Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat het Suid-Afrikaners tot dié stroop-waansin oorreed?

In navorsing oor plundering is bevind dat dit nie spontaan begin nie. Dit spruit gewoonlik uit aanhitsing deur invloedryke persone of groepe, wat dit duidelik stel dat die plundering van spesifieke teikens toelaatbaar en geregverdig is, skryf dr. Guy Lamb.

’n Soldaat bewaak ’n spazawinkel in Alexandra nadat die weermag ontplooi is om die polisie te help om die wydverspreide strooptogte en betogings te stuit. Foto: Gallo Images

Die plundering van ondernemings, winkelsentrums en pakhuise in Suid-Afrika, veral in KwaZulu-Natal en Gauteng, was op ’n ongeëwenaarde skaal. Dit het arm én middelklas-gebiede geraak. Sowel private as staatseiendom is beskadig of vernietig. Mense is beseer en sommige het gesterf.

’n Verskeidenheid van redes vir dié plunderwaansin is geopper om dit te probeer verklaar.

Party het stoere ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma daarvan beskuldig dat hulle petrol op die vuur gegooi het. Ander meen die plundering is as gevolg van die staatskaping en die hoë misdaadvlakke in Suid-Afrika.

Uit navorsing blyk dit egter dat plundering selde die gevolg van net een rede is.

Daar word ook gesuggereer dat die onrus ’n rebellie van die armes is wat weens ernstige voedselonsekerheid veroorsaak is.

Uit navorsing oor hierdie verskynsel blyk dit egter dat plundering selde die gevolg van net een rede is, en eerder deur ’n verskeidenheid van faktore veroorsaak word.

Plundering kom al dekades sporadies in die konteks van die krisis van armoede, ongelykheid en werkloosheid in die land voor. Dit het in die apartheidsjare gebeur en dit vind steeds sedert 1994 in die demokrasie plaas. Tradisioneel was dit egter tot gemarginaliseerde stedelike gebiede en randgebiede beperk.

Polisie gaan ’n winkelsentrum binne wat onder water is nadat dit leeg geplunder is. Foto: AFP via Getty Images

Plundertogte was dikwels sinoniem met xenofobiese geweld en betogings oor dienslewering. Dit het meestal gebeur in townships en informele nedersettings, waar die winkels en ondernemings van buitelanders geplunder is.

’n Studie oor xenofobiese geweld by spazawinkels deur my en navorsers van die veiligheids-en-geweldsinisiatief het getoon plundering is dikwels ’n hoogs gelokaliseerde verskynsel. Buitelanders se spazawinkels (klein, informele kleinhandel-afsetpunte) was vatbaar vir plundering in gemeenskappe waar ’n kombinasie van faktore teenwoordig was. Hieronder is intense vreemdelingehaat, ondoeltreffende maatreëls om mededinging onder winkeleienaars te reguleer, disfunksionele leierskap op gemeenskapsvlak en die vervreemding van buitelandse winkeleienaars.

In ons verslag beklemtoon ons egter dat plundering nie spontaan begin nie.

In ons studie is bevind dat ’n sleutel-aandrywer vir plundering is dat die plunderaars dink dit is sosiaal aanvaarbaar. Dit word dikwels in sosiale en gemeenskapsnetwerke gesteun en goedgekeur. Ons bevindings stem ooreen met dié in ’n hele aantal publikasies oor plundering in Amerika en Engeland.

In ons verslag beklemtoon ons egter dat plundering nie spontaan begin nie. Dit gebeur gewoonlik weens aanhitsing deur invloedryke individue of groepe, wat dit duidelik stel dat die plundering van spesifieke teikens toelaatbaar en geregverdig is.

Só kry plundertogte lewe van hul eie

Die Ndofaya-winkelsentrum in Soweto, waar talle mense in die onlangse betogings en plundertogte gesterf het. Foto: Gallo Images

In die literatuur oor politieke geweld word die proses van aktiewe aanhitsing dikwels as tussengangerskap (brokerage) beskryf. ’n Goeie voorbeeld was die bestorming van die Kongresgebou in Washington, DC. Die leiers van ekstremistiese groepe het die ondersteuners van oudpres. Donald Trump aktief aangehits om aan die oproer deel te neem.

Hierdie tussengangerskap was ’n sentrale kenmerk van die huidige plundertogte in KwaZulu-Natal en Gauteng. Zuma se ondersteuners het Suid-Afrikaners aktief aangemoedig om aan die geweld en burgerlike ongehoorsaamheid deel te neem. Mense wat geneig is tot geweld en misdadigheid is geneig om die plundertogte aan te stig.

Gewone mense mag dan by hulle aansluit. Plundertogte is dikwels aansteeklik en kry ’n lewe van sy eie. Dit is weens groepsdinamika waar die plundering deur sommige geneig is om ander aan te moedig.

Hierdie kollektiewe wanorde verleen ook ’n mate van straffeloosheid en kamoeflering aan misdade.

Nog ’n belangrike waarneming in die studie oor xenofobiese geweld was dat die plundering van spazawinkels meer algemeen in KwaZulu-Natal en Gauteng was.

Die afwesigheid van bekwame toesighouers, soos polisie en private sekerheidswagte, kan ook tot plundering deur gewone mense bydra.

Nog ’n belangrike waarneming in die studie oor xenofobiese geweld was dat die plundering van spazawinkels meer algemeen in KwaZulu-Natal en Gauteng was.

Dit was omdat hier meer groepe en netwerke was wat gewillig was om aan verskeie vorms van kollektiewe geweld deel te neem. Hierdie optrede het betogings, afdreiging, politieke sluipmoorde, taxigeweld en hostel-geweld ingesluit. Laasgenoemde is meestal geweld tussen groepe inwoners oor die beheer van hostelle, wat gewoonlik swak in stand gehou word.

Onlangse verslae dui aan dat groepe en netwerke soos hierdie daartoe bygedra het om die huidige plundertogte te laat ontketen en aan te vuur.

Die intensiteit van die plundertogte in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng dui op ’n sameloop van tussengangerskap, ’n opwelling van die gevoel dat plundering sosiaal aanvaarbaar is en die gewilligheid van sommige gewelddadige groepe en netwerke om die plundering aktief oor die twee provinsies heen te fasiliteer.

‘Verborge hande’

Personeel ruim ’n gevandaliseerde winkel in die Chris Hani-winkelsentrum in Vosloorus op. Die meeste van die ondernemings in hierdie winkelsentrum is leeg gesteel en aan die brand gesteek. Foto: Gallo Images

Maar hierdie faktore is nie genoeg rede dat die plundertogte na middelklas-kleinhandelsgebiede en kommersiële eiendomme oorgespoel het nie. Die enorme skaal en onbeskaamde aard van dié plundering doen aan die hand dat ons hier te make het met goed befondste “verborge hande” wat kennis oor die aanhitsing van burgerlike onrus het.

’n Verslag wat in Desember 2018 gepubliseer is, het diep ontstellende bevindings oor staatsveiligheid in Suid-Afrika aan die lig gebring. ’n Hoëvlak-oorsigpaneel oor die land se Staatsveiligheidsagentskap (SVA) het die verslag opgestel.

Dit wys veral elemente binne die intelligensiedienste het indertyd toegang gehad tot groot bedrae geld en het nie net politieke faksiegevegte aangehits nie, maar aan gesofistikeerde “vuilspel”-operasies deelgeneem wat gemik is teen die faksie gelei deur pres. Cyril Ramaphosa.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Woensdag aangekondig dat voormalige intelligensie-operateurs en Zuma-lojaliste, van wie sommige dalk steeds deur die SVA betaal word, vir die aanhitsing van die plundertogte en die wanorde ondersoek word.

*Dr. Lamb is ’n kriminoloog en ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Staatsveiligheidsagentskap  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Bheki Cele  |  Gauteng  |  Kwazulu-Natal  |  Geweld  |  Plundering  |  Xenofobie  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.