Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waar lê Afrikaans op die lys?

Afrikaans met sy 6,8 miljoen sprekers is nagenoeg die 110de grootste van die sowat 7 099 tale ter wêreld, skryf Wannie Carstens en Edith Raidt in Die storie van Afrikaans.

Hier volg ’n kort geredigeerde uittreksel.Ons wil graag weet hoeveel tale daar is sodat ons kan vasstel hoe Afrikaans as wêreldtaal geplaas is aan die hand van die ander tale in die wêreld.

Op die grafika hiernaas kan die aantal tale en sprekers gesien word.

’n Kwart van die wêreld se tale word gepraat deur minder as 1 000 mense. Meer as die helfte van die wêreldbevolking van meer as 7 miljard gebruik slegs een van agt tale: Mandaryns (Chinees), Engels, Hindi, Spaans, Russies, Arabies, Portugees en Frans.

Bykans 920 tale word tans beskou as bedreigde (“sterwende”) tale, tale wat dus in die afsienbare toekoms kan verdwyn.

Hulle is op die sogenaamde “rooi lys” van tale. Dié tale se verdwyning word aangehelp deur kwynende geboortegetalle en ’n gevolglike afname in die potensiële gebruik van die betrokke tale. Die ouerwordende oorblywende sprekers sal nie die taal op die lang duur kan laat voortbestaan nie.

In Afrika oorheers die koloniale tale nog sterk: Frans in die Republiek van die Kongo, Burundi, Gaboen en Rwanda; Portugees in Angola; Engels in Botswana, Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe.

Frans het selfs die potensiaal om teen 2050 die mees gesproke taal in die wêreld te wees weens ’n toename in sprekers van Frans in Afrika. Frans behoort dan 750 miljoen sprekers te kan hê.

Die vraag oor watter taal die moeilikste is om aan te leer, is moeilik om presies te beantwoord. Sommige beskou Chinees, Japannees en Koreaans as die moeilikste om aan te leer (hoofsaaklik weens die komplekse tekenstelsel wat as alfabet dien), maar ander noem weer !Kung, Pools, Hongaars, Fins, Baskies, Grieks, Hebreeus, Russies, Arabies as van die moeilike tale.

Hoe ouer jy word, hoe moeiliker word ’n nuwe taal aangeleer.

Alle kinders kan hulle moedertaal met dieselfde gemak aanleer. Daar is nie maklike en moeilike moedertale nie. Hoe ouer jy word, hoe moeiliker word ’n nuwe taal aangeleer.

Wannie Carstens
Edith Raidt

Meertaligheid word beskou as die waarskynlikste manier om die kwyn van tale teen te werk.

Veral kleiner tale, wat in beperkte gebiede deur min sprekers gebruik word, kan so oorleef.

’n Voorbeeld is Iers, wat oor die afgelope 80 jaar afgeneem het van bykans 250 000 sprekers tot die hui- dige 50 000. Die patroon is voorspelbaar: uitsterwing op lang termyn, waarskynlik binne 50 jaar. As Iers naas Engels bedryf word, het dié taal wel ’n kans.

Dit is nie waar dat Engels die “grootste” taal in die wêreld is nie, gewoon omdat daar meer sprekers van Chinees en Hindi is.

Engels se grootste waarde lê in sy gebruik as ’n internasionale kommunikasietaal, in die ekonomie, as wetenskapstaal, die internasionale politiek, die vermaaklikheidswêreld, sport, die media, die sosiale media (internet, Facebook, Twitter).

Bykans 55% van alle webinhoud is steeds in Engels ten spyte van pogings om ooreenstemmende inhoud in hulle eie tale te gee.

Die aanname dat daar net één manier is om Engels te praat, naamlik soos die Britte in Engeland, hou ook nie meer steek nie.

Volgens berekening praat slegs 15% van die Britse bevolking Standaardengels. Die res van die mense in die Verenigde Koninkryk en ook die mense wat Engels reg oor die wêreld praat, praat ’n sterk gevarieerde Engels – vergelyk hier onder meer Australiese Engels, Suid-Afrikaanse Engels, Indiese Engels, Amerikaanse Engels, Duitse Engels, Nederlandse Engels en Japannese Engels.

  • Prof. Carstens is van die NWU en prof. Raidt van Wits. Die storie van Afrikaans Deel 1 (640 bll. plus kleurkaarte) kos R450. Dit verskyn in November en fokus op Afrikaans se Europese geskiedenis. Deel 2, wat in Julie 2018 voltooi sal wees, gaan oor die Afrikageskiedenis. Die boeke word deur Protea uitgee.
Meer oor:  Wannie Carstens  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.