Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waarom word geplunder?

Hoe is moontlik dat die bevryders wat moreel so hoog aangeslaan is, die land se bronne so skaamteloos ten koste van die armes kan plunder? Die antwoord is kompleks, meen Pieter Labuschagne.

Suid-Afrikaners wys in ’n betoging van die Move One Million-beweging op 5 September in Kaapstad hoe keelvol hulle vir korrupsie is.Foto: getty images

In Suid-Afrika is die morele verval byna grafies sigbaar in die korrupsie wat dié land deurtrek.

Die laaste trap na die kelderverdieping en donker dieptes van korrupte en morele verval was die diefstal van die geld wat vir die slagoffers van die Covid-19-pandemie geoormerk is.

Die kernvraag wat te midde van dié katalogus van voortslepende korrupsie gevra moet word, is: Hoekom? Hoe kan dié blatante immoraliteit gekonseptualiseer en verklaar word deur diegene wat voorheen ’n hoogs morele stryd teen ’n immorele apartheidsregime gevoer het?

Die nuwe demokratiese regime het juis die ondemokratiese apartheidsregime met ’n regverdige stelsel – vry van morele, politieke, sosiale, ekonomiese en maatskaplike korrupsie – vervang. En een van die kernoogmerke was om die materiële middele tot almal se voordeel in te span en armoede te verlig.

Die bevryding, en die herstel van die institusionele kultuur van menseregte het grootskaalse verbetering teweeggebring. Die ekonomiese vryheid en monopolie van materiële bronne het egter net ’n nuwe regerende elite geskep, wat tesame met hul meelopers daarop ingestel is om hul eie dors na rykdom ter uitsluiting en tot nadeel van die armes te bevredig.

Hoe kan ’n mens dié skynheiligheid verklaar? Die antwoord lê in die gebrekkige aard van die mens, wat dikwels wesenlik en inherent daarop ingestel is om sy eie behoeftes te bevredig – al is dit ten koste van ander.

’n Sosiale kontrak

Die Engelse filosoof Thomas Hobbes (1588-1679) het die mens se behoefte om sy eie begeertes te bevredig en sy eie geluk na te jaag as ’n bron van potensiële konflik binne die samelewing gesien.

Beperkte bronne beteken kompetisie, en in ’n ongereguleerde samelewing kan die soeke na meer middele of die beskerming van jou eie bronne tot geweld lei.

Hobbes het sterk standpunt ingeneem ten gunste van die skep van ’n sterk en magtige staat wat kan verseker dat kollektiewe vrede en voorspoed geskep word.

Die regeerders sluit ’n sosiale kontrak met die samelewing om die chaos wat in ’n ongereguleerde staat kan ontstaan, te verhoed.

In die proses gee individue wel sekere vryhede prys, maar hulle verseker só dat die beskikbaarheid en toegang tot skaars hulpbronne regverdig en gekontroleerd onder die morele en regulerende toesig van die staat plaasvind.

Die staat vorm dus ’n keerwal teen die chaos wat kan ontstaan wanneer mense onbeheers rykdom en hul eie behoeftes najaag.

Die Romeinse satirikus Juvenalis het egter in sy Satires geskryf quis custodiet ipsos custodes – wie waak oor die wagte? Juvenalis het dit binne huweliksverband gevra, maar dit het spoedig binne die staatkunde inslag gevind. Die filosoof Plato het in sy Sokratiese-dialoog Republiek dié vraag stewig ingeburger.

Indien die staat as die “wagter op die muur” aangestel word om te waak teen enige vergrype binne die samelewing en tussen individue, wie waak dan oor die regering?

Wie of wat verhoed dat die staat met sy gesentraliseerde monopolie van magtige besluitnemers nie self sy eie behoeftes en begeertes op ’n onregverdige wyse wil najaag nie?

Dié bevrediging vind gewoonlik onregmatig plaas tot die nadeel van juis die mense wat hulle veronderstel is om te beskerm.

Keerwalle teen korrupsie

In ’n moderne staat met ’n geskrewe, liberale Grondwet is daar gewoonlik waarborge as grondwetlike teenvoeter vir vergrype van die regering soos korrupsie in die vorm van wigte en teenwigte.

Die uitvoerende instelling (ministers en uitvoerende amptenare) word in die kern van die stelsel gekontroleer deur die toesigrol wat die parlement (die wetgewende gesag) moet vervul.

Die toesigrol van die parlement behels nie net dinamiese debatvoering binne die instelling nie, maar ook die funksionering van spesifieke parlementêre toesigkomitees oor finansies, staatsbesteding, polisie en so meer om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou.

Nog ’n grondwetlike keerwal teen korrupsie is die regsprekende gesag wat geskei word van die owerheidsgesag en wat daar is om dispute onafhanklik te bereg en die oppergesag van die reg in ’n samelewing te verseker.

Die tweede stel keerwalle teen korrupsie in ’n moderne grondwetlike bestel is die ondersteunende, addisionele meganismes. Dit is die hoofstuk 9-instellings in die Grondwet soos die openbare beskermer, die Menseregtekommissie en die ouditeur-generaal.

Indien die uitvoerende gesag egter dié wigte en teenwigte uithol en hul magte stroop deur medepligtige korruptes aan te stel, verloor die keerwalle hul status en doeltreffendheid. Die afwesigheid van politieke wil en die onvermoë om die institusionele plunderaars verantwoordbaar te hou, verlam só die stelsel. Daar is dus bloedweinig remme om die uitvoerende gesag te verhoed om te plunder.

Die oorspronklike keerwal is egter nie net konstitusioneel nie, maar moreel. Dit is die dieperliggende morele besef dat korrupsie verkeerd is.

Wat het skeefgeloop in SA?

Die grootskaalse korrupsie en wanbestuur in Suid-Afrika het die belofte aan ’n beter toekoms vir almal vernietig.

Indien die situasie histories beskou word, het Suid-Afrika, net soos Zimbabwe, ’n geregverdige internasionale stryd teen ’n onregverdige witminderheidsregering gevoer.

Dié stryd in albei lande het tot regimeverandering gelei, maar die gesigte van die regime net in ’n bisarre politieke vorm van musical chairs verander.

Is dit moontlik dat die swart elite in die bevrydingstryd net wou hê wat die wit elite gehad het?

Die kernvraag is hoe dit moontlik is dat die bevryders wat moreel so hoog aangeslaan is, die land se bronne so skaamteloos ten koste van die armes kon plunder?

Die antwoord is kompleks, maar hier volg moontlike verklarings:

Die bevrydende politieke elite is in die bevrydingstryd deur die internasionale gemeenskap op ’n morele podium geplaas sonder dat hulle ooit werklik krities geëvalueer is.

Sommige lede van dié elite het hulle in die kampe in Angola aan ernstige vergrype skuldig gemaak, waarvoor hulle nooit verantwoordelikheid geneem het nie.

Dit geld ook vir die gewapende stryd binne Suid-Afrika met die plant van bomme teen burgerlikes en die halssnoermoorde met buitebande. Die morele bankrotskap is bedek en gelegitimeer, en ná 1994 is die immoraliteit bloot in die styl van regering oorgedra, wat as korrupsie gemanifesteer het.

Die apartheidsregime het soos meeste koloniale regerings uit ’n sentralistiese kompakte elite bestaan, waarbinne die bevryders soomloos kon inpas.

Ministers en ampsdraers in die staatsdiens behoort op grond van bevoegdheid en moraliteit opwaarts bevorder te word. Die nuwe politieke elite het op grond van sy status in die bevrydingstryd senior posisies verkry sonder bewyse van hul morele ingesteldheid.

Daar is beperkte geleentheid of poste in die privaat sektor vir individue om hul materiële behoeftes te bevredig. Die poste in die openbare sektor het onmiddellike geleentheid vir selfverryking gebied.

Die beheer oor materiële hulpbronne was vir baie kaders die “beloning” vir hul deelname aan die bevrydingstryd – die sogenaamde ­spoils of victory.

Soos die des­tydse ANC-woordvoerder Smuts Ngonyama in 2006 opgemerk het: “Ons het nie aan die bevrydingstryd deelgeneem om arm te wees nie!”

Die verkryging van welvaart soos groot huise en luukses hou die armes op ’n afstand en verhard enige empatie met hul swaarkry.

Die opposisie wat nie regstreeks in die bevrydingstryd betrokke was nie, word gedelegitimeer en hul weerstand teen korrupsie word geïgnoreer.

Die korrupte elite voel onaantasbaar in die klimaat waarin verantwoordbaarheid bloot ’n illusie is.

    So lank as wat die regerende elite daarmee wegkom om die land se hulpbronne op te vreet, gaan die situasie nie omgekeer word nie. Die tyd is ryp dat hulle tot verantwoording geroep word.

    Labuschagne is ’n emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa.

    Meer oor:  Pieter Labuschagne  |  Korrupsie  |  Plundering  |  Armoede
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.