Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Water: 'Die krisis lê in ons onvermoë'

Ons het goeie waterplanne, maar min word uitgevoer, sê Fred van Zyl, direkteur van waterbeplanning by die departement van water en sanitasie, aan Hanlie Retief.

Hoeveel van die waterkrisis is die droogte en hoeveel is swak bestuur? Die feit is, Suid-Afrika is 70% van die tyd in ’n
“semi-droogte”. Ons spog, kan jy glo, oor ons die 30ste water-armste land is uit bykans 200 lande.


Spog?
Ja, want die regering/amptenare/nasie besef nie hoe ernstig die wateruitdaging is nie. Ons praat daaroor, maar doen min. Twintig jaar se goeie reënval het ’n valse sekuriteit geskep.


Watter rol speel swak bestuur?
Die krisis lê in ons onvermoë om dit doeltreffend te bestuur.


Hoekom is daar nie vroeër planne beraam met infrastruktuur en bronne soos grondwater nie?
Ons het. Die groot tema vanjaar by die Wêreldwaterraad is hergebruik. Ons doen dit reeds lankal en maak binnelands onregstreeks staat daarop. Twee derdes van die Hartebeespoortdam is hergebruikte water.


Nou waar lê die probleem?
Die instandhouding van ons infrastruktuur is ’n groot dilemma. Water verdwyn op pad krane toe: 96% mense het toegang tot water in hul huis of 200 m van hul deur, maar net 65% krane lewer konstant water weens lekkasies en swak bestuur. Ons het ’n swak waterkultuur. Ons gee maklik geld vir paaie en Eskom, maar water het nie die status as ’n kritieke, strategiese hulpbron nie.


Hoeveel geld is nodig om die infrastruktuur op te knap?
Meer as R90 miljard per jaar vir die volgende dekade. Ons het tans net 50% daarvan. Die helfte van dié R90 miljard sal nodig wees om verouderde strukture te vervang, want dis ’n reuseprobleem. ’n Voorbeeld van swak finansiering vir instandhouding is Pretoria. Die begroting van R19 miljoen behoort R1 miljard te wees. Die stadsrade besit 319 damme maar het nie die vermoë om dit reg te bestuur nie.


Niemand aanvaar aanspreeklikheid nie?
Ja, en dis kritiek. Mense en nywerhede wat water vermors, moet voor stok gekry word.


Wanneer was daar laas ’n werkbare ­waterbestuursplan?
Ons weet reeds ­lankal ’n krisis broei. In die 1960’s is ­fenomenale planne ontwikkel. ’n Klomp damme en baie vindingryke waterskemas met groot pompstelsels is gebou. Ons was wêreldwyd as visioenêr in ons benadering tot waterbestuur beskou. In 1998, met die nuwe Waterwet, is ambisieus met geïntegreerde bestuur begin. In 2000 het ons navorsing gewys ons
het ’n waterbalansuitdaging. In 12 van die 19 bestuursgebiede was die balans reeds ­negatief.

En? Daar was min reaksie. Die rede is ­gebrekkige implementering. Daar is nie ondersteuning vir goeie beplanning nie.


In Kaapstad is dinge nou regtig kritiek?
Ons het reeds in 2012 ’n hele pakkie oplossings ook vir Kaapstad aangebied. Dis duidelik uitgestippel. Verskeie opsies is genoem: besparing, verliesbestuur, hergebruik, ontsouting, die ontwikkeling van grondwaterbronne.


Maar min het gebeur?
Die uitvoering daarvan was onvoldoende, en toe tref ’n droogte die gebied boonop. Maar al was daar nie ’n droogte nie, is ernstige potensiële probleme toe al uitgewys. Nog ’n knelpunt is dat almal nie saamwerk nie. Benewens die nasionale regering moet stadsrade, landbou, mynbou en energie vennote raak in die oplossings.


Is grondwater, soos bergakwifeers, ’n oplossing?
Ja, want dis tans net 9% van ons watergebruik. Die meer as 200 000 boorgate in Suid-Afrika kan verdubbel.


Daar word gesê water gaan duurder as olie word?
Absoluut. By die De Hoop-dam (in Limpopo) kos die rou damwater R15 per kubieke meter. Gesuiwer is dit selfs meer as R30 per kubieke meter. Watter boer kan dít bekostig? Landbou sal moet leer om water te rek, want méér water gaan landbou nie kry nie.

Meer oor:  Hanlie Retief  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.