Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waarheen met ANC in 2021?
’n Jaar van interne spanning wag op die ANC, met die stryd tussen faksies in die party wat steeds nie bygelê is nie. Foto’s: GALLO IMAGES

Wat gaan met Ace Magashule gebeur? Gaan die ANC steun verloor in die verkiesing en hoe warm gaan sake vir pres. Cyril Ramaphosa binne die party word? Rapule Tabane soek na antwoorde.

Die duidelikste aanduiding van waar ons met die ANC staan, is op 15 Desember verlede jaar gegee, met ’n bevinding van die party se integriteitskommissie dat Ace Magashule, sekretaris-generaal, opsy moet staan.

Maar dieselfde middag nog het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, ’n mediakonferensie byeengeroep en gesê niks het verander nie, Magashule sal in sy pos aanbly tot in 2021, wanneer ’n besluit geneem sal word.

“Die sekretaris-generaal bly die sekretaris-generaal van die ANC en daar word van hom verwag om die werk van ’n sekretaris-generaal te doen,” het Mabe gesê.

Hy het bygevoeg dat die integriteitskommissie eers in 2021 ’n verslag oor die kwessie by ANC-beamptes sal indien – en dat elke lid van die party die reg het om appèl aan te teken op bevindings van die kommissie.

Die integriteitskommissie het met Magashule vergader om hom te herinner aan die party se resolusie dat diegene wat aangekla word van korrupsie en ander ernstige oortredings, opsy moet staan – en dat hy dieselfde moet doen.

Maar Mabe is reg. Magashule was nie van plan om van sy pos afstand te doen nie en hy het sy ondersteuners in die invloedryke nasionale uitvoerende komitee (NUK) opgesweep om weerstand te bied teen enige druk dat hy moet loop.

Die kommissie se verslag – ongelukkig vir diegene wat wil hê Magashule moet sy tasse pak – is bloot ’n aanbeveling aan die NUK, wat die finale sê het oor wat moet gebeur.

Die ANC het al soveel speletjies gespeel met dié spesifieke resolusie, deur lede wat daardeur geïmpliseer word aan te moedig om terug te staan, net om hulle daarna weer toe te laat tot hul poste.

Dit sluit in Florence Radzilani en Danny Msiza, senior party­leiers in Limpopo wat aanvanklik teruggestaan het nadat hulle by die ondersoek na VBS Mutual Bank betrek is. Maar die ANC het later gesê alles is vergewe en hulle kan terugkeer na hul poste.

Dieselfde het gebeur met Zandile Gumede, voormalige burgemeester van eThekwini wat instruksies gekry het om opsy te staan nadat sy in hegtenis geneem is weens bedrog.

Maar toe word sy wonderbaarlik bevorder na ’n pos in die provinsiale wetgewer. Toe daar kritiek oor dié besluit losbars, is sy na die provinsie se integriteitskommissie verwys, waar daar besluit is haar hande is skoon en sy vry is om enige pos te beklee.

’n Doodloopstraat

Die ANC is ’n party wat een tree vorentoe neem om korrupsie te beveg en dan twee treë terug neem.

Dit is nogal jammer van ’n party­ wat lank reeds korrupsie geïdentifiseer het as die enkele groot faktor wat dienslewering aan Suid-Afrikaners ondermyn.

Die resolusie wat op die Nasrec-konferensie in 2017 aanvaar is, is tog so duidelik: “Kaders van die ANC wat formeel aan­gekla word van korrupsie of ander ernstige misdade moet onmiddellik afstaan van alle leiersposte in die ANC, wetgewers en ander regeringstrukture hangende die finalisering van hul sake.”

En tog het partylede ’n manier gevind om dié resolusie te ondermyn of verkeerd te interpreteer. Ná twee vergaderings van die NUK – een in Augustus en een in Desember – is dit asof die party in ’n doodloopstraat is oor hoe om dié eenvoudige en reguit woorde van die resolusie te interpreteer.

Die probleem is na vanjaar uitgestel­, met die idee dat top­beamptes vanjaar met nuwe riglyne vorendag sal kom oor die inwerkingstelling van die resolusie – en dit aan die NUK sal voorlê.

Die amptelike kommentaar is: “Die beamptes het die mandaat om riglyne en prosedures te ontwikkel oor die inwerkingstelling (van die resolusie) en die volgende NUK-vergadering sal die vordering hersien.”

Die waarheid is dat min ANC-leiers nog in hul poste sou wees indien die resolusie streng toegepas is.

En dit sou nie net diegene raak wat deel is van die faksie wat Magashule en oudpres. Jacob Zuma­ ondersteun nie, maar ook ondersteuners van pres. Cyril Ramaphosa.

So eintlik het te veel mense direkte belang by die resolusie en daarom kan dit nie streng toegepas word nie.

Ramaphosa het belowe hy gaan korrupsie vasvat, maar hy sal die werklikheid van die oorheersende sentiment in die party moet aanvaar.

Skoonskip by stembus

Ons ondersoek en ontleed die ANC so baie, want hy bly die oorheersende speler in ons politiek en lewe. Hoewel steun vir die party oor die jare heen afgeneem het – soos gereflekteer in die 57% van stemme wat die party in 2019 gekry het in nasionale en provinsiale verkiesings – is daar geen aanduiding dat die ANC sy mag heeltemal gaan verloor nie.

Op die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie in 2020 het die party alle geloofwaardigheid verloor toe dit aan die lig gekom het dat baie van sy lede voordeel getrek het uit kontrakte vir die verkryging van persoonlike beskermende toerusting.

Baie mense met geen idee van mediese toerusting of ervaring om ’n onderneming te bedryf nie, het oornag maatskappye gestig en tenders van miljoene rande ontvang om ’n diens aan regeringsdepartemente te lewer.

Toe het #VoetsekANC sosiale media oorheers, wat die ontevredenheid van die publiek akkuraat opgesom het.

Maar toe daar later in die jaar byna 100 tussentydse verkiesings gehou is weens wyke wat vakant geraak het, het die ANC skoonskip gemaak en sowat 80% van die wyke gewen waarin hy meegeding het.

Dit beteken dit maak nie saak watter woede die party by mense ontlok nie, dit bly die verstek waarop gemeenskappe terugval wanneer hulle onseker is vir wie om te stem. Dis ’n baie gerieflike posisie om te beklee – een wat nie vir enige ander party beskore is nie.

Die ANC trek voordeel uit die inploffing van die DA, met DA-kiesers wat nie meer seker is waarvoor die party staan en of hy hulle gaan beskerm teen die ANC nie. Net die DA kan persepsies oor homself uit die weg ruim en intussen knibbel kleiner partye lustig aan sy steunbasis.

Nadat die EFF, die derde grootste party in die land, aanvanklik steun begin werf het, stagneer die party nou. Hoekom? Want kiesers het begin besef die EFF se sterk punt is konfrontasie en chaos en nie veel meer nie.

Terwyl sommige mense in swart gemeenskappe die EFF se bereidwilligheid verwelkom om veldtogte teen rassisme van stapel te stuur, is hulle onseker wat die party sal doen as hy mag bekom, want sy ingesteldheid is om te baklei eerder as om gevegte te keer of met oplossings vorendag te kom.

Koalisies?

So dís die prentjie waarmee ons vanjaar gekonfronteer word, in ’n jaar waarin ’n munisipale verkiesing vir ongeveer Julie of Augustus beplan word.

Die laaste munisipale verkiesing, in 2016, was ’n totale ramp vir die ANC, toe die party drie metrorade – Nelson Mandelabaai, Tshwane en Johannesburg – aan ’n DA-EFF-koalisie moes afstaan.

Maar die opposisie se koalisies het in duie gestort omdat die EFF en die DA mekaar bloot nie kan verdra nie en groot ego’s samewerking onmoontlik gemaak het.

Sommige DA-ondersteuners was ongelukkig met die party se koalisie met die “party van chaos” (die EFF), terwyl die rooi berets van hul militante geloofwaardigheid ingeboet het weens samewerking met die “wit party”. Die ANC is die party wat voordeel trek uit die fragmentering van die opposisie. Waar hy minder as 50% van stemme in kleiner munisipaliteite en groter metrogebiede kry, sal hy eenvoudig ’n koalisie vorm met watter opposisieparty gewillig is om saam met hom te werk.

Maar die langtermynvoordeel vir die ANC is dat talle munisipaliteite regeer sal word deur brose koalisies wat nie op beginsels gegrond is nie, maar op korttermyngerief. Dit kan lei tot ’n soortgelyke situasie as in Tshwane, waar dit reeds die afgelope vier jaar onmoontlik is vir die koalisie om te regeer en dienste te lewer. In vier jaar was daar drie burgemeesters, is die raad onder provinsiale administrasie geplaas en baie tyd is in howe deurgebring om dispute oor die blote bestaan van die raad op te los.

Kleiner partye, soos die VF Plus, sal goed doen in die munisipale verkiesing, asook Herman Mashaba se nuwe party, Action­ SA – en hulle kan uiteindelik die deurslaggewende besluitnemers wees oor wie watter munisipaliteite regeer.

Mbeki se lot

Op nasionale vlak is die hoop dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke onverbiddelik sal wees in hul vervolging van misdadigers, ongeag watter streke die ANC mee vorendag kom. Die NVG en die Valke het verlede jaar uiteindelik tande gewys met die vervolging van groot visse soos Magashule.

Ons sal maar sien hoe ver hulle kom en ons hoop hulle word nie gevra om terug te staan as sake vir Ramaphosa warmer word in die ANC nie. Moet geen fout maak nie: Van die lede en leiers in die ANC sal probeer om Ramaphosa te verswak op die party se nasionale algemene raadsvergadering later vanjaar.

Die raadsvergadering is die plek waar die party in oënskou neem hoeveel van die beleid wat op die laaste partykonferensie aanvaar is, reeds in werking gestel is. (Hierdie vergadering sal na verwagting in Mei gehou word.)

Maar dit word ook gereeld gebruik as ’n platform om die president by te kom – soos met oudpres. Thabo Mbeki gebeur het. Ramaphosa sal aangeval word omdat die party te stadig beweeg met die onteiening van grond sonder vergoeding; die Reserwebank nog nie genasionaliseer is nie; en weens sy hantering van “witmonopoliekapitaal”.

En dan gaan dit uiteindelik neerkom op getalle – wie tussen die Magashule/Zuma-faksie en die Ramaphosa-faksie die grootste steun het. En dis ’n stryd waarvan die uitkoms eenvoudig onmoontlik is om te voorspel in ag genome die uitslag van die ANC se laaste konferensie by Nasrec in 2017.

As Suid-Afrikaners kan ons maar net hoop dat daardie interne gevegte nie ’n uitwerking het op hoe ons regeer nie en veral nie op die oorlog teen korrupsie nie.

Tabane is politieke redakteur van City Press.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Rapule Tabane  |  Anc  |  Partypolitiek  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.