Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat is dan uiteindelik normaal?

Wat vir my normaal is, is mos nie noodwendig vir jou normaal nie? Hoe kan ek weet wat vir almal rondom my normaal is? Dít is van die vrae waarmee Azille Coetzee in Nederland geworstel het, vertel sy in dié uittreksel uit in My vel.

Soos wat ek vandag in die trem sit op pad universiteit toe en uitkyk na die mooi huise in die Rivierenbuurt, tik iemand my op my skouer. Ek kyk om en dis ’n Nederlandse oom met ’n suur gesig en hy snou my iets toe.

“Sorry, kunt u het herhalen?” vra ek, en voel trots op myself dat ek onthou het om die “u” te gebruik. Hy lyk egter glad nie beïndruk nie.

“Doe . . . even . . . normaal!” spoeg hy dit uit en beduie na my een skoensool wat teen die oortreksel van die sitplek langs my rus. O. Hy is kwaad omdat hy dink ek hanteer die tremsitplekke nie met genoeg respek nie. Dat die oortreksel gaan verweer as dit met almal se skoene in aanraking kom.

Ek ontkruis my bene sodat albei my voete op die vloer van die trem is. Hy stap blasend na sy sitplek agter in die trem.

Dit neem my nog ’n tydjie om die interaksie te absorbeer, voordat ek kwaad raak en toe lelik in die gesig gevat voel. Het hy vir my gesê ek is abnormaal? Hy ken my nie eens nie! En hoe kan ’n mens so iets vir iemand sê op grond van so ’n beuselagtigheid? Ek sit sommer albei my voete op die sitplek voor my en ry die res van die pad so.

Wat is normaal en abnormaal?

In die daaropvolgende maande begin ek besef dat ek daardie dag op die trem niks besonders ervaar het nie, maar bloot aan die ontvangkant was van Nederland se gunsteling-nasionale belediging.

“Doe even normaal” (wees normaal, in Afrikaans) word elke dag oor-en-weer gewerp tussen mense, so hou hulle mekaar in lyn. Vat jy ’n draai te wyd op jou fiets, druk jy per ongeluk voor iemand in in die ry in die supermark, reageer jy te emosioneel op iets, praat jy te hard, dan doe je gewoon niet normaal.

“Hoe weet ek wat is ‘normaal’?” vra ek die Nederlandse lede van my boekklub. As deel van die feministiese praxis in die boekklub skep ons uitdruklik ’n “safe space”, so ek kies hierdie ruimte om die vraag te stel.

Ek sien ek vang hulle ontkant.

“Ek bedoel, wat vir my normaal is, is mos nie noodwendig vir jou normaal nie?” probeer ek my gebrek aan begrip verduidelik. “Hoe kan ek weet wat vir almal rondom my normaal is?”

Hoe weet ’n mens wat normaal is in ’n Turkse huishouding? Of ’n Franse een?

“Hmm, ja . . .” sê Eke. “Ek verstaan wat jy bedoel, maar daar is tog dinge wat almal weet is nie normaal nie.” Die res van die lede knik.

“Ja,” sê ek. “Natuurlik is dinge soos om mense aan te val, abnormaal . . . Alhoewel, ek weet nie eens of normaliteit daar die regte maatstaf is nie. Dis krimineel. ’n Mens hoef nie eens die vraag van normaliteit daar in te bring nie.”

En, boonop: “Hoe weet ’n mens wat normaal is in ’n Turkse huishouding? Of ’n Franse een? En wat normaal is vir ryk mense is mos nie normaal vir arm mense nie?”

Die boekklublede dink verder na oor die saak.

“ ’n Mens weet mos maar net,” sê Lieke. Ja! knik die res van hulle.

“Ek het ’n intuïtiewe begrip van wat normaal is,” sê Dieuwertje, “ek verstaan wat jy sê dat daar nie iets is soos universele normaliteit nie, maar ek dink ek verskil van jou.

Byvoorbeeld, om voor iemand in te druk in ’n ry is tog nie normaal nie, maak nie saak wie jy is nie.”

Hoekom is dit so ’n probleem as iemand nie ‘normaal’ is nie?

Ek probeer ’n ander invalshoek: “Hoekom is dit so ’n probleem as iemand nie ‘normaal’ is nie? Tot so ’n mate dat die aanklag van abnormaliteit so ’n groot belediging is?”

“Ja . . . jy is seker reg,” sê Eke.

“Nee, ek veroordeel nie, ek vra! Ek wil weet hoe dit werk!” probeer ek keer dat hulle weer toetrek.

“Wel,” val Dieuwertje weer in, “daar is mos maar net maniere hoe ’n mens dinge doen en maniere waarop dit nie gedoen word nie. Niemand wil mos abnormaal wees nie.”

Almal lag toe sy weer terugval op die woord, ’n begrip wat klaarblyklik onpenetreerbaar is van buite die lyne van Hollandse kulturele toebehorendheid.

“Ai ja, dis moeilik om te verduidelik!” en daarmee verander Eke die onderwerp.

Waar normaal ’n leë begrip is

Azille Coetzee

Later daardie aand praat ek en C hieroor. Dis toe ons nog saam in die Sarphatistraat gewoon het. Hy het vir ons oondskyfies gemaak wat ons toegooi onder romerige Nederlandse mayonnaise. Ons sit op die bank en eet met ons hande. Dis Vrydagaand en ons maak reg vir ’n rustige aand van klassieke Noorweegse misdaadfiksie op televisie.

Ek vertel hom gefrustreerd van die ondeurdringbare sirkels waarin my gesprek oor normaliteit met my boekklubgeloop het. Hy dink ’n bietjie.

“Nee, man,” sê hy al kouende. “Dis vir my heeltemal vanselfsprekend.”

“Ja?” vra ek.

“Dis hul homogeniteit. Dis omdat hulle almal dieselfde taal praat, dieselfde televisieprogramme kyk, dieselfde klas is en dieselfde kultuur het. So hulle weet wat normaal is vir hulle, en hulle almal hou mekaar by hierdie nasionale standaard.”

Normaal wees, is Nederlands wees. Of dan om jou soos ’n Nederlander te gedra. Ten minste wit en middelklas. Hy is reg.

Ons duld in beginsel dat jy anders is, dat jy bruin is, Moslem is, want hierdie is ’n tolerante land, maar wees asseblief net normaal.

En twee jaar later dink ek weer aan hierdie gesprek wanneer Mark Rutte, die premier van Nederland, aan Turkse immigrante, wat hulle volgens hom nie genoegsaam aanpas by Nederlandse waardes nie, sê: “Doe normaal, of ga weg.”

Ons duld in beginsel dat jy anders is, dat jy bruin is, Moslem is, want hierdie is ’n tolerante land, maar wees asseblief net normaal. “Doe maar gewoon, dan doe je al gek genoeg.”

Selfs in die aande in die privaatheid van ons huise is ons heeltemal normaal, dit kan jy sien deur ons oop gordyne.

“Wie het hoofd boven het maaiveld uitsteekt, word zijn kop eraf gehakt.” Moenie jou nek te ver uitsteek nie. Volg die reëls.

“In mý land,” sê C, “steek ons ons nekke uit.”

Doe even normaal!

In my land bestaan normaal nie, is dit ’n leë begrip. In my land is ons ’n klomp dinge tegelyk. In my land dink ons buite die boks, buite die lyne. In my land leef ons met soveel dubbelsinnigheid, paradoks en kompleksiteit, met soveel pluraliteit, beweging en verskil, dat ons koppe oopstaan, ons hande reg, ons monde los, ons nekke lank, ons lywe lekker tegendraads.

“Doe even normaal!” sê ek vir C en hy prop sy mond vol tjips, op ’n hoogs abnormale manier. Ons lag.

“Doe even normaal!” en hy spring op en doen ’n dans waar sy hele lyf ritteltits. Hoe meer ek lag, hoe meer rittel hy. En maak bokspronge.

Doe even normaal! klop die benedebure met ’n besem teen hul plafon dat ons moet bedaar.

* In my vel: ’n reis word deur Tafelberg uitgegee en kos R275.

Meer oor:  Azille Coetzee  |  Suid-Afrika  |  Nederland  |  Abnormaal  |  Normaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.