Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dís waaroor studente betoog

Studente wat teen “akademiese uitsluiting” betoog, krap baie mense om. Maar die betogings gaan dikwels oor meer as net “studente wat alles op ’n skinkbord wil hê”, skryf Jana Marx.

Studente betoog vandeesweek teen ‘akademiese uitsluiting’ by talle universiteite. Foto: Getty Images

Die afskryf van historiese skuld, gratis registrasie en nóg ’n hele lang lys ander eise. Dit voel soos déjà vu – asof oudpres. Jacob Zuma net anderdag nog in die doodsnikke van sy termyn gratis onderrig aan studente belowe het.

’n Mens wil jou hare uit jou kop trek as jy wéér ’n ompad moet ry omdat betogende studente die paaie versper en jy hoor gratis onderwys vir almal en die afskryf van historiese skuld, is eenvoudig nie moontlik nie.

Prof. Daryl Balia, adjunkrektor van die Noordwes-Universiteit, gee toe gratis tersiêre onderrig “is die ideaal, maar in Suid-Afrika, waar die ekonomie 75 jaar laas in so ’n (swak) toestand soos nou is, is dit nie moontlik nie. Suid-Afrika het eenvoudig nie die geld nie.”

Maar dan is dit belangrik om te besef hierdie betogings het in baie gevalle meer om die lyf as net studente wat “alles op ’n skinkbord wil hê”.

Waarom nou skielik?

Polisielede by die lyk van Mthokozisi Ntumba, die omstander wat tydens die Wits-studentebetoging dood is. Foto: Getty Images

Die krisis is nie ’n nuwe een nie. Die huidige betogings herinner sterk aan die #FeesMustFall-beweging in 2015.

Baie van die studente wat nou betoog, gaan gebuk onder administratiewe probleme. Hulle kry verwarrende boodskappe van die departement van hoër onderwys en opleiding, asook die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS).

Nagenoeg 5 000 studente het halfpad deur hul studiejaar in 2020 hul NSFAS-beurse verloor.

Studente sien dat die NSFAS ’n aansoek afkeur, terwyl R1,1 miljard wat vir hoër onderwys bedoel was, eerder aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens toegewys word.

Die South African Students’ Congress (Sasco) het met die begrotingsrede by die parlement betoog teen die besnoeiing van hoër onderwys se begroting.

Hulle hoor in vanjaar se begrotingsrede hoe hoër onderwys se begroting weens Covid-19 en ander faktore besnoei word. Die NSFAS is een van die slagoffers van hierdie besnoeiings.

Hulle lees ook dat die ouditeur-generaal (OG) R500 miljoen se onreëlmatige uitgawes in die 2019-’20-boekjaar by die hulpskema uitwys – blykbaar is daardie geld nooit verklaar nie.

Die South African Students’ Congress (Sasco) het met die begrotingsrede by die parlement betoog teen die besnoeiing van hoër onderwys se begroting en gesê “dis niks anders as die maak van ’n bespotting” van hierdie belangrike sektor nie.

Die betogings

Net soos met #FeesMustFall het die jongste betogings verlede week by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) begin.

Kort daarna het studente van die Universiteit van Kaapstad ook begin betoog, en vandeesweek het studente van ander universiteite hulle hierby aangesluit.

Die plan was om 26 universiteite landwyd te sluit.

Sommige betogings verloop sover vreedsaam, ander minder so. By Wits is ’n omstander dood toe die polisie op betogers losgebrand het.

‘Miljarde se studieskuld’

universiteite

Volgens Misheck Mugabe, president van die South African Union of Students (SAUS), is die olifant in die vertrek “die finansiële uitsluiting van ons studente by tersiêre instellings.

“Die saak waaroor niemand wil praat nie, is die studenteskuld van R13 miljard. Ons universiteite dink hulle kan dít oplos deur studente te straf deur te sê dat studente nie sonder registrasiegeld kan registreer nie.”

Prof. Ahmed Bawa, uitvoerende hoof van Universiteite Suid-Afrika (Usaf), het Woensdag op ’n sitting in die parlement gesê die studieskuld van studente wat tans nog aan universiteite studeer, beloop tussen R6 miljard en R7 miljard.

Só lyk SA universiteite se inkomste

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het in Oktober ’n verslag uitgereik waarin hy sê universiteite maak meer as ooit staat op staatstoelae.

In Oktober 2015 het duisende studente teen studiegelde betoog.

Die regering het ’n 0%-verhoging in gelde vir die 2016- akademiese jaar aangekondig en studiebeurse vir arm studente uitgebrei.

Staatsfinansiering het sedert #FeesMustFall toegeneem.

Volgens SSA is die res van universiteite se inkomste van gelde, skenkings en ander bronne net ’n rapsie meer as die staatstoelaes wat hulle ontvang.

In 2019 het universiteite landwyd R88 miljard ontvang, waarvan R42 miljard staatstoelaes was.

Om verder te vereenvoudig: In 2014 – voor #FeesMustFall – was R44 van elke R100 wat ’n universiteit ingekry het, afkomstig van die staat. Onderwysgeld was R34, skenkings was R7, R4 was rente en dividende en die oorblywende R11 was afkomstig van ander strokies. Teen 2019 was die regering se bydrae al R48 van elke R100.

In 2015 was studiegelde meer as R21 miljard (35% van die totale inkomste) en in 2019 was dit R29 miljard (33% van die totale inkomste).

Llewellyn Prince het Maandag berig die SAUS het Sondag, ná ’n tweedaagse noodvergadering van sy nasionale uitvoerende komitee en studenterade van alle universiteite, “eenparig” op dié drastiese stap (om landwyd universiteite te sluit) besluit totdat oplossings gevind word vir die wye reeks probleme wat die tersiêre sektor teister.

Hulle eis ook geregtigheid vir Mthokozisi Ntumba, die omstander wat by Wits dood is.

Die grootskaalse betogings kom nadat die SAUS Saterdag op ’n vergadering met dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, voorleggings oor moontlike oplossings “ten sterkste verwerp het”.

Wat eis die studente?

Die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Getty Images

Die SAUS se eise aan universiteite sluit in:

• Om historiese skuld vir alle studente af te skryf.

• Onmiddellike voorsiening van nagraadse finansiering en om gevorderde diplomas by die finansieringsraamwerk in te sluit.

• NSFAS-finansiering vir studente wat nou vir die eerste keer registreer.

Nzimande het Maandag in ’n skriftelike reaksie op die SAUS se eise gesê sy departement het reeds ’n plan gemaak om hierdie studente te help deur nog geld aan die NSFAS toe te wys.

Christiaan du Plessis het Woensdag berig dat R2,5 miljard van die toelaes aan universiteite, R3,3 miljard van die Nasionale Vaardigheidsfonds, R500 miljoen van beoogde infrastruktuurprojekte vir TVET-kolleges en R100 miljoen van die besteding aan goedere en dienste besnoei moet word om die begrotingstekort van die NSFAS te finansier.

Hulle eis dat alle studentetoelaes in Maart al betaal moet word omdat die akademiese jaar vanjaar in Maart begin.

• Skootrekenaars. “Die ooreenkoms verlede jaar was dat studente skootrekenaars sal ontvang voor die aanvang van die 2021- akademiese jaar.”

• Hulle eis dat alle studentetoelaes in Maart al betaal moet word omdat die akademiese jaar vanjaar in Maart begin. “Verhuurders teister reeds studente vir die betaling van huur.”

Nzimande het hierop gesê NSFAS-geld word eers beskikbaar gestel sodra studente daarvoor bevestig is. Hy het daarop gewys dat die eerste uitbetaling op 1 April beskikbaar sal wees.

• Studente moet hul punte kan kry, al skuld hulle die universiteite geld.

Volgens Nzimande het alle instellings aan die departement bevestig dat hulle planne gereed het om studente met skuld van hul akademiese rekords te voorsien.

Studente beskadig eiendom terwyl hulle verlede week by Wits betoog. Foto: Getty Images

• Gratis registrasie vir alle studente gedurende die 2021- akademiese jaar.

“Ons verwerp die instelling van die minimum aanvanklike betaling (MIP).”

Volgens Nzimande besluit elke universiteit self op registrasiegeld en MIP-betalings. NSFAS-studente hoef nie hierdie geld vooraf te betaal nie.

• Die studente eis ’n 0%-styging vir die 2021- akademiese jaar.

Hieroor sê Nzimande universiteite is afhanklik van die geld om dienste te kan lewer en dat die regering nie die geld het om ’n 0%-styging te finansier nie.

• Hulle eis gratis gehalteonderwys vir die armes en die “die verlore middelgroep” – diegene wat “te ryk” is vir die NSFAS, maar steeds sukkel om hul studiegeld te betaal.

“Die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) van 14% tot 15% was bedoel om gratis onderwys te dek.”

Hulle eis dat studente wat weens die effek van die Covid-19-pandemie by universiteite uitgesluit word, toegelaat word om vanjaar verder te studeer.

Volgens Nzimande steun die regering hierdie studente al sedert 2018 deur middel van die NSFAS. Sy departement is egter besig met ’n dringende hersiening van die finansieringsbeleid om sy volhoubaarheid vas te stel en spesifiek te kyk hoe arm en middelklas-studente ondersteun kan word.

• Hulle eis dat studente wat weens die effek van die Covid-19-pandemie by universiteite uitgesluit word, toegelaat word om vanjaar verder te studeer. Sithembiso Nkosi, voorsitter van die EFF-studentevereniging in Pretoria, sê dit sluit studente in wat weens die pandemie nie kon werk nie en dus nie ’n inkomste kon verdien nie en nou weens hul skuld nie vir die nuwe akademiese jaar kan registreer nie. Volgens hom behels dit ook diegene wat nie verlede jaar aanlyn klasse kon bywoon of take kon indien nie omdat hulle nie data kon bekostig nie.

• Die SAUS dring daarop aan dat alle studente op vlak 1-inperkings (wat tans geld) na kampusse terugkeer. “Studente van huise waar daar nie internetverbindings is nie, word reeds uitgesluit van aanlyn registrasie.”

Nzimande het gesê hoewel hy begrip het hiervoor, berus hierdie besluite op plaaslike vlak (by universiteite).

• Hulle eis ook dat die registrasietydperk tot 30 April verleng word en dat die NSFAS-appèlle binne die volgende twee weke afgehandel word. “Studente wat van plan is om te appelleer, word van registrasie uitgesluit.”

Die minister het reeds aan die verlenging toegegee en gesê hy verneem NSFAS “werk hard om appèlle af te handel”.

Meer geld aan NSFAS

Brandende asblikke en bande versper paaie waar die studente teen ‘akademiese uitsluiting’ betoog. Foto: Getty Images

Die NSFAS, wat in 2018 onder administrasie geplaas is, is ’n beursskema van die departement van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie om studente uit huishoudings wat minder as R350 000 per jaar verdien, te finansier.

Die parlementêre komitee het Woensdag besluit dat Nzimande se departement nog R6,3 miljard aan die NSFAS moet toewys, wat beteken finansiering in 2021 beloop nagenoeg R42 miljard, teenoor die net meer R36 miljard in 2020.

Die NSFAS het onlangs gesê dat hy ’n “ongekende” getal aanlyn aansoeke van 730 000 nuwe en terugkerende studente vir die 2021- akademiese jaar ontvang het, sowel as 60 000 fisieke aansoeke.

Die departement het gesê dat daar vanjaar sowat 184 315 plekke vir nuwe studente by alle universiteite is.

Nzimande het Maandag in sy toespraak gesê: “Ons is bewus daarvan dat daar baie studente is wie se gesin sukkel om by te bly met betalings en beslis baie gesinne wat ook negatief geraak is deur die pandemie. Gegewe die moeilike fiskale situasie, is alle staatsdepartemente, ook die departement van hoër onderwys en opleiding, nietemin in 2020 en 2021 aan begrotingsverlagings onderwerp.”

Dinge wat studente moedeloos maak

Studente wil passasiers uit ’n bus trek wat gestop het by die bushalte waar hulle betoog het. Foto: Getty Images

• Die NSFAS het vir groot oproer gesorg toe ’n kennisgewing in Februarie die indruk geskep het dat onderwys- en verpleegkundestudente nie voortaan gefinansier gaan word nie.

Luidens die kennisgewing aan universiteite gaan die NSFAS in 2021 nie meer eerstejaarstudente vir onder meer BCur-, BEd-, BTech-kwalifikasies finansier nie.

Rapport het egter berig die verwarring spruit uit die uitfasering van hierdie kwalifikasies.

Hulle kry nuwe name, die vlak daarvan op die nasionale kwalifikasieraamwerk verander en daar is ook nuwe toelatingsvereistes.

Die skema het egter beloof dat almal wat nog besig is met hul studie in die kwalifikasies met die ou name, enduit daarvoor gefinansier sal word.

Daar is egter kommer oor nagraadse studies, wat weens die begrotingsbesnoeiing glo ook “heroorweeg” word.

Bawa van Usaf het aan Rapport gesê: “Wat negatief geraak word, is programme soos nagraadse LLB(-kwalifikasies).”

In 2020 het die OB glo agt klagtes rakende die NSFAS ontvang wat verband hou met onvoldoende toelaes vir leermateriaal, die niebetaling van toelaes vir verblyf en versuim om vir registrasiegelde te betaal.

• Die departement van hoër onderwys en opleiding het vroeër aan Unisa opdrag gegee om sy eerstejaarsgetalle met 20 000 te besnoei omdat hy te veel studente toelaat en dit te veel druk op die NSFAS plaas.

Dit sou die 58 000 nuwe studente tot 38 000 verminder.

Die opdrag het baie kritiek van die DA en die EFF se studenterade uitgelok, wat meen studente moenie weens swak bestuur ly nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het intussen die besluit tersyde gestel en die saak se regskoste aan Nzimande toegewys.

• Christiaan du Plessis het vroeër berig die kantoor van die openbare beskermer (OB) het aangekondig hy gaan ingryp by die uitdagings van tersiêre onderwys, veral dié wat met die NSFAS verband hou.

In 2020 het die OB glo agt klagtes rakende die NSFAS ontvang wat verband hou met onvoldoende toelaes vir leermateriaal, die niebetaling van toelaes vir verblyf en versuim om vir registrasiegelde te betaal.

“Daar is ook ’n voortgaande ondersoek wat spruit uit bewerings dat die NSFAS onreëlmatige besteding ter waarde van R7 miljard aangaan het, versuim het om studente te help en dat sy vermoë gebrekkig is om lenings te verhaal,” lui die verklaring.

• In Augustus 2020 het die NSFAS boonop beurse aan 5 000 studente teruggetrek nadat hy inligting van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang het dat die inkomste van dié studente se gesin meer as R350 000 per jaar is – iets wat verskeie studente betwis.

Nadat die 5 000 beurse opgeskort is, het die NSFAS die studente van “leuens” beskuldig, soos onder meer deur Briefly en die IOL berig is.

Selfs Nzimande het die studente van bedrog beskuldig.

Die groepgeding

Duisende studente het met die #FeesMustFall-beweging vir gratis onderwys betoog. Foto: Getty Images

AfriForum se jeugafdeling het intussen saam met drie van hierdie studente ’n groepeis teen die NSFAS begin om die besluit vir al 5 000 ongedaan te laat maak.

Die drie studente verteenwoordig alle studente wat hul beursgeld vroeg verlede jaar ontvang het, dit ná ses maande verloor het en nou moet pa staan vir die res van hul jaar se studiegeld. Hulle kon glo derhalwe ook nie eksamenpunte kry of met hul studiejare voortgaan voordat die uitstaande skuld nie betaal is nie.

Die studenteaansoekers voer in ’n funderende verklaring aan die NSFAS het hul grondwetlike regte geskend deur hul beurse te kanselleer en hulle nie ’n kans te gee om vertoë te rig voordat dit gekanselleer is nie.

Trouens, hulle voer aan hulle is nie eens in kennis gestel totdat hulle by hul onderskeie universiteite begin navraag doen het nie.

Die kort en die lank van studente se betoog is dat die NSFAS se kansellasies wat op die SAID-inligting berus, net ’n rookskerm was.

Die aansoekers het die NSFAS-appèlproses gevolg en voer aan hulle kon bewys hul gesin verdien nie bo NSFAS se R350 000-kerf nie.

Van die aanhegsels in die hofbundel wat Netwerk24 het, is finansiële state wat aandui dat die aansoekers se ouers per jaar onder die R350 000-kerf verdien. Een student se twee ouers het in die vorige belastingjaar onderskeidelik saam skaars R20 000 per maand verdien.

Die NSFAS se motivering dat SAID inligting aan hom bekend gemaak het, is vir hierdie studente ’n verdere probleem omdat die bekendmaking van belastinginligting aan buitepartye teenstrydig SAID-wetgewing is.

Die kort en die lank van studente se betoog is dat die NSFAS se kansellasies wat op die SAID-inligting berus, net ’n rookskerm was.

“Die werklike rede is dat die eerste respondent (NSFAS) voorsien het dat hy nie in staat gaan wees om sy finansiële verpligtinge aan die studente (weens verskeie redes) na te kom nie; om daardie rede is die finansiële steun aan 5 000 beurs- en leninghouers op arbitrêre gronde gekanselleer,” lui die funderende verklaring.

Die NSFAS opponeer

Die NSFAS staan die sertifisering van die groepgeding en die meriete van die saak teen.

Die skema voer aan drie studente kan nie ’n groep studente verteenwoordig nie, want elke besluit om toelae op te skort, is geneem nadat ’n spesifieke individu en sy/haar omstandighede individueel beoordeel is.

Die skema wil hê elke student wat sy besluit wil laat hersien, moet dit in eie hoedanigheid doen, sodat elke saak op sy eie meriete beoordeel kan word.

In hul repliek wys die studente daarop dat hoewel die individuele omstandighede van studente verskil, daar een gemene deler is: Almal se beurse is opgeskort voordat hulle ’n geleentheid gehad het om vertoë te rig.

Hulle voer dus aan dit beteken al 5 000 is geregtig om hul status te herstel tot voor die opskorting van die beurse, sodat hulle vertoë kan rig teen so ’n besluit.

Die NSFAS volstaan by sy reg om toegang tot belastinginligting te kry omdat hy geld uit die staatskas kry en daarom seker moet maak ’n kandidaat kwalifiseer wettig daarvoor.

Die NSFAS voer aan dat daar ’n fout was in die algoritmes op sy stelsel – wat outomaties deur aansoeke sif. Hy het in Januarie 2020 daarvan bewus geword.

Volgens sy verklaring het dit beteken sommige kandidate is “foutief” aanvaar.

Die NSFAS volstaan by sy reg om toegang tot belastinginligting te kry omdat hy geld uit die staatskas kry en daarom seker moet maak ’n kandidaat kwalifiseer wettig daarvoor.

Die skema erken egter in sy eie verklaring dat die kommunikasie aan die drie studente voor die hof – dat hul beurse opgeskort is weens die SAID-inligting wat aantoon dat hul huishoudelike inkomste die R350 000-perk oorskry – foutief was.

Is die studente realisties? Waar laat die eise universiteite?

Dr. Theuns Eloff
Dr. Theuns Eloff

Balia en dr. Theuns Eloff, voormalige NWU-rektor, sê albei as die departement alle historiese skuld afskryf, sal universiteite landwyd bankrot wees.

Volgens Eloff beteken dit nie net “finansiële ondergang” nie, maar ook ’n daling in die gehalte van onderrig.

Wat studente se eis om gratis nagraadse finansiering aanbetref, meen Eloff: “Die voorgraadse finansiering vat soveel van die geld dat dit nie moontlik is om vir nagraadse finansiering voorsiening te maak nie.”

Indien daar aan hierdie eis toegegee word, voorsien Eloff dat daar geld uit ander fondse by universiteite, soos vir navorsing, geneem sal moet word.

Volgens Eloff is die gratis registrasie van studente ook nie moontlik nie omdat koste aangegaan word om studente te registreer.

“Wat die ‘geen verhogings’ betref, is dit onmoontlik vir universiteite en die minister om daaraan toe te gee. Daar is koste en inflasie.”

Hy noem die minister maak ’n goeie punt dat studenteraadvoorsitters en ander studenteraadslede op die rade sit waar verhogings vir studiegelde bepaal is.

Van die bietjie meer as ’n miljoen studente op universiteit word 670 000 studente reeds deur die NSFAS gehelp. Die Grondwet sê nie dat gratis hoër onderwys ’n reg is nie. Dit sê net dat basiese onderwys ’n reg is en hoër onderwys toenemend moet realiseer.
Dr. Theuns Eloff

“Nou maak (studente) asof hulle nie gekonsulteer is nie, maar dis nie waar nie, want hul leiers is gekonsulteer.

“As die minister en universiteite hieraan toegee, sal dit chaoties wees.”

Eloff benadruk dat iets wat studente nie verstaan nie, die feit is dat baie van die probleme wat hulle het, nie op sentrale vlak hanteer word nie, “maar deur universiteite self.

“Dis ’n outonomie wat ons nie maklik moet laat gaan nie.”

Op die punt waar die studente gratis onderrig vir arm en middelklas-studente eis, sê Eloff: “Ons is sterk op pad daarheen. Van die bietjie meer as ’n miljoen studente op universiteit word 670 000 studente reeds deur die NSFAS gehelp. Die Grondwet sê nie dat gratis hoër onderwys ’n reg is nie. Dit sê net dat basiese onderwys ’n reg is en hoër onderwys toenemend moet realiseer.”

Op die vraag of akademici weens voortdurende betogings hulle dalk eerder tot buitelandse instellings sal wend, het prof. Michael le Cordeur, hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kuhrrikulumstudie, gesê hy voorsien dit nie.

“Die gevoel onder ons kollegas is dat hierdie iets is wat ons kan deursien en wat ons wil oplos. Ek dink daar gaan in die akademie, soos in alle ander sektore, in ’n stadium ’n breinkwyn plaasvind, maar ek voorsien nie dat hierdie betogings nou tot ’n uittog sal lei nie.”

Meer oor:  Afriforum  |  Sasco  |  Eff  |  Nsfas  |  Michael Le Cordeur  |  Theuns Eloff  |  Blade Nzimande  |  Covid-19-Pandemie  |  Universiteite  |  Studente  |  Hoër Onderwys  |  Studentebetogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.