Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waarom jy op Karlien klik

Wat laat lesers telkemale op stories oor Karlien van Jaarsveld se lewensintriges en -dramas klik? Carla Lewis stel ondersoek in.

Grafika : Grafika24
Grafika : Grafika24

Verlede week het ’n banale gebeurtenis wat alledaags is in talle huishoudings en verhoudings plaasgevind. ’n Geskeide ma en pa het ’n meningsverskil oor hul kinders gehad.

Die enigste verskil is dat die drama pleks van agter toe deure voor ’n gehoor van honderdduisende mense afgespeel het.

Die ma het die pa beledig. Die pa meen sy eksvrou is ’n “slegte mens” en suggereer dat sy steeds aan haar ma se rokspante vasklou.

Die ma is Karlien van Jaarsveld, polariserende Afrikaanse popprinses, die pa en eksman die voormalige Liefling van Loftus, Derick Hougaard.

Tussen hulle het hulle ’n sosiale­mediagehoor van honderdduisende volgelinge.

Dit was ’n smerige en skandalige storielyn so reg uit ’n sepie. ’n Popster se blinkoog-, blonde tweeling raak vermis by ’n Kerskonsert. Die tranerige ma lewer met ’n maskarabesmeerde gesig ’n pleidooi op Instagram vir die kinders se veilige terugkeer.

Sy maak skrikwekkende aantygings en skok-onthullings oor haar eksman, waarop toeskouers van die aanlyn sepie regstreeks kan kommentaar lewer.

Waarom is dit nuus, Netwerk24?!

Verlede week was “KYK: Karlien in trane oor vermiste kinders” en "Eksklusief: Karlien praat nadat kinders teruggevind is” onder die mees geleesde berigte op Netwerk24.

Nes die Kardashians is die Van Jaarvelds ’n kulturele fenomeen, veral op die Afrikaanse medialandskap. Of jy nou versot is op hulle of hulle haat, dis moeilik om hulle te ignoreer. En ten spyte van sommige lesers se kritiek op die Afrikaanse media se beheptheid met die Van Jaarsvelds lyk dit ook asof hulle die glansmense nie wil ignoreer nie.

“Waarom is dit nuus, Netwerk24? Ek wil nie die hele tyd oor Bobby en Karlien lees nie,” kla lesers op die nuuswebwerf se kommentaarblaaie.

Die syfers weerspreek die besware. Wanneer Netwerk24 ’n berig oor Karlien publiseer, klim die klikke.

Waarom is dit nuus, Netwerk24? Ek wil nie die hele tyd oor Bobby en Karlien lees nie.

“Netwerk24 vertel vir ons lesers wat hulle elke dag moet weet om ingelig deur die lewe te gaan. Maar ons doen ook beriggewing oor dít waarin hulle belangstel, of dit nou sport is, ’n resep of gebeure met bekende persoonlikhede wat op sosiale media opslae maak en lesers laat vra: ‘Wat is aan die gang?’," verduidelik Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24.

“Die nuuswebwerf is ook agter ’n betaalmuur en die kritiek wat so graag teen webwerwe uitgespreek word dat hulle net die grootste moontlike leserstal vir ’n storie wil kry (en derhalwe te maklik voor die versoeking van klikaas sal swig), is in ’n mindere mate op ons van toepassing.

“Netwerk24 moet gehalte-inhoud publiseer waarvoor mense bereid sal wees om te betaal. Ons is derhalwe veel meer daarop ingestel om op onderwerpe te fokus wat wel volgens mense waarde vir hul geld bied.

“In hierdie geval het die beriggewing oor Karlien en Derick buitengewone leserstalle gedryf, maar meer as dit: Dit het ook tot ’n groot getal mense gelei wat geregistreer het vir hul 30 dae gratis proeftydperk. Dit was boonop die onderwerp wat die meeste intekenpogings op die betrokke dag gedryf het,” sê Loubser.

Herman Eloff, vermaakredakteur van 24.com, glo die Van Jaarsvelds se weersin in die Suid-Afrikaanse media is net skyn en dat Karlien en die media ’n simbiotiese verhouding het.

“Karlien se wipplankverhouding met die media is voordelig vir albei. Sy’t die media nodig, net soos die media haar nodig het, want albei voer ’n publiek wat honger is vir nóg.

Benewens die belangstelling in Karlien as sangeres en TV-persoonlikheid en Derick as oud-rugbyspeler identifiseer mense ook met wat in liefdes- en huweliksverhoudings gebeur en lees derhalwe daaroor.

“Dit is talle lesers se skelm geheimpie dat hulle skindernuus oor die Van Jaarsvelds soos soetkoek opeet. Min mense sal openlik erken dat hulle op dié stories klik, hoewel hul soekenjingeskiedenis ’n ander storie vertel. Die neus-in-die-lug-houding wat nuus oor bekendes betref, is maar net ’n fasade, dit het ons lankal geleer. Ons het die ‘strokies’ om dit te bewys,” sê hy.

Maar hoe verduidelik dit ons fassinering met Karlien en haar gesin?

“Benewens die belangstelling in Karlien as sangeres en TV-persoonlikheid en Derick as oudrugbyspeler identifiseer mense ook met wat in liefdes- en huweliksverhoudings gebeur en lees derhalwe daaroor.

“Ons lesers is volronde mense met ’n wye belangstelling in nuus wat van hul verstand tot hul hart spreek. Ons kan nie uit die hoogte vir hulle voorskryf waarin hulle mag belangstel en waarin nie. Ons het wel ’n verantwoordelikheid om feitelik en gebalanseerd daaroor te berig en alle kante van die saak te stel,” sê Loubser.

Karlien se sosialemedia-inskrywings maak haar ook ’n bron van fassinering vir talle mense.

“Sy is baie aktief op sosiale media, waar sy ongeredigeerde inskrywings sonder enige filters maak,” sê Eloff.

“Hierdie soort ‘Kardashian-effek’ kweek ’n nuuskierigheid onder haar aanhangers en kritici. Almal koekeloer skelmpies en verlekker hulle in die doen en late van ’n bekende wat die intiemste besonderhede van haar lewe deel.”

’n Kuberintimiteit

Alain de Botton, ’n Britse filosoof en skrywer van die boek The News, A User’s Manual, reken bekendes (soos die Van Jaarsvelds) se lewensdramas en intriges is so boeiend omdat ons self na intimiteit en aanvaarding hunker.

Wanneer jy ’n hegte vriendskap of verhouding met iemand het, sien jy nie net hul goeie kant nie. Jy kry te doen met die skadukant van die persoon se lewe en persoonlikheid: Jy weet van hul smerige egskeiding, dat hulle soms te diep in die bottel kyk en van hul onsekerhede.

Met bekendes sien ons dikwels net die geredigeerde, blinkgepoetste lak­lagie van hul lewe, en daarom is dit so boeiend wanneer die “uitverkorenes” val.

As jy in 1990 verontwaardig was en gedink het Marietjie lyk alte selfvoldaan in haar sterretjiemotief-baaibroek, kon jy nie die kwaai-emoji druk nie.

“Ons gee voor dat ons sukses en mag bewonder. Ons doen dit wel, maar iemand se swakhede en mislukkings laat ons voel asof ons ’n sterker band met sommige bekendes het,” skryf De Botton in The News, A User’s Manual.

Sosiale media het die effek versterk. In die verlede moes lesers hul dosis celeb-skinder en -drama in tydskrifte kry. Hulle kon ook nie onmiddellik op die nuus reageer nie.

Dink net hoe sou die narratief van Bles Bridges en Marietjie van Heerden se Seychelle-vakansie verskil het in vandag se Instagram-era as hulle foto’s van hul eilandwegbreekvakansie op sosiale media geplaas het pleks van in Huisgenoot.

As jy in 1990 verontwaardig was en gedink het Marietjie lyk alte selfvoldaan in haar sterretjiemotiefbaaibroek, kon jy nie die kwaai-emoji druk nie. Jy kon nie kommentaar lewer op haar foto en haar vertel hoe “kommin” haar perm lyk nie. Jy moes jou tot pen en papier wend en dit pos na die tydskrif se briewerubriek en jy was nie seker of die brieweredakteur dit sou publiseer nie.

As jy nou ’n bekende op sosiale media volg, kan jy regstreeks kommentaar lewer op haar lewe en kitsreaksie van haar aanhangers of kritici kry. Dit skep ’n valse gevoel van intimiteit wat ’n mens laat voel asof die persoon se lewe nog meer betekenis vir mense inhou.

Schadenfreude en skadukante

Die fassinering met en leedvermaak oor Karlien en ander bekendes, soos Amor Vittone, ontbloot ook ’n ongemaklike waarheid oor ons eie skadukante en hoe mense hul eie tekortkominge op bekendes projekteer.

“Ons is doodbang ons vriende en lewensmaats sal uitvind van ons swakhede,” skryf De Botton.

“As mense ons op ons kwesbaarste betrap – wanneer ons dronk is of in ’n put van depressie verkeer – is ons vreesbevange dat ons donkerste geheime ontbloot sal word, dat ons as monsters ontmasker sal word.”

Dr. Susan Kriegler, sielkundige van Pretoria, gebruik Carl Jung se skadu-argetipe as voorbeeld van die verskynsel.

Die argetipe verteenwoordig die “donker kant” van jou persoonlikheid. Dit is ’n wispelturige onderwêreld in jou onderbewussyn waar jy die primitiefste dele en begeertes van jou persoonlikheid wegsteek. Onderdrukte drange en die “ongemagtige” deel van jou persoonlikheid wat die bewustelike deel van jou brein in bedwang hou, vorm alles deel van die skadu-argetipe.

“Mense sal dikwels die negatiewe karaktereienskappe wat hulle nie altyd aan hulself sal erken nie, maar waarvoor hulle hulself op ’n onbewustelike vlak haat, op ’n bekende of openbare persoonlikheid projekteer,” sê sy.

Dan is daar schadenfreude – dat jy vreugde uit ander se leed put.

Dit is veel makliker as die ongemaklike en onaangename proses om jou eie tekortkominge te erken en daarmee te worstel.

As mense dus na Karlien verwys as ’n “slegte ouer” of “aandagsoeker”, kan dit dui op die persoon se eie diep, onderliggende vrese oor sy of haar persoonlikheid.

Dan is daar schadenfreude – dat jy vreugde uit ander se leed put.

Studies toon dat mense met ’n swak selfbeeld meer geneig is om leedvermaak te ervaar oor ’n uitskieter se terugslae. Dit laat hulle beter oor hulself voel.

“Gewone mense” ervaar daagliks die banaliteite van verhoudings en egskeidings. Gevegte oor kinders, verslawing, drama met jou eks, inmengerige skoonma’s . . . dis alledaags.

Wanneer ons Derick en Karlien se relletjie op sosiale media sien, is dit eintlik vertroostend om te weet dat ’n paartjie wat op die oppervlak so suksesvol voorgekom het, met dieselfde probleme – morsige egskeidings, toesigtwiste oor die kinders, brose ego’s – as ons gewone sterflinge sukkel. Dat bekendheid en ’n glanslewe jou nie noodwendig immuun teen aardse beslommernisse maak nie.

Maak dit dan van ons slegte mense? Darem nie, meen De Botton. Dit maak jou menslik.

“Mense het ’n diepgesetelde behoefte om te weet: Ons is ook normaal, ons eie probleme waarmee ons sukkel is nie ’n unieke vloek wat oor ons uitgespreek is nie. Soortgelyke teëspoed tref ook mense wat (op die oppervlak) die roem, rykdom en skoonheid besit waaraan ons as gewone sterflinge tekortskiet.”

Die waarheid is: Mense – beroemd of obskuur – is feilbaar, met talle tekortkominge. Selfs dié wat lyk asof hulle hul lewe in orde het.

  • Carla Lewis is inhoudsredakteur van Beeld op Saterdae en ’n artikelskrywer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.