Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Waaroor ANC-woede oor Msimanga eintlik gaan

Daar steek meer in die ANC se woede oor ’n DA-burgemeester se besoek aan Taiwan as wat die regerende party wil toegee, skryf Sarel van der Walt.

Solly Msimanga, Tshwane se burgemeester.Foto: Deaan Vivier

Die ANC is suur omdat hy beheer oor Tshwane aan die DA afgestaan het. Dít is die een redes waarom daar so ’n storm losgebars het oor Solly Msimanga, Tshwane se burgemeester, se besoek aan Taiwan.

Die ander rede is dat Msimanga, nadat hy as burgemeester ingelyf is, begin krap het op ’n plek waar die ANC ongemaklik is: Korrupsie.

Msimanga het reeds verskeie korrupsieklagte by die polisie ingedien wat verband hou met die vorige ANC-bewind. Hy het ook gewaarsku dat nog klagte op pad is.

Die DA-burgemeester het in die laaste vier maande ’n al groter doring in die ANC se vlees geword. Daarom het die ANC, die oomblik toe dit bekend geword het dat Msimanga in Taiwan is, nie geskroom het om klippe op te tel en na die burgemeester te gooi nie.

“Verraad, verraad!” het die ANC se koukus in die Tshwane-metro geskree.

Verraad? Omdat Msimanga dit durf waag het om besoek te bring aan ’n eiland wat nie deur die ANC-regering erken word nie? (China, Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, beskou Taiwan bloot as ’n wegbreek-provinsie, nie as ’n soewereine staat nie.)

Die ANC-koukus het aangevoer Msimanga het Suid-Afrika se verhouding met China en selfs met die Brics-lande belemmer.

Daar is ook beweer dat Msimanga die inwoners van Tshwane se geld gemors, hoewel die Tshwane-metro toe die ANC daarop gewys het dat Taiwan die koste van die besoek gedra het.

Waaroor die ANC-koukus nie ’n woord rep nie, is dat daar sterk handelsbande tussen Suid-Afrika en Taiwan is en dat Suid-Afrika selfs ’n skakelkantoor in die hoofstad, Taipei, het.

Die ANC was ook stil oor die feit dat dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, in 2014 ’n groep van 18 sakelui na Taiwan geneem het.

Beleggingsmoontlikhede

Soos die VSA en Japan het Suid-Afrika nie diplomatieke betrekkinge met Taiwan nie, maar doen fluks sake met dié land.

’n Bydraende faktor tot die ANC se ongemak met Taiwan is die Taiwanners se sterk bande met die ou Nasionale Party-regering in die dae van apartheid toe daar sanksies teen Suid-Afrika was.

Prof. Anthoni van Nieuwkerk, ’n kenner van internasionale politiek en verbonde aan Wits, het laas week gesê Msimanga was “politiek naïef” toe hy die uitnodiging van Taipei se burgemeester aanvaar het, en dalk was hy. Hy moes geweet het die ANC sou teen hom uitvaar.

Die regerende partye is baie sensitief oor sy bande met China en die moontlike gevolge sou wees dat die Chinese regering hom vir Suid-Afrika wip.

Die regering stuur gereeld afvaardigings China toe, maar hoeveel keer sien ’n mens werklik die voordeel daarvan?

Die regte protokol sou wees om sy besoek met die departement van internasionale betrekking en samewerking (Dirco) uit te klaar.

Dirco beweer nou hy het Msimanga gewaarsku om nié die besoek af te lê nie.

Tog was dit heeltemal binne Msimanga se reg om handels- en beleggingsmoontlikhede in Taiwan tot voordeel van die mense van Tshwane te ondersoek.

Soos die politieke ontleder Theo Venter, vermoed ek die besoek aan Taiwan sou iets meer konkreets oplewer het as ’n besoek aan ’n Chinese stad.

Die regering stuur gereeld afvaardigings China toe, maar hoeveel keer sien ’n mens werklik die voordeel daarvan?

Politieke ondertoon

Dinsdag het Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, laat blyk wat die eintlik rede vir die regering se ongelukkigheid is: Die feit dat Msimanga ereburgerskap van Taipei aanvaar het.

Volgens Monyela het dié stap ’n politieke ondertoon, aangesien hy die ereburgerskap aanvaar het in sy hoedanigheid as politieke ampsbekleër en nie as ’n amptelike verteenwoordiger van Suid-Afrika nie.

Baie lande in Afrika sê Suid-Afrika se “arrogansie” staan hulle nie aan nie.

China is wel Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, maar ’n mens kry die indruk dat die regering te maklik die knie voor dié supermoondheid buig.

Die ANC hou vol Msimanga het die regering se buitelandse beleid oortree.

Dit klink ernstig totdat jy onthou dit is dieselfde regering wat toegelaat het dat Soedan se pres. Hassan al-Basjir toegelaat is om Suid-Afrika van die lugmagbasis in Waterkloof te verlaat ondanks ’n lasbrief van die internasionale strafhof én interdik van die hooggeregshof in Pretoria teen hom.

Dit het ’n wrang smaak gelaat.

Suid-Afrika se ‘arrogansie’

Sedert Suid-Afrika ’n Brics-land geword het, is hy onder die wanindruk dat hy ’n groot internasionale speler is.

Duld lande soos China en Rusland ons nie bloot om dit vir hulle makliker te maak om vastrapplek in Afrika te kry nie? Of om toegang tot ons hulpbronne te kry nie?

Suid-Afrika het onder die leierskap van oudpres. Nelson Mandela en Thabo Mbeki nog aansien in Afrika gehad, maar onder die bewind van pres. Jacob Zuma het dit vinnig getaan.

Baie lande in Afrika sê Suid-Afrika se “arrogansie” staan hulle nie aan nie.

Is dit waarom ons sukkel om ’n oplossing te help bewerkstellig vir die probleme in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK)?

Intussen moet Msimanga hom staal vir nóg ANC-aanvalle wanneer die Tshwane-metroraad aan die einde van Januarie weer vergader.

* Van der Walt is ’n politieke en diplomatieke joernalis in Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.