Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat wag op ANC in komende verkiesing?

Sal toenemende ontevredenheid met swak plaaslike bestuur die ANC se steun in vanjaar se munisipale verkiesing tot onder die kerf van 50% laat daal? Pieter Labuschagne waag ’n voorspelling.

Inwoners van Alexandra, Johannesburg, staan tou in die koue om in die munisipale verkiesing van 2016 te stem. Foto: Gallo Images

Die ontwrigting van die Covid-19-pandemie het die komende munisipale verkiesing in ’n groot mate op die agtergrond geskuif.

Daar is net enkele maande voor dié belangrike verkiesing oor – heel moontlik die belangrikste en beslissendste verkiesing in Suid-Afrika sedert 1994.

Dit is reeds duidelik dat die politieke tektoniese plate besig is om te skuif. Die ANC staan volgens sommige waarnemers op die randjie van ’n skeuring en voorspellings wil dit hê dat dié verdeelde party vanjaar vir die eerste keer minder as 50% van die kiesers se steun in ’n verkiesing kan kry.

In die lig van al die plaaslike verwikkelinge is dit interessant om verkennend na die komende verkiesing te kyk. Die uitdaging is om die uitslag te probeer bepaal – ’n gewilde tydverdryf vir politieke waarnemers.

Die munisipale verkiesing en vooruitskattings

Diensleweringsbetogings is al alledaagse gebeurtenisse in Suid-Afrika. Dié betoging was verlede maand in Delft. Foto: Jaco Marais

Die bekende politikoloog Gabriel Almond het gesê die dilemma in die politieke wetenskap is dat die ambivalensie van menslike gedrag dit moeilik maak om die invloed van oorsaak en gevolg te bepaal en dat dit daarom moeilik is om die uitslae van verkiesings te voorspel.

Kommentators het reeds daarop gewys dat die verslegtende toestande van munisipale infrastruktuur en -bestuur die ANC vanjaar heelwat stemme gaan kos. Dié aanname kan geldig wees, maar die probleem is om die potensiële invloed op werklike steun te bepaal omdat vele ander veranderlikes en redes ook die ANC se steunvlakke kan raak.

Wanneer groot maatskappye meningspeilings doen, word daar probeer om so betroubaar moontlik te wees.

Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesings in 2016 is ook deur weinig peilings voorspel.

Die uitdaging is hoe jy die peiling kan toepas op die werklikheid wat weer deur ’n betroubaarheidsfaktor beïnvloed word. Daar is byvoorbeeld altyd die moontlikheid dat die deelnemer aan ’n telefoniese peiling nie eerlik oor sy of haar keuse was nie.

In die aanloop tot Zimbabwe se eerste demokratiese verkiesing in 1980 het nie ’n enkele peiling bevind dat Robert Mugabe meer as 40% steun sou kry nie. Mugabe het uiteindelik die steun van 57% van kiesers gekry.

Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesings in 2016 is ook deur weinig peilings voorspel.

Die munisipale verkiesing

Lidmate van die NG kerk Riebeeckstad maak self slaggate reg. Baie mense spring deesdae in om dienste te lewer omdat korrupte en bankrot munisipaliteite dit nie meer doen nie. Foto: Madli Grobbelaar

Die sosiale wetenskap het nie soos die fisiese wetenskap die voordeel van geldende natuurwette waarmee toekomstige gedrag of handelinge verklaar kan word nie.

Voorspellings gebruik dikwels volgehoue patroonmatige tendense as grondslag.

In die konteks van munisipale verkiesings bied die frekwensie van diensleweringsbetogings ’n ideale barometer om mense se tevredenheid of ontevredenheid met munisipale dienste te bepaal.

Die frekwensie van vlakke van ontevredenheid kan dan ingespan word om voorspellings oor moontlike toekomstige verkiesingsuitslae te waag. (’n Mens moet wel in gedagte hou dat ander veranderlikes natuurlik ’n invloed op die uitslag kan hê.)

Vir dié doel kan ons diensleweringsbetogings teenoor munisipale en algemene verkiesingsuitslae stel. Dit wys nogal ’n waardevolle verwantskap uit.

steun

Die eerste waarneming is dat daar vanaf 2008 ’n geleidelike toename in diensleweringsbetogings was en dat dit in 2009 die eerste keer die kerf van 100 verbygesteek het. Tien jaar later, in 2018, het dit tot meer as 200 gestyg. (Die syfer vir 2020 is misleidend, want die Covid-19-inperkings het duidelik ’n demper op protesaksie geplaas).

Kyk ons na die verkiesingsuitslae, is dit duidelik dat die ANC se steun gedaal het soos die protesaksie toegeneem het.

Wanneer twee verkiesingsiklusse geïsoleer word deur die steunvlakke teenoor die toename in diensleweringsproteste oor ’n tydperk van tien jaar te plaas, bied dit interessante insigte. 

steun

Voordat die munisipale verkiesing vanweë die gewoonlik laer stempersentasie as minder belangrik beskou word, is dit belangrik om daarop te let dat hier ook ’n kentering merkbaar is.

Die stempersentasie van geregistreerde kiesers in die eerste demokratiese munisipale verkiesing – wat in 1995 – 1996 plaasgevind het – was 48%. Soos die ontevredenheid oor swak munisipale bestuur toegeneem het, het meer stemgeregtigdes in die munisipale verkiesing begin stem: 57% in 2011 en 58% in 2016.

Tussen die eerste en laaste munisipale verkiesing was daar dus ’n toename van 10% in stemgeregtigdes wat gestem het – dít terwyl die stempersentasie in die algemene verkiesing vanaf 86% (1994) tot 65% (2019) gedaal het.

Is dit vergesog om hierin te lees dat die munisipale verkiesing al hoe belangriker word terwyl die algemene verkiesing as minder belangrik beskou word?

Om verdere moontlike tendense te bepaal, is dit interessant om die ANC se steun in die algemene verkiesing te vergelyk met dié in die naaste munisipale verkiesing.

steun

Hier kan gesien word dat die ANC se steun in munisipale verkiesings strykdeur laer as in algemene verkiesings was.

Die verskil in steun wissel konstant tussen 4,6% en 8,2%, wat op ’n gemiddeld van -6 % neerkom. Die hoogtepunt of laagtepunt in steun was in 2015 toe die verskil -8,2% was.

Dit is insiggewend om ook die DA se vertonings in die algemene en munisipale verkiesings met mekaar te vergelyk om te bepaal of dié party ook swakker of selfs beter in munisipale verkiesings vaar.

steun

Die DA, wat konstant beter in die munisipale as algemene verkiesing vaar, se steun het gewissel van +1,7% tot die hoogtepunt van +12,5%. Dit verteenwoordig ’n gemiddeld van +6% meer steun op munisipale as algemene vlak.

Met ander woorde, die ANC vaar gemiddeld -6% swakker in die munisipale as die algemene verkiesings, terwyl die DA weer (+6%) beter in munisipale verkiesings vaar.

Die kontras in steun het sekerlik met die DA se vermoë te doen om munisipale kwessies op grondvlak beter te bestuur.

Tentatiewe voorspelling vir 2021

’n Datum vir vanjaar se plaaslike verkiesing is nog nie bekend gemaak nie. Foto: Gallo Images

Die tussenverkiesings van 2020, waarin die ANC in die algemeen die beste van die partye gevaar het, was te min om werklik tendense vir die komende verkiesing aan te dui.

As ’n mens ’n voorspelling vir vanjaar wil waag, is die kernvraag watter invloed die verslegtende toestande van munisipaliteite op die ANC se steun sal hê.

As die tendens op munisipale vlak soos hierbo uitgewys is, gaan voortduur, kan die ANC se steun met 6% verminder. Dit sal sy steun onder kiesers die eerste keer tot onder die kerf van 50% laat daal.

Sal die ANC bereid wees om die DA as 'n vennoot te kies?

As die DA daarteenoor sy beter vertoning op munisipale vlak kan handhaaf, kan hy sy steun tot oor die 30% opstoot, wat van hom ’n groot rolspeler op plaaslike vlak sal maak.

Die vraag is waar die ANC dan na koalisie- of samewerkingsvennote gaan soek: by die EFF, wat in 2016 net meer as 8% se steun gehad het, of die IFP, met sy steun van 4%?

Of sal die ANC bereid wees om eerder sterker te staan en die DA as vennoot kies?

• Labuschagne is emeritus professor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Donald Trump  |  Robert Mugabe  |  Betogings  |  Plaaslike Regering  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.