Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Was Helen Zille verkeerd?

Helen Zille se omstrede twiet oor kolonialisme het regstreeks tot die daling van swart steun vir die DA gelei en dié skade is steeds nie herstel nie, skryf Jan-Jan Joubert in dié uittreksel uit sy boek, Gaan Suid-Afrika Oukei Wees?

Jare se harde werk is verwoes met Helen Zille se omstrede twiet oor kolonialisme. Foto: Jaco Marais

Dit is middel Maart, 2017. Ek sit in die kantore van die Sunday Times in Johannesburg. Die nuus bereik ons dat die voormalige leier van die DA en in daardie stadium Wes-Kaapse premier, Helen Zille, uit Singapoer getwiet het nie alles van die nalatenskap van kolonialisme is sleg nie.

Dit tref die kantoor soos ’n kanonskoot. My swart kollegas is asvaal geskok. Hulle kan nie glo die berig is juis nie. Zille kom tog uit ’n progressiewe agtergrond – uit die Black Sash? Maar dit is juis.

Oor die volgende dae raak dit erger. Zille weier oudergewoonte om vir ’n oomblik toe te gee sy is dalk verkeerd. Net nie dit nie. Vir weke trek sy haar terug, glo in ’n laer met haar regspan.

Weke lank sloer die daad van politieke piromanie – om dit af te brand wat sy in die DA opgebou het – maar sy is ook daarvan klaarblyklik onbewus in haar selfregverdiging. Uiteindelik, ná die openbare melodrama wat soveel van die dade in die aandskemering van haar eens heldere politieke loopbaan kenmerk, sit sy dikmond eenkant terwyl haar arme opvolger, Mmusi Maimane, verduidelik dat sy jammer is oor wat sy gedoen het. Dit nou voordat sy skoorvoetend en sonder enige waarneembare teken van ywer, ’n voorbereide verskoning aflees, met die stokstywe gesig van ’n martelaar wat, soos ID du Plessis dig, “alles tog ontbeer”.

Die party se swart steun tuimel as regstreekse gevolg van die stelling oor kolonialisme, en die uitgerekte, slap hantering daarvan deur die party.

Niemand is oortuig deur die sombere pantomime nie. En waarom sal hulle wees?

Oor die maande raak die gevolge erger, soos ’n klippie in ’n poel wat rimpelings deur die water stuur. Met hartseer voorspelbaarheid kies die wye en droewe land blindweg kant, en soos die digter se beiteltjie loop die voeg onverbiddelik en ondeurdag – dit kloof die aarde in twee en verdeel die sterre. Wit en swart swymel in selfgeldende slagofferskap omdat een vrou – volgens haar eie waardebepaling so vergange as wat net ’n vergange politikus kan wees – nou maar ten ene male nie oor die volwassenheid beskik om haar op sosiale media te beteuel nie.

Kort voor lank weerspieël die DA se syfers die nasionale ekwivalent van wat ek daardie dag in die Johannesburgse koerantkantoor met my eie oë gesien het: Die party se swart steun tuimel as regstreekse gevolg van die stelling oor kolonialisme, en die uitgerekte, slap hantering daarvan deur die party, soos ’n klip na benede. Jare se harde werk – baie daarvan deur Zille self – word verwoes. Dit is steeds nie herstel nie. Nadat die DA in elke verkiesing van 1994 tot 2016 sy swart steun uitgebrei het, het die Zille-bohaai in ’n groot mate bygedra tot die kreeftegang van die party se swart steun in 2019, soos in die DA se eie syfers sedert daardie Maart van 2018 vergestalt.

Die Ander se mening

Maar swart vervreemding is nie die enigste newe-effek van die kolonialisme-stelling nie. Daar is ’n vreemde weiering by veral wit Suid-Afrikaners om te erken dat Zille dalk regtig verkeerd was. Keer op keer hoor jy dit, soos ’n eggo van daardie gewraakte stelling van dr. HF Verwoerd desjare gelede in Die Burger, in ’n onderhoud met die briljante joernalis Rykie van Reenen. Sy het hom gevra of hy ooit snags kan slaap met die angswekkend groot verantwoordelikhede wat sy beleidsrigting en amp meebring. Ag ja seker, hy slaap baie goed, het hy heeltemal onbevange geantwoord, en toe voeg hy by: “Sien, ’n mens het darem nie die kwelling van twyfel of jy dit dalk verkeerd het nie.”

Van Reenen se byvoegsel tot daardie vertelling, in haar rubriek, “Op die Randakker”, in die Sondagkoerant Die Beeld van 11 September 1966 was: “Ek onthou ek het selfs ’n bietjie geskrik voor so ’n sekerheid.”

Daardie selfde sekerheid beleef mens by die veral wit Zilleondersteuners wat meen al wat sy verkeerd gedoen het met haar kolonialisme-stellings was dat sy “die waarheid gepraat het” of “nie polities korrek opgetree het nie”. Soos Rykie van Reenen skrik ek nogal voor so ’n sekerheid.

Erger, ek dink haar stellings sedertdien wys in haar hart der harte verstaan Zille, wat mens tog aanvaar redelik intelligent is, ook nie eintlik wat sy nou juis so danig verkeerd gedoen het nie.

Mens wens daardie mense kon die werk van die Duits-Amerikaanse filosoof Hannah Arendt oor die Ander internaliseer – dat diepste waardes en waarde vergestalt word deur hoe ons hulle behandel wat anders as ons is. En tog sekerlik dat die waardebepaling van ons gedrag jeens die Ander nie deur onsself gedoen word nie, maar deur die Ander.

In hierdie geval het ’n vriend van my wat wyd as een van ons land se intelligentste denkers gereken word, vir my gesê: “Om te praat van die voordele van kolonialisme vir ons as swart mense is soos om ’n vrou te verkrag, dan aan haar ’n mooi rok te gee en daarop aanspraak te maak dat sy dankbaar moet wees vir die voordeel van die mooi rok.”

Dit is die punt: Die mooi rok kan op geen manier vergoed vir die verkragting nie. En vir Zille en/of haar ondersteuners om dan te beweer hulle het mos nie gesê kolonialisme is goed nie, hulle het net gesê die nagevolge van kolonialisme is nie net sleg nie, is slu. Dit raak nog kant nog wal, en enigeen met ’n IK bo 70 kan dwarsdeur die sluheid sien. Want niks in die wêreld is ooit net sleg nie. Hitler se bewindstyd het die Autobahn en die Volkswagen opgelewer, asook 100% Duitse indiensneming en treine wat betyds aankom. Maar daardie voordele is ten volle weglaatbaar as die Joodse volksmoord en die Tweede Wêreldoorlog in ag geneem word, of hoe? Of wil sommige Zille-ondersteuners, soos daardie aanmatigende Tory-LP Jacob Rees-Mogg, beweer die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog was die Afrikanervolk eintlik tot heil omdat die sterftesyfer laer was as in die tydgenootlike agterbuurte van Glasgow?

Nee wat, dis vir die Ander om te besluit. En die Ander se mening oor kolonialisme is so duidelik soos daglig.

Erger, ek dink haar stellings sedertdien wys in haar hart der harte verstaan Zille, wat mens tog aanvaar redelik intelligent is, ook nie eintlik wat sy nou juis so danig verkeerd gedoen het nie.

Rasseverhoudinge ly ook skade

Helen Zille en Mmusi Maimane op die perskonferensie waar aangekondig is Maimane bedank as leier van die DA. Foto: Sarel van der Walt

In die tyd kort ná haar omstrede twiet het sy in die Wes-Kaapse provinsiale parlement aan ANC-lede uitgestippel wat sy bedoel het met die dele van kolonialisme wat nie sleg was nie – wat dus, om dit miskien ’n bietjie meer reguit te stel as wat sy sou, goed was.

Hieronder het getel formele onderwys, motors en die klere wat hulle kies om te dra. Ek kon nie anders as om aan my vriend se stelling oor die verkragting en die rok herinner te word nie, asook om my hande saam te slaan dat iemand so gemaklik is met die skrikwekkende sekerheid om namens ander te wil dink, en met hulle te wil verskil oor wat vir hulle die beste is of was. Laat die Ander maar self besluit.

Ek het dit ’n slag so verduidelik aan ’n gehoor in Oudtshoorn toe hulle gevra het wat Zille nou eintlik verkeerd gedoen het: Jy kan soms al die feite aan jou kant hê en steeds verkeerd wees, want jy is toondoof en onaangenaam. As voorbeeld het ek iemand genoem wat in die parlement as ’n amptenaar gewerk het en wat ek daar leer ken het. Die persoon was slimmer as ek (aangetoon deur byvoorbeeld sy beter matriekuitslae, maar ook in die algemeen) en ons het lekker gesels, en ek wou graag met hom vriende word. Nou, soos hierdie dinge uitdraai, kom dit toe uit hy was in die skool in my buurdorp. Nou is dit waar dat, hoewel ek bitter min daartoe bygedra het, ons skool in min of meer alles beter as hulle s’n was. Rugby, netbal, krieket, hokkie, atletiek, debat, redevoering, akademie, toneel – eintlik maar alles.

Jan-Jan Joubert

Dit was ’n aantoonbare, feitelike waarheid. Maar dit het niks te doen gehad met my vriend of met my nie. Hy was steeds slimmer en meer suksesvol as ek, ten spyte van die verlede en ons onderskeie vormende ruimtes. Nou vra u dit af: As ek elke keer wanneer ek hierdie (in daardie stadium) potensiële vriend van my sien, hom herinner het waar ons vandaan kom en hoe dit verskil het, hoekom op aarde sou hy met my vriende wou wees?

Hy sou my verwerp, nie omdat ek verkeerd is nie, maar omdat ek simpel en aanmatigend is, en tekere gaan op ’n ongegrond meerderwaardige manier oor iets wat onbelangrik is – omdat ek optree soos krummeltjie wat brood geword het. En hy sou reg wees – al is my feite reg. En ek sou ten diepste verkeerd wees, al is my feite reg. Want ek sou ’n onaangename, toondowe, selfgenoegsame mens wees met wie niemand iets te doen wil hê nie – iemand wat homself probeer verheerlik met iets waarin sy aandeel minimaal tot niks was. Dis wat Zille, en diegene wat haar oor hierdie kwessie napraat, nie oor die reaksie op hulle verstaan nie.

Die gevolge van die kolonialisme-twiet en hoe dit ervaar en hanteer is, was omvattend. Namate dit duidelik geword het dat baie wit mense hulle met Zille se twiet vereenselwig, het dit rasseverhoudinge – en veral swart mense se persepsie van hul wit landgenote – skade berokken.

* Gaan Suid-Afrika Oukei Wees? 17 Sleutelvrae word deur Tafelberg uitgegee en kos R290.

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Helen Zille  |  Hf Verwoerd  |  Jan-Jan Joubert  |  Rykie Van Reenen  |  Singapoer  |  Rasseverhoudings  |  Kolonialisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.