Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wanneer politiek en skole meng

Met Covid-19 wat woed, moet groot besluite oor skole en die onderwys geneem word. Dit is noodsaaklik dat ons die lesse van 2020 leer, skryf Jaco Deacon.

C.J. Langenhoven het gesê: “As die kortpad die beste pad was, sou die hoofpad daar geloop het.”

Daar is nie kortpaaie in onderwys nie en waar dit gevat word, boet die kinders gewoonlik. Die impak van die Covid-19-pandemie het verlede jaar die beste en slegste in die skoolsektor ontbloot. Ons het ten minste nou die voordeel om te kan terugkyk te midde van die nuwe vlaag. Die realiteit is dat min skole die volle 2020-kurrikulum suksesvol voltooi het. Skole wat dit wel kon doen, het die volgende gemeen gehad:

* Sterk leierskap (beheer en bestuur) wat bereid was om innoverend te dink en te werk;

* Goeie en deurlopende kommunikasie met die hele skoolgemeenskap;

* ’n Fokus op kernsake en die vermoë om vinnig en op kort kennisgewing te kan aanpas;

* Professioneel selfstandige (en baie kreatiewe) opvoeders wat in vennootskap met ouers, voogde en leerlinge kon werk en die ekstra myl gestap het; en

* Toegang tot hulpbronne (soos tegnologie) en in baie gevalle ook die optimale benutting van beperkte hulpbronne.

Binne die groter stelsel is daar ook positiewe stappe gedoen.

So byvoorbeeld is daar 3 500 skole wat al vir 25 jaar vir water wag – en wat dit verlede jaar binne ses weke kon kry! Daar was skielik ’n wil om die oorvol kurrikulum, waaroor al baie jare gepraat word, binne weke aan te pas vir ’n verkorte skooljaar.

Covid-19 het swak leierskap, bestuur en aanstellings blootgelê.

Skielik kon onnodige inhoud en assesserings dadelik uitgesny word. Onderwysers is ruimte gegun om professioneel meer selfstandig te kan werk om die spesifieke behoeftes en omstandighede van die leerlinge in ag te neem (dit is tog veronderstel om so te gebeur) en is nie aan bande gelê deur die departementele pasaangeërs, werkboeke en assessering nie.

Die nasionale departement van basiese onderwys (DBO) het interne rolspelers deurlopend op hoogte van sake gehou, gereeld vergader en elke moontlike klip uit die pad probeer rol om dit vir die gr. 12-klas moontlik te maak om die akademiese jaar suksesvol te voltooi.

Helaas, die realiteit vir die meeste leerlinge en skole was eenvoudig te min onderrig (kontak of digitaal) en die amptelike plan is om die agterstand oor ’n tweejaartydperk in te haal (indien Covid-19 nie ’n stokkie voor die plan steek nie). Die gaping tussen funksionele skole en wanfunksionele skole het egter eksponensieel groter geword, met reuse-agterstande wat moeilik op kort termyn ingehaal sal word.

Toegang tot elektroniese toestelle, die koste van data en die onvermoë om tegnologie doeltreffend te gebruik, was ’n groot struikelblok by die meerderheid staatskole. Infrastruktuur wat ondoeltreffend of verwaarloos is, is verder blootgelê. En ja, ongelukkig was daar ook baie onwillige skoolleiers en opvoeders wat gewag het dat alles weer na “normaal” terugkeer en nie kon aanpas by die nuwe realiteit nie.

Covid-19 het vir diegene wat nog altyd lyf weggesteek het ’n gemaklike verskoning geword om nie te werk nie, maar steeds al die geldvoordele te ontvang.

Die DBO se kommunikasie na die breë publiek was eenvoudig swak. Die minister het onseker voorgekom voor die media en die departement het in die proses planloos gelyk. Dit sal vanjaar dringend moet verbeter om die publiek se vertroue in die openbare skoolstelsel te herstel.

Die minister en departement kommunikeer te min, planne word te laat bekend gemaak en die publiek word in die duister gelaat oor baie van die werk wat agter die skerms plaasvind.

’n Voormalige direkteur van onderwys in die Vrystaat het altyd gesê as armoede by die voordeur instap, stap liefde by die agterdeur uit. Die realiteit is dat die meeste skole finansieel sukkel – en dit was reeds die geval voor Covid-19. Daar is net 3 081 skole (kwintiel 4- en 5-skole) van 23 076 staatskole wat skoolgeld mag hef. So, bykans 20 000 skole is uitsluitlik van die staat afhanklik om hul finansiële verpligtings na te kom.

Skole wat wel skoolgeld hef, is reeds onder geweldige finansiële druk. Ekonome voorsien dat ons die volgende paar jaar die gordel nog stywer moet trek en skole gaan dit nie vryspring nie.

Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op die staat om toe te sien dat daar genoeg gesigsmaskers, skoonmaakmiddels en beskermende toerusting by elke skool is. Dit was juis verlede jaar een van die groot geskilpunte tussen vakbonde, beheerliggame en die DBO wat die staat uiteindelik gedwing het om die opening van skole uit te stel om te voldoen aan die basiese veiligheidsmaatreëls teen Covid-19.

Verlede jaar het sommige provinsiale departemente die koste daarvan bloot afgetrek van die bedryfsgeld wat aan skole oorbetaal word – daardie geld was reeds bestem vir ander skooluitgawes soos leermateriaal en het skole in ’n verknorsing gedompel. Indien daar nie voldoende deur die staat voorsiening gemaak word vir hierdie basiese materiaal nie, gaan skole sukkel om in 2021 te open en vakbonde en beheerliggame het reeds bedenkings daaroor.

Die dood van elke opvoeder (en leerling) bly ’n tragedie. Elke provinsiale onderwyshoof is die werkgewer van die opvoeders en nie-opvoeders en moet daarom op provinsiale vlak toesien dat al die werknemers in ’n veilige omgewing werk, die nodige toerusting het en dat daar goeie en duidelike kommunikasie is.

Die minister en nasionale departement se achilleshiel was die onvermoë van provinsiale onderwysdepartemente om die planne wat op nasionale vlak beraam is, uit te voer. Min provinsies het werklik die vermoë om die stelsel selfs onder goeie omstandighede doeltreffend te bestuur en die pandemie het die gebrekkige leierskap, onbevoegde bestuur en swak aanstellings duidelik blootgelê.

Dit was in 2020 ook duidelik dat die minister nie die inligting wat sy van provinsies se amptenare ontvang kan vertrou nie. In baie gevalle moes buite-instellings aangestel word om die inligting te kontroleer. Dié probleem gaan vanjaar steeds met ons wees en die minister sal baie sterk leiding moet toon om dit dadelik te hanteer.

Die minister se taak word verder bemoeilik deur die voortslepende arbeidsgeskil tussen die staat en vakbonde oor salarisverhogings. Die onderwysvakbond Sadou is die grootste vakbond in die staatsdiens en ook ’n prominente rolspeler in die breër openbare sektor. Die vakbond is ook deel van Cosatu, een van die alliansievennote waarop die ANC gaan steun in die komende munisipale verkiesing. Die mengsel van onderwys, politiek en Covid-19 is nie ’n goeie kombinasie nie!

Die minister gaan vanjaar Job se geduld en Salomo se wysheid moet hê om die 2021- akademiese jaar deur te sien. Art. 28(2) van die Grondwet bepaal dat 'n kind se beste belang van deurslaggewende belang is in elke aangeleentheid wat die kind raak en dit is die minister se grondwetlike taak om toe te sien dat dit gebeur.

Binne ons realiteit moet ons onthou dat daar vandag leerlinge op die skoolbanke (of voor die rekenaar) is waarvan baie nog sal leef om die 22ste eeu te sien. Ons kan nie voortbeur met oplossings en onderrigmetodes van die 19de eeu nie. Die nuwe realiteit verg die optimale benutting van tegnologie, veerkragtigheid om verandering te bestuur en dinamiese leierskap.

Belangrike Covid-19-besluite moet met die beste beskikbare inligting geneem word.

Suksesvolle skole het reeds in 2020 die beste pad gevind – en dit was nie die kortpad nie.

Kom ons steek kers op! Die skrywer en spreker Andy Stanley skryf: “We protect best what we value most.” Minister Motshekga, wys vir Suid-Afrika wat is vir jou belangrik.

* Dr. Jaco Deacon is adjunkhoof van Fedsas, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole en skrywer van verskeie boeke.

Meer oor:  Fedsas  |  Onderwys  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.