Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
WAT op pad om dydelik te wees

Dis tyd om saam te dala, skryf Willem Botha na aanleiding van Sonja Loots se kritiese resensie oor die jongste toevoeging tot die ‘WAT’.

Ek verwys na dr. Sonja Loots se resensie verlede week van deel XV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Skool tot Sri Lankaans) wat pas verskyn het.

Ons leksikograwe se borse is effens warm gemaak (“kwaad gemaak”) omdat Loots haar nie steur aan die 10 000 artikels in deel XV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) nie, maar feitlik die hele resensie wy aan die oënskynlike leemtes in die woordeboek.

Sy verklaar: “Dit gaan meer verg as ’n ‘barakat’ hier en ’n ‘batja’ daar om te sorg dat die sosiolinguistiese verskeidenheid van Afrikaans en die werklikheid van taalgebruikers weerspieël word.”

’n Vlugtige deurkyk van slegs die Addendum van A tot S van deel XV van die WAT lewer die volgende unieke woorde uit Kaapse Afrikaans op: antie, awê, aweh, ballie, berk (vryer, minnaar), fadjer, fajr (in die taal van die Moesliems: geleentheid vir gebed wat net voor sonop plaasvind), floppie (beanie), gabba, gatta (polisieman), ghoemahare (spookasem), heita, kap­pityt, komvandaan (geboorteplek of grootwordplek), kwaailappies, mang (s.nw. gevangenis; ww. gevangenisstraf uitdien), piemp (iemand verraai of iets uitlap), poenankies (mooi of oulik), popgloër (afgodedienaar).

Woordeboeke soos die HAT (eintlik ’n handwoordeboek of standaardtaalwoordeboek van Afrikaans) en die WAT (’n omvattende woordeboek) probeer die “werklikheid van taalgebruikers weerspieël”, maar het nog lank nie die antwoorde op al hul vrae nie. Waar lê die grens tussen ’n uitspraakvariant en ’n wisselvorm? Wisselvorme kan opgeneem word as lemmas (trefwoorde in die woordeboek), maar uitspraakvariante word nie deur woordeboekmakers as lemmas opgeneem nie. Daarom het ’n groepie Afrikaanssprekers (waaronder ’n gerekende uitgewer) etlike jare gelede bymekaargekom met die oog op medewerking aan ’n woordeboek van Kaapse Afrikaans. Baie water het intussen in die see geloop en ek glo ons kan weer uitsteek (“opdaag”) vir ’n verdere gesprek.

By heelwat woorde soos ‘brasse’ en ‘char’, is nie uitgekom nie.

Dit was tot onlangs moeilik om voorbeelde van die gebruik van Kaapse Afrikaans te bekom omdat uitgewers nie geneë was om manuskripte in Kaapse Afrikaans te publiseer nie. Die sprekers van Kaapse Afrikaans het om historiese en praktiese redes nie meegedoen aan die instuur van voorbeelde van hul variëteit soos die sprekers van die ander variëteite, soos Namakwalands, nie. Dit is egter nog nie te laat daarvoor nie: Ons ontvang baie graag voorbeelde van Kaapse Afrikaans by wat@sun.ac.za.

Die WAT en Danie van Wyk, destyds nog van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans het ’n projek saam met Wes-Kaapse onderwysers aangepak om voorbeelde van Kaapse Afrikaans te versamel, maar ná ’n goeie begin het die belangstelling by die deelnemers getaan, hoofsaaklik vanweë werksdruk en die logistieke probleme rondom ons vergaderings.

Die WAT het vervolgens met die redaksie van Son begin saamwerk ten einde die werklike taalgebruik van Afrikaanssprekers te kan weer­spieël. Die Son wemel van unieke Kaapse woorde, maar hulle gebruik nie konstruksies soos issie, assie, maa, oppie, innie, offie, mettie, orie, klaa, angan of volgene nie. Dié konstruksies is dikwels ’n ortografiese voorstelling van feitlik alle Afrikaanssprekendes se uitspraak. Ook standaardtaalsprekers assimileer en sê dikwels issie, oppie, innie, ommie, orie, offie, angan, kla of volgene. Op soortgelyke wyse neem die WAT nie die ortografiese voorstelling van die uitspraak van sekere Afrikaanse woorde as trefwoorde op nie. Daar word 324 keer uit Son aangehaal in deel XV van die WAT, soos by aweh: “Aweh, my antie en my uncle,” sê die laaitie (Son, 8 Junie 2011).

Loots sê sy kry nie dydelik in die WAT nie, “wat in Kaaps iets heeltemal anders as duidelik beteken”. Die WAT neem nie dydelik en dydlik as trefwoorde op nie, omdat dit ’n ortografiese voorstelling is van ’n uitspraak wat dikwels onder die meeste Afrikaanssprekendes voorkom, ook standaardtaalsprekers. Maar onder duidelik word die betekenis wat uniek is aan Kaapse Afrikaans wel opgeneem: “Wat treffend, uitstekend of wonderlik is, wat byval vind of wat bewondering ontlok: Die ou se kar is duidelik. Jy het ’n duidelike hemp aan. ’n Duidelike skool met ’n verfrissende uitkyk (Die Burger).”

Loots konsentreer veral op woorde in Kinnes deur Chase Rhys en Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Veary wat nie in deel XV van die WAT opgeneem is nie. Hierdie publikasies het egter in die tweede helfte van 2018 verskyn terwyl die werk aan die Addendum A tot Skooi reeds in 2016 en die manuskrip vir Skool tot Sri-Lankaans in Augustus 2018 afgesluit is. Daarna het die setwerk-, proeflees- en drukproses begin. Dit was dus prakties gesproke nie moontlik om hierdie woorde in deel XV van die WAT op te neem nie.

Van al die woorde wat Loots noem wat sy nie in die WAT kan kry nie, is slegs kezzel (’n uitspraakvariant van casual?) nie in die WAT se materiaalversameling ingesluit nie. Ons sal wel by al hierdie woorde uitkom.

’n Omvattende woordeboek soos die WAT moet ’n duidelik omlynde opnamebeleid hê. Volgens ons opnamebeleid word die opname van ’n woord oorweeg indien daar gebruiksvoorbeelde daarvan in minstens vyf verskillende betroubare bronne gevind word. Die woord moet ook oor ’n redelik lang tyd in gebruik wees sodat bewys kan word dat dit gevestig is in die Afrikaanse woordeskat. Die opname van die woorde waarna Loots verwys, kan dus nie gewaarborg word nie.

Hoe is dit dan moontlik dat “brasse” en “char” nie in die WAT opgeneem is nie? Deel I (A tot C) van die WAT het in 1951 verskyn en die kans is maar skraal dat “brasse” en “char” in die veertigerjare van die vorige eeu in enige Afrikaanse materiaalversameling kon beland het. Omvattende woordeboeke soos die WAT en sy Engelse, Duitse en Franse eweknieë word volgens leksikografiese konvensie eers tot by Z voltooi voordat hulle bygewerk word met “nuwe” woorde wat nadat die onderskeie dele reeds verskyn het, ontstaan het. Die WAT het egter die ongewone stap gedoen om in 2016 die werk aan die letter S vir ses maande te onderbreek om die WAT van A tot S by te werk in ’n Addendum. Ses maande is te kort om die bywerking uitputtend te doen, maar die WAT het tog gevoel dat hy in belang van sy gebruikers ten minste ’n poging moet aanwend. By heelwat woorde wat ’n mens daar sou verwag, soos “brasse” en “char”, is nie uitgekom nie.

Die WAT het ook in 2018 ’n samewerkingsooreenkoms met VivA gesluit ten opsigte van die Algemene Woordeboek van Eietydse Afrikaans (AWEA) wat twee weke gelede gratis op VivA se webtuiste beskikbaar geword het. Dit is ’n verdere veiligheidsnet vir die WAT om te help verseker dat woorde uit Kaapse Afrikaans en ander va­riëteite ’n tuiste in hierdie omvattende woordeboek vind.

Die WAT sien die kritiek in hierdie resensie as ’n geleentheid vir groter samewerking in belang van Afrikaans. Daar is nog baie om oor te getuig (“praat”).

  * Dr. Willem Botha is hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Meer oor:  Willem Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.