Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waardige eerste pryswenner
Hermann Giliomee ontvang die Jan H. Marais-prys.Foto: Lerato Maduna

Prof. Hermann Giliomee is vanjaar aangewys as die eerste ontvanger van die Jan H. Marais-prys vir ’n uitsonderlike bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

Hieronder is ’n uittreksel uit die motivering vir die prys aan hom:

Wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van ’n hoë gehalte in Afrikaans is vir die prys benoem.

Giliomee is ’n historikus en kenner van Suid-Afrikaanse politiek. “Sy wye kennis en belangstellings het baie gedoen om by Suid-Afrikaners – en in die besonder by die Afrikaanssprekende gemeenskap – ’n kritiese ingesteldheid te kweek,” luidens die verklaring.

Hermann Giliomee is al meer as 40 jaar lank nie slegs een van Suid-Afrika se voorste geskiedkundiges nie, maar ook ’n politieke ontleder wie se mening oor verskeie onderwerpe altyd in aanvraag is.

Giliomee het aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer. Na ’n kort tydjie in Pretoria, in die staatsdiens en aan die Universiteit van Suid-Afrika, het hy in 1967 as lektor na sy alma mater teruggekeer. Gedurende sy loopbaan het hy sy vlerke gesprei en genootskappe van die volgende universiteite aanvaar: Yale-universiteit in 1973 en weer in 1977 tot 1978, Cambridge-universiteit in 1982 tot 1983, die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem in 1987, die Woodrow Wilson-sentrum vir Internasionale Vakgeleerdes in Washington in 1992 tot 1993 en die Rockefeller-stigting se Bellagio-sentrum in Italië in 1994.

Sy aanvanklike uittogte na Engelssprekende lande oorsee was nogal ongewoon vir ’n akademikus van die departement van geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.

Onafhanklike denke is ’n eienskap waaroor universiteite gereeld hoog opgee en nie altyd hooghou nie.

In Giliomee se geval moes hy dit eerstehands ervaar toe sy verkenningstogte uitdruklike afkeer van sy akademiese departement ontlok het.

Ondanks ’n uitstekende akademiese profiel is sy bevordering op twyfelagtige wyse geblokkeer. In 1982 moes hy hom op die Universiteit van Kaapstad verlaat om ’n professor te word, nie in geskiedenis nie, maar in politieke studies. In wese het hy egter ’n historikus gebly, soos sy latere werk getuig.

Tydens sy loopbaan het Giliomee in ’n ontsagwekkende aantal joernale gepubliseer, baie daarvan hoog aangeslane internasionale publikasies.

Die belangrikste is egter sy aansienlike uitset in boekformaat; hy was met nie minder nie as ’n dosyn boeke gemoeid as óf die enigste outeur óf medeouteur, redakteur of mederedakteur.

Sy magnum opus was ongetwyfeld Die Afrikaners: ’n Biografie(2003), wat in Afrikaans sowel as Engels verskyn het.

Hoewel ander al soortgelyke pogings aangewend het om die onstuimige geskiedenis van Afrikaners tot dieper insigte te verwerk, is dit Giliomee se werk wat kop en skouers bo almal uitstaan en bestem is om die toets van die tyd te deurstaan.

Die boek is goed ontvang in uitgelese kringe oorsee met die rare onderskeiding om as een van die beste niefiksieboeke van 2003 deur die invloedryke The Economist aangewys te word.

Giliomee is ’n voortreflike Afrikaner wat internasionale aansien geniet.

Sy lewenslange verbintenis tot onafhanklike denke, sy uitmuntende akademiese oeuvre in Afrikaans en sy toewyding tot Afrikaans sal hom ’n waardige ontvanger van die eerste Jan H. Marais-prys maak.

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.