Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wanneer die wolwe wen

In ’n plek van uitsigloosheid het hy besef ons alledaagse voorregte is miljoene mense nie beskore nie, skryf Chris Jones.

Lavender Hill, een van die gevaarlikste woonbuurte in Kaapstad. Die Clever Kids en die Mongrels skiet oor-en-weer oor die veldjie. Lanks die oorlogsveld is die St. Marks Anglikaanse Kerk. Foto: Edrea du Toit

Ons het 'n wêreld geskep wat sodanig verdeeld is dat wat goeie nuus vir die een is, slegte nuus vir die ander kan wees. Dit word veral duidelik as ons na die ekonomie kyk. Wat ekonomies voordelig is vir die een, kan ekonomies vreesaanjaend vir die ander wees.

Tog wil ons bly glo dat daar iets soos geregtigheid en billikheid bestaan – iets soos die beskerming en bevordering van die goeie en die bestryding van die kwaad. Dat die goeie en geregtigheid konkrete gestalte sal kry deur die manier waarop mense met mekaar leef.

Ek het so 'n klompie jare gelede vir 'n paar dae in Lavender Hill gaan bly – om iets van armoede en bendegeteisterde omstandighede te probeer ervaar en te verstaan. Om te kyk of ’n mens voormalige, gerehabiliteerde bendelede en bendeleiers kan gebruik as agente van morele verandering in daardie gebied(e).

Hulle besoek tikhuise om te vergeet. Om te ontsnap aan ? swaarkry-wêreld.

Ek het onder meer vir so 90 minute per dag by Farikhaan in sy hout-en-sink- aanmekaar getimmerde winkeltjie deurgebring. Mense kom staan daar met enkele (koper-) muntstukke in die hand. Hulle koop byvoorbeeld R1 se suiker, R2 se koffie, een aartappel, een ui, of een stukkie Weetbix. Hierdie blokkie Weetbix word gedeel tussen twee mense, gemeng met water, omdat hulle nie melk kan bekostig nie.

Ek het in daardie tyd ook vir Joan ontmoet, 'n 60-jarige vrou wat blind is. 'n Klompie jare vantevore het bendelede vermoed dat sy vir die polisie gesê het waar hulle hul wapens wegsteek. Dit was nie sy nie, maar hulle het haar ingewag in haar woonstel en suur in haar gesig gegooi wat haar blind gelaat het.

Daar is vandag geen bitterheid by haar nie. Twee aande van die week neem sy haar Bybel en stap saam met iemand van huis tot huis met die Goeie Nuus. Sy wil van Lavender Hill 'n beter plek maak. Sy beveg alkoholmisbruik en dwelmgebruik, en praat met jongmense oor onverantwoordelike tienerseks en hoe 'n ongewenste swangerskap jou drome kan steel.

Sy het in ons gesprek twee baie treffende goed vir my gesê.

Al wat oorgebly het nadat vandale, koperdiewe en bendes die luukse pretpark in Seawinds-buurt, naby Lavender Hill, bygekom het.

Eerstens vertel sy hoe sterk konteks, veral stukkende kontekste, op ’n mens se lewe inspeel. Dat ons baie meer sensitief is vir die krag van die konteks as wat ons dink. Dat as ons nie stukkende kontekste soos wanfunksionele ouerhuise, skole en buurte gaan heelmaak nie, ons nie ’n morele keerpunt in Suid-Afrika gaan bereik nie. Dít strook natuurlik met navorsing wat onder meer in Amerika hieroor gedoen is.

En die tweede baie interessante ding wat sy gesê het, is dat al die kwaad en geweld in haar gemeenskap geweldige vrees skep. Maar as jy bereid is om die kwaad in die oë te kyk en iets daaraan te doen, skep jy hoop.

Ek het met “toestemming” ’n tikhuis besoek. Ek het een aand/nag vir 'n hele paar uur in so 'n huis deurgebring en die rituele aanskou. 'n Gebreekte bottelnek word gestop met dagga – wat 'n growwe tekstuur het – gemeng met gewone tabak.

Dan word 'n halwe Mandrax-pil rustig fyngemaal in die silwerpapiertjie wat jy in'nsigaretdosie kry. Nadat dit fyngemaal is, word dit oorhandig aan 'n jongman wat knielend voor die ouer persoon sit, wat self sy bottelnek-pyp stop. Hierdie jongman strooi dan die Mandrax bo-op die dagga-en-tabak-mengsel en steek dit aan die brand vir die ouer persoon wat dit rustig rook.

Hulle koop R1 se suiker, R2 se koffie, een aartappel of een stukkie Weetbix.

So iemand kan tot ses pille op 'n aand rook. Hy raak mettertyd rustig – selde aggressief – en raak dan aan die slaap. Die jonger man neem dan sy plek in en die ritueel herhaal homself.

Kinders kom en gaan, word geroep en gestuur, en sien alles wat gebeur. Hierdie konteks trek hulle in. Terloops: as jy vir kleiner kinders in hierdie area(s) vra wat hulle eendag wil word, antwoord hulle dikwels sonder om twee keer te dink: 'n 26 of 28.

Die meeste mense wat hierdie tikhuise besoek, vertel dat hulle hoop verloor het. Daar is geen werk vir hulle nie. Ongeveer 60%-70% mense in Lavender Hill is werkloos (soos ook in sommige ander informele woonbuurte). Hulle besoek tikhuise om te vergeet. Om te ontsnap aan 'n swaarkry-wêreld.

Die volgende dag probeer hulle weer geld in die hande kry om nog Mandrax-tablette te koop. Dikwels, deur take vir bendes te doen, bekom hulle geld of dwelms. Van hulle het al vir 30 tot 40 werke aansoek gedoen sonder sukses. Die gebrokenheid en stukkendheid van hierdie gemeenskap(pe) kan eintlik nie in 'n artikel soos hierdie beskryf word nie.

As ons nie wanfunksionele ouerhuise, skole en buurte gaan heelmaak nie, gaan ons nie ’n morele keerpunt in Suid-Afrika bereik nie. Foto: Yunus Mohamed

Terwyl ek in Lavender Hill gebly het, het ek besef: Dit is net ’n gemeenskapsgevoel wat mense laat oorleef. Hulle deel en gee om. Die oudbendeleier by wie ek gebly het, het een oggend die laaste R11 uit 'n blikkie in sy kombuis gaan haal vir sy buurvrou wat twee dae geen kos op die tafel gehad het nie. Dit was sy laaste. “Môre,” sê hy agterna, “sorg iemand weer vir my. Dit is hoe ons hier oorleef.”

'n Oudstudent van ons fakulteit wat nou 'n dominee is, het saam met my en die oudbendeleier by wie ek gebly het, klein groentetuine in Lavender Hill probeer aanlê. Dit het taamlik mooi gevorder, tot op 'n oggend dat ek 'n oproep kry wat sê al die tuine is die vorige nag deur bendes vernietig.

Dit was 'n groot teleurstelling vir ons almal, veral vir die oudbendelede wat hierby betrokke was en wat die gemeenskap, wat vroeër deur húlle so teleurgestel en seergemaak is – op hierdie wyse wou probeer help het.

In die tyd wat ek daar gebly het, het jy snags wakker geword van bendes wat op mekaar skiet. Die een oggend op pad na 'n gemeenskapsaal op soek na werk vir hierdie oud-bendeleier, is drie taxibestuurders in en om Lavender Hill in hul taxi’s doodgeskiet. Ons het daarop afgekom.

Ons was skaars op die M5 toe 140 tot 150 taxi’s uit alle rigtings hierdie pad versper het.

Hulle het genoeg gehad van taxi-geweld en wou die plaaslike polisiehoof en Wes-Kaapse minister van vervoer hieroor spreek. Ons was hierin vasgevang en kon nie beweeg nie.

Ek onthou nog hoe ons 'n vrouestudent wat op pad was na haar eksamen en ook in hierdie blokkade vasgevang was, se motor op die sypaadjie getel het en met die hulp van plaaslike inwoners aan haar 'n “agterpad” verduidelik het sodat sy betyds by haar eksamenlokaal kon uitkom.

Ek het besluit om in die paar dae wat ek daar gebly het, net te eet wat hierdie gesin geëet het. Die derde dag was ek so honger dat ek twee gebraaide hoenders, koeldrank, aartappels, groente en 'n heerlike sjokoladekoek gaan koop het. Ons het op die vloer om 'n lae tafel gesit en ons vingers afgelek van lekker.

Die aand toe ons bed toe gaan, het die twee jong kinders, met wie ek 'n klein kamer gedeel het, vir my so mooi dankie gesê. Ek dink ek het met die ma se hartseer dankgebed vir daardie kos aan die slaap geraak.

Die volgende oggend het hierdie twee kinders aangedring dat ek vóór hulle uit die waskommetjie, wat ál vyf van ons moes deel, moes was. Daar was nie warm water in die huis nie. Water word gekook as jy jou wil was. Jy werk spaarsamig met alles.

My vrou is dikwels uitstedig vanweë haar werk. In sulke weke probeer ek (doelbewus) so goedkoop as moontlik leef. Eintlik baie eenvoudig, veral wat kos en etes betref, om myself uit te daag, en voortdurend te herinner aan al my voorregte, waaroor miljoene mense in Suid-Afrika nie beskik nie.

Ek het gesien hoe mense net vel en been in Lavender Hill rondloop, nie net van honger nie, maar ook van al die pyn wat hulle saamdra. Afgetakel in liggaam en gees. Oë dof van ellende. Vasgevang in 'n afgryslike, benouende, stikdonker put van ellende en magteloosheid met sy seepgladde wande van armoede, werkloosheid en uitsigloosheid. Hoe gaan hierdie mense hulself ooit hieruit kan ophef? Hoe “maak” kinders dit wat hier grootword?

In die tyd wat ek daar gewoon het, het ons voormalige president Jacob Zuma, wat die afgelope week voor die Zondo-kommissie getuig het, vir hom 'n swembad van miljoene rande by Nkandla gekry met liters en liters water daarin gepomp, terwyl baie mense in ons land nie oor warm of selfs lopende water beskik nie. Die Nkandla-hoenderhokke is meer werd as baie huisies waarin gesinne woon en kinders vir die lewe grootgemaak moet word.

Ons het oor die afgelope jare gesien hoe uitspattigheid soos goue kettings om ryk politici se nekke hang terwyl soveel mense – ook diegene wat vir hierdie leiers gestem het – nie elke dag 'n behoorlike bord kos het om te eet nie. Verblind deur die goue, gesnede beelde van gierigheid, mag en misbruik van politieke leiers.

Ons het so gehoop dat ons nuwe bedeling sy ranke soos 'n gesonde en sterk wingerdstok sou uitstoot tot in die Lavender Hills-gemeenskappe van die land, maar sy lote het verdroog en verdor. Verdring deur onkruid. Met saad en bemesting wat dikwels nie op vrugbare grond geval het nie, maar tussen die onkruid op klipperige grond.

En die weermag? Hul spore sal mettertyd (soos in die verlede) deur die winde van slim bendestrategieë toegewaai en uitgewis word. En die grommende wolwe van die onwettige ekonomie sal steeds op die hakke van soveel sagte, weerlose teikens in daardie gebiede loop, smagtend om hul kloue uit te stoot en tande in te slaan.

  • Dr. Chris Jones is verbonde aan die eenheid vir morele leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Chris Jones  |  Lavender Hill  |  Bendes  |  Kaapse Vlakte  |  Weermag  |  Dwelms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.