Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wees nou eerlik oor taal
’n Ingenieurswiskundeklas aan die Universiteit van Pretoria word ontwrig tydens die studenteprotes in Februarie vanjaar. Foto: THEANA BREUGEM

As mense in gesagsposisies wil hê Afrikaans moet boet vir apartheid, moet hulle eerlik daaroor wees. Dan verander die speelveld drasties, skryf Wannie Carstens.

Die onlangse uitspraak van die hooggeregshof in Bloemfontein oor die posisie van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) – wat inhou dat die UV gefouteer het deur Afrikaans as taal van onderrig aan hierdie universiteit uit te faseer en Engels die primêre taal van onderrig te maak – sal besliste gevolge inhou vir denke oor taal vorentoe, ook aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Dit is veral van belang om te kyk na die rede waarom die uitspraak so belangrik is. Die regters het naamlik as vertrekpunt in hul uitspraak die Grondwet gebruik, in die besonder die onderliggende grondwetlike waardes en ook die wese van die taalbepalings in die Grondwet.

Wat hou dit vir die taaldebat in? Ook aan die US?

Grondwetlike waardes

Die 1996-Grondwet is ’n leidinggewende dokument in die geskiedenis van die land en dit is ook goed as almal in die land hul doen en late kan meet aan wat die Grondwet toelaat of nie.

Dit was die doel met die nuwe Grondwet: dui ’n rigting aan waarin die land moet beweeg en gee dan leiding oor hoe om daar uit te kom.

’n Kernwaarde in die Grondwet is byvoorbeeld dat die regte van die land se inwoners erken word. Dié regte sluit verskeie sake in, onder meer dat jy mense se menswaardigheid moet respekteer en dat jy nie teen mense mag diskrimineer op talle gronde nie – soos geslag, ras, kultuur, geloof, taal, ensovoorts. Ja, ook taal.

Dit hou ’n eerlikheid in wat in ­elke landsburger aanwesig moet wees: dat ons mekaar respekteer op grond van ons unieke menswees in ’n diverse samelewing op een geografiese gebied hier aan die suidpunt van Afrika.

Ons is beslis nie almal eenders nie (en daar is verskeie redes daarvoor, onder meer maatskaplik-ekonomiese redes, vlak van opleiding, ensovoorts), maar ons het almal dieselfde regte.

Of dit altyd prakties is of nie, is nie ter sprake nie. Dit is juis ons unieke uitdaging om dit te laat werk.

Maar die afgelope drie tot vier jaar was daar ’n verbete poging om die regte van die sprekers van hoofsaaklik Afrikaans van hulle weg te neem, in die besonder in die onderwyssektor.

Die duidelike teiken was die universiteite, veral daardie universiteite waar Afrikaans vroeër ’n onderrigtaal was: Pretoria, die Vrystaat, Stellenbosch, Johannesburg en die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus.

En as ’n mens enigsins nog getwyfel het aan die rede daarvoor, is dit duidelik saamgevat in die woorde van die voorsitter van die Universiteit van die Vrystaat se studenteraad ná die uitspraak – dat daardie druk geregverdig is “omdat die studente meen Afrikaans was as wetenskapstaal relevant in die apartheidstyd”.

Dit gaan hier dus nie oor regte nie, dit gaan nie oor respek nie, dit gaan nie oor ’n inklusiewe Suid-Afrikaansheid nie. Nee, dit gaan oor apartheid en oor wit teen swart. Dit gaan oor: “Ons gaan julle nou regsien. Ons slaan nou die kitaar en dan sal julle moet dans soos ons sê.”

En as dít is wat mense in gesagsposisies wil doen, wees dan net eerlik daaroor: sê dan duidelik dat daar geboet moet word vir apartheid en dat Afrikaans as simbool daarvan afgetakel moet word. Dan verander die speelveld natuurlik drasties. Dan weet ’n mens presies waarmee jy te doen het.

As Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria afgeskaal word – let wel: nie weggeneem word nie – omdat die demografie van die studente verander het, sê dan so en moet dit nie verdoesel onder ’n oneerlikheid soos dat “Engels die taal van maatskaplike kohesie is” nie.

As Afrikaans aan die US afgeskaal word – want dit is wat die aanvaarde taalbeleid van 22 Junie inhou, hoe ’n mens dit ook al probeer verdoesel met mooiklinkende woorde – wees dan eerlik en sê dit was politieke druk.

Maar toe die regters aandui dat die Grondwet vereis dat die onderhandelde bepalings van die Grondwet toegepas word, het dit ’n geween en ’n gekners van tande in Bloemfontein en waarskynlik in regeringskringe meegebring, in so ’n mate dat daar nou teen die uitspraak geappelleer gaan word.

Maar dat die Grondwet staan en as rigtinggewende dokument vir ons almal dien, staan soos ’n paal bo water. Die regters kon nie anders as om dit so te doen nie, anders moet hulle hulself as politici verklaar en dan op politieke gronde oordeel. En elkeen weet die politiek en die Grondwet loop nie altyd saam nie.

Kom ons gee die betrokke regters dus die eer wat hulle toekom: dat hulle as regskundiges die regte vertrekpunt gebruik.

Meertaligheid as beginsel

Die onderliggende beginsel van die taalbepalings is die erkenning van meertaligheid, dus meer as een. En dit was juis wat die regters gedoen het toe hulle gesê het in ’n meertalige samelewing voeg jy by, jy neem nie weg nie. Jy neem ook nie die regte weg wat gekoppel was aan daardie taal nie. Die veronderstelling is verder dat dié wat nog nie dieselfde status en funksies as die ander tale het nie, dit deur ontwikkeling moet kry – dit is die staat se plig, aldus art. 6 van die Grondwet.

Die regters in die Kovsie-saak het met reg aangedui dat hierdie beginsel staan en dat dit nie aangetas mag word nie. Waar Kovsies (by implikasie ook Pretoria en Stellenbosch) dus in die verlede voorsiening gemaak het vir hoofsaaklik Engelssprekende en Afrikaanssprekende studente, is dit ’n meertaligheidsbeginsel van insluiting, wat behou moet word en nie weggeneem moet word nie (uitsluiting).

As jy wegneem, word jy eentalig, As jy een taal bo ’n ander verhef, skaal jy regte af en neig jy na eentaligheid.

Sluit Sotho dan in, maar gun Afrikaans sy plek, soos Engels ook ’n plek het. Engels durf wel nie die oorheersende plek te hê nie.

Dus: Die Kovsie-uitspraak is belangrik omdat dit aan die een kant aandui dat die Grondwet die bepalende kriterium in beslissings is en aan die ander kant weer toon dat meertaligheid die onderliggende beginsel van ons taalbedeling is en moet wees.

Dit gee ’n mens hoop vir die toekoms.

Prof. Carstens is direkteur van die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Meer oor:  Politiek  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.