Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Was dit ’n grap, Cyril?

Goeie nuus: Die ANC se ekonomiese herstelplan is so nutteloos dat die pad na ware herstel – sonder die ANC – nader is as wat jy dink, skryf Frans Cronje.

As daar enigiets positief is van die “ekonomiese herstelplan” wat pres. Cyril Ramaphosa die afgelope week bekend gemaak het, is dat dit die agteruitgang van die ANC-regering gaan verhaas en so die weg vir werklike oplossings van die land se probleme gaan baan.

Die president het Suid-Afrikaners aangeraai om dit te sien as ’n “breuk met die verlede en ’n geleentheid om fundamentele en blywende verandering te bewerkstellig”, maar sy toespraak het dit duidelik gemaak dat sy regering nie so ’n ambisie koester en beslis nie so ’n bedoeling het nie.

Oor en oor het hy probleme belig waaraan werklike oplossings ’n verskil sou maak, maar geen sulke oplossings aangebied nie.

Die probleem met sy plan is eenvoudig dat dit nie die belangrikste beleidsprobleme waarom die Suid-Afrikaanse ekonomie onmededingend is, kon aanpak nie. In die beste geval, en slegs volgens die vrygewigste interpretasie, het die plan probeer (alhoewel dit misluk) om die gevolge van hierdie beleid te versag.

Ineenstorting van die land is nou vinnig, aggressief en gevorderd.

Vier sleutelaspekte van beleid is fundamenteel tot Suid-Afrika se ekonomiese onderprestasie.

Eerstens is die land se arbeidsmarkbeleid, wat arbeid so duur maak dat armes nie kan werk kry nie, sterk in stryd met die land se vaardigheids­basis en hou dit glad nie tred met die struktuur van die land se bruto binnelandse produk nie. Dit is weens die regering se arbeidsmarkbeleid dat ongeveer die helfte van jong mense dit onmoontlik vind om werk te kry. Maar in plaas van ’n verandering aan die arbeidsmarkbeleid, is al wat Ramaphosa kan beloof om “x-duisend” werksgeleenthede te skep, meestal deur die regering wat hierdie mense in diens moet neem met geld wat hy sal moet leen. Dit is gek. Ek het die sommetjies gedoen en dit wys dat, selfs al word die teikens bereik, dit baie min gaan doen om die algemene vlak van arbeidsmarkabsorpsie te verhoog – dit wil sê dit gaan sukkel om die hoeveelheid nuwe toetreders tot die arbeidsmark te absorbeer. So, selfs as die plan werk, wat nie moontlik is nie, sal die werkloosheidsyfer feitlik so hoog bly soos nou.

Tweedens is eiendomsreg, wat neerkom op die vraag of die geld wat jy in die land belê, veilig is – die mees elementêre oorweging van enige belegger. Die herstelplan het egter niks aangebied om die skade wat deur die huidige strewe na onteiening sonder vergoeding aangerig word, teë te werk nie. Dit is verbasend dat Ramaphosa van belegging, groei en werksgeleenthede praat, slegs vier dae ná die regering se trotse aankondiging van die jongste konsepwetsontwerp op onteiening. Dié konsepwet baan die weg vir die regering om, sonder vergoeding, beslag te lê op vaste of roerende bates in Suid-Afrika (ingesluit pensioene, ondernemings, aandeelhouding, bankrekeninge, besparings vir mediese fondse, huise, motors, plase en intellektuele eiendom).

Derde is onderwys. Suid-Afrika is vandag ’n land waar minder as een uit elke tien kinders die soort opleiding kry wat hulle op die regte pad na ’n middelklas-lewenspeil plaas. Tog het ons niks gehoor van die dringende behoefte aan onderwyshervorming waarsonder soveel jong mense verdoem word tot armoede, werkloosheid en wanhoop nie. Die beste wat die president kon doen, was om van “skoolassistente” te praat wat onderwysers meer tyd gaan gee om leerlinge te help om verlore klastyd weens Covid-19 in te haal! Dit is egter nie ’n tekort aan assistente wat daartoe lei dat die helfte van die kinders in Suid-Afrika uit die skoolstelsel val nie. Die hele stelsel is vrot, vol korrupsie, kaderontplooiing en vernietigende vakbonde.

Die vierde fundamentele probleem is ’n bemagtigingsbeleid, wat – afgesien van die feit dat dit in gebreke bly om die ware onbemagtigdes te help – as ’n belasting op belegging beskou word. Ramaphosa het niks te sê gehad oor die verwydering van hierdie belemmering vir beleggings nie. Indien enigiets, was die kern van sy toespraak dat dit ’n belasting is wat nog hoër sal word.

Hierdie vier beleidsareas is fundamenteel vir die prestasie van die ekonomie, en die gesamentlike hervorming daarvan is ’n noodsaaklike voorwaarde as Suid-Afrika enige hoop het om te streef na ’n groeikoers wat vergelykbaar is met ander opkomende markte.

As jy dit verkeerd kry in net een van hierdie areas word jy gekelder. As jy almal verkeerd kry, kom jy nie eens uit die wegspringblokke nie.

En wanneer die wegspring gekenmerk word deur ’n begrotingstekort wat in Suid-Afrika se geskiedenis net geëwenaar is met die twee wêreldoorloë en die ineenstorting van apartheid in die laat 1980’s; wanneer staatskuld so steil klim soos vandag; en as meer as die helfte van jong mense nie werk het nie, is dit amper onmoontlik om te glo dat Ramaphosa se toespraak Donderdag nie ’n komedievertoning was wat kan kers vashou by die BBC se Fawlty Towers nie.

Dat dit ’n grap sou kon wees, verleen aansienlike en tragiese ironie aan die gerusstellende belofte van die president dat “daar groot geleenthede is wat ons kan aangryp deur doeltreffende vennootskappe, doelgerigte ontplooiing van hulpbronne en die regte beleid”, of dat “ons toestande skep vir ’n mededingende, inklusiewe en vinnig groeiende ekonomie”.

Wat hy eerder onthul het, is dat sy regering heeltemal en onherroeplik nutteloos is. Hoe verduidelik jy presies hoe nutteloos die regering is aan ’n leek wat miskien nie so goed geskool is in politiek en regeerkunde nie? Soveel ontleders lieg en mislei die publiek deur nie eerlik te wees oor sulke dinge nie. Hoewel ’n mens beleefd moet wees, moet jy ook jou lesers ten alle tye respekteer. Die beste wat ek vir die leek kan doen, is om eerlik te sê dat dié plan met ’n kryt geteken is wat met die intellek en ekonomiese insig van die gepubliseerde teks sou kon meeding. Dat hy ingestem het om sulke nonsens aan die land voor te lees, en dit goedgevind het om dit te doen, laat baie vrae ontstaan oor sy eie skerpsinnigheid.

Is ons dan gedoem? As jy die advies gevolg het wat ek in ’n vorige rubriek in hierdie koerant gegee het (Rapport is die enigste koerant wat nog goed is, die res is skaars beter as die president se toespraak, soos hul beriggewing oor die toespraak tot dusver illustreer) om ’n goeie plan B te hê vir presies die omstandighede waarvoor ons nou te staan ??kom, is die antwoord nee, ek dink nie so nie.

Baie van die geld wat jy het, is in die buiteland, jy doen nie sake met die regering nie, jou gemeenskap neem stadigaan die dienste oor wat voorheen deur die regering gelewer is, en jou kinders het wêreldwye opsies, wat beteken dat dit met jou goed gaan.

Ek dink eerder dat Ramaphosa se poging Donderdag dit nog duideliker gemaak het dat nóg hy nóg sy party die vermoë het om die ommeswaai te bewerkstellig. Indien ’n ommeswaai wel sou plaasvind, sal dit heel waarskynlik voorafgegaan word deur presies die teenoorgestelde: ’n ANC-nederlaag.

Selfs in die geledere van sy ondersteuners, dink ek, is daar mense wat nou stilweg hulself afvra of ons nie ’n punt bereik het waar ’n ANC-nederlaag ’n noodsaaklike voorwaarde vir die herstel van Suid-Afrika is nie. Ek dink dat – gegewe ons lang studie van en vertroudheid met die tendense en data oor die Suid-Afrikaanse politiek, ekonomie en samelewing – so ’n nederlaag baie gouer kan gebeur as wat baie mense besef.

Die ineenstorting van Suid-Afrika is nou so vinnig, aggressief en gevorderd en word verhaas deur sulke verskriklike onbekwaamheid dat ons baie vinniger na daardie punt beweeg as die geleidelike agteruitgang wat ons sedert 2007 beleef het.

Ramaphosa het Donderdag gesê selfs die donkerste wolke het ’n silwer randjie.

Dit is dan gepas dat sy toespraak aan die lig gebring het dat die onbekwaamheid van sy regering sulke afmetings aangeneem het dat die oomblik van werklike herstel dalk baie nader kan wees as wat ons besef.

  • Frans Cronje is die uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Frans Cronje  |  Ekonomiese Herstelplan  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.