Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wedloop tussen Trump en Biden se manlikheid

Die tweede en laaste presidensiële debat tussen Donald Trump en Joe Biden was nog ’n ronde in die stryd tussen twee baie spesifieke tipes manlikheid, skryf David Collinson en Jeff Hearn.

Die stryd tussen Donald Trump en Joe Biden is ook ’n stryd tussen twee tipes manlikheid. Foto: AP

Die giftigheid van Donderdagaand se debat is getemper deur die uitstekende moderator Kristen Welker en die reëls wat só aangepas was dat dit die kandidate minder kans gegee het om mekaar te onderbreek. Dit was dus ’n kalmer debat wat meer ruimte vir ’n beleidsbespreking gelaat het.

Maar dít het niks aan die wesenlike verskille tussen die twee mans verander nie. Hoewel albei die protagoniste ou, wit en ryk mans is, beliggaam hulle uiteenlopende en mededingende manlike identiteite: Die een outoritêr en die ander paternalisties.

Die bestuurders van Trump se veldtog het besef hy moet in dié debat meer selfbeheersing aan die dag lê terwyl Biden weer soos ’n meer konvensionele politikus opgetree het.

Amerikaanse kiesers moet kies tussen twee hoogs uiteenlopende weergawes van manlikheid in ’n wedloop wat op ’n hoogs geslagskompeterende wyse uitgespeel word. Deur homself telkens te definieer as ’n “sterkmanleier” en Biden se sogenaamde “swak” manlikheid te kleineer, het Trump die verkiesing in ’n manlikheidswedloop verander.

Outoritêr

Soos in 2016 steun Trump in sy veldtog om tot president herverkies te word op ’n sterk, outoritêre manlikheid. Dít het Trump geïllustreer deur uitdagend en sonder ’n masker op die Withuis se balkon te staan pas nadat hy ontslaan is uit die hospitaal waar hy vir Covid-19 behandel was.

Die doel van hierdie teatrale optrede, gemik op vroegaand- TV-nuusuitsendings, was om sy manlike beeld van sterk leierskap en sy uitsprake dat hy ’n “vegter” is wat nou “immuun teen die virus is” te versterk.

Dié aanspraak op manlike mag – dat hy die virus oorwin het – vind aanklank by kiesers wat glo dat manlikheid, veral wit manlikheid, onder beleg is.

‘Macho Man’

Trump verteenwoordig ’n manlikheid waarin oorheersing en aggressie, asook om tot elke prys te wen belangrik is. Foto: Reuters

Op ’n saamtrek vroeg in Oktober in Stanford, Florida, het Trump weer beklemtoon hoe magtig hy nou voel. Voor sy verskyning is die liedjie “Macho Man” deur Village People gespeel en die boodskap was duidelik: ’n Stem vir Trump is ’n stem vir sterk en beslissende manlikheid wat nodig is om “Amerika weer groots te maak” en om die “sosialistiese” neigings van die Demokrate, so genoem in die Trump-veldtog, te stuit.

Sy veldtog is daarop gemik om hom sterk te laat voorkom en nooit enige swakheid of weerloosheid te openbaar nie. Trump hou daarvan om in beheer te wees, om altyd opgeruimd en positief te wees. In sy manlike outoritarisme word oorheersing en aggressie geprioritiseer, en om tot elke prys te wen – ongeag die reëls.

Dit was in die eerste presidensiële debat duidelik toe hy Biden minstens 128 keer binne ’n bestek van 90 minute onderbreek en beledigings na hom geslinger het.

The Atlantic het onlangs berig dat Trump per geleentheid soldate wat militêre opoffering gemaak het, afgemaak het as suckers en losers om sy outoritêre manlikheid nog verder te bevestig. Dié einste oordrewe “sterk ou”-narratief bepaal sy reaksie op die pandemie. Dit sluit in sy minagting vir die dra van maskers en die handhawing van sosiale afstand, wat hy en sy ondersteuners as “onmanlik” beskou.

Paternalisties

Biden verteenwoordig ’n tradisionele, paternalistiese vorm van manlikheid. Foto: Olivier Douliery/EPA

Biden het manlikheid nie ’n eksplisiete tema van sy veldtog gemaak nie, maar die kontras met Trump is baie duidelik. Hy verteenwoordig ’n onderbeklemtoonde, “ouskool-” Amerikaanse manlikheid wat deur versigtigheid, bedagsaamheid en welwillende leierskap gekenmerk word.

Sy paternalistiese manlikheid plaas klem op tradisionele eienskappe soos betroubaarheid, integriteit, ordentlikheid en moraliteit.

Die veronderstelling van Biden se manlikheid is dat jy hard werk, reëls gehoorsaam, ’n sterk karakter het, wetenskap en kennis respekteer, en eerbaar optree. Dit is ’n paternalistiese vorm van manlikheid wat sigself daarop roem om vroue en kinders te beskerm.

Biden wil Amerika verenig en praat van ’n minder gepolariseerde toekoms waarin politici kan saamwerk om ’n politiek van konsensus te skep.

As ’n senator van baie dekades tipeer hy homself as ’n gesoute beskermer van die nasie in sy oomblik van nood. Biden, wat geen ideoloog is nie, is ’n pragmatiese politikus wat weet hoe om te oorreed, sjarmeer en tot ’n onderhandelde skikking te kom.

Hy wil Amerika verenig en praat van ’n minder gepolariseerde toekoms waarin politici kan saamwerk om ’n politiek van konsensus te skep.

As ’n gesinsman wat gelouter is deur persoonlike tragedies soos die dood van sy seun aan kanker, betoon Biden in sy veldtog opregte meegevoel aan keisers wat met Covid-19 worstel. Hy belowe ’n toekoms wat meer bekend, standvastig en veilig is deur na ’n mate van ’n kalm normaliteit terug te keer.

Die ‘manskaart’

Openbare leierskap is histories as ’n manlike turf beskou. Dít is beslis in Amerika die geval waar al 45 presidente tot dusver mans was – 44 van hulle wit mans. In die eerste 100 jaar van die presidentskap het slegs wit mans stemreg gehad.

Mans se monopolie op die presidentskap het dikwels beteken dat verkiesingsveldtogte in manlikheidswedlope ontaard het. Sedert die 1960’s, van Richard Nixon en Ronald Reagan af aan, het Republikeinse kandidate ’n manlike mistiek om die presidentskap geskep – die mite dat mans iets magies na die pos bring.

Dié manlikheidsfoefie spreek tot die genderverwagtinge en -begeertes van sommige van die Republikeine se volgelinge.

Deur herhaaldelik hul party se kandidate as “sterk mans” voor te hou het die Republikeine probeer om hul Demokratiese opponente se manlikheid te ondermyn deur hulle as swak en sag oor kwessies soos misdaad en buitelandse beleid uit te beeld.

In ’n historiese konteks beskou, is Trump se toenemende fokus op mans en manlikheid bloot ’n voortsetting van die Republikeinse tradisie om die “manskaart” in presidensiële verkiesingsveldtogte te speel. Dié manlikheidsfoefie spreek tot die genderverwagtinge en -begeertes van sommige van hul volgelinge.

Dit perpetueer ook ’n ander Republikeinse mite: Dat ware – wit – mans nie vir die Demokratiese Party stem nie.

• Collinson is ’n uitgelese professor in leierskap en organisasie aan die Universiteit van Lancaster en Jeff Hearn is ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van Huddersfield. Dié artikel het oorspronklik in The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.