Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wanneer kan kinders virus-entstof kry?

Is die Covid-19-entstowwe veilig vir kinders en hoekom word hulle nog nie ingeënt teen die koronavirus nie? Wesley Kufel antwoord vyf kwelvrae oor dié onderwerp.

’n Lang tou voertuie staan in die deelstaat Florida in die VSA waar mense van 65 en ouer wag om by ’n deurry-kliniek met die Pfizer-entstof teen Covid-19 ingeneënt te word. Die wagtyd was by tye sowat drie uur lank. Foto: LightRocket via Getty Images

Die eerste entstowwe is goedgekeur vir gebruik in Amerika en deelstate het reeds begin om dié entstowwe toe te dien.

Maar een belangrike groep is afwesig: Kinders.

Tot dusver kan net volwassenes en ouer tieners ingeënt word. Die kliniese proewe op kinders het nou eers begin – en net op tieners. Heelwat hieroor is nog onbekend.

As ’n farmaseut wat spesialiseer in aansteeklike siektes en ’n professor wat gehospitaliseerde pasiënte met Covid-19 help bestuur, hoor ek dikwels vrae oor entstowwe.

Hier volg my antwoorde (en dit wat ek nie weet nie) op ’n paar algemene vrae oor die inenting van kinders met Covid-19.

Wanneer kan my kind ingeënt word?

Op die oomblik lyk dit onwaarskynlik dat ’n entstof vir kinders voor die begin van die volgende skooljaar in Augustus vanjaar gereed sal wees. Die kliniese proewe op volwassenes van die twee voorste entstowwe het belowende resultate getoon. Die Amerikaanse FDA het in die middel van Desember die noodgebruik vir albei goedgekeur, maar slegs vir volwassenes en ouer tieners. Dié liggaam het die Moderna-entstof op 18 Desember vir mense van 18 jaar en ouer goedgekeur, en ’n week later is die Pfizer-entstof vir mense van 16 jaar en ouer goedgekeur. Inentings in Brittanje was reeds aan die gang en Kanada het die Pfizer-entstof vir dieselfde ouderdomsgroep goedgekeur.

Ouers wil weet of entstowwe teen Covid-19 veilig vir hul kinders gaan wees, of daar newe-effekte sal wees, en of hulle steeds maskers moet dra nadat hulle ingeënt is. Foto: Getty Images

Kliniese proewe op kinders het egter eers pas begin.

Pfizer, in samewerking met Duitsland se BioNTech, het eers in Oktober sy Covid-19-entstoftoetse tot kinders van 12 jaar en ouer uitgebrei. Moderna het op 10 Desember aangekondig dat hy met proewe op kinders van tussen 12 en 17 begin het. Die entstof se doeltreffendheid en veiligheid sal vir elke ouderdomsgroep geëvalueer word en toetse is nog nie begin op babas, peuters en kinders in Amerika nie.

Kliniese proewe word ontwerp om te verseker dat die entstof veilig en doeltreffend is. Dit neem gewoonlik tien tot 15 jaar om ’n entstof te ontwikkel en te lisensieer, maar die Covid-19-entstowwe word in reaksie op die pandemie vinniger ontwikkel.

Moet kinders meer dosisse as volwassenes kry?

Dit lyk nie of die skedule vir die Covid-19-entstofdosisse anders sal wees nie, maar dit kan verander namate die proewe vorder.

Die Pfizer-entstof word op tieners getoets met ’n reeks van twee dosisse wat soos by volwassenes drie weke uit mekaar toegedien word. Moderna beplan ook om sy skedules vir volwassenes te gebruik – twee dosisse vier weke uit mekaar – in ’n proeflopie met 3 000 tieners.

’n Gesondheidswerker in ’n deurry-inentingstasie vul ’n spuitnaald met die Pfizer-entstof in Florida, waar mense van 65 en ouer ingeneënt word. Foto: Getty Images

Die tweede dosis dien as ’n skrager-dosis, aangesien die eerste dosis op sy eie nie optimale immuniteit bied nie. Dit is dieselfde as verskeie ander entstowwe, soos dié teen hepatitis B, masels, pampoentjies en Duitse masels.

Tans word nog net dié twee dosisse beplan, maar dit kan verander. Dit is onduidelik hoe lank die immuunreaksie van hierdie Covid-19-entstowwe sal duur en of meer dosisse in die toekoms sal nodig wees. Die griep-entstof moet byvoorbeeld elke jaar toegedien word omdat die virus verander. Onlangse data van Moderna dui daarop dat immuniteit minstens drie maande duur nadat die Covid-19-entstof toegedien is.

Is die entstowwe veilig vir kinders?

Daar was tot dusver nog nie kommer oor die veiligheid van die Pfizer- of Moderna-entstowwe nie, maar die proewe op kinders is nog in die vroeë stadium. Verskeie ander entstowwe word ook wêreldwyd ontwikkel en ’n paar farmaseutiese maatskappye het in ander lande ook met proewe op jonger kinders begin.

Kinders het normaalweg beter immuunstelsels as volwassenes en hulle kan sterker tydelike reaksies op ’n entstof toon.

Daar was wel kommer oor tydelike newe-effekte. Kinders het normaalweg beter immuunstelsels as volwassenes en hulle kan sterker tydelike reaksies op ’n entstof toon. Dit kan beteken hulle ’n paar dae kan meer pyn en swelling kan ervaar op die plek waar hulle ingeënt is en moontlik ’n koors ontwikkel. Hierdie newe-effekte is algemeen by entstowwe. Dit toon dat die immuunstelsel doen wat hy moet doen, maar dit kan vreesaanjaend wees.

Nadat twee volwassenes ernstige reaksies op die entstof getoon het, het die Britse gesondheidsowerhede op 9 Desember gewaarsku dat mense met ’n geskiedenis van anafilaksie nie ingeneënt moet word nie. Die veiligheid van die entstof sowel as die geneigdheid om tydelike newe-effekte te toon is belangrik om te verstaan omdat volwassenes en kinders albei dosisse sal moet ontvang sodat die entstof optimale immuniteit bied.

Is dit voldoende om net volwassenes in te ent?

Om slegs volwassenes in te ent sal nie genoegsaam wees om ’n einde aan die pandemie te maak nie. Kinders kan steeds besmet raak, die virus oordra en komplikasies kry. Indien ’n entstof nie beskikbaar is nie, sal kinders waarskynlik ’n besmettingsbron van die virus wees en dit sal moeiliker wees om ’n einde aan die pandemie te maak.

’n Gemaskerde vrou staan buite ’n inentingstasie in die Bronx in New York nadat massa-inentingstasies in Brooklyn en die Bronx geopen is. Foto: Bloomberg via Getty Images

Albei die voorste entstowwe het tot dusver belowende resultate in volwassenes getoon. Die Moderna-entstof en die Pfizer-entstof se doeltreffendheid is onderskeidelik sowat 94% en 95%. Dit beteken dat sowat 95% van ingeënte volwassenes onder optimale toestande beskerm sal word. Dis meer as wat ons verwag het.

Of dieselfde vir kinders sal geld, moet ons nog sien.

Moet ons intussen steeds maskers dra en ’n gesonde afstand handhaaf?

Vir nou is dit belangrik om die standaardvoorsorgmaatreëls – soos ’n gesonde sosiale afstand, die dra van maskers, die was van hande en ander amptelike riglyne – na te kom.

Terwyl ons hoop dat die entstof mense sal toelaat om na ’n meer normale lewe terug te keer sal dié voorkomende maatreëls steeds nodig wees – selfs nadat jy ingeënt is – totdat ons meer inligting het oor die mate van beskerming wat die entstof bied.

Daar is steeds baie onbeantwoorde vrae. Mettertyd sal ons meer antwoorde hê.

*Kufel is ’n hoogleraar in aptekerswesepraktyk op die Binghamton-kampus van die Staatsuniversiteit van New York. Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Wesley Kufel  |  Covid-19 Entstowwe  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.