Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waar ’n einde nooit in sig is nie

Pres. Donald Trump se summiere afdanking van sy veiligheidsraadgewer, John Bolton, was te wyte aan onoorbrugbare verskille oor onder meer Afganistan, skryf Leopold Scholtz.

’n Bekende toneel: Die oorskot van ’n Amerikaanse soldaat wat in Afganistan gesneuwel het, kom in sy geboorteland aan.

Afganistan is die plek waarheen olifante gaan om te sterwe.

Brittanje het die land in die 19de eeu twee keer probeer beset, maar is albei kere gedwing om met die stert tussen die bene pad te gee. Die almagtige Sowjetunie het in 1979 dieselfde gedoen, en moes sy troepe in 1988 ewe vernederend onttrek.

As ’n mens die tekens reg lees, gaan dit nie alte lank duur voordat iets soortgelyks met Amerika gebeur nie.

Kom ons gee eers die agtergrond: Ná die USSR se onttrekking in 1988 het ’n magsvakuum in Afganistan ontstaan, wat dankbaar deur die Islamities-fundamentalistiese Taliban-beweging gevul is. Só fanatiek Islamities is die Taliban dat hy die beroemde Boeddha-beelde van Bamidjan en talle antieke kunswerke in museums vernietig het omdat hulle die Koran se verbod op menslike afbeelding oortree.

Die Taliban se fout was om die Amerikaanse arend se stertvere te probeer trek deur gasheer te speel vir die terreurbeweging Al-Kaïda.

Al-Kaïda was op 11 September 2001 verantwoordelik vir die grootste letsel op die Amerikaanse psige sedert die Japanse verrassingsaanval op Pearl Harbor in Desember 1941. Dus het die onvermydelike gebeur: Amerika het die Taliban-regime met oorweldigende vuurkrag aangeval en binne enkele dae geknak.

Hy verstaan hoe om Trump se ego te benader.

Maar toe begaan die Amerikaners in hul oorwinningsroes ’n fundamentele flater. Pleks van om die momentum van hul militêre oorwinning aan te wend om politieke stabiliteit en ekonomiese voorspoed te genereer, het hulle die kans verspeel deur hul troepe grotendeels terug te trek en vir die uiteindelik rampspoedige inval in Irak te gebruik.

Daarvan het die Taliban handig gebruik gemaak. Die Amerikaners se militêre swakheid is uitgebuit, en binne ’n jaar of wat het die Taliban-insypeling momentum begin kry.

Die Amerikaners het wel ’n stabiele Afgaanse owerheid aan die gang probeer kry, maar dié was so korrup dat die gewone burgers se lojaliteit steeds meer na die sterker wordende Taliban gegaan het.

Intussen het heelparty bondgenote van Amerika – onder meer Brittanje, Duitsland, Nederland, Australië, Kanada, Denemarke en ander – ook troepe na Afganistan gestuur. Maar omdat elkeen van dié regerings soveel moontlik politieke beweegruimte wou behou, het die militêre samewerking nie lekker gevlot nie.

Bowendien het die strategiese benaderings onderling kwaai verskil. Die Britte, Duitsers en Nederlanders was aanhangers van die idee dat die oorlog gewen word deur die plaaslike bevolking se lojaliteit te wen; die Amerikaners was meer dikwels ten gunste van die ystervuis-benadering.

Die oorlog duur nou al 18 jaar, en ’n einde is nie in sig nie. Naby 4 000 soldate van die Westerse koalisie het al gesneuwel en meer as 25 000 is gewond.

Westerse demokrasieë is berug vir hul onvermoë om vas te byt, na die lang termyn te kyk en voort te beur as hul oorlewing (dus anders as in 1939-’45) nie op die spel is nie. Daarom het Amerika in 1975 besluit om uit Viëtnam pad te gee, al het dit met ’n geweldige vernedering en verlies aan internasionale prestige gepaardgegaan.

Agtereenvolgende Amerikaanse regerings het met dié probleem in Afganistan geworstel. Pres. Barack Obama wou sy land se oorheersende rol in dié oorlog al verminder en konsentreer op wat hy as die egte toekomstige bedreiging – China – beskou het.

Sy opvolger, pres. Donald Trump, het aan die bewind gekom met die belofte dat hy Amerika se rol as wêreldpolisieman sou beëindig en die troepe huis toe bring, maar dit was makliker gesê as gedaan.

Onderlinge botsings oor dié saak in die regering het nou al twee koppe geëis, dié van Bolton en Trump se eerste minister van verdediging, genl. Jim Mattis. Bolton is ’n eenvoudige veglustige politikus van wie gesê word dat hy nog nooit met ’n oorlog te make gekry het waarvan hy nie hou nie, maar Mattis was opreg van mening dat Amerika se internasionale geloofwaardigheid ’n onherstelbare knou sou kry as die land summier uit Afganistan padgee.

Ook die minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, is teen ’n onttrekking sonder behoorlike waarborge, maar hy is veel meer van ’n politikus as die kwasterige Bolton en reguit Mattis; hy verstaan hoe om Trump se ego te benader.

Hoe ook al, in opdrag van Trump het Amerikaanse diplomate al maande lank met verteenwoordigers van die Taliban oor ’n moontlike vredesooreenkoms onderhandel. Die kontoere van so ’n ooreenkoms, luidens wat in die media uitgelek het, het daarop neergekom dat Amerikaanse troepe in fases onttrek sou word.

In die eerste fase sou 5 000 soldate binne 135 dae huis toe gaan. In ruil sou die Taliban plegtig onderneem om sy steun vir terreur te staak. Dit sou vervolgens die pad open vir ’n nasionale dialoog om ’n uiteindelike duursame vrede teweeg te bring.

Altesame 15 000 Amerikaanse troepe sou bly totdat die proses voltooi is.

Daar was drie probleme hiermee. Die eerste is dat dit die amptelike Afgaanse regering ignoreer, en die tweede dat die Taliban ’n mate van vertroue kry wat hy waarskynlik nie verdien nie.

Ten derde het gebeure sedertdien gewys dat ook die Taliban verdeel is tussen ’n relatief gematigde en ’n radikale vleuel. Terwyl die “gematigdes” met die Amerikaners onderhandel het, het die radikale die onlangse aanslae voorberei wat verlede week tientalle lewens in die hoofstad, Kaboel, geëis het.

Heel moontlik is dit gedoen met die doel om die onderhandelings te verongeluk. Indien wel, was dit ’n sukses.

Trump was op die punt om Taliban­afgevaardigdes in sy buiteverblyf, Camp David, te ontvang om die ooreenkoms te beklink toe die aanslae plaasvind. Dit was selfs vir hom te veel, en hy het dus die beraad afgestel.

Wat nou? Dis duidelik dat die einde van die oorlog nie in sig is nie; die Amerikaners moet hulle voorberei op ’n langdurige oorlog waarin hulle – soos sake tans staan – aan die verloorkant is.

Al troos, as ’n mens dit so kan noem, is dat die Moslem-fundamentalistiese bewegings mekaar byna net soveel as die “Christen-honde” haat.

Die Islamitiese Staat (Isis) en Al-Kaïda het al verskeie kere bloedig met mekaar gebots, en veral Isis wen veld ten koste van die ander twee in Afganistan.

Dit is moeilik om te sien hoe die amptelike regering in Kaboel sonder Amerikaanse militêre steun kan oorleef. As die Amerikaners padgee, gaan Afganistan sonder twyfel ’n politieke en militêre swart gat word waarvandaan terreur na hartelus beplan en gepleeg kan word. Dit kan ook die naburige Pakistan en Iran insuig.

Die eindgevolgtrekking van ’n onlangse verslag van die onafhanklike Amerikaanse Instituut vir die Studie van Oorlog is insiggewend en onheilspellend:

“Geeneen van die akteurs het ’n oortuigende visie vir die toekoms van Afgani­stan nie. Geen faksie is sterk genoeg om die land ten volle te beheer nie. Daar is geen beperking op die vloei van wapens en vegters oor die grense nie.

“Uit die wrakstukke van die Sowjetunie se onttrekking aan Afganistan het die Taliban, Al-Kaïda en 9/11 te voorskyn gekom.

“Soos die groot moondhede hulself reoriënteer en die Afgane aan hul lot oorlaat, kan ’n nuwe djihadistiese storm in die historiese ‘begraafplaas van ryke’ onbeheerd opsteek.”

*Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke kommentator.

Meer oor:  Donald Trump  |  John Bolton  |  Afganistan  |  Vsa  |  Oorlog  |  Taliban
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.