Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat sê verkiesings oor Britse eenheid?

Die territoriale integriteit van die Verenigde Koninkryk bly ná die onlangse verkiesings in Engeland, Skotland en Wallis in die spervuur, skryf Jonathan Bradbury.

Die Skotse premier Nicola Sturgeon staan tydens ’n besoek aan Aberdeen voor ’n reuse-plakkaat van haarself. Foto: Reuters

Daar is in elke nasie of streek ’n voortdurende debat oor identiteit, waardes en/of bronne, en die regering van Boris Johnson is onder druk om ’n beter bedeling tot stand te bring.

Tog moet ’n mens mooi dink oor waarskuwings dat Brittanje uitmekaar gaan spat. Daar is steeds baie op die spel en daar is nog ’n kans dat die Johnson-regering die staat weer kan stabiliseer.

Die mees betekenisvolle verkiesingsuitslae was dié in Skotland waar die onafhanklikheidsbeweging nou danksy die setels van die Skotse Nasionale Party (SNP) en die Groenes ’n meerderheid het. Die SNP-regering wat herverkies is, sal binne die volgende vyf jaar in ’n stadium sy meerderheid gebruik om op ’n tweede referendum oor onafhanklikheid aan te dring.

Tien van die laaste 14 meningspeilings voor verkiesingsdag het daarop gedui dat die meeste kiesers teen onafhanklikheid gekant is, in drie was die telling gelykop en in net een is bevind dat die ja-stem in die meerderheid sal wees.

Dit sal uiteraard gebeur nadat die regering hom toegespits het om Skotland uit die Covid-19-pandemie te lei en hom verbind het tot uitgawes wat wys dat sy waardes van dié van Tory-Engeland verskil.

Dit kan tot ’n konstitusionele stryd lei as die Johnson-regering weier om ’n referendum te hou. Die een kant sal aanspraak maak op ’n demokratiese mandaat en die ander kant sal op die oppergesag van die reg wys.

Praatjies oor die probleme met Johnson se hiper-, gespierde- of “ken jou plek”-eenheidstrewe en die gevaar wat dit vir die ideaal van eenheid gegrond op instemming inhou, kan die wrewel laat opbou en identiteit verpolitiseer.

Tog was daar ook ná die verkiesings in 2016 ’n pro-onafhanklikheidsmeerderheid in die parlement en die SNP sal voel dat hy dié keer weens Brexit geregverdig is om op ’n referendum aan te dring.

Dié party het al gesê dat die wegbreek van die Europese Unie ’n fundamentele grondwetlike verandering was en daarom ’n nuwe referendum oor onafhanklikheid regverdig.

Die SNP sal egter weet dat die kanse op ’n ja-stem in ’n referendum nie verseker is nie. Hy het nie ’n volstrekte meerderheid in Holyrood nie en die gekombineerde pro-onafhanklikheidstem in die kiesafdelingstelsel was nie 50% nie en daar was slegs ’n meerderheid met proporsionele stemme.

Tien van die laaste 14 meningspeilings voor verkiesingsdag het daarop gedui dat die meeste kiesers teen onafhanklikheid gekant is, in drie was die telling gelykop en in net een is bevind dat die ja-stem in die meerderheid sal wees.

Intussen kan Johnson se vertoning in die herstelpogings ná die pandemie sowel as die normalisering van die situasie ná Brexit met die SNP se strategie meeding.

Daar kan verwag word dat sy Westminster-regering Skotse nasionalisme as uitsluitend sal bestempel en dat hy eerder die eenheidsgedagte gekombineer met afwenteling van magte sal propageer.

Wallis

Stemme word in Cardiff in Wallis getel. Foto: Reuters

Dit lyk asof die verkiesingsuitslae in Wallis veel minder van ’n bedreiging vir Britse eenheid inhou.

Die Plaid Cymru-party kon weer nie daarin slaag om ’n deurbraak te bewerkstellig nie en die Arbeidersparty het 30 van die 60 setels gewen. Die Arbeiders is al van 1999 af aan bewind toe die afwenteling van magte begin het.

Die moontlikheid dat onafhanklikheid deel van die debat gaan word, bly ’n sterk moontlikheid omdat meningspeilings toenemende steun daarvoor aandui.

Plaid Cymru het hom vir die eerste keer duidelik in ’n verkiesing tot ’n referendum oor onafhanklikheid verbind. As dié party aanhou om op hierdie trant voort te gaan kan dit mense tot sy siening oorhaal, nes die SNP sedert 2007 in Skotland gedoen het, en stadig die gedagte aan onafhanklikheid normaliseer.

Dit sal egter nie oornag gebeur nie. Steun vir onafhanklikheid in Wallis in meningspeilings voor die verkiesing was nooit hoër as 28% nie met die nee-stem wat deurlopend meer as 50% was.

Die nasionale kwessie word anders in Wallis beskou.

Die diskoers van Mark Drakeford, die Arbeiders se Walliese premier, het dit bewys.

Johnson se regering sal dieselfde ekonomiese agenda in Wallis as in Skotland volg.

Hy dring daarop aan dat hy in sy wese Wallies is, maar hy wys ook op die voordele wat dit inhou om deel van ’n unie van nasies te wees.

Die mededinging om mag tussen Drakeford en Johnson se regerings sal ongetwyfeld voortduur en alles kan nog skeefloop. Wrewel oor wat as die neo-kolonialistiese regering van die Konserwatiewes gesien word, is nooit ver van die oppervlak nie en Walliese identiteit kan meer verpolitiseer word.

Johnson se regering sal dieselfde ekonomiese agenda in Wallis as in Skotland volg en het selfs ’n beter kans om ’n groot meerderheid van Walliesers te oortuig om die eenheidsgedagte te steun.

Engeland

Boris Johnson, eerste minister van Engeland, se Konserwatiewe Party staan die eenheid van die Britse Eilande voor. Foto: Getty Images

Die voortbestaan van ’n verenigde Brittanje lyk te oordeel na verkiesingsuitslae die sekerste in Engeland.

Die Konserwatiewes het selfs in plaaslike rade winste gemaak. Hulle het die burgemeesterskap van Teesside gewen met ’n heelwat groter meerderheid en hulle het ook die Hartlepool-tussenverkiesing gewen.

Boonop het die Arbeiders die beheer in sewe rade verloor en het hy 301 raadslede minder.

Dinge het nie in Engeland verander nie.

Daar is steeds ’n sterk gevoel van ongelykheid in hulpbronne en regering. Die skeiding is tussen noord en suid en tussen metropolitaanse kerngebiede en kleiner dorpe.

Nuwe steun by die stembus bring nuwe verwagtinge en druk.

Dit is egter in Engeland waar Johnson se regering hom die beste teen territoriale druk verset het. In die algemene verkiesing van 2019 sowel as in vanjaar se verkiesings, het die Konserwatiewes iets aan Engelse ongelykhede probeer doen.

Dit was die Tories, eerder as die Arbeidersparty, wat protes aan die rand van die politieke landskap geneutraliseer wat in steun vir Ukip en die Brexit-party neerslag gevind het.

Johnson het ook ontnugterde kiesers na die Tory-laer toe gelok. Hy sal egter versigtig moet wees. Nuwe steun by die stembus bring nuwe verwagtinge en druk.

Sukses hang uiteraard daarvan af of jy Engelse territoriale meningsverskille weer onder die beheer van die tweeparty-stelsel kan bring. Dit kan een van die grootste prestasies van Johnson se leierskap as premier wees.

Tye verander

’n Covid-verkiesing. Stemme word in Glasgow met ’n bottel handsaniteerder byderhand getel. Foto: AP

Die verkiesings van “Super Donderdag” het ’n kykie op die komplekse mosaïek van die Britse eenheidsgedagte gegee.

’n Mens kan op enige gegewe tyd besin oor die sterk- sowel as swakpunte in elke deel van Brittanje wat betref druk vir protes oor nasionalisme aan die een kant en die behoud van die status quo aan die ander kant.

Die Noord-Ierse verkiesing van 2022 kan ook nie buite rekening gelaat word nie.

Daar het Brexit nasionalistiese debatte oor hereniging met Ierland laat posvat.

Steun vir partye wat die band met Brittanje wil behou, het gefragmenteer te midde van die bohaai oor die handelsgrens in die Ierse See wat op Brexit volg.

Die belang daarvan om op herstel ná Covid-19 te fokus, het vir alle partye tyd gewen om voor te berei vir die veldslae wat wag. Vir die SNP, Plaid Cymru en Sinn Fein beteken dit tyd om steun vir onafhanklikheid en hereniging te werf.

Maar teenkanting teen hereniging het met meerderhede van tussen 5% en 14% geblyk uit al vier die meningspeilings wat in 2021 in Noord-Ierland gehou is.

Hier is daar ook sterk- en swakpunte aan albei kante en kan daar geen sekerheid oor ’n uitslag wees nie.

Eendag kan ons dalk die verkiesings van 2021 bloot sien as die Covid-19-verkiesings, waar steun aan die regerende partye bevestig is.

Dit het gevolge gehad vir die territoriale stryd oor mag – dit het veral argumente oor “indyref2” (independence referendum 2) in Skotland laat opvlam – maar dit nie opgelos nie.

Die belang daarvan om op herstel ná Covid-19 te fokus, het vir alle partye tyd gewen om voor te berei vir die veldslae wat wag.

Vir die SNP, Plaid Cymru en Sinn Fein beteken dit tyd om steun vir onafhanklikheid en hereniging te werf.

Vir die Konserwatiewes gee dit tyd om strategieë uit te werk vir staatsuitgawes in gebiede waar mag afgedeel is en om die speelveld in Engeland gelyk te maak.

Die Arbeidersparty en die Liberale Demokrate sal ook tyd hê om geloofwaardige planne te ontwikkel wat mense op ’n alternatiewe middelgrond, soos vorms van federalisme, saamsnoer.

Die volgende algemene verkiesing in Brittanje, wat veronderstel is om in Mei 2024 plaas te vind, kan kritiek wees vir wat die toekoms vir ’n Verenigde Koninkryk inhou wanneer al dié teenstrydige standpunte by die stembus getoets word.

Die territoriale aard van die Verenigde Koninkryk bly ’n twispunt, maar daar is baie op die spel en daar is steeds ’n realistiese moontlikheid dat die huidige posisie gestabiliseer sal kan word.

Bradbury is ’n lektor in politieke en kulturele studies aan die Universiteit van Swansea. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

conversation
Meer oor:  Konserwatiewe Party  |  Arbeidersparty  |  Sinn Fein  |  Nicola Sturgeon  |  Boris Johnson  |  Skotland  |  Wallis  |  Brittanje  |  Engeland  |  Ierland  |  Brexit  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.