Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat is ’n African, meneer?

Binne ANC-geledere het die beleid van uitsluiting in Suid-Afrika nie dramaties verander nie, skryf Danny Titus.

Danny Titus.Foto: Lerato Maduna

Ek luister verlede maand met aandag na die voorleggings by die simposium oor die Afrikaners se Gelofte op 16 Desember 1838. Ek kon nie anders as om op te merk dat ek die enigste bruin persoon in die gehoor was nie.

Ons vergader in De Kroon by die Voortrekkermonument. Die dagkongres is getiteld “Is die 1838-Gelofte steeds relevant?” Die vrae en insette ná die eerste spreker se voorlegging verloop goed. Totdat ’n meneer van AfriForum die vraag vra oor swart en wit wat so gemaklik genoem word – maar wat van bruin?

Dis nou nie so maklik om te antwoord nie, sê die kundige spreker, daar is niks hieroor opgeteken nie. Die vraagsteller is gemaklik met die antwoord. Máár, voeg hy by, wat dan van Jan Bantjes, wat so sentraal tot die Gelofte gestaan het – en bruin was?

Toe is daar ’n beroering in die saal. Jan Bantjes, die skrywer van die Gelofte, was tog Afrikaner en wit?

Nee, hy was bruin. Nou ja, in antwoord op my latere navraag hieroor verneem ek dat sy oorgrootjie, Jan Geert Bantjes, in 1758 getroud is met ’n bruin meisie, Hilletje Agnita Jacobs.

Die tyd het aangebreek om die saak van die slagoffers te stel.

Die opstande in Westbury en bruin gebiede aan die Rand bring die realiteit van bruinwees sterk na vore. Bruinmense het oor die eeue hulle in gemengde verhoudinge bevind. Hierin is daar bydraes tot die Afrikaanse taal gemaak, tot Kaapse cuisine, bouwerk, landbou en die Suid-Afrikaanse samelewing oor die algemeen. Die invloed van apartheid, en tot ’n mate kolonialisme, het bewustelik bruinmense uit die hoofstroom geskop en as mindere mense beskou. 

Dit word vandag in oormaat ontken en daar word probeer om die ongeregtighede te regverdig. Kyk 'n mens na die TV-program oor Hermann Giliomee se Die Afrikaners, die ontkenning dat apartheid 'n misdaad teen die mensdom was, Ton Vosloo se boek Oor Grense en heelwat ander, dan het die tyd aangebreek om die saak van die slagoffers te stel.

Dit is die leeus wat vandag hul verhaal moet uitbrul.

’n Hiërargie van pyn

Binne ANC-geledere het die beleid van uitsluiting in Suid-Afrika nie dramaties verander nie. Dit is onbeskaamd “Blacks in general, and Africans in particular” wat die botoon voer. ’n Hiërargie van pyn, is dit al genoem. Intussen is dit vertaal na “It is our time to eat”.

Mense sien die ongeregtighede en veral die onvermoë om die ongeregtighede uit die weg te ruim. Dit is hier waar die Westbury-desperaatheid oorkook. Enkele oplossings begin na vore kom. Die groter prentjie is egter een van: Neem kennis, bruinmense is deel van die land, hulle dra by tot die land.

Die uitwerking van apartheidsbeplanning is nog lank nie getakel nie. Die strukturele oorsake van misdaad, geweld, en die gemak waarmee georganiseerde misdaad nes gaan skop het in veral bruin gebiede, het te veel geraak. Onder apartheid, skryf Andries Bezuidenhout onlangs, was daar altyd die morele regverdiging vir afsonderlike ontwikkeling.

Is die bruin vraagstuk, soos dit tans ervaar word, nie ook die achilleshiel van die ANC nie?

Die achilleshiel hier was die sogenaamde “kleurlingvraagstuk”. As apartheid oor ’n skeiding van kulturele groepe gegaan het en oor die beskerming van taal en kultuur, sou die bestel toenadering tussen wit en swart (veral bruin) Afrikaanssprekendes bevorder het, eerder as om verdeling te bring?

Natuurlik nie, want hul beleid was in wese naakte rassisme, eerder as ’n bevordering van taal en kultuur. Is die bruin vraagstuk, soos dit tans ervaar word, nie ook die achilleshiel van die ANC nie?

Wat is ’n African, meneer? Waarop baseer jy jou definisie van “bruin”? Het jy geweet dat die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 die enigste aanduidingsklassifikasie daarstel? En dit is lank reeds afgeskaf. Weet u, mnr. ANC, dat art. 19 van daardie wet wat nou nog hier rondsweef, aan wit mense sê “jy word vermoed om wit te wees totdat die teendeel bewys word”.

O, hel! Wat nou? Bruinmense aan die ander kant is bloedfamilie van Africans, familie van wittes en Indiër- landgenote. Die apartheidsmure het geval. Dit lyk of bruinmense nog heelwat sal moet doen om hul families te oortuig van hul prentjies. Ons kan nie voortgaan met die slagoffer-benadering wat steeds sterk figureer nie.

N.P. van Wyk Louw skryf in 1960: “Wel het ek ’n innige begeerte – nee, ’n hartstogtelike wil – dat my volk, blank en bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan”.

Hy is kwalik gehoor. Dit was die tyd van die verwydering van bruinmense van die kiesersrol, woongebiede wat geskei is, huwelike oor die kleurgrens wat verbied is, openbare geriewe en werksgeleenthede wat wetties geskei is.

In die laat sestigs en sewentigs is die politieke vakuum vir Suid-Afrikaners gevul deur die Swartbewussynsbeweging en bruinmense het hieruit inspirasie geput. Miskien is die Steve Biko-uitspraak van destyds: “Black man (black woman) you are on your own,” nou juis van toepassing op bruinmense in Suid-Afrika.

* Dr. Danny Titus is die ATKV se uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede. 

Meer oor:  Danny Titus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.