Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wag massa-uitwissing eendag op vandag se babas?

Lewe op aarde is besig om teen ’n ongeëwenaarde tempo uit te sterf. Hoe sal die wêreld lyk vir ’n baba wat vandag gebore word en die volgende eeu ingaan? vra Elsabé Brits.

Antarktika is oortrek met harde ys. Indien klimaatsverandering nie getemper word nie, kan dit smelt. Foto: Kelly Brunt/ National Science Foundation

In die mees omvattende verslag tot nog toe oor die stand van die natuur, saamgestel deur 145 kenners uit 50 lande, is die lewe op aarde gediagnoseer: Uitwissing staar ’n miljoen spesies, plante en diere in die gesig.

Die verslag van die Intergovernmental Science-Policy Platform on Biodiversity and EcoSystem Services (IPBES), wys daar is moontlik 8,1 miljoen spesies (diere en plante) op aarde. Hiervan is sowat 5,5 miljoen insekte. Maar nie een van die syfers is presies nie, omdat kundiges nog nie naastenby alles al beskryf en aangeteken het nie. Inteendeel, net sowat 2 miljoen is al beskryf.

Inheemse spesies het wêreldwyd met 20% afgeneem sedert 1900.

Net omdat ’n spesie nog nie beskryf is nie, beteken nie dit word nie bedreig nie. Daarom word beraam uit al die moontlike spesies is sowat ’n miljoen bedreig, indien dit vergelyk word met bestaande modelle en die toestand van dié waarvan daar wel kennis is. Selfs spesies wat net kwesbaar is, het ’n kans van 10% om binne 100 jaar uit te sterf.

Inheemse spesies het wêreldwyd met 20% afgeneem sedert 1900 en selfs diereras-spesies wat ons mak gemaak het, wat gebruik word in landbou en vir kos, het met 9% afgeneem. Sowat 10% van insekte, 40% van amfibiese diere, 33% van korale en ’n derde van die seelewe word bedreig.

Die nuwe data is saamgestel uit 15 000 navorsingstukke en gee ’n behoorlike oorsig oor wat hier aan die gebeur is. Buiten klimaatsverandering is die mens besig om sy water- en voedselbronne uit te put, sy gesondheid in gevaar te stel, sy gehalte van lewe te verlaag en sy habitat te verwoes en te besoedel. Die probleem is egter dat ons deel van die ekostelsel is (ons is net nog ’n spesie) en ons kan nie sonder die res lewe nie.

Hoekom jou baba eendag oud sal word

Vir die meeste van ons klink 2100 ver in die toekoms, omdat die nuwe millennium so onlangs aangebreek het. ’n Baba wat vandag gebore word, sal met die aanbreek van die nuwe eeu 81 jaar oud wees. Of dié wat oor tien jaar gebore word, sal 71 wees.

’n Baba wat vandag gebore word, het ’n goeie kans om 81 jaar oud te word, veral indien persoonlike genetika wat na die individu se genetiese samestelling kyk en só die beste van die geneeskunde kan bied, dan ’n werklikheid kan wees. Onder meer sal farmagenetika kan bepaal watter medikasie of ander behandelings vir jou gaan werk of nie. Vir sekere kankers bestaan dit reeds. Boonop word tegnologie soos Crispr/Cas9 tans verfyn. Dit behels die uitsny van dele van gene of selfs chromosome en die vervanging daarvan om siektes uit te skakel.

Crispr-Cas9 werk soos ’n genetiese skêr. Dit teiken bepaalde “foutiewe” geenreekse om dit te verander, af te skakel of uit te sny, sonder om weer ’n genetiese fout te maak. Die gedagte is om selfs virusse, soos MIV/vigs, te verwyder, asook kanker en oorerflike genetiese siektes – mits die geenreekse daarvan bekend is.

Wanneer stede onder die water verdwyn . . .

In 2100 sal van die wêreld se grootste stede onbewoonbaar wees. Sowat 140 miljoen mense – byna drie keer soveel as wat tydens die Tweede Wêreldoorlog dood is – sal ontwortel word. Dit sal ’n regstreekse gevolg van klimaatsverandering wees. Die ergste migrasie sal in Afrika suid van die Sahara wees.

Varswatervlakke sal bly daal en die seevlakke sal bly styg. Daar sal al hoe meer om water meegeding word. Verskeie eilande en kusstede sal die mite van Atlantis werklikheid maak. Dit sal onder die water verdwyn – die eerste een sal waarskynlik Venesië wees.

Klink dit nie so erg nie? Dit was mos al voorheen warm? Na raming sal die temperatuur met “net” 2 °C styg – met 6 °C wat die ergste voorspelling vir 2100 is. Met elke 1 °C-styging sal tot 15% van die oeste misluk; en met ’n 5 °C-styging in temperatuur bykans alles.

As jy die Alpe nie meer kan sien nie

Volgens konserwatiewe beramings sal slegs ’n derde van die Alpe se gletsers oor wees, en volgens die ergste beramings sal net 5% van die hedendaagse ys en sneeu oor wees. Teen 2100 sal dit net plek-plek sigbaar wees.

Die smelt van gletsers in die Arktiese en Antarktiese streke is egter nóg meer problematies. Buiten dat al die diere sal uitsterf wat vir hul voortbestaan daarop staatmaak, sal dit ook die seevlakke laat styg. Dit sal ’n geweldige invloed op presipitasie wêreldwyd hê en die tropiese reëngordel sal noordwaarts skuif, wat minder reën in die suide beteken.

Die jongste beramings is dat die bevolking in 2100 tussen 9,6 miljard en 12,3 miljard kan wees.

Klimaatsverandering sal katastrofiese vloede vir sekere plekke en droogte met hittegolwe vir ander bring. Dit veroorsaak ook veldbrande, veranderings in die chemiese samestelling van die oseane, humiditeit, storms en ekonomiese verliese.

Die jongste beramings is dat die bevolking in 2100 tussen 9,6 miljard en 12,3 miljard kan wees.

Dié studie wys op twee faktore wat kan help: Behoorlike toegang tot geboortebeperking en meisies en vroue wat voorkeur in die onderwys kry. Met konserwatiewe opvattings oor vroueregte en sekere gelowe wat vroue se vrugbaarheid wil beheer, sal dié opsies problematies wees. Met so baie mense sal die vraag na energie, kos en water reusagtig wees.

Die sesde uitwissing is hier

In 2100 sal van die wêreld se grootste stede onbewoonbaar wees. ’n Kind wat vandag gebore word, sal dan 81 wees. Voorstelling: Egan Jimenez/Woodrow Wilson School

Baie kenners meen ons is nie meer in die Holoseen nie. Dié geologiese era het sowat 11 650 jaar gelede ná die einde van die laaste ystydperk begin. Ons is nou in die Antroposeen (antropo- beteken mens en -seen dui die geologiese epog aan).

Dit dui die nuwe epog aan, waarin die mens sedert 1800 – veral met die koms van die nywerheidsrevolusie – die aarde en sy geskiedenis dramaties verander het. Ons het die natuur “oorgeneem”.

Die sesde massa-uitwissing is reeds aan die gebeur.

Die aarde het al vyf massa-uitwissings beleef. Almal het natuurlike oorsake gehad en was dermiljoene jare voor die mens se bestaan. Daarna het die lewe weer teruggekeer.

Die as het die wêreld omvou, die gasse was giftig, die oseane het te suur geraak en fotosintese kon nie plaasvind nie.

Dit was uiters stadige gebeure oor honderdduisende jare, selfs miljoene – nie die kort tydperk sedert die nywerheidsrevolusie nie.

’n Voorbeeld is die grootste massa-uitwissing tot nog toe 251 miljoen jaar gelede op aarde toe 70% van alle lewe op land en 90% van dié in die oseaan uitgewis is. Lewe het lank geneem om te sterf, en lank geneem om terug te keer omdat dit nie mensgemaak was nie.

Daar was waarskynlik ’n reeks oorsake, wat op mekaar gevolg het. Super-vulkane (wat ons nog nie in ons leeftyd ervaar het nie) het aardbewings teweeggebring. Die as het die wêreld omvou, die gasse was giftig, die oseane het te suur geraak en fotosintese – ’n grondslag van lewe op aarde – kon nie plaasvind nie.

Dit het 10 miljoen jaar geneem om te herstel. In daardie as, gas en ongenaakbare wêreld het van die soogdieragtige reptiele oorleef. Van dié soogdieragtige reptiele het ontwikkel in die eerste soogdiere, en hulle het vertak in verskeie spesies, waarvan een die mens is.

Die planeet oortrek met plastiek. Talle kenners reken ons is reeds in ’n ander geologiese era, genaamd die Antroposeen. Foto: Jonathan Sisson/ Universiteit van Leicester

Die Karoo is die enigste plek ter wêreld waar ’n aaneenlopende fossielregister van 300 miljoen jaar tot 180 miljoen jaar gelede van dié soogdieragtige reptiele is. Ons voorsate het dié katastrofiese uitwissing oorleef, asook die een daarna, 65 miljoen jaar gelede, toe ’n enorme ruimterots die aarde getref en die dood van dinosourusse veroorsaak het.

Stadig maar seker kon hulle aanpas by die omgewing, want tyd was aan hul kant. Ons het nie 10 miljoen jaar nie. Ons het dalk nie eens 500 jaar nie.

Dit is moontlik dat die aarde (die planeet) ’n mensgemaakte massa-uitwissing kan oorleef. En lewe weer daarna sal voortspruit. Dit sal egter nie die dieselfde wees nie – dit is nooit nie.

Die antwoord op die vraag of ons só iets wil beleef, en dit wil toewens aan die baba wat vandag gebore word, is beslis nee.

Dat dié baba dit sal oorleef, is onwaarskynlik.

Bronne: National Oceanic and Atmospheric Administration; Groundswell: Preparing for Internal Climate Migration – World Bank Report, 2018; The Lancet – Countdown on Health and Climate Change (28 Nov. 2018); The Cryosphere https://www.the-cryosphere.net/13/1125/2019/; IPBES https://www.ipbes.net/

Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings is skrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Elsabé Brits  |  Antarktika  |  Karoo  |  Natuur  |  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.