Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wanneer die burgers opstaan
’n Gift of The Givers-vrywilliger help ten tyde van die Covid-19-pandemie om kospakkies gereed te kry. Foto: Jaco Marais

Is die betrokkenheid van die burgerlike samelewing in Suid-Afrika positief omdat dit die demokrasie versterk of negatief omdat dit dui op ’n mislukte staat? Carla Lewis doen verslag.

In Before Sunset, die tweede aflewering van Richard Link­later se Before-trilogie, is daar ’n toneel waar Jesse en Celine­, die protagoniste in die rolprent, langs die Seinerivier in Parys loop en gesels. Dis tien jaar ná hul eerste ontmoeting.

Celine werk nou vir ’n nieregeringsorganisasie (NRO) wat fokus op die omgewing en Jesse is nuuskierig oor haar loopbaankeuse.

As jy regtig ’n verskil wil maak, meen Celine, word jy nie ’n politikus nie. Die mense wat die wêreld verander, is nie dié wat in parlemente, senate en konferensiesale vergader en wette opdroom nie.

Politici verander nie lewens nie. Dis mense op voetsoolvlak wat fondasies grawe vir behuisingskemas, sanitêre produkte versprei en potlode en skryfbehoeftes uitdeel op die platteland, verklaar sy.

Wanneer politici misluk

In Suid-Afrika voel dit dikwels asof politici net lippediens aan burgers lewer, terwyl mense soos Celine sorg dat kospakkies onder die arm mense versprei word, skoolkinders toegang het tot veilige sanitasiegeriewe en veg om die bewaring van die omgewing.

Heel dikwels is dit hierdie organisasies wat moet ingryp wanneer dit lyk of die staat nie sy grondwetlike pligte nakom nie of wanneer burokratiese rompslomp dienslewering belemmer.

NRO’s soos Solidariteit Helpende Hand en die 1 000 Women Trust moes Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, vroeg onder die hoë vlakke van die inperking voor die hof daag toe haar departement die verspreiding van kospakkies onder die arm mense wou sentraliseer en Jan Publiek se sopkombuise wou verbied.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur­ van Solidariteit Helpende Hand, sê die organisasie het in Mei kommer uitgespreek oor die staat se programme om armoede te voorkom en te verlig.

Aktiviste van die TAC en Corruption Watch in 2018 tydens ’n betoging oor die Esidimeni-tragedie. In Suid-Afrika speel oorganisasies soos dié ’n deurslaggewende rol om die regte van gewone mense te beskerm. Foto: Gallo

“Die staat wou kosverspreiding sentraliseer en reguleer. Die korrupsie en bedrog in die verspreiding en regulering van kos en beskermende Covid-19-noodsaaklikhede bevestig dat die staat nie met noodsaaklike dienslewering vertrou kan word nie en dat private instellings ’n onmisbare rol speel in die hantering van armoede,” sê hy.

Ook die departement van basiese onderwys word gereeld aanspreeklik gehou deur NRO’s, soos die onderwysaktiviste van Section27 en Equal Education.

Die groepe het hulle tot howe gewend om Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, te dwing om die mees basiese geriewe aan leerlinge te voorsien: veilige, skoon toilette, handboeke en voedselskemas vir kinders in arm gemeenskappe wat onder die armoedsgrens leef.

Wanneer ’n regering nie sy pligte teenoor sy burgers nakom nie en dan beheer wil uitoefen oor wie en hoe sy burgers bygestaan moet word, dui dit nie op ’n wanfunksionele demokrasie nie?

En as burgerregteorganisasies in howe moet veg om die handhawing van mense se grondwetlike regte, is dit ’n bewys van ’n algeheel mislukte staat?

Tekens van hoop

Die sterk teenwoordigheid en ingryping van Suid-Afrika se burgerregtelike samelewing is juis ’n teken van ’n werkende demokrasie, sê dr. Ralph Mathekga, politieke ontleder.

David Lewis, uitvoerende direkteur van Corruption Watch, beklemtoon ook dat gesonde demokrasieë gekenmerk word deur die betrokkenheid van burgerregtelike samelewingsorganisasies.

“Die laaste ding waaroor ek tans bekommerd is, is die toename in aktiwiteit in die Suid-Afrikaanse burgerregtelike samelewing,” beklemtoon Lewis.

Sulke organisasies, wat nie op winsbejag uit is nie en hulle beywer vir burgerregte, dra inderdaad by tot die uitvoering van demokratiese prosesse wat help om ’n gesonde demokrasie in stand te hou, sê Mathekga.

“As regerings en die burgerlike samelewing kragte saamsnoer, kan hulle ’n groot bydrae tot die funksie van die staat lewer.”

Lewis meen dis ook ’n teken van ’n gesonde samelewing wanneer burgers bereid is en toegelaat word om mekaar te help en te veg om geregtigheid.

“Die sterk teenwoordigheid van sulke organisasies – en dat hulle deur die regering verdra word – bewys juis dat Suid-Afrika ’n gesonde demokrasie is.”

Oorlog teen aktivisme

In lande met outoritêre regimes en leiers bekend om hul sogenaamde “sterkman-styl” – soos Wladimir Poetin van Rusland, Xi Jinping van China en Jair Bolsonaro van Brasilië – word ’n sterk burgerlike samelewing nie regtig geduld nie.

Dié sektor van die gemeenskap sal eerder streng gereguleer word en wanneer aktiviste “nie hul plek ken nie”, word hulle geïntimideer en selfs vervolg, sê Lewis.

Wanneer burgers vergader en toegelaat word om hul mening te lug oor die bekwaamheid (of nie) van hul leiers en inspring waar leiers tekort skiet, beklemtoon hulle juis die onbekwaamheid van hul regering.

Hulle is ook ’n doring in die vlees van korrupte despote en hul lakeie wat selfsugtige en soms misdadige belange probeer deurvoer – alles ten koste van hul burgers.

Bolsonaro, bekend om sy ontkenning van klimaatsverandering en die plundering van die Amasone-reënwoude, het verlede jaar skerp kritiek ontlok toe Ricardo Salles, Bolsonaro se minister van omgewingsake, alle samewerking met NRO’s opgeskort het.

Salles het sy besluit regverdig as ’n “herevaluering van vennootskappe”, maar omgewingsaktiviste het dit beskryf as “ ’n oorlog teen NRO’s en dié wat die omgewing probeer beskerm”.

In Indië het Narendra Modi verlede jaar, nadat hy tot premier verkies is, sekere NRO’s wat op die omgewing en menseregte fokus, voëlvry verklaar. Die Modi-regime het aangevoer hierdie NRO’s dryf ’n agenda om Indië se steenkool- en mynbouprojekte te stuit en die Indiese ekonomie te verhinder om te groei.

Gespanne verhouding

Net omdat die Suid-Afrikaanse regering geduld het met plaaslike aktiviste en gemeenskaps­leiers beteken dit nie die verhouding is sonder spanning nie.

Corruption Watch het soms ’n antagonistiese verhouding met die regering, sê Lewis. Onder oudpres. Jacob Zuma was dit ’n “openlik vyandige verhouding omdat die regime nie aanspreeklik gehou wou word nie”, sê Lewis.

Onder die presidentskap van Cyril Ramaphosa gaan dit beter, maar daar is tog steeds wrywing.

Een oorsaak daarvan is die Ramaphosa-administrasie se onvermoë­ om die “Magashule-Zuma”-faksie van die ANC, wat steeds weier om verantwoordelikheid vir hul dade te aanvaar, in die bek te ruk, sê hy.

Mathekga sê dit spreek boekdele vir die bekwaamheid van die staat wanneer die burgerregtelike samelewing moet ingryp waar die staat misluk of as waghond moet optree.

“In ’n normale, gesonde demokrasie, waar die regering sy mandaat suksesvol uitvoer, speel burgerregtelike organisasies hoofsaaklik ’n ondersteunende rol.

“Dis ’n ander saak wanneer die organisasies deurlopend besig is om die staat se mislukte beleide te probeer deurvoer,” sê Mathekga.

“In Afrika en Suid-Afrika is daar hopeloos te veel NRO’s wat hulle bemoei met die ineenstorting van regerings, onstabiliteit en swak dienslewering,”sê hy.

Belastinggeld vermors

“As ’n mens so daarna kyk, is die opkoms van ’n sterk burgerregtelike samelewing wel kommerwekkend omdat dit dui op ’n mislukte staat wat nie sy grondwetlike mandaat deurvoer nie,” meen Mathekga.

Noëth sê hoewel Suid-Afrikaanse howe nog help om die staat tot verantwoording te dwing, is hy wel bekommerd oor die vermorsing van burgers se belastinggeld, wat vir beter hulpbronne aangewend kon word.

“Tans is die howe nog ’n uitweg. Ongelukkig is dit duur om elke keer te bewys dat ons reg is en die staat verkeerd.

“Die staat steur hom ook nie veel aan die hofuitsprake en bevindings nie. Hy gebruik belastingbetalersgeld om dit teen te staan en ag dit eintlik as ’n onuitputbare bron.”

Noëth sê dis ’n harde werklikheid dat burgerregtelike organisasies hulle keer op keer tot die hof moet wend om Suid-Afrikaanse burgers se regte te beskerm.

Beter samewerking

In sommige gevalle het die krisis met die Covid-19-pandemie darem gehelp om bande tussen die regering en die burgerlike samelewing te smee.

Prof. Ralph Hamann, kenner van maatskaplike vernuwing en volhoubaarheid verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se sakeskool, skryf in ’n artikel op The Conversation dat die Suid-Afrikaanse regering se reaksie op mense wat honger ly, jare maar bra wisselvallig was, nog voordat Covid-19 in die prentjie gekom het.

“Aktiviste het jare die probleem in hul gemeenskap probeer uitwys sonder dat die regering of politici betrokke geraak het.

“In daardie konteks gesien, is dit bemoedigend dat daar nou wel positiewe samewerking tussen regeringsleiers en burgerregtelike organisasies plaasgevind het.

“Daar was ook staatsamptenare wat gehelp het om die pogings van samewerking te koördineer.”

In die artikel word ook melding gemaak van raadslede wat ten tyde van die Covid-19-krisis in hul afwesigheid geskitter het in hul plaaslike gemeenskappe.

Daar was ook diegene wat enige hulp van organisasies teengestaan het omdat hulle aktiviste as politieke mededingers beskou.

“Die meeste aktiviste het geen ambisie om die politieke arena te betree nie,” beklemtoon Hamann in die artikel.

“Hulle is ook dikwels uitgesproke oor hul politieke apatie, juis om politici te paai.

“Maar ons kan ook net hoop dat die burgerregtelike samelewingsorganisasies wat so flink op die Covid-19-krisis gereageer het, sal help om ’n nuwe generasie van gemeenskapsleiers na vore te bring – ’n netwerk van aktiviste wat onverpoos sal werk om die staat nie net aanspreeklik te hou nie, maar ook betrokke.”

Lewis is ’n senior­ redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Verandering  |  Politiek  |  Maatskaplike Vernuwing  |  Burgers  |  Aktvisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.