Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat het van ‘Derrick’ geword?

Derrick is die een TV-program waaroor almal vandag nog in Duitsland praat, maar wat niemand meer kan kyk nie. Deon Maas vertel hoekom in dié geredigeerde uittreksel uit sy Witboy in Berlyn: Avonture in die Eerste Wêreld.

Die akteur Horst Tappert in sy rol as die TV-speurder Derrick. Foto: Argief

Die Duitsers praat sonder uitsondering Duits. Dit is nou maar eenmaal soos dit is: Óf jy leer Duits óf jou omgang met mense is uiters beperk.

Hoewel ek nie Nietzsche se filosofie in Duits kan bespreek nie, kan ek my darem met ’n paar basiese goed help. Ek weet hoe om ’n buskaartjie te koop, wat die verskil tussen ’n Fass (glas) en ’n Flasch (bottel) bier is en dat “doppel Laphroiag mit ein Eiswurfel, bitte” (dubbel-Laphroiag met een ysblokkie, asseblief) jou ver sal kry – behalwe as die kroegman nie Duits verstaan nie, wat verrassend genoeg gereeld die geval is.

Tog bly Berlyn ’n ware wêreldstad. Soveel van haar inwoners kom oorspronklik van elders af dat mense by tye gedwing word om ’n taal te praat wat universeel verstaan word. Hierdie taal is Engels.

Die Britte het die kolonialiseringsding nou maar eenmaal beter as die Duitsers aangepak en die saad van hulle taal wyd en syd versprei. Dit help seker ook dat die wêreldwye popkultuur vandag Engels is. Terwyl die Duitsers volksmoord gepleeg het teen die Herero’s en die Jode, het die Engelse eerder hulle taal deur kommersiële uitbuiting versprei. Alle nasies was ’n potensiële mark eerder as ’n teenstander.

Vir die eerste keer in 60 jaar het ’n verregse party nou behoorlike verteenwoordiging in die Bundestag.

Let wel: Dit is nie bedoel as ’n lofsang vir die Engelse nie, maar net ’n waarneming om te verduidelik waarom Engels internasionaal gewilder is as Duits. Ons weet almal die Engelse is die grootste d**e ter wêreld en dat ons hulle nooit sal vergewe vir wat hulle aan ons gedoen het nie. Hulle het ons diamante en goud gesteel, ons vroue in kampe gejaag, ons kinders laat verhonger.

Vandag duur Britse kolonialisme op ’n ander manier voort wanneer hulle oor die hele Europa rampartytjies hou wat altyd sorg dat die plaaslike mense ’n renons in die Britte ontwikkel. Net soos ’n jakkals verander ’n leeu dalk van hare, maar nie van snare . . .

Natuurlik is nie almal in Berlyn so gemaklik met Engels nie. Die verengelsing word sterk beveg deur die AfD (Alternativ für Deutschland), ’n verregse party wat in 2017 12,6% van die stemme in die nasionale verkiesing gekry het. Vir die eerste keer in 60 jaar het ’n verregse party nou behoorlike verteenwoordiging in die Bundestag, die Duitse federale parlement, en die AfD se president verwys sommer na homself as ’n kanselier. Ook pogings om Engels as tweede taal in skole aan te bied word op verskeie regeringsvlakke en onder opvoeders beveg.

Klipharde rassistiese metal

Een middag besoek ons ’n tentoonstelling by Kaos, ’n collective in die nabygeleë woonbuurt Schöneweide. Collectives is ’n gewilde ding in Berlyn: Sommige ou fabrieke langs die kanale word verkoop om te ontwikkel, ander word deur staatsubsidies ondersteun en verander in collectives waar mense skeppend kan werk – kunstenaars, bootbouers, juweliers, installeerders, opnameateljees . . . enige denkbare skeppende aktiwiteit vind hier plaas.

Kaos is een van die nuwe collectives wat begin is nadat van die ander soveel kommersiële sukses behaal het dat hulle nou selfonderhoudend is. Daar is ’n verskeidenheid werkswinkels en ateljees met omtrent enige toerusting wat kunstenaars sou kon nodig kry. Die gedeelte die naaste aan die straat het ook ’n kommune waarin van die kunstenaars bly.

Kaos voel soos ’n eiland in dié tradisioneel regsgesinde woonbuurt, wat selfs spog met ’n kroeg of twee waar jy politiek kan gesels met jou regse drinkebroers. Kaos se mense drink egter nie by hierdie kroeë nie en is in die algemeen maar lugtig vir die ander mense in die buurt.

Die kunstenaars wat hier skep, werk almal saam sodat hulle op sekere datums uitstallings kan hou. Vandag is so ’n dag. Daar is steampunk-sakhorlosies, tradisionele houtskuite, ’n installasie wat Berlyn se gewildste vervoermiddel – die fiets – vereer, ’n tweemantent wat ontwerp is om te eggo wanneer jy aan die binnekant raas sodat almal jou kan hoor. Daar is skilderye, beeldhouwerke, ’n kroeg wat goedkoop bier verkoop, ’n DJ en ’n paar live bands. Dis somer en daarom sit almal buite en kyk hoe die bote met toeriste verbyvaar.

Vroeër die dag het ’n klomp daklêers kliphard rassistiese metal gespeel terwyl hulle die laaste deel van Kaos se dak waterdig gemaak het. Hulle weet wat die politieke oortuigings is van die mense in die kommune, maar steur hulle nie daaraan nie.

‘You must be speaking Cherman’

Deon Maas

Ons staan en gesels by ’n groepie mense: Daar is iemand uit Londen, ’n ander uit Reykjavik in Ysland, ’n Deen, ’n Switser en ook Amerikaners uit Chicago en Texas. Die enigste Duitser in ons kring is swart. Die gesprek vind in Engels plaas.

Een van die dakleêrs met tattoos van skroewe, moersleutels, ratte en ander meganiese onderdele wat ek nie so goed ken nie, bars by ons groepie in.

“Ve are in Chermany, you must be speaking Cherman.”

Hy is redelik groot, effens dronk en aggressief. Niemand maak met hom oogkontak nie. Die groep spat uiteen. Ek en Veda bly staan. Bier in die hand. Wieg so effe – hy, nie ons nie.

“Uhm, excuse me. That was very rude,” sê ek.

“You must be speaking Cherman.”

“Dude, ek kan enige taal praat wat ek wil. Wat de f*k is jou probleem?” vat ek hom sommer op Afrikaans aan.

“You must be speaking Cherman.”

“Do you realise that these people all come from different places and the only language that we can all speak is English?”

“Ja, but ve are in Chermany and you must speak Cherman.”

“Do you really think that it is the only language people speak in Germany?”

“In Chermany, ve speak Cherman!”

“What about the people who speak Polish and Russian?”

“In Chermany we speak only Cherman.”

“Dude, some of these people speak four languages . . .”

“Ja, but vhen in Chermany, you must speak Cherman!”

“But, you are speaking English right now. Why are you not speaking German?”

“Zen you vouldn’t understand me.”

Die geredekawel het toe nie gelei tot die intellektuele gesprek waarop ek gehoop het nie. Die ou se houding het my herinner aan daai “Praat Afrikaans of hou jou bek”-T-hemde wat ’n paar jaar gelede so gewild was by ons kunstefeeste. Dié ingesteldheid kry jy elke nou en dan, maar darem nie te gereeld nie . . .

En wat het toe van ‘Derrick’ geword?

Die frustrasie as jy nie die plaaslike taal kan praat nie, word nóg erger wanneer jy die televisie aanskakel. Duitse televisie het enigiets van Storage Wars, LA Ink en ander internasionale reekse tot ’n uitsending van die wêreldveerpyltjietoernooi – wat ek nie eens geweet het bestaan nie – asook programme wat die wêreld se probleme in 52 minute oplos met die hulp van ’n instantnoodles-filosofie, ’n quick fix sonder voedingswaarde.

In Duitsland word al die internasionale reekse egter in Duits vertaal. Dit word nie gedub soos in die ou dae in Suid-Afrika nie. Hier word geen poging aangewend om enige vorm van lip sync te doen nie – dit is meer ’n geval van iemand wat die storie vertel wat dan oor die oorspronklike klankbaan gespeel word. Dieselfde stem word vir die hele program gebruik, en wanneer ’n vroulike karakter praat, lig die stemkunstenaar net sy stem tot ’n soort falsetto. Vir my is dit dikwels komies, maar die Duitsers is al so gewoond daaraan dat hulle dit nie eens meer hoor nie.

Daar was net vier sake wat Derrick nooit kon oplos nie.

Die een TV-program waaroor almal vandag nog praat, maar wat niemand meer kan kyk nie, is Derrick. Tussen 1974 en 1998 is 281 episodes van dié speurreeks gemaak waarin die hoofspeurder met die vet sakke onder sy rooi oë deur die akteur Horst Tappert vertolk is. Daar was net vier sake wat Derrick nooit kon oplos nie. Die reeks is in meer as 100 lande uitgesaai, onder meer Rusland, China en natuurlik ook Suid-Afrika. Dit sal dalk ’n skok wees vir Suid-Afrikaners wat steeds dink ou Derrick is Afrikaans en kom van Pretoria af.

Tappert het met verloop van tyd ’n hoofstroom- én kultusheld geword wat meer as een geslag Duitsers betower het. Hy is selfs deur die regte Duitse polisie as “hoofinspekteur” aangewys.

Nadat die reeks gestaak is, is ou episodes jare lank op televisiekanale oor die wêreld heen uitgesaai. In 2013, vyf jaar nadat Tappert op 85-jarige ouderdom oorlede is, het ’n navorser toevallig ontdek hy was lid van die Waffen-SS, die gevreesde gewapende vleuel van Hitler se SS gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Op die een of ander manier het Tappert dit reggekry om dié deel van sy verlede geheim te hou. Toe die waarheid uitkom, het televisiestasies onmiddellik hulle Derrick-heruitsendings gestaak. So val die helde.

* Witboy in Berlyn: Avonture in die Eerste Wêreld word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R260.

Meer oor:  Deon Maas  |  Berlyn  |  Afrikaans  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.