Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
WB-sege: 'n Perspektief

Om na ’n beter plek te probeer gaan moet ons enige geleentheid benut. En dit sluit Wêreldbeker-vierings in, skryf Barnard Beukman.

Suid-Afrika se eie vinkel en koljander. Dis nou dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, en Steve Hofmeyr, sanger en aktivis.

Hoe meer hulle op die oog af verskil, hoe meer is hulle in wese dieselfde. Politieke en ideologiese posisionering word immers nie doeltreffend op ’n horisontale lyn aangedui nie. Dit kan beter verstaan word in die vorm van ’n hoefyster, met die ekstreme punte wat al hoe nader na mekaar beweeg. Albei was duidelik erg geïrriteerd met die wen-euforie wat op die Springbokke se Wêreldbeker-sukses gevolg het. (In alle billikheid – Hofmeyr het die span wel aanlyn as kampioene met ’n glasie vonkelwyn gelukgewens.) Maar albei kon nie wag om te begin gal braak teen die  vreugde oor alle grense heen nie.

Hulle is nie al nie. Daar is meer mense wat al in die opbou tot die eindstryd verskonings gesoek het om nie die span te ondersteun nie. Van hulle het nog die kwotaspook voorgehou en totaal misgekyk hoe Rassie Erasmus dit vaardig uitmekaargehaal het deur alle spelers op grond van fiksheid- en vaardigheidsvlakke en tegniese statistieke te kies.

Uit die pas afgelope toernooi se statistieke blyk dit onder meer dat Siya Kolisi die Suid-Afrikaner met die tweede meeste duikslae in die toernooi was (57 teenoor Pieter-Steph du Toit se 61) – die enigste Bokke in die top-20.

Op 69 het Handré Pollard die meeste punte in die toernooi aangeteken. Die enigste twee Bokke wat top-20-plekke met hom deel, is Makazole­ Mapimpi met 30 punte (tiende) en Elton Jantjies met 28 (11de). Boonop is Mapimpi die speler wat die tweede meeste keer agter die doellyn van almal in die toernooi gaan kuier het en die eerste Suid-Afrikaner om dit in ’n eindstryd te doen. En Jantjies is tweede met doelskoppe in die toernooi. Voeg daarby dat Cheslin Kolbe onder die benoemings vir Internasionale Speler van die Jaar is en Herschel Jantjies op die lys vir Deurbraakspeler van die Jaar. Erasmus kan dus bewys hy bedryf nie kwotasport nie.

Maar die bitterbekke en aanhangers van rasideologie is sigbaar ontsteld oor die feesvieringe en kon nie in die vreugde deel nie.

Maar die bitterbekke en aanhangers van rasideologie is sigbaar ontsteld oor die feesvieringe en kon nie in die vreugde deel nie. Hul hele bestaan en sake van ledetalle en steun opvorder is geskoei daarop om soos bloedsuiers op verdelingslyne en wonde te konsentreer – soos die EFF. Die algehele gees in die land die afgelope paar dae het hulle van suurstof ontneem.

Nog ’n kenmerk van die hedendaagse debat is om die heeltyd strooipoppe van uiterstes op te stel en dit dan af te skiet. Wie het gesê die euforie oor ’n Wêreldbekersege sal alle probleme oplos en standhoudende nasiebou verseker? So daarom mag niemand nou die vieringe geniet nie? Om dit te probeer marginaliseer is ’n wens dat dit nie eens moontlik die vonkie kan wees wat dalk die begin van ’n groter positiewe vuur van pa­triotisme en eenheid mag wees nie.

Daar is nog waardevolle elemente uit die oorwinning wat misgekyk word. Juis die pad wat Kolisi, Mapimpi en Warrick Gelant uit erge armoede geloop en op meriete en deur harde werk die geleentheid benut het deur aan Erasmus se strawwe vereistes te voldoen, is die beste toonvenster aan agtergeblewenes dat dit die padkaart uit die stof van armoede is – skep en gebruik ook jou eie geleenthede waar moontlik. En juis nie vrugtelose bemagtiging en kwotas nie. Kolisi het weerstand uit swart geledere gekry toe hy vroeër teen kwotas uitgevaar het, nou kan hy iets daarvoor wys – en hoe.

Dit was opvallend hoe daar ’n deurlopende tema uit swart geledere is dat die wenuitslag “wys wat ons kan regkry as almal saamstaan”.

Dit was opvallend hoe daar ’n deurlopende tema uit swart geledere is dat die wenuitslag “wys wat ons kan regkry as almal saamstaan”. Die ongekende lof vir Erasmus uit swart geledere is oorverdowend. Watter beter toonbeeld dat wit mense en bepaald ook Afrikaners steeds ’n kernrol kan en wil speel in die land.

En dit nogal oor ’n ou wat nie politieke speletjies speel nie, maar bloot gaan sit het en sy werk doen. Dalk net die sterkste grondvlakondersteuning tot nog toe vir die gedempte maar duidelike stemming wat selfs in regeringskringe gemaak word dat die huidige toepassing van swart bemagtiging die ekonomie knou. En hopelik sien swart mense ook nou die noodsaak daarvan in dat ons alle talent in die poel moet gooi om iewers uit te kom.

Die Burger het gister in sy rubriek 50 Jaar Gelede op sy voorbladhoofberig van 4 November 1969 gewys met die opskrif: “S.A. sal gemengde sport nie toelaat. Vorster stel beleid oor Britse beeldradio.” Ons het duidelik ver gekom. En ons moet bly oplossings soek. Maar in bitterbek-land vasgekeer sit? Dit is geloof in onomkeerbare mislukking.

Die Wêreldbekersege gaan nie korrupsie en swak dienslewering oornag oplos nie, maar om na ’n beter plek te probeer gaan moet enige moontlike geleentheid benut word. Al is dit soms effe kunsmatig. En net soms moet ’n mens oor alle grense heen kan feesvier om mekaar weer beter te leer ken.  

  • Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Wb-Sege  |  Politiek  |  Bokke  |  Kwota-Sport  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.