ons kant slegs deur genade, vergifnis en versoening weggeneem kan word.

“Ons soek by God vergifnis in die offer van Jesus Christus (1 Joh. 1:9), maar ons vra hiermee aan ons benadeelde en verontregte medegelowiges en medeburgers om vergifnis vir wat ons hulle aangedoen het.

“Van ons kant onderneem ons om sover menslik moontlik in woord en daad te vergoed vir die skade wat ons hulle deur die onbillike sisteem van diskriminasie aangedoen het.”

Die dokument is deur vier persone onderteken, naamlik (proff. Bennie van der Walt, Amie van Wyk en Ponti Venter, asook ds. Alwyn du Plessis. Van der Walt en Venter het die dokument ook tydens ’n sitting van die WVK in Oos-Londen voorgehou.

Van Wyk is by die kuratorium van die Teologiese Skool Potchefstroom vir sy “wandaad” aangekla en hy moes hom daar verantwoord.

Hy het die skuldbelydenis weer in Oktober 2014 in Stellenbosch tydens ’n herdenkingsgeleentheid van die WVK herhaal.

Hoewel nie in dieselfde kategorie nie, kan in hierdie verband ook na uitsprake van oudpres. FW de Klerk verwys word.

Ek het aangeteken dat hy by minstens drie geleenthede om verskoning gevra het en sy spyt uitgespreek het oor die ellende wat apartheid veroorsaak het: Op 9 Oktober 1992 tydens ’n openbare toespraak te Winburg; op 29 April 1993 tydens ’n openbare TV-uitsending en op 14 Mei 1997 tydens ’n voorlegging aan die WVK.

Toegegee, ’n ondubbelsinnige skuldbelydenis sou soveel groter trefkrag gehad het.

Ten slotte: Dit val op dat
daar ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) geen enkele Anglikaanse teo­loog was wat ’n woord van spyt en jammer uitgespreek het oor die verwoesting, gruweldade en ontmensliking wat tydens hierdie oorlog, veral in die konsentrasiekampe, voorgekom het nie.

Behalwe die eensame stem van Emily Hobhouse.

Wie weet, indien daar ná hierdie vernietigende oorlog ook ’n WVK gehou was, is apartheid dalk nooit gebore nie.

* Amie van Wyk is ’n afgetrede teologieprofessor van Potchefstroom.

Meer oor:  Antjie Krog  |  Apartheid  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.