Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waarheid en verdoeming

Waarom doen progressiewe intellektuele eindeloos boete vir dit wat wit koloniseerders aan die mensdom gedoen het, sondes waaraan hulle self geen aandeel gehad het nie,  wonder Doug Stokes.

Die Rhodes-standbeeld word in April 2015 by die Universiteit van Kaapstad verwyder. Foto: Liza van Deventer

Gister, presies vier jaar gelede het die student Chumani Maxwele ’n emmer feses oor die standbeeld van Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad uitgegooi en só ’n beweging begin met die doel om leerplanne aan universiteite te “dekoloniseer”.

Die beweging het gou oorgespoel na Brittanje toe studente van die Oriel College aan die Universiteit van Oxford ook aangedring het dat ’n standbeeld van Rhodes verwyder word.

In sy wese is die beweging ’n poging om, soos sy aanhangers dit karakteriseer, die oorheersing van die Westerse kanon in die geestes- en sosiale wetenskappe aan te pak – asook die onderverteenwoordiging van vroue en minderhede in die akademie. Soos baie bewegings geïnspireer deur kritiese teorie, hou hulle vol dat ’n mens se oortuigings en menings grootliks bepaal word deur jou velkleur, seksuele oriëntasie en geslag.

In ’n samelewing steeds “gevorm deur ’n lang koloniale geskiedenis waar heteroseksuele mans uit die hoër sosiale klasse steeds aan die bopunt van die sosiale piramide staan, gee die meeste dissiplines ’n disproporsionele prominensie aan die ondervindinge, bekommernisse en prestasies van hierdie een groep,” sê Priyamvada Gopal, ’n dosent aan die Universiteit van Cambridge.

Aan die hart daarvan lê die sondes van Westerse imperialisme.

In een van die sleuteltekste van die beweging word studente, aktiviste en navorsers gewaarsku oor “die slaggate” verbonde daaraan om dekoloniale werk te doen in die “tuiste van die koloniseerder, die hart van die establishment”.

In ’n bisarre ingryping geniet hierdie nuwe beweging nou ook die steun van die Britse koninklike familie. Verlede maand het Meghan Markle, hertogin van Sussex, op ’n besoek aan ’n Londense universiteit haar gewig agter dié beweging ingegooi nadat sy oortuig is deur ’n voorlegging oor die relatief klein getal swart personeellede, asook van etniese minderhede, wat verbonde is aan hoëronderwys-instellings in Brittanje.

Volgens die Britse dagblad The Times het die hertogin City University in Londen besoek in haar hoedanigheid as beskermvrou van die Vereniging van Statebondsuniversiteite (ACU). Toe sy gekonfronteer is met bewyse oor die gebrek aan swart en vroueprofessore aan Britse universiteite het sy luidens berigte gereageer met ’n “O, my God!”

Die hertogin se oproep vir Britse universiteite om die “kurrikulum te dekoloniseer” kan nog die amptelike beleid van die Britse Arbeidersparty – en moontlik die volgende regering – word. Angela Rayner, die Arbeiders se woordvoerder oor onderwys, het onlangs ’n soortgelyke opmerking as die hertogin gemaak.

“Soos die establishment, is ons universiteite steeds te manlik, te muf, te bleek en onverteenwoordigend van die gemeenskappe wat hulle in ’n moderne Brittanje dien,” het sy vroeër die maand op die kongres van die University and College Union – ’n vakbond vir akademici – gesê. As die Arbeiders aan die bewind kom, het sy beloof, sal die magte van die nuutgestigte Kantoor vir Studente gebruik word om hierdie tekortkominge aan te pak.

Pasop, Meghan, as die standbeelde begin val, val hulle dalk net op jou.

Volgens Rayner moet universiteite in Brittanje “veel meer doen” en onder die Arbeiders “sal hulle aanspreeklik gehou word”.

So, wat moet ’n mens maak van hierdie beweging se haas onstuitbare momentum?

Eerstens is dit bisar om te beweer dat Britse universiteite die laaste bastions van die Britse Imperiale Ryk is. Dit roep beelde op van stowwerige ou wit ooms (manlik, muf en bleek) wat saamsweer dat nie-Westerse standpunte delegitimiseer word, wat sorg dat net leeswerk deur wit, manlike skrywers voorgeskryf word, en seker maak dat vroue en gekleurde mense uitgesluit word uit die akademie.

Trouens, die departemente in die geestes- en sosiale wetenskappe regoor die Engelssprekende wêreld heen is byna almal hoogs progressief en deurdrenk in kritiese teorie wat die uitsluitlike doel het om kennis te desentraliseer en die Westerse kanon te dekonstrueer: van Edward Said se postkoloniale kritiek op Westerse oriëntalisme en Marxistiese kritiek op kapitalistiese imperialisme, tot by postmoderne dekonstruksies van “Westerse hegemonie” deur denkers soos Gayatri Spivak, Michel Foucault en Jacques Derrida.

As die beweging “dekoloniale werk in die tuiste van die koloniseerder, die hart van die establishment” doen, waar is die kursusse dan wat hierdie onregverdige magsverhoudings onderskryf en in stand hou?

’n Veel groter uitdaging sou wees om ’n enkele Britse universiteit te vind wat enige kursus aanbied wat nie die dominante narratief van Westerse kwaadwilligheid soos ’n papegaai herhaal nie. As dit waar is dat die meeste dissiplines disproporsionele prominensie gee aan die ervarings en prestasies van wit mans uit die hoër stande, hoe verklaar Gopal dan die oorweldigende oorvloed kritiese narratiewe oor Westerse geskiedenis en politiek, en ook die opbloei van hierdie kursusse in, soos sy beweer, ’n kultuur van diepgesetelde rassisme?

En anders as die data wat aan Megan Markle voorgehou is oor die gebrek aan swart en vroulike professore in Britse universiteite wys data van Advance HE dat die proporsionele verskil tussen wit professore en dié wat nie wit is nie, baie klein is – slegs 1,5 persentasiepunte.

Wat die data dus eintlik toon, is die ongelooflike diversiteit binne fakulteite in Britse akademiese instellings – een van die redes waarom hulle so aantreklik bly vir die wêreld se bestes en slimstes. Dit is iets wat gevier behoort te word en ’n bewys van ’n meritokratiese aanstellingsprosedures – een van die redes waarom Brittanje spog met vier van die wêreld se toptien universiteite.

Waar kom die populêre wanopvatting dat rassisme en rassedominansie deur wit mans steeds die kerneienskap van die Britse akademie is dan vandaan?

Histories is die dekolonisasie-beweging hoogs selektief in die feite wat hulle kies om te belig. Aan die hart daarvan lê die sondes van Westerse imperialisme en die gruwels van die Transatlantiese slawehandel. Dit is reg om hierdie kwessies te verken. Hulle vorm ’n belangrike deel van die ontwikkeling van die moderne wêreld.

Tog probeer die beweging ’n hele rassegroep stigmatiseer vir die misdade van ’n klein minderheid Britse aristokrate van eeue gelede wat dieselfde velkleur as hulle het. Is dit nie ’n vorm van rassisme nie?

Op ’n dieper vlak put die dekolonisasie-narratief uit ’n breër tradisie in die Westerse kultuur wat wye steun geniet. Pascal Bruckner het dit in 2006 in The Tyranny of Guilt: An Essay on Western Masochism uitgewys as ’n diep gewortelde skuldgevoel. Hierdie skuld voed ’n paternalistiese narsisme, een van die bepalende eienskappe van ’n sekere tipe Westerse intellektueel wat, in Bruckner se woorde, “eindeloos boete doen vir wat ons aan ander dele van die mensdom gedoen het”.

Hy gaan voort: “Hoe kan ons in gebreke bly om in te sien dat dit ons lei na ’n lewe van selfveroordeling waarin ons ’n vreemde trots daaruit put dat ons die slegste is? Selfverkleinering is duidelik ’n vorm van indirekte selfverheerliking.”

Soos ’n hedendaagse sekulêre godsdiens, kom die dekoloniseringsbeweging uit ’n dieper bloedlyn binne moderne identiteitspolitiek en die Westerse kultuur: een van eindelose selfveroordeling vir sondes waarvoor uiteindelik nooit boete gedoen kan word nie en wat die Weste die bron van alle boosheid maak.

Die ware historiese rekord is baie meer gekompliseerd. Om die Britse Ryk en die gruwels van die Transatlantiese slawehandel te verstaan, moet ons ook die rol erken wat Brittanje gespeel het in die afskaffing van slawerny. Soos Peter Grindal dit dokumenteer in Opposing the Slavers: The Royal Navy’s Campaign Against the Atlantic Slave Trade, het dit 60 jaar geneem vir die Britse vloot om uiteindelik die Portugese, Spaanse, Nederlandse en Brasiliaanse slawehandel te onderdruk.

Ons moet ook besef dat slawerny en kolonisasie in bykans alle state en beskawings (soos Afrika-koninkryke en die Islamitiese Barbaryse state) die norm eerder as die uitsondering was.

Wat Brittanje en die Verenigde State van Amerika uitsonderlik maak, is dat hulle ook die bewegings voortgebring het wat slawerny, dikwels teen groot koste, beëindig het. Honderde duisende jong (bleek) mans het hul lewe in die Amerikaanse Burgeroorlog opgeoffer.

Voorts is hulle ook uitsonderlik dat hulle nou ook daaroor wil boete doen. Daar is immers geen dekoloniseringsbeweging in Algerië, Tunisië of Marokko nie – die sentrums van die Barbaryse slawehandel van die 16de tot 18de eeu.

Postkoloniale skuld is so diep ingebed in die Weste se progressiewe elite dat as ons vra wat ’n empaaier is, ons onwillekeurig dink aan Westerse ryke, gewoonlik die Britse Ryk, maar soms ook dié van die Grieke of Romeine. Vra jy die meeste akademici wat hul mening is oor Ottomaanse imperialisme of wat hulle dink oor die gevolge van die Islamitiese ver­owering van groot dele van Europa of die impak van Barbaryse slawerny op die Europese beskawing (op sy hoogtepunt was daar miljoene Europese slawe), sal jy byna altyd met stilte begroet word.

Hierdie kennis het ’n nog meer onsigbare voetspoor onder die algemene bevolking. Kortom, eerder as dat Britse universiteite as apologete vir Britse en Amerikaanse kolonialisme optree, doen hulle alles in hul vermoë om studente te oortuig dat slawerny ’n unieke Westerse sonde was.

Miskien meer beduidend as dit kom by die eenogige progressiewe narratiewe oor slawerny, is die dekoloniseringsbeweging se totale onverskilligheid oor moderne slawerny. Die globale slawerny-indeks skat dat 40,3 miljoen mans, vroue en kinders op enige gegewe dag in 2016 die slagoffers van moderne slawerny was. Van hulle was 24,9 miljoen mense in dwangarbeid en 15,4 miljoen vasgevang in ’n gedwonge huwelik. Vroue en meisies is ver oorverteenwoordig en maak 71% van alle slagoffers uit. Moderne slawerny kom die algemeenste in Afrika voor, gevolg deur Asië en die gebied aan die Stille Oseaan.

As Westerse intellektuele werklik vasbeslote is om boete te doen vir die Transatlantiese slawehandel, sal hulle nie hul tyd beter gebruik as hulle hulle beywer vir veldtogte om dié walglike praktyk, wat ’n disproporsioneel groter invloed op die lewe van gekleurde vroue en meisies het, in die hier en nou te beëindig nie?

Dit lei tot my finale punt.

Die beweging om die kurrikulum te dekoloniseer en die identiteitspolitiek wat dit onderlê, kom op ’n vreemde tyd, geopolities gesproke.

Van die ekonomiese opkoms van China en sy wêreldwye selfversekerdheid tot die toenemende onrustigheid van ’n onliberale Rusland – om nie eens te praat van ’n steeds perkolerende Islamitiese opstand in die Midde-Ooste nie – het die liberale na-oorlogse internasionale orde nog nooit swakker gelyk as nou nie.

Hoewel dit deur die Weste geskep is en saamgebind word deur ’n verskeidenheid globale instellings, het dit die konteks geskep vir wêreldwye ekonomiese ontwikkeling en die ongelooflike opkoms van ’n nuwe globale middelklas, hoofsaaklik in die ontwikkelende wêreld.

In Worlds Apart: Measuring International and Global Inequality karteer Branko Milanovic die verbluffende opkoms van ’n nuwe middelklas in Oos-Asië. Tussen 1988 en 2008 het die per capita-inkomste in Chinese stede verdriedubbel, en in Viëtnam, Thailand en Indonesië verdubbel, terwyl landelike inkomste met 80% gestyg het.

Saam met ekonomiese invloed kom militêre mag en China strek nou sy vlerke wêreldwyd, veral in Afrika, terwyl hy sy militêre dominansie regionaal verstewig.

Net soos die dekoloniseringsbeweging koester hierdie state en hul leiers almal ’n diep grief teen die Weste, geskoei op hul begrip van die moderne geskiedenis.

Hierdie grief noop China om weer sy natuurlike plek as ’n groot wêreldmag in te neem en die onregte van die Britse imperialisme te herstel.

Op sy beurt wil Rusland sy vernedering ná die einde van die Koue Oorlog bylê, terwyl die Islamiete wil terugslaan teen die Weste met die skep van ’n wêreldwye kalifaat.

As ons aanvaar dat een van die voorvereistes vir die opkoms van hierdie anti-Westerse state en bewegings ’n mate van vertroue en doelgerigtheid is – kom ons beskryf dit as “telos” – wat het die Weste om te bied teen hierdie hoogs onliberale, dikwels outoritêre en soms openlik moorddadige state en sosiale magte?

Wat is die sosiale gom wat ons saambind met die gemeenskaplike doel om ons gedeelde institusionele orde te verdedig, en waarop ons brose en histories onseker regte en vryhede rus?

Ek sou aanvoer dat die begeerte van die progressiewe professoraat om die Weste te verdelg, sy mag te verminder, sy narratiewe te dekonstrueer, sy filosofieë uit te daag en sy institusionele orde omver te werp, ’n impuls is wat sy wortels in ’n vroeë, meer stabiele geopolitieke orde het toe veel minder op die spel was.

Die Weste se lang na-oorlogse bloeitydperk wat gehelp het om die welsynstaat en universiteite regdeur Europa te finansier, het die 1968-generasie van linkse intellektuele (die argitekte van vandag se maatskaplike geregtigheidsbewegings) met ’n vals gevoel van sekuriteit gelaat.

Hulle kan hulle vir ’n revolusie beywer waarin hul drome van sosiale omwenteling bewaarheid word, die Weste ’n mag ten goede word vir die vestiging van ’n soort sosialistiese Shangri-la.

Maar as hulle sou slaag, sal die resultaat nie wees dat ander streeksmoondhede tot Skandinawiese sosiaal-demokrasieë transformeer nie; dit sal eerder wees dat daardie selfde streeksmoondhede Brittanje en Amerika – en die meeste van Europa – sal transformeer in disfunksionele, outoritêre kleptokrasieë, elke dan en wan gepunktueer deur ideologiese bloedverlies.

Wees versigtig waarvoor jy wens, Meghan Markle.

As die standbeelde begin val, val hulle dalk net op jou.

* Prof. Doug Stokes is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van Exeter.

* Gepubliseer met vergunning van die meningsblad www.Quilette.com

Meer oor:  Doug Stokes  |  Meghan Markle  |  Brittanje  |  Kolonialisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.