Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wannie woeker vir Afrikaans

Wannie Carstens is tans ’n gasdosent in Afrikaans in Leiden en het onlangs Afrikaans in Boedapest gedoseer. Hy het ook pas die tweede deel van Die storie van Afrikaans help voltooi. Rudolf Stehle het met hom gesels.

Wannie Carstens op die kampus van die Universiteit van Leiden.Foto’s: Rudolf Stehle

‘Jis, ek kan nie glo dit is verby nie. Ek sit hier en ek is gedreineer.”

Wannie Carstens glimlag moedig waar ons in ’n kantien van die Universiteit van Leiden koffie drink. Hy is tot einde vandeesmaand hier ’n gasdosent in Afrikaanse taalkunde.

Carstens het die oggend nog die finale weergawe van die tweede deel van sy en Edith Raidt se monumentale boek Die storie van Afrikaans na die uitgewer gestuur en hiermee vyf en ’n half jaar se monnikewerk afgesluit.

Die eerste deel het verlede jaar die lig gesien en die tweede verskyn later vanjaar. “Ek het die Afrikaans in totaliteit deurgewerk, alles gelees waarop ek my hande kon lê en dit in ’n raam gaan sit. Ek lig dit toe met voorbeelde, illustrasies, boeke wat verskyn het. Dis heerlik, maar ontsettend baie moeite.”

Wannie Carstens op die kampus van die Universiteit van Leiden.Foto: Rudolf Stehle

Die eerste deel handel oor die oorsprong van die taal in Europa en die tweede oor die ontwikkeling van die taal in Suid-Afrika. Hierin kyk Carstens in diepte na die Groot Trek, Anglo-Boereoorlog en Afrikanernasionalisme om te probeer verstaan waarom dit tot apartheid gelei het.

Hy sê hy verwag sommige mense sal vir hom kwaad wees oor wat hy skryf oor die rol van apartheid in die siening wat mense van Afrikaans het. “Ons kan dit nie ontken nie, baie swart mense het ’n uiters negatiewe beeld van Afrikaans oor apartheid en oor wit Afrikaanse mense wat dit toegepas het. Dieselfde geld bruin mense wat aan die ontvangkant was van apartheid uit die mond van wit mense. Ek krap dit so ’n bietjie oop en ek noem dit op die naam. En ek weet daarvan gaan mense nie hou nie.”

Maar hy kritiseer nie die Afrikaners nie, sê Carstens, wat einde 2017 afgetree het as professor in Afrikaanse taalkunde aan die Noordwes-Universiteit. “Ek kyk net as akademikus daarna en beskryf die verskynsel.”

Hy beskou die boek as “so half ’n afsluiting van my loopbaan” en hoop dit dien as “ ’n soort tydsdokument van wat met Afrikaans gebeur het tot nou”.

Afrikaans ‘kan nie meer opgaan’

Die tragedie is dat die taal nou oor die kruin is. “Ons is op daardie baie delikate punt. Ons kan oorval ondertoe of ons kan aan- of opgaan. Die beste scenario is ons kan aangaan. Opgaan gaan ons nie meer nie. Die geskiedenis is te teen ons. Die risiko is ons kan afval. Dit is wat my bekommer.”

Daarom sluit hy die boek af met 92 wenke oor dinge wat gewone mense kan doen om Afrikaans te bevorder. Hy het dit nie uitgedink nie, maar gewoon waargeneem wat mense hieroor skryf.

Carstens by van sy studente in Leiden.

“As ’n briefskrywer skryf: ‘Moenie dom dinge vir Afrikaans doen nie,’ begin jy dink wat beteken dit. Dan besef jy dit vervreem mense. Ook iets soos ‘hou op om Afrikaans met aggressie te verdedig’. Dan besef jy, oukei, ja, dis waar. ’n Ander punt is: Gebruik jou grondwetlike regte oor moedertaalonderrig. Dit staan in soveel bronne.”

Hy verwys na ’n onlangse rubriek waarin Tim du Plessis geskryf het die toekoms van Afrikaans is in bruin hande. “Hy’s heeltemal reg. Kyk na die statistiek. Ons het oor die jare daarin geslaag om die bydrae van bruin mense in groot mate uit te skryf. Ek het dit probeer terugskryf. Die boek Ons kom van vêr is ’n sogenaamde spinoff uit hierdie boek omdat ons mettertyd besef het daar is ’n gaping en toe vul ons dit gou daarmee. So, as Tim sê die toekoms lê in bruin hande, dan moet ons ons afvra: Wat doen jy om seker te maak dat die bruin gemeenskap meer betrek word?”

Persepsies afgebreek

Hier aan Leiden en talle ander universiteite in die Lae Lande waar hy oor die jare heen klas gegee het, maak hy ook telkens vir Afrikaans voorbrand.

“Jy gee klas, kry netwerke en sluit vriendskappe en in die proses brei jy ook jou taal uit deur die wyse waarop jy met mense omgaan en inligting versprei.

“Onthou, al wat baie mense van Afrikaans weet is dat dit doer in Afrika gepraat word en hulle assosieer dit met apartheid. So, jy breek persepsies af, dan begin jy bou aan ’n nuwe verhouding, ’n nuwe beeld, en dis moeisaam.”

Afrikaans word hier as keusevak in die tweede semester aangebied vir BA-studente. Carstens geniet dit, maar sê dis baie uitdagend om lesse voor te berei omdat die studente uiteenlopende agtergronde het en hul kennis van taalkunde verskil. “Jy moet maar ’n keuse maak en ’n kursus uitwerk.”

Die studente neem Afrikaans omdat hulle uit ’n akademiese oogpunt daarin belang stel, hul oupa of ouma in Suid-Afrika gebly het of omdat hulle graag Afrikaanse rolprente kyk en die land beter wil verstaan, sê Carstens.

Aangesien hulle bitter min van Suid-Afrika weet, bestee hy heelwat tyd daaraan om eers ’n prentjie van die land en sy geskiedenis vir hulle te skets voordat hy by die taal uitkom. Dis as’t ware ’n inleidende kursus tot Suid-Afrika.

“Jy begin breed en werk dan stelselmatig na ’n punt toe.”

Carstens het ook onlangs die geleentheid gehad om Afrikaans in Boedapest te gee. Sy vriend prof. Jacques van Keymeulen van Gent gee een maal per jaar twee dae lank lesse in Nederlands vir Hongaarse studente aan die Károli Gáspár-Universiteit en betrek dan Afrikaans daarby. Hy het siek geword en Carstens gevra om die lesse in Afrikaans in sy plek te gaan gee. Dié het dadelik ja gesê.

“Stel jou voor ek gee in Afrikaans in Boedapest klas. Dis absoluut fassinerend. Ek het met die dosent met wie ek daar te doen gehad het Afrikaans gepraat en met die personeel heel langsaam en hier en daar in Engels, maar hulle verstaan jou. So, in ’n land wat totaal vreemd is, waar die taal onbekend aan ons is, het ek Afrikaans gegee.” Hy lag uitbundig.

Wannie Carstens aan die klasgee in Afrikaans in Leiden.Foto: Rudolf Stehle

Die toekoms

Die gesprek draai weer by die toekoms van Afrikaans en hy sê dit lê in ’n politieke oplossing. Die ANC moet aanvaar Afrikaans en sy mense is deel van die land, dat hulle ’n volwaardige ruimte mag en moet beklee.

“As dit nie gebeur nie, gaan Afrikaans verdwyn.”

Hy het die laaste 20 jaar van sy loopbaan probeer om ’n ontvanklike atmosfeer te skep waar die uitreikgesindheid van Afrikaans gedemonstreer kan word en mense ontvanklik is om op grond van jou prestasies na jou te luister.

“As ek nét vir die regte van Afrikaanse gemeenskappe sou ba-klei, maak ek die deure by die ANC toe. Maar as ek sê ‘weet jy, een van my boeke het twee jaar gelede in Sotho verskyn en dit verskyn later vanjaar ook in Zoeloe’, besef hulle jy doen iets vir die bevordering van ander tale.

“Dít is wat Afrikaanssprekendes moet doen. Mense begryp dit nog nie en dis jammer. Ons het soveel kundigheid, maar ons hou dit vir onsself. Ons is so bang om uit te reik en te deel.

“As mense my vra, dan sê ek: ‘Hoe kan ek help?’ ”

  • Stehle, ’n subredakteur by Beeld, is as deel van ’n kulturele verrykingsprogram vir twee maande in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam gebaseer.
Meer oor:  Afrikaans  |  Wannie Carstens  |  Amsterdam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.