Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wat wag op Die Don?

Amerikaners staan dalk op die vooraand van ’n sidderende openbaring oor hul president. Dis moontlik dat Donald J. Trump hoogverraad gepleeg het. Egmont Sippel skryf.

Wat se mafia-agtige gedrag is dit in die Withuis?

Nero, word vertel, het viool gespeel terwyl Rome brand. Sy hande was boonop vol bloed: Albei sy vroue, sy ma en ’n paar howelinge s’n.

Hoe anders, as Machiavelli selfs ’n millennium en ’n half later nog in Die Prins (1532) sou skryf: “Mense lewe so anders as wat hoort, dat hulle wat die ideaal eerder as die werklikheid nastreef, hul eie ondergang bewerkstellig.”

Om aan bewind te bly, moet prinse dus volgens Machiavelli moor – soos politici steeds in Afrika, Asië, die Midde-Ooste en Suid-Amerika doen.

In 2015 het die Russiese president, Wladimir Poetin, vir Boris Nemtsof “uitgehaal” en laasjaar is die Novitsjok-senugif in ’n aanslag op Sergei en Joelia Skripal se lewens gebruik.

Poetin ontken verantwoordelikheid. Kroonprins Mohammed bin Salman (MBS) van Saoedi-Arabië ontken enige aandeel in die moord op die joernalis Jamal Khashoggi. Almal weet hulle lieg, Poetin boonop ook oor Russiese ondermyning van Amerikaanse soewereiniteit ná Kremlin-inmenging in die VSA se vorige presidentsverkiesing.

Niks hiervan verras nie.

Maar dis vreemd dat die Amerikaanse president, Donald J. Trump, die skurke se woord bo dié van sy eie intelligensiedienste s’n aanvaar en dat hy manalleen agter geslote deure met Poetin koukus. Dis ontstellend dat hy getroue Amerikaanse bondgenote en dié se leiers beledig. En dis onheilspellend dat hy voltyds oorlog voer teen Vrye Wêreld-fondamente soos die pers en die reg.

Nes The Manchurian Candidate se gebreinspoelde agent wat deur kommuniste geplant is, doen Trump al hierdie dinge vanuit ’n Westerse bastion, die Withuis.

Meer nog: Hy gebruik die Ovaalkantoor as hoofplaza vir boewery.

                                                                    ***

In die halfmillennium sedert Machiavelli het Westerse staatsfilosofie ontwikkel tot waar leiers vir veel minder as moord boet met hul amp.

Die huidige politieke klimaat verskuif egter na ’n gepeupelbeheerde staat. Trump spog dat hy iemand op Fifth Avenue, New York, kan skiet sonder ondersteunersverlies. Of dat die beurs in duie sal stort sou hy in ’n staat van beskuldiging geplaas word. Trump se consiglieri, Rudy Giuliani, voorspel selfs ’n opstand.

Dis tipies Trump. Met sy perkelose grootheidswaan oorskat hy homself en daar skatryk Citizen Don nog altyd buite die gereg se vangnet kon lewe, onderskat hy die staat. Hy minag ook vroue, behalwe as hulle mooi is.

Hy gebruik die Ovaal-kantoor as hoofplaza vir boewery.

Die nodige eerbied teenoor sy amp ontbreek boonop. As presidentskandidaat het hy byvoorbeeld in die openbaar oor die grootte van sy toetertjie probeer spog, tot die pornoster Stormy Daniels hom na die werklikheid moes terugsnoei.

Daniels beweer ’n gekafoefel tussen haar en Trump kort ná die geboorte van sy en Melania se kind, terwyl die Playboy-model Karen McDougal en Die Don ’n vurige verhouding had.

                                                               ***

Trump ontken dit. Dis maar sy modus operandi: lieg, spog, ontken en slaan terug deur die hof as wapen van intimidasie te misbruik. Met sy soort geld deins die opposisie merendeels voor Die Don terug.

Maar Die Don wil eintlik Super-Don wees en bó die wet sweef, nes in stelsels sonder wigte en teenwigte, waar die mag in outoritêre figure sentreer.

George Orwell in Animal Farm: “All animals are equal, but some animals are more equal than others.”

Wladimir Poetin en Xi Jinping is “more equal”. In hul onderskeie lande is Poetin en Xi almagtig.

Trump is nie. Dit belg hom. Hy’t ’n behoefte aan grootsheid en godheid. Daar’s byvoorbeeld die spotprent waarin Poetin hom vra waarvoor die “J” in Donald J. staan. “Jenius,” antwoord Trump.

Nie dat Die Don vir ’n vraag wag voor hy sy genialiteit à la Oscar Wilde verklaar nie. Hy kondig dit ongevraagd aan, nes beleidsbesluite wat hy uit die bloute twiet.

Soos die onttrekking van Amerikaanse troepe aan Sirië.

                                                                     ***

Erik Prince is die stigter van ’n gemilitariseerde sekerheidsfirma genaamd Blackwater. Kort voor Trump se inhuldiging vlieg hy Seychelle toe, vermoedelik om ’n versteekte kommunikasiekanaal tussen die Withuis en die Kremlin via ’n Poetin-verbonde Rus (Kirill Dmitrief) te vestig.

Prince stel ook voor dat Amerika sy oorlog in Afganistan privatiseer en kort ná Trump se aankondiging van troepe-onttrekking basuin Blackwater in ’n volbladtydskrifadvertensie: “We are coming.”

Waarheen? Sirië toe? En het Prince vooraf van ’n onttrekking geweet waarvan James Mattis, minister van verdediging, onbewus was? Was Trump se ooreenkoms met die Turkse president Tayyip Erdogan om uit Sirië te verkas ’n produk van agtergronddruk deur Poetin, of dalk in ruil vir minder Turkse fokus op die Khashoggi-moord, sodat die hoofverdagte (kroonprins MBS) lustig kan voortregeer in ’n land waar Trump enorme finansiële belange het?

Die boodskap is ieder geval dat jy mag moor as jy genoeg sake met Trump doen.

Die man se gebrek aan morele vesel is tragies. Die dubbelslag is dat Trump Amerika se ekonomiese belange as rede aanvoer vir ’n weiering om MBS te kritiseer, terwyl hy in werklikheid sy eie belange wil beskerm.

Trump beskou boonop die kritiese pers (soos Khashoggi) as vyand van die volk. Nes Poetin sou Trump self vir MBS ’n vatvyf-groet op die G20-beraad in Buenos Aires wou gee, maar om ongeboeid met moordenaars en rampokkers te koukus, moet hy eers die juk van demokratiese waardes afskud.

Machiavelli lag seker in sy graf. Poetin se rampokkery hou hom aan bewind. Maar in die worsteling tussen Trump se ego en die Amerikaanse presidentskap gaan Die Don se rampokkery hom waarskynlik kelder.

                                                                           ***                          

Trump spog altyd oor hoe hard hy terugklap, maar hy kan nie mense in die oë kyk as hy hulle afdank nie. Hy doen dit via Twitter. Hy’s ’n boelie en soos baie boelies ook ’n lafaard.

Gekonfronteer met ’n bofbalkolf vou hy.

Poetin is die man met daai kolf. Trump besing hom uit alle oorde en krimp tot ’n skoothondjie in die Rus se teenwoordigheid, soos in Helsinki.

Suggereer dit iets onheilspellends, byvoorbeeld ’n houvas op die Amerikaanse president – of dan kompromat, in Kremlintaal?

Dalk. Die Steele-dossier noem ’n video van twee prostitute, deur Trump ontbied, wat ’n Moskouse hotelbed moes benat waarop die Obamas per geleentheid geslaap het.

Trump ontken dit. Hy was nie op die betrokke datum in Moskou nie. Maar vluggegewens weerspreek hom.

Trump en sy bende lei nie die waarheid uit feite af nie. Hulle lei eerder feite tot by die bende se selfgeskape waarheid. Wat nie inpas nie, word weggegooi of as fop­nuus verdoem.

“Truth is not truth” het Giuliani onlangs verklaar, terwyl Kellyanne Conway ,raadgewer en spindokter, die boksombende se leuens as “alternatiewe feite” beskryf.

                                                                 ***

Newspeak, noem Orwell hierdie soort taal in 1984, en Duckspeak is wat gepraat word deur hulle wat soos ganse kwaak, sonder om te dink.

Trump is ’n meester van albei, maar Big Brother se eintlike forte is Crimethink.

Pleks van die “moeras” te dreineer, het Trump sy eie geskep.

The New York Times het onlangs ’n verdoemende verslag oor Trump se belastingontduiking oor tien bladsye gepubliseer.

Die Suidelike Distrik van New York het reeds tydens die verhoor van Trump se voormalige prokureur en sogenaamde fixer, Michael Cohen, laat blyk dat Trump onwettige opdragte aan Cohen gegee het en vervolg sal word.

Dit nou buiten meer as 30 ander regsgedinge deur individue, maatskappye en prokureurs-generaal teen Trump persoonlik en teen hom as president, nadat vele bedrogsgedinge die Trump-Universiteit onlangs tot sluiting gedwing het en die Donald J. Trump-liefdadigheidstigting weens ’n “skokkende patroon van wederregtelikhede” deur die hof ontbind is.

Miljoene geskenkte dollars is deur die trustees, Donald J. en sy kinders, terug na die familie gekanaliseer.

Trump het nie die Guptas nodig nie. Hy gebruik sommer sy eie gesin.

                                                                       ***

Die kernsin in Thomas Hobbes se politiek-filosofiese traktaat getiteld Leviathan, 120 jaar ná Machiavelli, is: “In the state of nature, life is solitary, poor, nasty, brutish and short.”

’n Bronnetekort lei tot ’n oorlog deur almal teen almal, seg Hobbes, met ’n gewelddadige dood as summum malum, oftewel grootste boosheid; genoeg rede vir almal om gelyke afstand van gelyke regte te doen, waarna die leviatan (of eintlik maar diktator) daardie regte sal beskerm.

En voilà, amper vier eeue later: Donald Trump. Sy kerngroep vorm rondom vrese vir die dood – fisiek én kultureel – en die redder is ’n leviatan: die kolossale, reusagtige, manjifieke Trump homselwers. Van naderby lyk die president effe anders. Trump is John McCain se begrafnisdiens belet. Rex Tillerson noem hom ’n moroon. John Kelly sê hy’s ’n idioot. James Mattis reken hy’t die insig van ’n tienjarige. Eens op ’n tyd het Tillerson (minister van buitelandse sake), Kelly (personeelhoof) en Mattis (minister van verdediging) as die “Axis of Adults” in die Wit Huis bekend gestaan.

Nou’s Tillerson weg, Mattis het uit protes teen die Siriese troepeonttrekking bedank en Kelly is binnekort op pad.

Net die kruipers en malles hou dit saam met Trump. Selfs Steve Bannon is vort.

(Vir Trump is alles persoonlik: Trump First. America Second.)

                                                                         ***

Met Bannon uit die prentjie het regse mediapersoonlikhede as Trump se skadu­kabinet oorgeneem en hom in ’n hoek gedryf oor sy verkiesingsbelofte van ’n muur tussen Mexiko en die VSA.

“Sonder Die Muur is Trump net ’n grap,” twiet Ann Coulter. En “dis die einde van sy presidentskap as hy oor Die Muur ingee,” seg hoof-Trumpkruiper, senator Lindsey Graham.

Trump het die Amerikaanse regering dus gedeeltelik tot stilstand geruk en sien kans om 800 000 werkers se betaling vir meer as ’n jaar te weerhou, totdat die Demokrate sy eis van $5,6 miljard vir die bou van ’n muur goedkeur. Trump oorweeg selfs om ’n nasionale noodtoestand uit te roep sodat hy geld van die departement van verdediging kan verhaal.

Die man is desperaat. Daar’s geen noodsituasie in die VSA nie. Maar Trump is bereid om spykerbal te speel met die lewens van amper ’n miljoen werkers, afhanklikes uitgesluit, ter afpersing van die Demokrate. Sodat hy homself kan red.

                                                                      ***

’n Lang lys gewese Trump-werkers – Papadopoulos, Gates, Nunberg, ensovoorts – het reeds voor ’n groot jurie of die Huis oor ongerymdhede in die Trump-kamp getuig. Selfs Trump se gewese Withuis-prokureurs, John Dowd en Don McGahn, het al met Robert Mueller, spesiale ondersoeker, gekoukus.

Maar dis binnekringers se pleitooreenkomste om inligting vir ’n ligter vonnis te ruil, wat Trump waarlik kwel: Michael Cohen, Michael Flynn, (voormalige nasionale veiligheidsraadgewer wat deur sy verhoorregter as ’n “moontlike landsverraaier” uitgekryt is), Allen Weisselberg (Trump-wêreld se dekades lange finansiële hoofbeampte) en David Pecker (die middelman-mediamagnaat vir sjuusgeldbetalings aan Daniels en McDougal).

Die veroordeelde Paul Manafort het einste ’n pleitooreenkoms met Mueller aanvaar vóór sy spel van dubbelbluf, ofte wel Doublespeak, waarin Manafort aanhou lieg het, juis om Trump te beskerm. Manafort het op ’n presidensiële kwytskelding gereken, maar hy’t hom dalk misgis, want die Withuis word deur ’n ewe groot misdadiger as Manafort homself beman.

                                                                         ***

Leiers word dikwels aan ’n kernsin onthou.

Lincoln: “The better angels of our na­ture.” Churchill: “We shall never surrender.” Kennedy: “Ask not what your country can do for you.” Reagan: “Mr Gorbachev, tear down this wall.” Trump: “Make America great again/America first/Witch hunt/No collusion/Scam.”

Of wat van: “Russia, if you’re listening, I hope you find the 30 000 missing (Hillary Clinton) e-mails”? Ure later, op 27 Julie 2017, het die Russe probeer om Clinton se persoonlike e-posse te gaffel.

’n Sweempie dalk, van hoogverraad? Had Trump voorkennis dat die Russe met die demokratiese Amerikaanse proses sou inmeng, veral in’t lig van die konserwatiewe radio-omroeper Jerome Corsi se e-pos aan ’n selfverklaarde “dirty trickster” en jare lange Trump-operateur, Roger Stone: “Get to (Assange) . . . get the pending (Wi­kileaks) e-mails”?

En dit twee dae voor Trump se “Russia, if you’re listening . . .”-toespraak.

                                                                      ***

Pleks van die “moeras (in Washington) te dreineer”, het Trump sy eie geskep.

Vrae oor leuens, regsverydeling, finansiële bedrog, geldwassery, skenkings deur Russiese oligarge en Arabiese prinse, Don jr. se Trump Tower-vergadering, Trump se beplande Trump Moskou-gebou (met ’n beweerde $50 miljoen-woonstel as geskenk aan Poetin) en so meer gaan binnekort opgevolg word deur die Huis van Verteenwoordigers se versoek vir Trump se persoonlike belastingstate.

Voeg die Mueller-verslag hierby en 2019 gaan ’n ontnugterende jaar vir Trump en Amerika wees. Trump erken dat hy die omvang van die presidentstaak onderskat het. Nou’t hy boonop uitgevind dat die media en die Amerikaanse kongres hom nêrens laat om weg te kruip nie, behalwe – en paradoksaal genoeg – agter sy presidensiële magte en vrywarings.

’n Stoeigeveg lê voor om alles te ontrafel, maar daar’s tekens dat Trump nog nooit so jammer gaan wees oor enigiets wat hy al gedoen het soos sy besluit om vir president te staan nie.

Intussen speel Poetin viool terwyl die Withuis brand, met ’n chaos wat herinner aan Kurtz se vraag oor sy eie oorlogsmetodes in Apocalypse Now. Waarop Willard antwoord: “I see no method at all, sir.”

Inderdaad. Tot jy besef dat daar wel ’n logika is: Trump First. Trump First. Trump First . . .

Meer oor:  Donald Trump  |  Vsa  |  President  |  Withuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.