Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Wat SA regering nie kan begryp’

Dit word vir Johann Rupert moeilik om sy invloed in die buiteland te gebruik in die belang van Suid-Afrika, skryf Pieter du Toit.

Johann Rupert Foto: Alberto Bernasconi.

Toe pres. Jacob Zuma in Desember 2015 Nhlanhla Nene, sy minister van finansies, afdank en hom vervang met ’n staatska­ping-herontplooide het die internasionale markte met skok gereageer.

Dit het gou duidelik geword dat die mark Zuma se besluit verwerp – en toe die Nikkei die Maandag ná Nene se afdanking open, was dit ’n bloedbad.

As drastiese stappe nie gedoen word nie, sou dit ’n massiewe verkoop van staatseffekte beteken het, aandele in die land se banke sou afverkoop word en die rand sou verder duik.

Johann Rupert het nog altyd goeie verhoudinge gehad met sommige van die grootste institusionele beleggers, asook die grootste leners in die wêreld. Sy reputasie in Europa, waar die luuksegoedere-konglomeraat Richemont gesetel is, is goed gevestig en sy bande met sommige van die grootste bankiers en beleggers op Wall Street – baie van hulle, nes hyself, ywerige gholfspelers – kom al oor dekades heen.

Baie van hulle het dus nie nodig gehad om ontleders in Johannesburg of Londen te bel nie. Hulle het vir Rupert gebel, wat in daardie stadium by sy huis in Somerset-Wes was.

Ek sal waarskynlik nooit genooi word nie.

Een spesifieke belegger en verskansingsfondsbestuurder, wat deur baie beskou word as die beste en mees uitgeslape van sy generasie, het Rupert gebel en hom gevra of hy sy rande moet daalverkoop.

Nee! Asseblief nie, het Rupert geantwoord, terdeë bewus van die feit dat sy vriend, ’n gholfmakker van die eksklusiewe Seminole-buiteklub in Florida, ’n sak vol geld uit Suid-Afrika se teenspoed sou maak.

Hy het die Wall Street-operateur oortuig dat dit nie die moeite werd sou wees nie en dat die Suid-Afrikaanse regering binnekort tot sy sinne sou kom.

Rupert verpes dit om ’n lid van die Stellenbosch-mafia genoem te word. Om mee te begin, woon hy nie eens in Stellenbosch nie.

En bowendien, grom hy: “Ek was nie deel van die establishment in die ou orde nie, en is ook nie deel van die establishment van die nuwe bedeling nie.

“Selfs al was daar iets soos ’n ‘Stellenbosch-mafia’ sal ek waarskynlik nooit genooi word nie.”

Daar is egter geen twyfel nie dat Rupert, waarskynlik die mees berese top- uitvoerende hoof in Suid-Afrika, ’n groot kokkedoor is in die salons en palissander-paneel-raadsale van rykdom en invloed in Europa en die VSA. Hy het dié invloed gebruik om sy eie sakebelange te bevorder, maar sê hy het dit ook in sy land se beste belang gebruik – hoewel hy erken dat dit al hoe moeiliker word om laasgenoemde te doen.

In Julie 2018 het die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, Nigel Casey, en die hoof van die Amerikaanse diplomatieke sending, Jessye Lapenn, by Rupert om hulp aangeklop omdat hulle nie ’n afspraak met pres. Cyril Ramaphosa kon kry nie

Rupert het vir hulle gesê hy kan nie help nie, maar vir hom was dit duidelik wat aangaan: Die ANC-regering ignoreer aktief sy vriende in die Weste en kyk eerder ooswaarts.

Toe Ramaphosa in 2018 op ’n wêreldreis vertrek om $100 miljoen se nuwe beleggings vir Suid-Afrika te probeer werf, het een van die presidensiële adviseurs hom genader.

Hulle was op pad na die Midde-Ooste en wou Rupert se raad hê.

Rupert is op goeie voet met Mohammed bin Zayed Al Nahyan (ook bekend as MBZ), die kroonprins van Abu Dhabi en een van die invloedrykste leiers in die streek. Mohammed het al vroeër vir Rupert vir gunste gevra (hy noem hom “die sjeik uit Suid-Afrika”) en Rupert en die prins deel ’n liefde vir sport.

“Besef jy dit is somer in die Verenigde Arabiese Emirate en dat al die invloedrykes êrens in Europa op seiljagte sal wees? Dit is te warm, hulle gaan nie daar wees nie,” het Rupert aan Ramaphosa se man gesê.

Maar Ramaphosa en sy span het met hul reis voortgegaan en teruggekeer met beloftes van $20 miljard se beleggings ná ontmoetings met, onder meer, MBZ, wat tog in die land agtergebly het nadat die res van die emirate-elite na koeler streke verkas het.

Hierdie beleggings was egter nie in die vorm van harde kontant nie, maar het met strawwe voorwaardes gekom. ’n Uiters suksesvolle Midde-Oosterse lugredery was byvoorbeeld geïnteresseerd in die SAL, maar hulle het aangedring op beheer. Van dié planne het niks gekom nie, blykbaar omdat sommige SAL-base aangedring het op ’n gunsloon.

Weer is Rupert deur sy vriende in Abu Dhabi gebel: Moet hulle betrokke raak by Suid-Afrikaanse beleggings? Moet hulle kyk vir vennote? En as die Suid-Afrikaanse regering beleggingsgeleenthede vir die emirs sou bring, sou Rupert hulle help om die opsies te oorweeg, omdat hulle nie die Suid-Afrikaners vertrou nie?

“Ouens,” het Rupert geantwoord, “ek is lief vir my land, ek gaan nie betrokke raak nie. Ek sal julle help met ontleders wat julle kan vertel wat aangaan en ek sal selfs saam met julle belê, maar ek raak nie normaalweg betrokke by dié soort ding nie.”

’n Maand ná die Suid-Afrikaanse besoek aan die VAE, het Rupert ’n SOS van dieselfde Ramaphosa-adviseur as vroeër ontvang: Die beloofde beleggings gebeur nie. Kan hy help?

“Wat is ek veronderstel om te doen?” het Rupert geantwoord.

“Julle het my nie destyds gesê wat julle beplan nie en doelbewus uit die prentjie gehou.”

Wat die Suid-Afrikaners nie verstaan ??het op hul beleggingstoer na die Golf nie, sê Rupert, is dat Ramaphosa se regering sal sukkel om vriende te maak met die VAE en Saoedi-Arabië as hulle voortgaan om die VSA, Brittanje en Israel swart te smeer.

“James Mattis (destyds die Amerikaanse minister van verdediging) is soos MBZ se peetpa. MBZ en Mattis praat amper daagliks met mekaar.

“Sonder die VSA se beskerming is die VAE niks nie. Hulle weet dit. So werk hulle saam met Saoedi-Arabië, Israel en die VSA teen Iran.

“En nou kom ons, hoed in die hand, om geld by hulle te vra, terwyl ons die VSA en Brittanje soos vuilgoed behandel?

“En die Suid-Afrikaanse regering verstaan dit nie,” sê Rupert.

* Hierdie artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit die boek The Stellenbosch Mafia: Inside the Billionaires’ Club deur Pieter du Toit. Dit word uitgegee deur Jonathan Ball.

Bloubloed ‘is darem nie almal so nie . . .’

Edwin Hertzog, stigter van Mediclinic en ondervoorsitter van die Remgro-direksie en Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, is onder die eerste name wat by jou opkom as daar van ’n “Stellenbosch-mafia” gepraat word.

Hertzog is Remgro-bloubloed. Hy is al van voor Rupert af betrokke by die maatskappy en die Hertzog-familietrust was een van die stigteraandeelhouers in Richemont voordat dit deur Rupert uitgekoop is.

Die Remgro-netwerk is ingewikkeld en wyd: Diegene wat deel is daarvan is uiters suksesvol en die bande tussen uitvoerende beamptes en direkteure is so oud soos die omliggende berge. Tog sê sowel Hertzog as Durand die stories oor ’n Stellenbosch-mafia is oordrewe.

Hertzog sê hy is ongemaklik daarmee dat almal in die dorp as voëls van eenderse vere beskou word, asof hulle almal deel is van die sogenaamde mafia en asof almal deel is van Steinhoff.

Durand stem saam met Hertzog.

“As daar ’n mafia bestaan, weet ek nie daarvan nie. Daar is egter netwerke met bande wat ver in die verlede terugstrek. Ja, sommige van ons sosialiseer saam en ons sit op mekaar se direksies.”

En Durand gee toe daar is ’n verstaanbare versigtigheid oor Stellenbosch gegewe die Steinhoff-inploffing.

Durand en Hertzog is albei bewus van die bekende Vrydagmiddagetes by Decameron, ’n ou Italiaanse restaurant in Pleinstraat, naby die stadsaal, waar prominente lede van die mafia na bewering ontmoet.

“Ek weet van die middagetes, maar nie ek óf die Remgro-mense is al ooit genooi of het dit bygewoon nie. Daar is baie stories oor die middagetes, oor wat gesê is . . . maar ons steur ons nie daaraan nie.”

Hertzog sê daar is niks sinisters aan die middagetes nie. “Dis ad hoc . . . jy sal iemand raakloop, vra of hy vry is vir middagete. Maar ek is nie deel van daardie middageteklub van Jannie Mouton, GT Ferreira, Chris Otto, Johan Schoeman en ander nie.

“Ek weet nie, miskien is ek te besig.”

Hertzog voel die heersende narratief wat wit mense in Stellenbosch beskryf as geldvrate, diewe en uitbuiters is problematies.

“Ons hoor Julius Malema sê hierdie dinge (oor die mafia). Aan die een kant verstaan jy dit omdat dit politiek is, maar aan die ander kant irriteer dit jou omdat dit ook nie regverdig is om altyd in die rol van die skurk geplaas te word nie.”

Hertzog voel dat daar te veel gewag van die dorp gemaak word as die setel van Suid-Afrika se rykdom. Met ’n paar uitsonderings na, sê hy, sit die grotes nog almal in Johannesburg.

Durand glo die karakter van Stellenbosch, eens ’n rustige universiteitsdorp, het verander met die instroming van geld en mag – en die aankoms van Steinhoff.

“Dié tipe inkommers irriteer vir Johann (Rupert). Die kultuur het verander.

“Dit het uitspattig geword, wat sekerlik nie deel is van die Remgro-kultuur nie.

“Ek ry nie ’n sportmotor nie – my kinders sal te verleë wees – maar (met die aankoms van Steinhoff) was daar skielik oral Ferrari’s.”

Meer oor:  Pieter Du Toit  |  Johann Rupert  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.