Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘WB moet ons herinner sport is nog nie gelyk nie’

Daar is ’n stilte oor rassisme en klasseverdelings in sport en byna ’n ontkenning dat daar boosaardige rassisme in sport was voor 1994, skryf Francois Cleophas.

Oudpres. Nelson Mandela oorhandig die Wêreldbeker aan die Springbokkaptein, Francois Pienaar, op 24 Junie 1995.Foto: Foto24

Terwyl die Bokke spook om die Wêreldbeker weer huis toe te bring, behoort ons na te dink oor die historiese werklikheid van sporteenheid sedert 1994.

Suid-Afrika het sy eerste demokratiese verkiesing gehou in 1994. In die hoofstroom-geskiedenis en in skoolhandboeke het dit ’n draaipunt verteenwoordig wat eenheid in die Suid-Afrikaanse samelewing gebring het. Maar die gevaar daarvan om te fokus op ’n enkele gebeurtenis, laat vervaag die beeld van die breër sosiale en politieke landskap wat aanleiding gegee het tot 1994 en daaropvolgende gebeure.

Walter Mignolo, ’n vooraanstaande kenner van die teorie van dekolonialisasie, het sy gehoor by ’n onlangse konferensie daaraan herinner dat wanneer die gekoloniseerdes die regering oorneem, kompleksiteite uit die verlede voortgesit kan word sonder om vrae te vra. Die gevolg is dat magsverhoudings wat voorkeur gee aan die bevoorregtes in stand gehou word.

Suid-Afrikaners mag nie meer, soos voor 1994, die waarheid praat teenoor dié met mag nie. In plaas daarvan is daar stilte oor rassisme en klasseverdelings in sport en byna ’n ontkenning dat daar boosaardige rassisme in sport was voor 1994.

Sedert 1994 is Suid-Afrikaners deurentyd gebombardeer met dié woorde van oudpres. Nelson Mandela:

“Sport het die mag om die wêreld te verander; dit het die mag om te inspireer. Dit het die vermoë om eenheid te vorm soos min ander dinge. Dit praat met jongmense in ’n taal wat hulle verstaan. Sport kan hoop skep waar daar eens net wanhoop was.”

Kritiek teen die idee dat sport “die vermoë het om eenheid te bring soos min ander dinge” het ongewild geword. Dit is, om ’n frase by Neville Alexander te leen, soos om vir ’n “nul uitgehaal te word of min lopies aan te teken in ’n post-apartheid samelewing”.

Suid-Afrikaners mag nie meer, soos voor 1994, die waarheid praat teenoor dié met mag nie. In plaas daarvan is daar stilte oor rassisme en klasseverdelings in sport en byna ’n ontkenning dat daar boosaardige rassisme in sport was voor 1994.

Dit noop ’n mens om te vra: Stem die aard, grondslag en doel van eenheid in die anti-apartheid sportbeweging voor 1990 ooreen met ontwikkelinge ná 1994?

Om hierdie vrae te beantwoord, is dit nuttig om twee soorte eenheid te oorweeg – beginselvaste eenheid en ad hoc-eenheid. Beginselvaste eenheid probeer om mense saam te snoer rondom ’n gemene standpunt en doel wat hulle wil bereik.

Dit is van kritieke belang om duidelikheid oor idees en praktyk te hê.

Met ad hoc-eenheid mag mense hul bondgenote verwerp wanneer hul doelwitte oor kort termyn bereik is.

My argument is dat die eenheid in sport wat in Suid-Afrika gedurende die laaste dekade van die twintigste eeu bewerkstellig is, ’n ad hoc- of ’n tydelike taktiese eenheid was.

’n Nuwe sport elite

Nathi Mthethwa, minister van sport, uitgedos in ’n Springboktrui. Foto: Felix Dlangamandla

Ná die ontbanning van die anti-apartheidsorganisasies in 1990 het ’n nuwe politieke elite in die sportwêreld na vore getree. Dit het bestaan uit die apartheid sportfederasies en individue binne die sportbevrydingsbeweging.

Ondanks retoriek tot die teendeel het die nuwe elite die establishment- of apartheid sportfederasies voorgetrek. Aangelok deur die vooruitsig van werk en ’n lewe van luukses het voormalige uitgesproke anti-apartheid-sport-kritici begin om eenheid te bevorder terwyl hulle die South African Council on Sport (Sacos), die binnelandse nierassige anti-apartheid-sportorganisasie, na die kantlyn begin skuif het.

En toe sommige amptenare van die South African Non-Racial Olympic Committee uit ballingskap na Suid-Afrika begin terugkeer, het hulle die politieke steun van die establishment-sportfederasies gesoek en Sacos geïgnoreer.

Dis nie verbasend nie dat die moratorium op sport gelig is sonder die goedkeuring van Sacos.

Hoewel dit vir baie duidelik was, het niemand dit gewaag om te sê dat die verenigde sportspanne weinig meer as apartheid-spanne was wat deelgeneem het onder die banier van ’n sportstruktuur wat nog nie demokraties was nie.

Wat hierop gevolg het, was ’n scenario van buitengewone waagstukke wat sporteenheid betref. Suid-Afrika het byvoorbeeld deelgeneem aan die Olimpiese Spele van 1992 en het ’n kriekettoer na Indië gereël terwyl die apartheidsregering steeds in beheer was.

Gedurende hierdie tydperk (1992 tot 1994) is die land slegs verteenwoordig deur sportlui van apartheid-sportfederasies. Nasionale en provinsiale nierassige skolesport-federasies is versaak terwyl wit skolesport voortgegaan en gedy het.

Hoewel dit vir baie duidelik was, het niemand dit gewaag om te sê dat die verenigde sportspanne weinig meer as apartheid-spanne was wat deelgeneem het onder die banier van ’n sportstruktuur wat nog nie demokraties was nie.

Baie Suid-Afrikaners is gesus om te glo dat wit mense, wat voordeel getrek het uit apartheid-sport, gewillig sou wees om hul winste op betekenisvolle maniere te deel met sportstrukture van die nierassige beweging.

Wat Sacos vereis het, was ’n moratorium op internasionale sportkontak totdat ontwikkeling op voetsoolvlak ’n bevredigende vlak bereik het. Maar baie aktiviste het hulle voorwaardelik oorgegee aan die eise van die nuwe politieke sport-elite wanneer dit gekom het by internasionale deelname onder nuwe verenigde sportfederasies.

As jy wil speel, moet jy na ’n duur skool gaan

Die Springbokvleuel Makazole Mapimpi op pad doellyn toe in die onlangse Wêreldbekerwedstryd teen Italië. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika pluk nou die wrang vrugte van hierdie ad hoc-sporteenheid.

Skolesport in townships, die historiese gebiede vir die swart werkersklas wat op grond van ras afgesonder is, bestaan nie of is uiters futloos terwyl skole met gemiddelde tot hoë skoolgeld aan leerlinge ’n verskeidenheid van sportgeleenthede bied.

Swart leerlinge moet duurder skole bywoon as hulle sukses op die sportveld wil behaal.

Dit is dus nie verbasend nie dat die meeste eerstespanspelers (swart en wit) in die Protea krieket- en netbalspanne sulke skole bygewoon het. Dieselfde geld die Springbok-rugbyspan.

Die Springbok-slot Eben Etzebeth omhels Cheslin Kolbe nadat dié klein vleuel Suid-Afrika se derde drie in die onlangse Wêreldbeker-wedstryd teen Italië gedruk het. Foto: Getty Images

Daar is geen sportorganisasie buite die regering wat namens die arm en gemarginaliseerde gemeenskappe en hul sportstrukture praat nie.

Die soort eenheid wat gesmee is tussen sportorganisasies in die 1990’s het onvermydelik beteken dat daar geen dringendheid is om sosiale ongelykheid in die samelewing te hanteer nie.

’n Nuwe progressiewe sportbeweging wat werk vir gelykheid en vrede gegrond op massadeelname en sosiale geregtigheid is nodig.

Dit is ’n mors van energie om opportunistiese rassistiese boosdoeners en hul meelopers te blameer vir die toestand van sport in die land se agtergeblewe gebiede. Wat ons nou nodig het, is beginselvaste sporteenheid wat gesmee is vanaf voetsool- tot op nasionale vlak. Sportklubs moet gevorm word waar mense gesonde deelname kan geniet en vir mededinging op alle vlakke.

Verder moet sportklubs deel word van ’n kritiese sosiale beweging wat doelbewus deugde van oordrewe finansiële gewin sowel as die benadering van “wen-tot-elke-prys” afmaak. Dit is niks minder nie as ’n oproep vir ’n nuwe progressiewe sportbeweging wat werk vir gelykheid en vrede gegrond op massadeelname en sosiale geregtigheid.

Andersins sal Suid-Afrikaners oor 25 jaar steeds soek na sporteenheid wat beginselvas én prakties is.

*Francois Cleophas is ’n senior dosent in sportgeskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Dié stuk het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.