Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Water? Watter water . . .?
Foto ter illustrasie: istock

Die wêreld se beperkte waterbronne is onder toenemende druk weens onder meer bevolkingsaanwas en industrialisering. Chris Jones gee ’n paar ontstellende feite en scenario’s, asook moontlike oplossings.

In die Verenigde Nasies (VN) se onlangse “World Water Development Report 2020” (WWDR 2020) word onder meer gesê dat as waterverbruik voortgaan teen die huidige koers, daar teen 2030 wêreldwyd ’n watertekort van 40% kan wees.

Watertafels op al die vastelande is aan die sak, en 80% tot 90% van afvalwater in ontwikkelende lande word nie versamel of behandel nie (Corcoran et al., 2010; Unesco se wêreld-water-assessering-program – Unesco WWAP, 2017).

Volgens die Millennium-projek (TMP), ’n onafhanklike wêreldwye netwerk van instellings en individue met die oogmerk om die mens se vooruitsigte op ’n beter toekoms te verbeter, het ongeveer ’n derde van alle mense nie toegang tot ’n behoorlike toilet nie, en 892 miljoen mense ontlas steeds in die openbaar (TMP, 2018).

Volgens TMP gebruik die mens ongeveer 70% van sy watervoorsiening vir landbou, 20% vir nywerhede, en 10% vir huishoudelike doeleindes.

Meer ontwikkelde lande gebruik egter 50% tot 80% van hul watervoorraad vir nywerhede.

Namate die ontwikkelende wêreld se nywerhede, landbou en bevolking toeneem, sal die waterverbruik per capita toeneem, wat dit onmoontlik sal maak om ernstige waterkrisisse te vermy, tensy ingrypende veranderinge plaasvind.

Waterbeskikbaarheid

Die toename in waterverbruik was die afgelope eeu meer as dubbeld die koers waarteen die bevolking gegroei het (Die Wêreld-voedsel-en-landbouorganisasie van die VN, 2013), en ongeveer 4 miljard mense leef ten minste een maand per jaar met ’n ernstige waterskaarste (Mekonnen & Hoekstra, 2016).

’n Verdere sowat 1,6 miljard mense ervaar ekonomiese watertekort, wat beteken dat hulle nie oor die nodige infrastruktuur beskik om toegang tot water te verkry nie (VN-Water, 2014).

Studies voorspel dat die waterskaarste in die toekoms sal toeneem, met ongeveer 52% van die wêreldbevolking wat teen 2050 in gebiede sal woon waar water(voorsiening) onder druk sal wees.

Agteruitgang van ekostelsels

Oor die afgelope 100 jaar het die wêreld na raming die helfte van sy natuurlike vleilande verloor, en daarmee saam ’n beduidende aantal varswaterspesies (die VN se Omgewingsprogram/VN-Water, 2018). Die verlies aan vleilande is drie keer hoër as dié van woude (Ramsar-verdrag oor vleilande, 2018).

Wateruitputting en -besoedeling is die belangrikste oorsake van die verlies aan biodiversiteit en agteruitgang van die ekostelsel, wat op sy beurt die ekostelsel se veerkragtigheid verminder en samelewings kwesbaarder maak vir klimaat- én nie-klimaat-risiko’s.

Klimaat en gesondheid

Konserwatief gereken word beraam dat onvoldoende water- en sanitasievoorsiening bykans 2 miljoen voorkombare sterftes wêreldwyd veroorsaak (Wêreldgesondheidsorganisasie – WGO, 2019).

Die WGO skat dat universele toegang tot veilige water en sanitasie jaarliks $170 miljard se ekonomiese voordele tot gevolg kan hê danksy die vermindering in gesondheidsorgkoste, asook verhoogde produktiwiteit weens verminderde siektes (WGO, 2012).

Energie en nywerhede

Die verwagting is dat die nywerheid- en energiesektor teen 2050 24% van wêreldwye watervoorsiening sal gebruik, met die grootste toename in Asië en Europa (hoofsaaklik vir nywerhede). Noord-Amerika sal volgens voorspellings ’n afname toon (Burek et al., 2016).

Vooruitskattings deur die Internasionale Energie-agentskap (2016) voorsien dat die wêreldwye waterverbruik deur die energiesektor teen 2040 met byna 60% sal toeneem.

’n Besparing van 1% per jaar deur beter energieverbruik of -doeltreffendheid kan vir 219 miljoen mense water voorsien gebaseer op 50 liter per persoon dag (VN, 2018).

Na raming kan hernubare energiebronne teen 2030 verantwoordelik wees vir ’n vermindering van 50% in wateronttrekking in Brittanje, meer as 25% in Amerika, Duitsland en Australië, en meer as 10% in Indië (Internasionale Hernubare-energie-agentskap, 2015).

Die Europese Unie het beraam dat windenergie in 2012 soveel water bespaar het as wat jaarliks deur 7 miljoen mense in gemiddelde huishoudings gebruik word (Europese Windenergie-vereniging, 2014).

Menslike nedersettings

Die meerderheid van die wêreldbevolking (4,2 miljard uit 7,6 miljard in 2018 – tans is dit ’n geskatte 7,8 miljard) woon in stede.

Vooruitskattings wys dat met ’n wêreldbevolking van 8,6 miljard in 2030 en 9,8 miljard in 2050, tot 60% van die wêreldbevolking teen 2030 in stede sal woon en 66,4% teen 2050 (VN se departement van ekonomiese en maatskaplike aangeleenthede, 2019).

Teen 2050 sal 40% van die wêreldbevolking na raming onder ernstige waterdruk verkeer, ingesluit bykans die hele bevolking van die Midde-Ooste en Suid-Asië, asook beduidende dele van China en Noord-Afrika (Nederland se omgewingsassesseringsagentskap Planbureau voor de Leefomgeving, 2014).

Na raming sal klimaatsverandering teen 2050 685 miljoen mense wat in meer as 570 stede sal woon, ’n verdere afname in die beskikbaarheid van vars water van ten minste 10% in die gesig laat staar (Urban Climate Change Research Network, 2018).

Afrika suid van die Sahara

Die gevolge van klimaatsverandering op Afrika se waterbronne is reeds akuut.

Talle studies het bevind dat reënval in Suider-Afrika in die onlangse verlede afgeneem het, waarskynlik weens klimaatsverandering (Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering, 2014).

Die impak van die bevolkingstoename sal veral in Afrika waargeneem word, waar voorspel word dat die bevolking teen 2050 met meer as 500 miljoen gaan toeneem, en druk op water gevolglik geweldig gaan verhoog, veral in die verstedelikende gebiede (Taylor et al., 2009).

Gender

Hoewel klimaatsverandering alle groepe in die samelewing raak, sal die omvang van die impak op vroue en dogters toenemend groter wees, wat geslagsongelykhede sal verhoog en hul gesondheid, welstand, lewensbestaan en opvoeding sal bedreig.

In droogtegeteisterde gebiede bestee vroue en dogters langer tyd om water ver van die huis in die hande te kry, wat dogters se opvoeding in die gedrang bring as gevolg van swakker skoolbywoning en minder tyd om aan huiswerk te bestee.

Vroue en dogters word buite verhouding blootgestel aan die risiko’s van siektes wat deur water gedra word tydens vloede as gevolg van ’n gebrek aan toegang tot veilige water, die ontwrigting van waterdienste en verhoogde besoedeling van waterbronne (WWDR 2020).

Droogtes

In die 20 jaar vanaf 1995 tot 2015 was droogtes verantwoordelik vir 5% van alle natuurrampe, wat 1,1 miljard mense geraak en nagenoeg $100 miljard se skade berokken het. Boonop kan waterskaarste die skep van goeie werkgeleenthede beperk aangesien ongeveer drie uit elke vier poste in die wêreldwye arbeidsmag van water afhanklik is (Unesco WWAP, 2016).

Is daar oplossings?

Volgens TMP kan die volgende gedoen word om die impak moontlik te verminder:

    • Probeer deur middel van navorsing en ontwikkeling die koste van ontsouting so laag as moontlik kry;
    • Belê in die ontwikkeling van afvalwaterprodukte soos kunsmis, alge (vir biobrandstof) en die herwinning van stikstof en fosfor;
    • Implementeer die WGO en Unesco se planne vir universele toegang tot water en sanitasie;
    • Bestuur alle aspekte van waterbronne om doeltreffendheid, billikheid en volhoubare ontwikkeling (geïntegreerde waterbestuur) te bevorder;
    • Skep en bevorder slimfoon-toepassings om te wys op waterverbruik in die vervaardiging van produkte;
    • Belê in seewater/soutwater-landbou-ontwikkeling.
    • Bevorder vegetariese diëte.
    • Massavervaardiging van elektrochemiese afvalwaterbehandelingsaanlegte en sonkragtoilette.
    • Ontwikkel “op-die-punt-van-gebruik”-watersuiweringstegnologie.

    Dr. Jones is verbonde aan die eenheid vir morele leierskap by die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

    Meer oor:  Droogte  |  Waterskaarste  |  Waterkrisis  |  Waterbronne
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.