Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Warmer aarde kan lei tot politieke onstabiliteit

Teen die agtergrond van verskeie weerrampe in die afgelope week of twee oor die wêreld heen is die internasionale aandag tans op klimaatsverandering gefokus. Dit is dalk minder bekend dat dit drastiese geopolitieke implikasies inhou, skryf Leopold Scholtz.

Vernietigende veldbrande woed in Kalifornië. Foto: AP

Honderde mense is die afgelope tyd dood en yslike skade is aangerig in verskeie rampe wat die gevolg van fratsweer was:

• ’n Gebied in die Duitse deelstate Noordryn-Wesfale en Rynland-Palts, die noordooste van België en die suidooste van Nederland het ná ongekende swaar reënval feitlik volledig onder water gekom. Afgesien van die miljarde se skade wat aangerig is, is etlike honderde mense dood. En ’n paar dae later het ’n tweede – swakker – vloed die Belgiese stad Dinant getref;

• In die Chinese provinsie Henan is die stad Zhengzhou byna volledig oorstroom ná ’n sondvloed waartydens meer reën in drie dae geval het as wat normaalweg in ’n jaar gemeet word. Televisiebeelde het gewys hoe mense in ’n moltrein vasgekeer is in water wat borshoogte diep is, en minstens 25 het verdrink;

• In sowel Siberië as talle uiteenlopende gebiede in die weste van Amerika en Kanada het donderweer verwoestende bosbrande veroorsaak. In Amerika alleen baklei – tot dusver tevergeefs – 22 000 brandbestryders teen die vlamme. Die Siberiese brande dreig ook om die stad Jakoetsk, normaalweg die koudste stad op aarde, te verswelg.

Die brande sal wel vroeër of later in bedwang gebring word. Die afgebrande gebiede sal opnuut herbou word. Die lewe sal voortgaan.

Maar sál dit? Wetenskaplikes wat weet waarvan hulle praat, meen die aarde is naby ’n kantelpunt, waar die verwarming van die atmosfeer nie meer gekeer kan word nie.

’n Winkel in Dharmsala, Indië, wat die naweek deur vloedwater verwoes is. Foto: AP

Die Paryse klimaatooreenkoms van 2015 bepaal dat die internasionale gemeenskap daarna moet streef om die wêreldwye gemiddelde temperatuur teen 2030 tot ’n styging van 2 °C (verkieslik nader aan 1,5 °C) bo dié van die voor-industriële wêreld te beperk. Soos sake nóú staan, wil dit nie lyk of dit bereik gaan word nie.

Die laaste tyd het verskeie gesaghebbende studies oor die geopolitieke implikasies daarvan die lig gesien. Die bekendste – en moontlik invloedrykste – is opgestel deur die Europese Unie (EU) se eerste visepresident, Frans Timmermans, en Josip Borell, ’n hoë EU-amptenaar belas met buitelandse en sekerheidsbeleid.

Timmermans en Borell is selfs nog meer ambisieus as wat die Paryse ooreenkoms vereis: Hulle wil lugbesoedeling teen 2030 in die EU met minstens 55% verminder, en teen 2050 moet die EU “klimaat-neutraal” wees: Dan moet die gasse wat vrygestel word, volledig deur ander maatreëls geneutraliseer word.

Destabilisering van internasionale politiek

Vloede het onlangs groot skade in Duitsland aangerig. Foto: AP

Timmermans en Borell se verslag bevat verskeie ontstellende scenario’s oor hoe aardverwarming die internasionale politiek kan destabiliseer.

“Onbeperkte klimaatsverandering – met sy verwoestende droogtes, hongersnood, vloede en massale bevolkingsverskuiwings – sal nuwe migrasiegolwe teweegbring en die voorkoms en intensiteit van konflikte oor water, landbougrond en natuurlike hulpbronne betekenisvol laat styg. Aan diegene wat kla oor die groot beleggings wat nodig is om klimaatsveranderings en die verlies aan biodiversiteit te beveg, wil ons eenvoudig daarop wys dat geen optrede aansienlik meer sal kos.”

Dis ook ’n kwessie van harde politieke eiebelang, voer hulle aan: In 2019 is 87% van die EU se olie en 74% van sy aardgas van ingevoer, wat ’n uitgawe van €320 miljard aan fossiel-brandstowwe beteken het. Dus sal die “oorgang self ’n magsverskuiwing beteken weg van dié wat fossielbrandstowwe beheer en uitvoer na diegene wat die groen tegnologieë van die toekoms beheer”. Deur sy afhanklikheid van fossielbrandstowwe te verminder, versterk die EU dus ook sy strategiese posisie.

Dis ’n nasionale veiligheidskwessie, en ons moet dit as sodanig hanteer.
Genl. (afg.) Lloyd Austin

Dit beteken ook, meen Timmermans en Borell, dat die maritieme wurgpunte op die aarde, wat tans vir groot wedywering en politieke onstabiliteit sorg, effektief as twispunte geneutraliseer sal word. Dit gaan om byvoorbeeld die Suez-kanaal en die Straat van Hormoes.

Dit beteken ook dat die geopolitieke invloed van ’n land soos Rusland aansienlik beperk word. Op kort termyn kan dit tot onstabiliteit lei, “veral as die Kremlin dit as ’n uitnodiging tot avonturisme” sien. “Maar op lang termyn kan ’n wêreld wat deur skoon energie aangedryf word, ook ’n wêreld van skoner regering wees, want tradisionele fossielbrandstof-uitvoerders sal hul ekonomieë moet diversifiseer en hulself bevry van die ‘olievloek’ en die korrupsie wat dit so dikwels meebring.”

’n Nasionale veiligheidskwessie

Betogers het by die onlangse G20-beraad in Napels, Italië, teen aardverwarming betoog. Foto: AP

Ook die Amerikaanse minister van verdediging, genl. (afg.) Lloyd Austin, het onlangs gesê sy land se regering benader klimaatverandering as ’n nasionale veiligheidsvoorkeur. “Daar is min wat my departement doen om die Amerikaners te verdedig wat nié deur klimaatsverandering geaffekteer word nie. Dis ’n nasionale veiligheidskwessie, en ons moet dit as sodanig hanteer.”

In ’n studie wat deur die gesaghebbende Amerikaanse Brookings-instituut gepubliseer is, redeneer John R. Allen, die instituut se president, en Bruce Jones, direkteur van die Projek oor Internasionale Orde en Strategie, dat klimaatsverandering internasionale konflikte in Afrika suid van die Sahara met 50% kan vermeerder.

“Dit sal lei tot verskeie honderdduisende bykomende oorlogsterftes en die verdrywing van miljoene. En die patrone van oorlog maak dit duidelik dat die gevolge hiervan nie beperk sal bly tot die individuele lande wat geraak word nie, maar sal deur die verskynsel van transnasionale terrorisme en massa-migrasie sowel binne Afrika as daarbuite versprei.”

Projeksies van die Wêreldbank wil dit hê dat daar teen 2050 meer as 140 miljoen ekstra vlugtelinge in Afrika suid van die Sahara sal wees as niks gedoen word om aardverwarming teen te staan nie.

Wat sake kan vererger, is die stygende seevlak, wat verskeie eilande en laagliggende vastelandse gebiede kan oorspoel. Hulle noem veral Bangladesj en Mjanmar, wat albei sterk ontwrigtend op die internasionale situasie in Asië kan inwerk.

In sy eie omvattende studie kom prof. Friedbert Pflüger, vroeër ’n Christen-Demokratiese parlementslid en tans verbonde aan die Universiteit van Bonn en King’s College in Londen, tot die gevolgtrekking dat “klimaatsverandering ’n bedreigingsvermenigvuldiger is wat bestaande konflikte vererger en die potensiaal het om nuwe konflikte oor die hele wêreld te veroorsaak”.

“Uitlaatgasse wat oor die wêreld geproduseer word, lei tot die smelt van die yskap in die Arktiese gebied, wat op sy beurt eilandstate in die Stille Oseaan bedreig en veiligheids- en ekonomiese implikasies vir die vyf Arktiese kusstate en ook verder as dit meebring. Namate die manifestering van klimaatsverandering vererger en meer ekstreem word, sal sy gevolge ’n steeds belangriker rol in die bespreking van veiligheids- en geopolitieke kwessies speel.”

Implikasies vir Suid-Afrika

Betogers soos dié in Napels raak al hoe meer bekommerd oor die vernietigende gevolge van aardverwarming. Foto: AP

Nog gesaghebbende geluide kom van die vermaarde prof. Dominique Moïsi, verbonde aan die Franse Instituut vir Internasionale Betrekkinge en die Harvard-Universiteit in Amerika. Sy klipharde stelling, in ’n studie wat begin vanjaar gepubliseer is, lui: “ ’n Gemiddelde toename van ’n halwe graad in die planeet se temperatuur sal uitloop op ’n toename van 10% tot 20% in die risiko van dodelike konflikte in die wêreld.”

Hy haal projeksies van die Wêreldbank aan waarvolgens daar teen 2050 meer as 140 miljoen ekstra vlugtelinge in Afrika suid van die Sahara sal wees as niks gedoen word om aardverwarming teen te staan nie.

“Klimaatsverandering wysig nie slegs die magsewewig in die wêreld nie. Dit moet ons dwing om die wêreld anders te benader. Soos Covid-19, moet aardverwarming ons druk in die rigting van groter solidariteit, multilateralisme en geregtigheid.”

leopold
Leopold Scholtz

Wie dié stuk tot hier gelees het, sal sien dat die kwessie van aardverwarming en sy gevolge ook implikasies vir Suid-Afrika het. As die vrese van verskeie waarnemers korrek is, kan dit ’n golf vlugtelinge uit Afrika noord van die Limpopo suidwaarts laat spoel.

Suid-Afrika het immers al in 2008 gesien dat vreemdelingehaat maklik kan posvat as daar ’n onbeheerde instroom van buitelanders is. Dit kan seker voorkom word deur die noordelike grense af te sluit en te fortifiseer, maar dit gaan nie die probleem oplos nie.

Uiteindelik – en dis uiteraard aansienlik makliker gesê as gedaan – lê die oplossing in die stabilisering en ontwikkeling van die gebiede noord van ons sodat mense geen rede het om suidwaarts te migreer nie. En dít sluit in ’n beperking van die aarde se verwarming, ’n afname in ons afhanklikheid van fossielbrandstowwe.

Maar hoe mooi dit ook al klink, ons sit nou eenmaal met die ANC as regering . . .

Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Lloyd Austin  |  Suid-Afrika  |  Amerika  |  Duitsland  |  Rusland  |  Klimaatsverandering  |  Brande  |  Vloede  |  Aardverwarming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.