Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waarom is vanjaar se WB-glorie so spesiaal?

Die Bokke se sege in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi was baie meer spesiaal as soortgelyke seges in 1995 en 2007. Pieter Labuschagne verduidelik hoekom.

Vreugde! Siya Kolisi, pres. Cyril Ramaphosa en lede van die Springbokspan spog met die Wêreldbeker ná Saterdag se sege oor Engeland. Foto: Foto24

Op Saterdagoggend 2 November 2019, enkele ure voor die Wêreldbeker-eindstryd, neem ek aan ’n padwedloop in die voorheen meer konserwatiewe noordwestelike gebied van Pretoria deel.

Halfpad deur die wedloop word ek deur een van die swart hardlopers verbygesteek met ’n fladderende Suid-Afrikaanse vlag, wat luidkeels skreeu: “Bokke!”

Die oggend in winkelsentrums voor die wedstryd is daar groot groepe en individue van verskillende rasse en diverse agtergronde wat trots met hul Springboktruie rondstap.

In die strate is daar motors met vlae en ek kon beslis voel dat daar ’n momentum aan die opbou was. By verskillende kuierplekke het ondersteuners van diverse agtergronde om grootskermtelevisies by kuierplekke saamgedrom.

Die Sondag ná die eindstryd stuur my vrou se swart lynbestuurder vir die eerste keer ’n teksboodskap aan haar – om sy vreugde met die Bokke se oorwinning te deel. Maandag was sy lippe nog seer van die vuvuzela-blasery ná die wedstryd.

Cyril Ramaphosa en Siya Kolisi

Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke, spog met sy goue medalje ná die Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images

In die annale van Springbokrugby staan ons drie Wêreldbeker-oorwinnings in netjiese kassies langs mekaar, eweredig gespasieer in tydperke van 12 jaar. Die eerste oorwinning was in 1995 in Suid-Afrika, dan 12 jaar later in 2007 in Parys en nou weer 12 jaar later in 2019 in Japan.

Elk van die Wêreldbeker-oorwinnings het groot opgewondenheid veroorsaak en was wonderlik om te ervaar. Vanjaar se oorwinning staan vir my bo dié van 1995 uit, met die sege van 2007 in Parys in die derde plek.

Die Vrydagaand voor die eindstryd het pres. Cyril Ramaphosa per selfoon met die Springbokkaptein, Siya Kolisi, gepraat. Die gesprek is op TV vertoon en dit het diep en ryk simboliese ondertone gehad.

Dié simboliese binding het by die vorige oorwinnings in 1995 en 2007 ontbreek.

Kolisi het ’n sterk en kalmerende rol as die eerste swart Springbokkaptein in die Wêreldbeker-toernooi uitgestraal. Die simboliese betekenis van sy inklusiewe teenwoordigheid het politieke verskille genegeer, ’n faktor wat die land met sy diverse samelewing voorheen ontwyk het.

Nelson Mandela en ‘Amabokoboko’

Oudpres. Nelson Mandela oorhandig die Wêreldbeker aan die Springbok-kaptein van 1995, Francois Pienaar. Foto: Foto24

Die steun vir die Springbokke was nog altyd wisselend van aard en het selfs in die verlede tot verdeling in die land bygedra.

As ’n sportsoort behoort rugby diversiteit en ander gapings te oorbrug deur bo verdeeldheid uit te styg. Sport het die intrinsieke vermoë om ’n neutrale sone vry van politiek te skep om individue uit verskillende agtergronde die geleentheid te gun om in die geskepte ruimtes ’n eenheid te vorm.

Dit is presies wat sport as instrument van nasiebou veronderstel is om te vermag: die skep van neutrale sones waar mense rondom iets emosioneel, soos die wen van ’n rugbywedstryd, kan verenig.

Die assosiasies en persepsies by toeskouers en ondersteuners speel ’n geweldig belangrike rol in dié proses van vereniging.

Die vorming van assosiasie help met die oorgang van “ek” na “ons” en met die sosiale binding oor kleurgrense heen.

Die gebrek of afwesigheid van assosiasie in 1995 is meesterlik deur Mandela se diplomatieke vaardighede toegepleister.

In die verlede was die verdelende rol van sport welbekend. In die land se rugbygeskiedenis het die swart en bruin gemeenskappe hul steun nog altyd onvoorwaardelik aan die besoekende toerspanne gegee. Viv Jenkins, die Britse joernalis wat in 1955 saam met die span van die Britse Leeus in Suid-Afrika getoer het, het agterna geskryf dat hul drieë gedurende die toer luidkeels deur die bruin toeskouers toegejuig is.

Dié verskynsel het tot ná die demokratisering van die land voortgeduur.

Oudpres. Nelson Mandela se versoenende rol het in 1995 tot ’n tydelike verandering in dié situasie gelei. As Mandela hom nie so sterk met die Springbokspan van 1995 geassosieer het nie, sou die emosionele steun vir die Bokke voor en ná die wedstryd nie tot so ’n hoogtepunt gestyg het nie.

As ’n mens terugkyk na die Wêreldbeker-toernooi van 1995, besef jy dat met net ’n enkele bruin speler, Chester Williams, in die span, die kritiek belangrike persepsie en assosiasie nie kon plaasvind nie. Die gebrek of afwesigheid van assosiasie in 1995 is meesterlik deur Mandela se diplomatieke vaardighede toegepleister.

Dit is eers ook toe die Sowetan die belangrike voorbladfoto met die onderskrif “Amabokoboko” gebruik het, dat die skaal geswaai het.

Ná 1995 het die onsmaaklike hofsaak van die rugby-owerhede onder leiding van die rugbybaas, Louis Luyt, teen Mandela die einde van die euforie ingelui. Die stap het die langdurige invloed van sport (rugby) as instrument van nasiebou tot niet gemaak.

Span van 2007 voel regering steun hom nie

Oudpres. Thabo Mbeki en John Smit, Springbokkaptein, hou die Wêreldbeker in 2007 omhoog. Foto: Gallo Images

Die triomf van 2007 was wel ’n verdere hoogtepunt en weer ’n instrument wat nasiebou kon bevorder. Die emosionele energie in 2007 was egter nie met dié van 1995 vergelykbaar nie.

John Smit, die Springbokkaptein van destyds, skryf in sy outobiografie van die spelers het gevoel dat die regering hulle nie steun nie.

Pres. Thabo Mbeki het wel vir die eindstryd na Parys gevlieg en het die oorwinning saam met die Springbokke gevier. Hy was egter styf en kil en daar was bra min emosionele energie.

In die 12 jaar ná die triomf van 1995 het die een speler van kleur in die span slegs na twee verdubbel.

Die belangrike persepsies en assosiasie was deels afwesig – die Bokspan was gedeeltelik geïsoleer van die diverse Suid-Afrikaanse bevolking. Die 22 lede van die opdrafspan en sy plaasvervangers het net twee spelers van kleur, Bryan Habana en JP Pietersen, ingesluit.

Daar was geen etniese swart speler in die span nie. In die 12 jaar ná die triomf van 1995 het die een speler van kleur in die span slegs na twee verdubbel.

Die afwesigheid van bindende assosiasie met die Bokspan het minder steun beteken. Daar was min jong swart- en bruin seuns wat hierdeur aangemoedig is om te begin rugby speel of selfs om dit te ondersteun.

Dit is ook geen wonder dat in 2012 berig is dat daar in die Wes-Kaap alleen 45 All Black-ondersteunersklubs in plekke soos Parow, die Paarl, Pniel, Worcester en Robertson was nie.

Wat was vanjaar anders?

Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am was twee van die Bokke se sterre in die Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images

Net minder as twee jaar gelede het Suid-Afrika met 0-57 teen die All Blacks verloor. Daar was min mense wat tóé geld op die Bokke sou gewaag het om die Wêreldbeker te wen en die geesdrif voor die toernooi was maar gedemp.

Wat het dan verander nadat Rassie Erasmus as afrigter oorgeneem het?

Een belangrike verandering op ’n simboliese vlak het tot ’n sterker assosiasie met die span gelei.

Die een groot faktor was die transformasie-aspek wat as ’n katalisator gedien het.

Dit is debatteerbaar of Kolisi se aanwysing as kaptein ’n politieke besluit was. Vir my het die debat akademies geraak, want sy toevoeging was waardevoller as net sy spel as rugbyspeler. Sy simboliese en fisieke teenwoordigheid het deurentyd bly groei en dit het gehelp om die broodnodige assosiasie te vorm. Hierdie aspek kan rugby in Suid-Afrika net nog sterker maak.

Bok-ondersteuners in Johannesburg vier Saterdag se Wêreldbeker-sege. Foto: Elizabeth Sejake

As Suid-Afrika die top-rugbyland wil bly, moet die spelerspotensiaal van 57 miljoen mense in die land gebruik word. So lank as wat die groep spelers slegs uit die paar miljoen lede van die wit- en bruin gemeenskappe kom, word die land se geweldige potensiaal nie benut nie.

Kolisi se teenwoordigheid as kaptein stuur bykomend, deur assosiasie en persepsie, ’n kragtige boodskap uit na swart seuns: Jy kan ook die hoogste sport bereik, al word jy in ’n informele nedersetting groot.

Die kaptein van die span, wat voor die Wêreldbeker-eindstryd deur Ramaphosa sterkte toegewens is, was nie iemand wat bevoorreg grootgeword het nie. Hy het van ’n arm swart woonbuurt in ’n goeie skool beland en die hoogste sport van die rugbyleer bereik. Kolisi, wat op 16 Junie gebore is, verteenwoordig wat nog altyd die skadukant van ons gemeenskap was.

Die kwalik onbedekte pogings om weer politiek in die Bokke se Wêreldbeker-aanslag te smokkel, het grootliks in onbeduidendheid verval.

Die vreugde oor die oorwinning van die Springbokke in 2019 het ’n simboliese waarde op soveel vlakke. Vir die eerste keer is die kaptein waarlik die “mense se kaptein”, wat beteken dat dit inklusiwiteit vermag, iets wat ’n wit kaptein met watter goeie bedoelings ook al nooit in die verlede sou kon regkry nie.

In die verlede het ons basies van die bruin-, maar veral van die swart gemeenskappe, verwag om ’n Springbokspan te steun van wie 90% van die spelers wit was en hoofsaaklik uit ’n bevoorregte agtergrond gekom het.

Die simboliese en fisieke situasie was heeltemal anders met 2019 se Wêreldbeker-toernooi. Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe se drieë en die passievolle wyse waarop Beast Mtawarira en Kolisi veral die deel van die volkslied met die woorde “Ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika” gesing het, was tekenend hiervan.

Eben Etzebeth omhels Cheslin Kolbe ná een van dié ster-vleuel se drieë in die Wêreldbeker-wedstryd teen Italië. Foto: Getty Images

Die kwalik onbedekte pogings om weer politiek in die Bokke se Wêreldbeker-aanslag te smokkel, met die Langebaan-voorval en ook Panyaza Lesufi (LUR vir onderwys in Gateng) se blaps oor ondersteuners met die “ou vlag”, het grootliks in onbeduidendheid verval.

Kolisi, wat sy trane op die perskonferensie moes wegsluk, Mapimpi se glimlag ná sy drie en les bes Eben Etzebeth wat Trevor Nyakane op sy kop soen ná die oorwinning, dien as bewys van die inklusiwiteit van rugby.

’n Kollega in antropologie, prof. Chris van Vuuren, noem dat ’n Xhosa-imbongi Saterdag teen 14:00 reeds ’n prysgedig met Kolisi as sentrale figuur geskep het. In die Afrika-kultuur is ’n pryslied geweldig insiggewend en vorm dit ’n belangrike deel van orale geskiedenis in die swart gemeenskappe, met sterk bindende elemente ook in die toekoms. Kolisi se simboliese betekenis as swart kaptein is nou deur die pryslied in die swart kultuur ingebed.

In die geval van Mandela in 1995 het die inspirasie van bo en hoofsaaklik van ’n enkeling gekom. In 2019 het die opwelling van onder gekom.

Dit omarm die diversiteit in die land op alle vlakke – soos wat hy ook in sy toespraak ná die sege genoem het.

Dit is wat die oorwinning van 2019 vir my so spesiaal maak. Nie langer hoef ons van die swart gemeenskappe te verwag om ’n span te steun, waarin hulle soos in 1995 en 2007 nie ’n enkele verteenwoordiger het nie. Dit is nou moontlik vir almal om “ons” en nie “hul” span te steun nie.

In die geval van Mandela in 1995 het die inspirasie van bo en hoofsaaklik van ’n enkeling gekom. In 2019 het die opwelling van onder gekom uit die onderste lae van die gemeenskap – rugby kan nou ’n ware gemeenskap-sportsoort, en nie ’n elitistiese een nie, in die land word.

Ek glo dat jong swart seuns Saterdag in baie arm gebiede op ’n sokkerveld rondgehardloop het, maar die ovaalbal geskop het. Hulle het seker gedroom dat hulle ook eendag die groen trui oor hul koppe kan trek.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Hy het al verskeie artikels vir vakkundige tydskrifte oor sport geskyf en was ook die atlete Zola Budd en Elana van Zyl se afrigter. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.