Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat skuil agter haatspraak teenoor gays in kerkdebat?

Probeer sommige mense die kerk in ’n selfs meer reaksionêre posisie terugplaas, soos toe die sinode in die middel van die gewelddadigste apartheidsdekade gay seksualiteit as ’n gruwel bestempel het? vra Christi van der Westhuizen.

Christi van der Westhuizen

Een van die belangrikste politieke verwikkelings van die afgelope vier dekades is die aktivisme teen die verontmensliking van lesbiese, gay en biseksuele (LGB) mense. Ook in Suid-Afrika het dié vorm van aktivisme deurslaggewende skuiwe bewerkstellig – veral in die grondwetlike en wetgewende prosesse sedert die breuk met formele apartheid.

Hierdie stryd word deur dapper mense in alle lewensfere gevoer, want uiteraard kom LGB-mense oral voor. Saam met bondgenote is die kwessie ook die afgelope jare in die NG Kerk opgeneem. Dit is noodsaaklik, want instellings is primêre ruimtes waarin seksuele en ander vorme van hiërargie opgedwing word. Die reaksionêre populismes wat wêreldwyd probeer om vroue, gays en mense van kleur op “hul plek” te sit, word ook veral deur instellings soos die kerk van stapel gestuur.

’n Mens moenie dink dat LGB-politiek net vir mense met nie-konformerende seksualiteite van belang is nie. Dit kan ’n algehele vermensliking teweegbring. Soos die mobiliserings teen rassisme en patriargie ook wit mense en mans kan bevry, so ook is die mylpale in die LGB-stryd goeie nuus vir heteroseksuele mense wat nie in magsverhoudinge van ongeregtigheid vasgevang wil bly nie.

Om heteroseksuele oorheersing te regverdig, word homoseksualiteit as die negatiewe geskep.

Die rede hiervoor is eenvoudig. Die norm in enige sosiale kategorie word op só manier geskep dat ons dikwels daaraan dink as ’n onafhanklike bestaansposisie in eie reg. Maar die werklikheid is dat elke posisie op ’n “Ander” staatmaak. In die kategorie van seksualiteit kan heteroseksualiteit nie los staan van homoseksualiteit nie. Die een skep die ander; “heteroseksueel” as die dominante posisie is afhanklik van “homoseksueel”.

Om heteroseksuele oorheersing te regverdig, word homoseksualiteit as die negatiewe geskep, “die afwyking, die sinlose, die patologiese en die afgryslike”. Daarteenoor word heteroseksualiteit mos as die positiewe en dus die teenoorgestelde van al daardie eienskappe geskep, naamlik as die “norm, die sinvolle, die gesonde en die aangename”.

So, teen dié agtergrond, wat beteken dit as ’n instelling soos die NG Kerk weens ’n soort paleisrevolusie bollemakiesie slaan oor lesbiese en gay lidmate se verhoudings?

Doel van haatspraak voorspelbaar

Dit is wat gebeur het met die oënskynlik onreëlmatige ommekeer van die sinode se besluit van 2015 dat lesbiërs en gays mag trou.

Dr. Chris van Wyk

Hoe maak ’n mens sin van die argument van ’n senior moderatuur-lid soos Chris van Wyk dat homoseksualiteit gelykstaande aan pedofilie en bestialiteit is, waarmee hy die moderator, Nelis Janse van Rensburg, se standpunt dat gay seksualiteit ook ’n gawe is, uitgedaag het?

Die tiperings wat Van Wyk uitgerol het, is twee van die mees holrug geryde homofobiese aantygings en beledigings. Die hooggeregshof het die voormalige joernalis Jon Qwelane in 2017 aan haatspraak skuldig bevind onder meer omdat hy bestialiteit en gay seksualiteit in ’n rubriek in die Sunday Sun aan mekaar gelyk gestel het.

Die doel van dié soort haatspraak is doodgewoon en voorspelbaar: om homoseksualiteit in “die afwyking, die sinlose, die patologiese en die afgryslike” te omskep. Die assosiasie met kinderverkragting en seks met diere kry dit gewoonlik reg. Dat die verre meerderheid van albei tipes misdaad deur heteroseksuele gepleeg word, noem Van Wyk natuurlik nie.

Aldus Van Wyk kry hy die idee dat pedofilie en homoseksualiteit dieselfde is uit “wetenskaplike” artikels. Dit is maklik om in stowwerige annale rond te tas vir die homofobiese literatuur wat sedert die 19de eeu in die sielkunde en verwante dissiplines LGB-mense stigmatiseer. Die huidige vlaag van reaksionêre populismes behels dan ook ’n opwarming van allerlei “wetenskaplike” teorieë om wit, manlike en heteroseksuele oorheersing oor alle ander mense te regverdig.

Seksualiteit ’n veld van magsuitoefening

LGB-verset teen straight oorheersing lê bloot daarin dat seksualiteit nie die een of ander onskuldige, biologies gedrewe liggaamlike reaksie is nie. Dit is ’n veld van magsuitoefening wat bestaan uit reëls wat, afhangend van tyd en plek, verander. Sekere hiërargieë word daarvolgens tussen mense geskep. Sekere mense word gelegitimiseer, en andere word as uitgeworpenes geposisioneer.

Patriargale reëls oor wat seksueel aanvaarbaar is, of nie, word deur instellings oor alle sektore heen bevorder, insluitende die godsdiens. Die Christelike standpunt gee onder meer ’n leidraad dat seksualiteit nie “onskuldig” is nie. Die idee van die sondeval in die tuin van Eden word dikwels verbind aan seksuele kennis, en die Protestantse invalshoek maak almal reeds voor geboorte skuldig – “in sonde ontvang en gebore”.

Hierdie teruggryp-aksie na vervloë dae van heteroseksuele dominasie kan die NG Kerk op ’n glibberige glygang plaas.

Opvallend is die fokus van die reëls merendeels op die verhouding tussen vroue en mans. Vandag maak homofobe staat op ’n klompie spesifieke Bybelverse wat hulle lees as bewys dat God die Vader en Jesus ook homofobies is. Maar die reëls oor seksualiteit kruis dikwels met dié van geslag, iets wat LGB-politiek ook duidelik maak.

Van Wyk se standpunt blyk nie net ’n aanval op die sinode se besluit van 2015 te wees nie, maar ook op dié van 2016. Want hoewel die kerk oënskynlik wederregtelik hul eie besluit oor gay verbintenisse in 2016 omgedraai het, het dit wel bevestig dat lesbiese en gay mense steeds volwaardige lidmate is, en nie as minderwaardig beskou word nie.

Gevaarligte behoort te flikker

Ds. Nelis Janse van Rensburg

Janse van Rensburg se standpunt blyk in pas te wees met die 2016-verbintenis tot die “bevordering van die Godgegewe waardigheid van alle mense”. Van Wyk se gebruik van die stigma van pedofilie en bestialiteit blyk ’n aanval hierop te wees, en weerspreek die 2016-besluit.

Hierdie teruggryp-aksie na vervloë dae van heteroseksuele dominasie kan die NG Kerk op ’n glibberige glygang plaas. Probeer sommige die kerk in ’n selfs meer reaksionêre posisie terugplaas, soos toe die sinode in die middel van die gewelddadigste apartheidsdekade gay seksualiteit as ’n gruwel bestempel het?

Soos reeds geredeneer, weens die interafhanklikheid van hetero- en homoseksualiteit, en die interseksie tussen geslag en seksualiteit, behoort heteroseksuele, en vroue in die algemeen, ook aandag te skenk. Hoe die kerk oor ras vasgehaak het, behoort verdere gevaarligte te laat flikker.

Gays en lesbiërs word veral as bedreiging vir die heteronormatiewe orde beskou omdat hul verhoudings dikwels die patriargale model van manlike oorheersing en vroulike onderdanigheid weerspreek.

In Facebook-gesprekke in reaksie op Van Wyk het ondersteuners opgemerk dat die NG Kerk se oorspronklike fout was om sy beleid oor die posisie van vroue te verander. Watter soort kerk het die aanvoerders van hierdie aanval in gedagte, nie net vir lesbiese en gay mense nie, maar ook betreffende die “korrekte” vorm van heteroseksueel en vrou wees?

* Prof. Van der Westhuizen is ’n genoot van die Democracy Works-stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.